Nuuskommentaar: ‘Die vriendelike anargis’

Betogings by Rhodes-Universiteit (28 September 2016) Foto: Skermskoot uit Oppidan Press-video

Betogings by Rhodes-Universiteit (28 September 2016) Foto: Skermskoot uit Oppidan Press-video

’n Opskrif in ’n Nederlandse koerant vandag, “Die vriendelike anargis”, noop ’n mens om bietjie dieper na die kwessie van anargie in die studente-onluste te kyk.

Kort-kort tref iets Suid-Afrika wat lyk of dit maklik in anargie kan ontaard. Daar is die aanslaan-effek van diensleweringsproteste, die enorme skade en intimidasie waarmee stakingseisoene gewoonlik gepaardgaan, en nou ook die anargie en dreigende anargie waarmee die studente-onrus gepaardgaan.

’n Stewige skeut anargisme straal uit die “leierskap” van die molesmakende studente wat woedend reageer op peilings by universiteite wat daarop dui dat die meerderheid studente ongesteurd met hul klasse wil aangaan. Die peilings word gewoon verwerp asof daar geen legitimiteit in meerderheidswil is nie – al wat tel, is die anargistiese agenda.

Dan is enorme skade deur vandalisme (meer as R600 miljoen skade is al aangerig nadat die studentemoleste begin het) veel meer aanvaarbaar as studente wat skynbaar die “saak” die rug toekeer en dit wil doen waarvoor hulle universiteit toe gekom het – om te studeer.

Die anargis is ook nie so afhanklik van openbare mening as die revolusionêr nie. By die revolusionêr is die breë publiek die see waarin die revolusionêr (die vis) leef. Dis dikwels ook ’n langsame proses.

Van die bekendste skrywers oor anargie het anargie beskou as metode om die een of ander doelwit te bereik. Anargie self beteken egter dat daar ’n afwesigheid van gesag is, al is dit bloot omdat die gesag/owerheid nie erken word nie of geminag word. Ander terme wat met anargie verband hou, is wetteloosheid (en die pikante uitroep van studente wat met die een of ander onwettigheid besig is, soos die aanhou van ’n rektor van “we are not criminals!”), nihilisme, bondelkrasie (waar “dapperheid” vir rammetjie-uitnek in die bondel-effek gebore is), pandemonium, ens.

In die anargis se oë is die teengaan van sy aksies verkeerd.

Daar kan geen twyfel wees nie dat die situasie vererger is deur die regering se optrede, of gebrek aan optrede. Nou word ’n nasionale taakspan beplan om met studente-onluste te handel – ironies ’n groot sielkundige oorwinning vir die anargiste, want dit “staaf” hul opvatting dat hulle belangrik is.

Boonop druip dit van ironie as daar na skrywes van ’n jaar gelede van heelwat akademici gekyk word wat vreeslik simpatiek teenoor die betogende studente was, en selfs hier en daar aan die betogings en protesaksies deelgeneem het. Hulle het die grondles vergeet dat dit feitlik onmoontlik is om die oorsake van die anargis se protes te steun sonder om ook by te dra tot die eskalasie van anargie.

Die grondles vir die anargis, veral in ’n opvoedkundige konteks, is dat anargie die vinnigste metode behoort te wees om die saak skade aan te doen. Om skynbaar die knie voor anargie te buig, laat anargie eenvoudig eskaleer.

Met die dele in die owerheid, meer studente, en ’n groot deel van die publiek wat, om die woord van ’n briefskrywer te gebruik, gatvol raak vir die anargie, is die anargistiese element nou so gedrewe dat die leiers daarvan dit skynbaar gaan dryf om die bottel te laat bars.

Dan is daar ook nog die vraag: Wie sit werklik hieragter en met watter motief? Hoewel dit nou meestal studente is wat betrokke is, is daar tog kort-kort aanduidings dat “eenhede” nie-studente strategies ingespan word om die anargie ’n hupstoot te gee. Vroeër jare by Kovsies was baie van die molesmakers aan die studente onbekend en is beweer dat hulle met busse van Botshabelo en Thaba Nchu ingery is. Kort-kort wys die vingers na die EFF.

Teen dié agtergrond spring die opskrif vanoggend van “die vriendelike anargis” in die Nederlandse koerant, Trouw, dwars in die oog.

Met die lees van die artikel is dit duidelik dat die opskrif erg misleidend is. Dit handel oor die onkonvensionele opvattings van ’n persoon wat ’n rits ongewone beroepe beklee het. Hy was onder meer die hoof van ’n inrigting wat misdadigers met verminderde aanspreeklikheid as gevolg van geestesiektes (tbs’esrs) aanhou.

Binne die konteks van sy situasie is sy metodes waarskynlik deurgaans prysenswaardig.

Maar om anargiste in die Suid-Afrikaanse konteks te hanteer asof hulle die respek van fatsoenlikheid verdien, is om die duiwel se vuur lekker te stook.

Dit beteken egter nie dat die anargiste nie ’n saak het nie. Selfs die grootste leek sal weet dat ’n owerheid wat jaar ná jaar groter studentegetalle aanmoedig, massief aanjaag as die universiteitsubsidies ook elke jaar verminder word.

Iewers gaan iets knak.

Die Grondwet maak voorsiening vir vreedsame protes. Dis iets waarop Kovsies se omstrede studenteraadsvoorsitter, Lindokuhle Nthuli, hom tydig en ontydig beroep – ongelukkig laat hy na om te noem dat dit vreedsaam moet wees. Tog het Kovsies se vorige rektor, prof. Jonathan Jansen, hierdie wilde perd probeer ry en is herhaalde kere hard afgegooi.

’n Verantwoordelike owerheid sou voorkom het dat die spanningsituasies ontstaan. Daar sou onder meer toegesien moes word dat studente van beter gehalte wat akademies die mas kan opkom die universiteite haal. As die jaarlikse eksamenspook die wyk kon neem, sou minder studente wat op druip afstuur se vingers vir kwaaddoen begin jeuk het. Dit beteken egter dat die onderwys baie opgeknap sou moes word, en Sadou se greep op die onderwys verminder moet word.

Dit sou ook help as die owerheid deurgaans en konsekwent die grondwetlike regte van minderhede as ononderhandelbaar kon stel.

Maar dit sou weer vereis dat studente opgevoed moes word in wat ’n Grondwet is en wat die implikasies daarvan is. (Nie die Orakel van Stellenbosch se weergawe nie.)

’n Owerheid wat self die anargie stook (al is dit onbedoeld), moet ook nie kla as die breë publiek vir hulle “g*tvol” raak nie.

En vergeet maar van die vriendelike anargis.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Waarheid ·

Stem saam, 4de paragraaf wat handel oor grondwet en minderhede se grondwetlike regte is hoekom ‘n belowende student, omdat by blank is nie vir beurs in aanmerk geneem is. Skande maar ook bedekte seën dit sou sy tweede jaar gewees het en midde in die gemors.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.