Nuuskommentaar: Dit is nie New York nie…dis Suid-Afrika (met Marikana)

Onrus in Marikana, Augustus 2012

Onrus in Marikana, Augustus 2012

Die Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis is vervleg met uitlatings wat sekere politici seker wens hulle nog nooit gemaak het nie. So sal oud-pres. Thabo Mbeki graf toe gaan met sy opmerking dat misdaad in die post-’94-Suid-Afrika nie meer is as voorheen nie, dit word net meer gereeld aangemeld. Van oud-pres. Nelson Mandela se beloofde wasmasjiene vir almal het (steeds) dadels gekom.

Pres. Jacob Zuma dra reeds swaar aan sy ritse opmerkings wat hom aan die hakskeen sal bly hap. Soos sy opmerking dat die voorvadergeeste diegene sal ry wat nie vir die ANC sal stem nie, dat gewelddadige proteste ‘n tipiese kenmerk van demokrasieë is maar dat die media in die buiteland dit in ander lande verswyg, sy honde-uitlating wat wêreldwyd nié deur die media verswyg is nie, en ‘n rits kwasigodsdienstige-uitsprake waarvan sommiges deur die hoofstroomkerke as godslasterlik beskryf is.

Getrou aan hierdie tradisie, het die kleurvolle vakbondbaas van Amcu, Joseph Mathunjwa, tydens ‘n ontbytgesprek van die New Age-koerant gesê die dra van stokke is deel van hul tradisie. “Dit is Suid-Afrika, dit is nie New York nie.”

Om tradisie vir sekere optredes op te roep, is ook nie nuut nie. Dikwels is dit egter nie die oorspronklike kultuur met sy tradisies en waardes wat geopper word nie, maar ‘n oorgangskultuur wat dikwels elemente van anti-kultuur opdoen, met ‘n “waardesisteem” wat gekenmerk word deur dwelmbendes, of praktyke wat Suid-Afrika een van die moeilikste lande maak om MIV/Vigs te bekamp.

In die trekarbeidstelsel het die praktyk van “dubbele gesinne” algemeen geword – ‘n gesin “by die werk” en ‘n gesin “tuis” wat elders onderhou moet word, en dié onderhoudskoste word gewoonlik aan die adres van die werkgewers gerig. Dit speel nie net ‘n rol in die mynbousektor nie, maar het ook ‘n rol gespeel in die Wes-Kaapse plaasstakings.

In Suid-Afrika het Cosatu-verwante stakings die skynbare “kultuur” van gewelddadige optogte, intimidasie, vandalisme en af en toe selfs moord gekry. Danksy Cosatu se bondgenootskap met die ANC was dit soms baie moeilik om hierdie praktyke polities te beperk.

Nou is die skoen aan die ander voet. Amcu is ‘n regstreekse teenstander van die Cosatu-geaffilieerde NUM, en het sedert sy ontstaan reeds in drie verlammende stakings in die platinumgordel betrokke geraak – die huidige die mees omvangryke. Die tweede het die Marikana-skietery opgelewer.

Die vorige twee stakings het die internasionale platinumprys bykans oornag tot groot hoogtes laat voer, waarvan die pieke steeds duidelik op die vyf-jaar prysgrafieke gesien kan word. Nou, met die moeder van alle stakings, sukkel die platinumprys om op te tel, wat ‘n duidelike boodskap aan die vakbondbase behoort te stuur dat die wêreldekonomie nie (nou) die tipe salariseise kan ondersteun wat geëis word nie. Die tydsberekening van die staking kon kwalik meer beroerd gekies gewees het.

As die mynbase geglo kan word dat byna 70 persent van die stakende Amcu-lede wil terugkeer werk toe, maar weens intimidasie te bang is om hul werk te hervat, het die kernbeginsels van ‘n staking reeds verval. Trouens, die grondwet word erg geskend.

Die prys van die staking is reeds so hoog, dat almal betrokke reeds blywende skade opgedoen het – die staat wat miljarde rande aan belasting kwyt is, die myne, waarvan ‘n paar reeds ‘n derde van hul plaaslike produksie verloor het, en die werkers self wat nie net hul salarisse tydens die staking kwyt is nie, maar ook selfs al word die staking vandag beëindig, reeds deur herstrukturering (grootskaalse afleggings) in die gesig gestaar word. Die res van die gemeenskappe van die platinumgordel is ook reeds geknou weens die afname in koopkrag – die kinders van sake-ondernemings gaan honger skool toe, die banke lê beslag op voertuie en huise.

By dieselfde New Age-ontbytsessie, het Gideon du Plessis van Solidariteit gesê ware vakbondleiers weet wanneer die prys te hoog is. Mathunjwa, wat steeds in luuksheid leef, glo blykbaar dis makliker om platinum te ontgin as om bloed uit ‘n klip te tap. Hiermee mag hy tegnies reg wees, maar dis beslis duurder om platinum as bloed uit ‘n klip te tap. Sy vakbond is nou letterlik besig om die hennetjie wat die platinum-eiers lê te slag.

Amcu slaag wel in een opsig – om die obsene salarisse wat top-mynamptenare verdien onder die vergrootglas te plaas. ‘n Groeiende inkomstegaping is ‘n wêreldwye verskynsel, en word deur sommige ekonome gemotiveer aan die hand daarvan dat dit uiteindelik juis mededinging, werkskepping en beter werksomstandighede vir almal bied.

Ander ekonome wys weer daarop dat wanneer daardie top-vergoeding te groot word, dit die lewensvatbaarheid van die onderneming self negatief beïnvloed. Die probleem word vererger wanneer dié top-salarisverwagtinge ook na ander sektore soos die banksektor oorspoel, en raak kritiek as dit uiteindelik van die semi-staatsinstellings na die staatsektor (die sogenaamde onproduktiewe sektor) oorspoel.

Onlangse syfers van die Amerikaanse Geologiese Opnamesentrum, USGS, toon dat Suid-Afrika nog 150 000 ton onontginde metale van die platinumgroep het. Hiervan is by verre die meeste in Suid-Afrika se bodem opgesluit. Maar Suid-Afrika se ontginningsvermoë word in dieselfde verslag as kwesbaar beskryf, ook onder meer oor die beskikbaarheid van water en elektrisiteit.

Dwars oor die wêreld word daar dus intens navorsing gedoen om plaasvervangers vir die metale te vind, en kort-kort is daar aankondigings oor belowende vordering. In Die Burger se hoofartikel vandag word die kwessie ook ontleed en die aanwendings van platinum-groep metale onder meer gelys as om in motors se uitlaatstelsels gebruik te word. Platinum is ’n hoëwaarde-metaal wat ook ’n kernbestanddeel in batterye, waterstofselle, elektronika, juweliersware, kankermedisyne en ander mediese toepassings is.

Opsommend – hierdie staking se koste het so hoog geword dat ‘n terugkeer na “normaal” skynbaar nie meer moontlik is nie. Die myne sal noodwendig, in weerwil dat die Suid-Afrikaanse reserwes hulle moeilik hiertoe leen, op veel groter skaal moet meganiseer.

Vandag is nog ‘n belangrike mylpaal in die sage wanneer Amcu se bestrede hofaansoek om die myne te verbied om regstreeks met die mynwerkers te onderhandel (bv. die SMS-veldtog) aangehoor word.

Dit lyk of daar omvattend oplossings vir die langer termyn moet kom – wat kulturele, maatskaplike, opvoedkundige en ekonomiese faktore in ‘n beter mandjie sal moet ineenvleg. Nie net in belang van die platinumsektor nie, maar die ganse mynbou en die ganse Suid-Afrika.

Suid-Afrika mag dalk nie New York wees nie, maar die inwoners verdien ook beter as ‘n wettelose boendoe waar viktimisasie, intimidasie, vandalisme en moord as werktuie ingespan word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.