Nuuskommentaar: Die wonder en invloed van kommunikasie en memes

(Foto: Xinhua/Zhang Chaoqun)

Met elke vrye en regverdige verkiesing is die media self nou deesdae omtrent net soveel onder die vergrootglas as die verkiesingsnuus waaroor hulle berig (of soms skynbaar doelbewus swyg). Dat die media ’n enorme rol speel, of kán speel, sal nie sommer betwis word nie.

Uitdrukkings soos die pen is magtiger as die swaard, of ’n mens sukkel nie met hulle wat hul ink by die konka aankoop nie, maak dít duidelik. Dit is boonop net die gedrukte media – dan is daar nog kanale soos radio, TV, selfone, e-pos, sosiale media en nog vele meer.

Iets wat tot dusver in die media betreklik min aandag kry, is die gebruik van memes. Dit kan formeel beskryf word as: “ʼn Element van ’n kultuur of gedragstelsel wat deur nie-genetiese middele, veral deur nabootsing, van een individu na ’n ander oorgedra kan word.” (Uiteensettings oor memes in verkiesingsverband in die VSA kan hier gelees word.)

In die praktyk slaan memes eintlik veel wyer en met vanjaar se Amerikaanse presidentsverkiesing was dit grootliks ’n spottery in woord en beeld met die presidentskandidate. Dit het grootliks ontstaan en vorm gekry met memes oor die Demokrate se sosialistiese kandidaat, Bernie Sanders, wat aanvanklik taamlik goed weggespring het, maar toe “onverwags” uitgeval het.

Memes het in Afrika gewild geraak, onder meer in die Demokratiese Republiek van die Kongo, toe selfone genoeg gebruikers gekry het om golf op golf nuwe memes te versprei, ten spyte van bedenklike vlakke van media- en meningsvryheid.

Met die skerp polarisasie van politiek, veral in die VSA, is memes ’n belangrike ontlader van politieke spanning, maar dit moet sterk genoeg met die werklikheid verband hou om nie die spanning tot breekpunt te lei nie.

Boonop word elke storie se geloofwaardigheid deur veral drie elemente bepaal: die storie self, die verteller/skrywer en die publiek. In die era van sogenaamde verdomming speel verskeie faktore met onderlinge raakvlakke weer ’n rol – dit is ook die era van ontkenners en samesweerders wat weer moontlik gemaak word deur liggelowigheid of vatbaarheid om twakstories te glo.

Wat sake nog meer bemoeilik, is dat mense so vatbaar vir twak is dat hulle dit nie net glo nie, maar ook só ernstig opneem dat die aanhoorders dit hoogs emosioneel aangryp en bereid is om driftig daarvoor in die bresse te tree.

In die afgelope Sondag se program op RSG, Kommentaar, het verskeie luisteraars hul menings oor die Amerikaanse presidentsverkiesing per SMS ingestuur. Een het na die aanbieder en sy paneellede as skaapkoppe verwys oor hul beskouing van die verkiesing. Ander het, selfs ná die Biden-oorwinning verklaar is (weliswaar informeel) steeds volgehou dat Trump gewen het.

Vandag se The Conversation beklemtoon weer hoe belangrik korrekte, feitelike joernalistiek is. Die bestuurder en redakteur van die VSA se uitgawe van die e-tydskrif skryf onder meer: “This year’s election and pandemic have underscored how important it is for citizens in a democracy to hear facts from genuine experts. Here at The Conversation, it’s been confirmation of the vital importance of our work … Please help us raise up the voice of experts over the clamor of misinformation and disinformation.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Vrijburger ·

Memes is elektroniese hedendaagse spotprente.

Mbt hedendaagse joernalistiek – dit is nie meer verslaggewing nie, maar blatante beïnvloeding. Denzel Washington (verstommend dat ek ‘n Hollywood akteur nogal aanhaal) vat dit egter vir my die beste saam: “If you don’t read the newspapers you are uninformed, if you do you are misinformed.”

Leeuwyfie ·

Hiérdie leser sal graag die skrywer herinner aan die voorblaaie, radiostasies en TV-nuus wat Al Gore as president geluk gewens het. Dis nie te lank terug nie.

Yolandie ·

Ja dit is ongelooflik wat die media aan die publiek “verkoop” as die waarheid. Die feit is dat daar nog geen uitslag is in die Amerikaanse verkiesing nie. Die feit is daar is regprosesse wat plaasvind om ‘n President Elect aan te kondig wat deur die “Electoral College” aangewys en verklaar word in Desember. Maar wat maak die media hulle versprei valse stories dat Joe Biden gewen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.