Nuuskommentaar: Die rasdebat en die ANC se rol

Argieffoto

’n Nuwe boek, wat sterk herinner aan die boek Why South Africa will survive (1981), het pas verskyn. In dié boek, Two Minutes to Midnight, word die ANC as SA se enigste hoop voorgehou. Maar kwalifiseer die ANC werklik nog as ʼn nie-rassige party?

Hoewel Suid-Afrika se Covid-19-getalle nog baie laag is teenoor dié van Nederland en België met veel kleiner bevolkings, met albei s’n wat raak-raak aan die 1 000 nuwe gevalle per dag, is die getalle nog net die begin. Die Noordelike Halfrond het pas sy winter begin afskud, terwyl die Suidelike Halfrond so stadigaan sy wintertande begin wys. Griepverwante epidemies is gewoonlik taamlik wintergebonde.

Hoewel president Cyril Ramaphosa taamlik presidensieel voorkom wanneer die pandemie ter sprake is, lyk die probleme van so ’n omvang te wees dat daar geen klarigheid is dat hy sal oorleef nie. Selfs oor die ANC se oorlewingskanse, veral as regerende party, lyk sake nie so seker nie. En wat van die land self? En wat van Afrika?

Die boek deur twee Amerikaanse navorserskrywers, Why South Africa will survive (1981), het nie so lekker uitgewerk nie. ’n Nuwe boek, Two Minutes to Midnight, deur die ontleder dr. Oscar van Heerden herinner aldus ’n lang bekendstellingsartikel op Netwerk24 deur Heindrich Wyngaard op ’n manier aan Why South Africa will survive. Die nuwe boek spreek aldus Wyngaard hoofsaaklik die vraag aan of Ramaphosa die interne stryd in die ANC gaan oorleef.

Wat uit Wyngaard se artikel skerp in die oog steek, is Van Heerden se stelling dat die ANC al party is wat SA die toekoms in kan lei wat nie-rassigheid, nie-seksisme en algemeen aanvaarde demokratiese beginsels betref. Die DA, volgens hom, kan nie besluit of dit ’n wit of swart party wil wees nie, die EFF word as ʼn party beskryf wat in ’n droomwêreld leef, en hy beskryf die identiteitspartye as die grootste gevaar vir demokrasie. Die VF+ sou rasgebonde wees, en die ACDP godsdiensgebonde.

Wyngaard beskryf Van Heerden onder andere as aktivis – iets wat diegene wat na die gereelde deelname luister van Van Heerden en Wyngaard aan Ivor Price se program op RSG, “Kommentaar”, nie sommer tot so ’n gevolgtrekking sou laat kom nie. Price self beskryf Van Heerden as saggeaard en ’n diep siel.

Op Google is talle voorbeelde waar Van Heerden onder skerp tonge deurloop, soos oor sy pro-Palestynse standpunte en waar hy skerp teen Israel standpunt inneem. Sy verduidelikings oor hoe Israel die Palestyne onder bomme steek, noem byvoorbeeld nie hoe die Palestyne, soos die Nederlandse pers gereeld skryf, Joodse nedersettings onder “raketten” (vuurpyle en mortiere) steek nie. Van Heerden blyk voortdurend in sy ontledings (met ’n spesialisveld van internasionale verhoudings) nie genoegsaam op feite te baseer nie.

Nodeloos om te sê, Van Heerden se beskouing oor die politieke partye loop erg onder die lesers deur. Van die byna veertig leserskommentare het net een hom gesteun. Neem ook in ag dat die sensors waarskynlik ook mildelik onder die alom teenwoordige kubertrolle se menings sou gemaai het.

Om die ANC as nierassig te beskryf is nogal pikant. Op die oomblik is Solidariteit besig om die regering oor die kriteria vir rampfondsbystand weens die ingrendeling hof toe te neem weens die raskriteria wat gestel is. Onder die ander ras-bekampende optredes van Solidariteit teen die regering tel die bekende saak oor die “oorverteenwoordigende” bruin bevolking in die Wes-Kaap wat daartoe gelei het dat bruin beamptes van korrektiewe dienste nie bevorder kon word nie. Die regering het tot in die Konstitusionele Hof sy rassistiese optrede probeer regverdig, maar nie geslaag nie. Maar uit regeringsgeledere word sowel Solidariteit as AfriForum gereeld as rassistiese instansies beskryf. Maar “loeks êt de skôrbord” (met apologie aan die Springbok Boy Louw).

Trouens, die laaste apartheidswet is voor 1994 deur die NP uit die wetboek verwyder. Die massa nieu-apartheidswette en voortspruitende regulasies en voorskrifte wat Suid-Afrikaners se lewe van die wieg tot die graf reguleer, is deur die ANC op die wetboek geplaas.

Van Heerden se voorstelling van identiteitspartye as ’n gevaar vir demokrasie is meer as pikant. Boonop is die beskrywing van die VF+ as wit party nie korrek nie, met Peter Marais en ander bruin ondersteuners as duidelike voorbeelde. Ruimte ontbreek om volledig uit te brei oor die plek van identiteite en minderheidsregte in die internasionale reg, juis om die demokrasie vollediger te maak. En ras, dit waarmee die ANC dweep, is nie een van die regte nie. Dit het slegs ’n “negatiewe reg”, naamlik dat nie teen iemand op grond van sy ras gediskrimineer mag word nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dr Pieter ·

Dankie vir ‘n insiggewende en goed beredeneerde ontleding.

Jack ·

Oscar van Heerden is ‘n ANC apologeet. Daar is baie van hulle en hulle skryf teen hulle beterwete ‘n klomp bog. Die ANC het nie Seffrica in n beter toekoms ingelei nie maar in n rasbehepte doodloop straat en tot op die rand van ‘n ekonomiese afgrond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.