Nuuskommentaar: Eksklusief of inklusief met Afrikaans en ATKV

Die Afrikaanse taalmonument in die Paarl. Foto: Nico Strydom

Is daar nie in ’n mate ’n geval van bymekaar verby praat in die debat oor die ATKV se aangekondigde aksie van Afrikaans Plus nie? Die woordestryd hieroor is onverkwiklik en staan boonop in die konteks van die wegdoen van Afrikaans op kampusse.

Sosiale media het net te groot en te invloedryk geword om nie te verreken wanneer ’n mens ’n stelling maak of standpunt stel nie. Pas het ons die ontploffende impak gesien van lesers op die nuwe koers van die ATKV soos aangekondig. En Suid-Afrika het net te veel kwessies wat haat via die sosiale media skep of aanblaas, soos pas blyk uit Waldimar Pelser se skrywe in Rapport, “Pasop. Haat kan ons verteer”.

Dit het werklik nie die ATKV-kwessie as brandpunt ook nog nodig nie.

Op die gevaar af dat die verwysings van verskillende skrywers hieronder effe kunsmatig aan mekaar gelas word, word dit nogtans so gedoen omdat dit is hoe baie lesers dit ervaar het.

Nadat die voor- en nadele van die voorgestelde Afrikaans Plus van Deidre le Hanie, die ATKV se nuwe besturende direkteur, deeglik, en dikwels moddergooiend, onder die loep geneem is, het ’n woordvoerder van die ATKV, Mercia Eksteen, gesê die ATKV wil met Afrikaans bloot voortbou op die jarelange tradisie om brûe en nie mure te bou nie. Leserskommentare dui egter daarop dat baie mense, soos in die geval van die Spur-verskoning, nie met dié “gerusstelling” tevrede is nie. Dis natuurlik moeilik om te bepaal hoe verteenwoordigend hierdie reaksie is.

Hoe het hierdie debat so ’n omvang aangeneem? Dit is gewoon omdat die kwessie van inklusiwiteit, eksklusiwiteit en beweerde uitsluiting ook te berde kom in ander kwessies waar Afrikaans nog ’n staanplek het, of tot onlangs nog gehad het.

Onbedoeld het prof. Jonathan Jansen, oudrektor van Kovsies, se skrywe op Netwerk 24, “Afrikaans ‘sal nie op kampusse oorleef’”, die debat “ingelui.” Lees gerus Maroela Media se reaksie, “Nuuskommentaar: Jansen se siening onvanpas vir Grondwet”.

Jansen se skrywe is deur prof. Hermann Giliomee beskryf as “verskriklik”. Ander skrywers, soos Flip Buys, het min of meer soortgelyke standpunte ingeneem.

Dit is teen hierdie agtergrond dat Le Hanie se Afrikaans Plus-visie bekend gestel is. Net te veel van wat sy gesê het, het geklink of dit van dieselfde atmosfeer as Jansen teug. Die reaksie was blitsig, onder meer in ’n deeglik verwoorde artikel in Maroela Media deur Solidariteit se dr. Eugene Brink. Die titel, “ATKV ly aan ‘mission creep’”, is selfverduidelikend.

Die volgende swaargewigbydrae tot die debat het gekom van dr. Christo van Rheede. Hy skryf onder meer: “’n Verdagmakery van die ATKV omdat dié organisasie na inheemse taalgemeenskappe uitreik versterk slegs die persepsies dat Afrikaanssprekendes rassiste is.” Ook ander, soos mnr. Flip Buys van die Solidariteit Beweging, het aan die debat deelgeneem.

Wanneer na definisies van eksklusief en inklusief in Engels gekyk word, is dit duidelik dat die betekenis hemelsbreed verskil van dít wat normaalweg in Afrikaans bedoel word. Inklusief se betekenis in Engels kom primêr ooreen met “ingesluit”, soos ’n produk se prys wat die BTW insluit. Eksklusief se Engelse begrip sluit juis weer, in hierdie geval, die BTW uit.

Is dit nie dalk deel van die probleem nie … dat die stryd om minstens ’n mate van eksklusiwiteit vir Afrikaans te behou, geknel word met die begrip dat dit op totale uitsluiting van ander sou neerkom nie? Word daar in die debat oor die ATKV se nuwe benadering nie in ’n mate bymekaar verby gepraat nie?

En kom dit nie daarop neer dat in hierdie debat waar eksklusief met uitsluiting vertaal word, Afrikaans dan by verstek sy grondwetlike en volkeregtelike regte moet verbeur nie?

In ’n multikulturele land soos Suid-Afrika, veral een waarin grondwetlike regte “verskans” word, gerugsteun deur die internasionale reg, is dit nie altyd so eenvoudig om eksklusief en inklusief vas te pen nie. En albei terme word mildelik deur voor- en teenstanders van die begrippe misbruik, soos om aan te voer dat die blote teenwoordigheid van Afrikaans op ’n kampus (laat staan nog die gelykberegtiging daarvan) op ’n manier “uitsluitend” sou inwerk. En maak die taal melaats, dan word die sprekers met “melaatsheid” geslaan. Dr. Leopold Scholtz het juis in sy artikel “Misverstand oor Afrikaans” die kwessie aan die bod gestel. Hy skryf onder meer: “Jansen en (afgetrede regter) Van der Westhuizen se boodskap is in wese dieselfde: Aandrang op Afrikaans kom noodwendig op rassediskriminasie neer.”

Maar hoe manifesteer ’n meer inklusiewe benadering in Suid-Afrika? Op ’n lukrake manier is na die webwerwe van ’n aantal instansies gekyk om te sien hoe Afrikaans – eens dikwels die dominante taal daar – geakkommodeer word:

  • Die Suid-Afrikaanse Bloeddiens: Die webwerf is net in Engels.
  • Die Nasionale Museum, Bloemfontein: Die webwerf is net in Engels.
  • Die Oorlogsmuseum, Bloemfontein: Slegs Engels met ’n enkele Afrikaanse inskrywing.
  • Nasionale Outismevereniging: Outisme Suid-Afrika se webwerf, slegs Engels.
  • Die ACDP: Webwerf slegs Engels.
  • Die DA: Voorblad van webwerf slegs in Engels. In ’n stadium was daar Afrikaanse mediaverklarings as sake spesifiek oor Afrikaans gehandel het.
  • Kansa se “gesig” is nou so Engels dat Afrikaans publikasies in Afrikaanse teks van “Cansa” begin verwys het.

Dit lyk of sommige instansies, wat onder geen wetlike verpligting / dwang verkeer om slegs Engels te wees nie, bloot Engels as verstektaal inspan. Soms speel transformasie ’n groot rol wanneer ’n instansie byvoorbeeld ’n skakelbeampte aanstel wat nie Afrikaans magtig is nie. Die FW de Klerkstigting, wat eens pligsgetrou alles in Afrikaans en Engels weergegee het, span nou feitlik net Engels in, behalwe as sy Afrikaanssprekende uitvoerende hoof, dr. Theuns Eloff, iets vir die Afrikaanse media in Afrikaans voorberei.

Ten spyte van ontkennings reik die Suid-Afrikaanse Landbou-unie heelwat materiaal, insluitend heelwat mediaverklarings, slegs in Engels uit.

Of die drywers hiervan dit besef of nie, dit laat baie Afrikaanssprekendes soos vreemdelinge in hul eie land voel.

Is dit dan so vreemd dat hierdie Afrikaanssprekendes veral op godsdienstige en kulturele terrein na iets streef wat “eksklusief” Afrikaans is? En dit geld nie net Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika nie – Afrikaanssprekendes in Nieu-Seeland gee byvoorbeeld ’n Afrikaanse e-tydskrif, Brokkies, uit en daarin word ’n ongelooflike aantal kerkdienste in Afrikaans geadverteer.

Maar terug in Suid-Afrika. Sal ’n Afrikaanse gemeente ’n Engelssprekende gesin wat graag daar dienste wil bywoon of lidmate word, uitsluit omdat hulle nie Afrikaanssprekend is nie? Hulle is welkom, solank hulle bereid is om die dienste in Afrikaans te volg. Daar is immers ook gemengde egpare waar of die man, of die vrou, Engelssprekend of van ander herkoms is. Eksklusief Afrikaans beteken dus selde fisieke uitsluiting.

Tog is daar in skynbaar veral akademiese kringe ’n groot vertoon dat die blote teenwoordigheid van Afrikaans op totale uitsluiting, noodwendige diskriminasie en ’n handvol ander liederlikhede neerkom. Dit ten spyte daarvan dat, soos by Kovsies, daar volwaardige Afrikaanssprekende en Engelssprekende klasse was. ’n Klomp spookstories soos dat dosente in Afrikaans die eksamenvrae aan hul studente verskaf, is as kapstok gebruik om op “probleme” met die stelsel te wys, in plaas daarvan om die spookstories met dikwels sterk rassistiese ondertone, hok te slaan.

In Engels is daar ’n woord wat die posisie van Afrikaans mooi beskryf, die “bottom line.”  Die Afrikaans, slotreël, is egter net so beskrywend. Dit is die punt waar, ná al die uitreik en wegkoes van diskriminasie, nog ’n groter pond vleis geëis word. Dit is dan waar Afrikaanse instellings se inklusiwiteit en eksklusiwiteit uiteindelik onbuigbaar ontmoet, en waar ’n getorring daarmee konflik en die howe afgee.

Komplekse kwessies kan nie deur rigiede filosofiese benaderings beredder word nie. Onder Jansen se bestuur is die kultuurkoshuise op Kovsies, wat op aandrang van swart studente ingestel is, as boos geklassifiseer en moes mee weggedoen word. Dit het wel met die bereik van ’n kantelpunt gepaard gegaan waar swart studente die meerderheid geword het. Die TV in die “gazellie” is spreekwoordelik van Afrikaans, en rugby-uitsendings, oorgeskakel na Engels en sokkeruitsendings, as voorbeeld. In die VSA het verskeie universiteite begin om afsonderlike koshuise vir die swart minderheid in te rig, of minstens gange waar swart studente ’n soort eiesoortigheid kan handhaaf.

Die fusie van taalgroepe bring nie noodwendig minder probleme teweeg as die alternatiewe nie.

Uiteindelik gaan die brûe wat die ATKV met die Afrikaans Plus-veldtog beplan, en eintlik lankal reeds mee besig is, asook soortgelyke aksies van ander Afrikaanse kultuurorganisasies, se lakmoestoets wees of dit in die eerste plek Afrikaanse organisasies gaan bly, en tweedens of dit doeltreffend gaan aandag gee aan die posisie van Afrikaans in ’n omgewing van vooropgesette vooroordele en selfs haat.

Daardie taak is egter nie net kultuurbewegings en ander s’n nie. Die mooiste verhale van genormaliseerdheid kom byvoorbeeld van judo- en ander toernooie wat in groot harmonie plaasvind. Soms word wel “ter wille van” van Afrikaans as een van die toernooitale afgestap, maar dikwels word dit sonder ’n rimpeling saam met Engels gebruik.

Ongelukkig wys Waldimar Pelser in sy artikel hierbo genoem na oorgenoeg terreine waar konfliklose assosiasie nié gebeur nie. En dit sluit nie eens die regering in wat ’n president in stand hou wat die rassekaart mildelik as verdelende faktor inspan nie. En is dit naby verkiesings nie amper komies om te sien watter ministers skielik Afrikaans kan praat nie?

Ja, ons moet uitreik en brûe bou, maar nie ten koste van kultuurgroepe se grondwetlike reg om as sodanig hul reg tot bestaan en uitlewing te verskans nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

27 Kommentare

CJ ·

Herman. Jy het ‘n besondere vermoë om ‘n saak in perspektief en in konteks te stel. Baie dankie daarvoor. Is dit moontlik om Flip Buys se inset, waarna jy verwys, op Maroela Media beskikbaar te stel? Groete.

Herman Toerien ·

Baie dankie CJ. Ek waardeer. Maroela het ook aan jou wens voldoen, en Flip se stuk is nou by Nou pra’ jy.”

hein ·

Waarom net altyd met Afrikaans lol en nie die ander tale en kulture nie? Los Afrikaans uit en daar sal nie probleme wees nie. Hou op kariing met die Afrikaanse Taal en Kultuur.

Francois ·

Herman,
Kyk net asseblief weer na spelling. Seker bedoel Maroela media, nie meida nie.

Dalene de Vente ·

Dagsê Francois

Dankie vir jou valkoog. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene nms. Maroela Media

Basson ·

~600 Afrikaanse skole het tot niet gegaan die afgelope 14j. (Tot 1234 skole tans). Sou mens dit lineer ekstrapoleer sal daar geen Afr skole meer oor wees oor 28j. (Dalk nog vroeer as mens ‘n paar ander sake (bevolkingsgroei ens) in ag neem,
Maw ‘n Afr kind wat vandag gebore word, se kind sal heel moontlik nie meer ‘n Afr skool he om na toe te gaan nie… (?)
Soveel te meer rede om op te staan en standpunt in te neem om ons eie kultuurruimte te verseker.

JC ·

Dankie Basson. Ek stem saam. Ons moet ‘n streep trek, en se tot hiertoe en nie verder nie!
Dit geld vir die Staatsuniversiteite se diskriminerende beleid ook, EN DIT NOGAL IN ‘N GRONDWETLIKE REGSTAAT MET ‘N HANDVES ( WAT VERONDERSTEL IS OM FUNDAMENTELE REGTE [waaronder moedertaal onderrig resorteer] TE BESKERM!!) . Om te dink dat Afrikaanssprekendes dit net daar gaan los, is liggelowig om die minste te se.
Die UV moes die GOEIE uitspraak van die HH in Bfn aanvaar het, maar ons weet almal hierdie is nie meer die vriendelike, redelike, toegeeflike en verdraagsame sonskyn Suid-Afrika waaraan ons gewoond geraak het nie. Ons moet nou maar ons eie “sonskyn” skep.

JC ·

Maw. , jy kan nie beide Afrikaans en “inklusief” wees nie?
Van wanneer af is die twee konsepte wedersyds uitsluitend?
Watter tipe “demokrasie” is hierdie- Die diktatuur v/d liberalis/meerderheidsoorheersing?
Wat van die Vryheid om eksklusief te verkeer en onderrig te ontvang in JOU taal? Wat van die reg om VRYLIK te assosieer? Het gedwonge integrasie, nog onder die vaandel van MEERDERHEIDSOORHEERSING ook, al OOIT gewerk?
Hierdie hele kabaal ondom inklusiwiteit en eklusiwiteit, is niks ander as ‘n verskoning vir die “onderdruktes” om die afstammelinge van die “onderdrukkers” by te kom; ek moet se op briljante en bedrieglike wyse knus toegedraai in ‘n politiese korrekte baadjie.
Dat die argument; hoe lagwekkend danookal; dat jy nie in jou taal mag onderrig ontvang nie/ of dat jy my daardeur aanstoot gee, want ek kan of wil nie, ontbloot is van enige logika, behoef geen betoog nie.
Ten slotte wil ek net een vraag vra, en wens ek oudR Johann v/dWesthuizen sou my kon beantwoord:
Gegewe die proporsionaliteits/OPWEEGtoets wanneer dit by GW regte kom: Hoe word die persoon wat net in ENGELS WIL STUDEER se regte BEVORDER; deur my, my reg om in my moedertaal onderrig ontvang, te ontse?? Om te se dat daar ‘n DISPROPORSIONELE BENADELING EN VERONTREGTING PLAASVIND, IS OM DIT LIGTENS TE STEL.

Wat maak seerder as iemand wat jou, jou taal, en die se status in die openbare domein, ontse?
Niks nie!

B-man ·

Hierdie debat kan ook vergelyk word met die “integrasie-transformasie”-debat. My universiteitskoshuis op UJ het volkome ge-“transformeer” (van meestal wit) en dra nou sommer ‘n Afrikataal-naam (want lyk my AFRIKAans tel nie as een nie) dit alles onder die skynbeeld van integrasie.

Dit begin al hoe meer vir my te blyk dat eksklusiwiteit taboe is. Die spreekwoordelike lyn moet in die sand getrek word en ons moet sê: “Tot hier en nie verder nie.”, want sodra die perke verslap gaan die Engelse taal en kultuur so met ons integreer totdat ons heeltemal getransformeer is.

Die ATKV doen goeie werk, want net soos hulle behoort daar ‘n Z(ulu)TKV, X(hosa)TKV ens. te wees met hulle eie beleid en enigeen mag aansluit, want saam kan ons beter werk as teen mekaar.

Eish ·

Gedwonge Integrasie wêreldwyd het hom tekens bewys as n onhaalbare droom aangesien politici se vertolking daarvan en diè van die man op straat, ligjare verskil. Daar is n veilige hawe waar elkeen van ons, homself, in sy taal en kultuurgoed, wil oriënteer. Dis die streep in die grond. Dis nie rassisme nie, anders sou my taalgebruik tuis ook as rassisme geklassifiseer kon word. Daarom sal ek strewe daarna, om te midde van Engels as gedwonge omgangstaal, Afrikaanse alternatiewe aan te hang. Die Joodse teenwoordigheid jare gelede in die platteland het niks van ons weggeneem nie, want hul kon Afrikaans praat, die gemene deler van die tydvak, maar steeds het hul, hul kon kultuur uitleef. Meeste van ons het nie eens n benul hoe n sinagoge se binnekant daaruitsien nie. Dis al wat ek wil doen. Goeie burgerskap beteken nie dat ek my kultuurskat moet opoffer in die privaatheid van organisasies wat hul vir die behoud daarvan beywer nie. Shoprite Chekers se drie finaliste hierdie jaar vir die Boerewors kompetisie is nie een n ” Boer” nie. Geen fout as die wors werklik so goed is nie. Maar, daar waar ek my vleisie slag en self my boerewors maak, los my asb in vrede.

Suzie ·

Geen probleem as webblaaie net in 1 taal is nie, anders moet dit maar in 9 tale wees. Maar vir seker moet daar dan iets oorbly wat NET vir Afrikaans staan. Eksklusief vir Afrikaans. Juis omdat Afrikaans orals anders uitgeDRUK word. !

Johan Holtzhausen ·

Daar is met die tegnologie tot ons beskikking geen verskoning om enkeltalige webwerwe te handhaaf nie. Sanparke mag jy besoek in Engels, Spaans, Italiaans en etlike ander maar nie in Afrikaans of enige ander inheemse taal nie. Gewoon minagting van die mense van die land

JoeV ·

Mooi gestel en uiteengesit. Dit moet op rekord kom dat dit SLEGS Afrikaanse mense is wat moet uitreik na ander kulture, geen ander kultuur het die plig nie. Daarom is dit noodsaklik dat by wie die plig ookal lê, dit met belasting geld gedoen word, nie met my ledegeld nie.

X-ATKV lid.

Dirk ·

Daar bly nie veel afrikaanse organisasies oor waar die mure vervang kan word met brue nie. Die meerderheid brugorganisasies en bewegings is nou al totaal vernietig of word beheer en besit deur die brugmense

clara ·

Jip geen brug van my kant af nie. Die ander kan nou begin bou – sover het hulle nog net alles vernietig.

AFRIKAANS ·

KAN DIE MENSE NOE NET ONS TAAL EN KULTUUR UITLOS NIE???!!
HOEKOM ALTYD ALLES WAT AFRIKAANS IS, OF IETS MET DIE AFRIKANER TE DOEN HET, TE WIL VERWOES OF VERANDER?!!
LOS ONS UIT!!

Johan ·

Ek het die hele debat oor die Le Hanie dame en die ATKV se “nuwe” inklusiewe rigting gelees.
Wat ek nie raaklees nie is die feit dat Afrikaans ‘n hartsaak is en as die ATKV ons Afrikaners se hartstaal in die hande wil laat van ‘n dame wat dit eers mooi moet leer dan moet ek waaragtag nie kwalik geneem word as dit vir my (ek wil my aanmatig om te sê “ons”) ‘n bietjie dik bir ‘n daalder raak nie
Waar Leopold die louter snert uitkrap dat dit noodwendig rasisties is as ons Afrikaans wil handhaaf sal geen regdenkende mens seker ooit verstaan nie

Ada ·

Die vrou is uit haar diepte uit en Loepoldt lyk my is jammer dat hy Afrikaans is. Albei verlore siele.

Nienaber ·

Le Hanie weet duidelik nie waar sy hoort nie.Sy moet haarself gaan vind op n ander plek.

Annatjie Kruger ·

Die SABD, Kansa, en Outisme bedien alle rasse in SA. Die museums word ook deur buitelandse toeriste besoek. Dit kan dus aangeneem word dat Engels gebruik sal word as die taal wat almal verstaan. Ek was nog altyd onder die indruk can die ACDP se taal van keuse Engels sal wees. Dit is verstaanbaar dat die DA meestal Engels gebruik want hulle probeer om ‘n inklusiewe party wees.

Annatjie Kruger ·

Om hierdie instansies en hul webwerwe te gebruik as rede waarom in instansie wat SPESIFIEK EN EKSKLUSIEF geskep is of die AFRIKAANS taal te bedien, nou in ‘n veeltalige instansie te omskep is, om die minste te sê, belaglik. Ek het geen probleem as ander rasse wat se moedertaal Afrikaans is by die organisasie aansluit nie, inteendeel, ek verwelkom dit, maar soos dit nou lyk is daar ENGELSSPREKENDE persone aan bestuur van sake by ‘n AFRIKAANSE instansie en wil hulle daardeur hul veeltalige idees op ons (Afrikaanssprekendes) afdwing.

Rassie ·

Klaarblyk verwar ons eie taal Afrikaans ons soms in soverre dit oor begrippe soos inklusief en eksklusief gaan.

Eienaarskap van Afrikaans as taal is ‘n goeie voorbeeld van die begrippe inklusief en eksklusief

Ieder en elke Afrikaanse moedertaalspreker van Afrikaans is ‘n gelyke vennoot in die eiendomsreg op Afrikaans, ongeag ras, etnisiteit, geloofsoortuiging of enigiets anders wat individuele Afrikaanssprekendes van mekaar onderskei.

Hierdie inklusiewe groep is egter dan terselfdertyd eksklusief. Hul eksklusiwiteit is daarin te vinde dat hulle, ten spyte van hul inklusiwiteit, eksklusief as Afrikaanssprekendes geidentifisseer kan word. Dit gaan dus oor die taal Afrikaans as gemeenskaplike kultuurskat en het niks met ras, etnisiteit, geloof of wat ookal te doen nie.

Wanneer so ‘n inklusiewe groep, wat dan eksklusief Afrikaans is, ‘n brug na ander taalgroepe wil bou, is die grense reeds duidelik en onbeskaamd omlyn.

Terselfdertyd is hierdie brug dan ook diudelik identifiseerbaar as ‘n welmenende kommunikasiekanaal van wedersydse erkenning, respek en samewerking.

Moontlik is dit wat die ATKV in die oog gehad het en moontlik het dit in die begripsverwarring oor inklusiwiteit en eksklusiwiteit verlore gegaan.

Moontlik wou hulle dit bloot duidelik maak dat ons as Afrikaanssprekendes onsself nie in ons inklusiewe eksklusiwiteit op ‘n geisoleerde taaleiland sonder ‘n brug na ander Suid-Afrikaanse tale bevind nie.

Ek hoop ten minste dat dit is wat hulle in die oog het met Afrikaans plus.

Adam ·

Rassie, dankie vir ‘n sinvolle opinie. Daar is hordes bruin en swart landsburgers wat Afrikaans as eerste taal gebruik en enigiemand vir wie Afrikaans en die Afrikaanse kultuur kosbaar is behoort staanplek binne die ATKV te kan kry. Gholfklubs bied nie klavierlesse aan nie en net so hoef die ATKV ook nie sy karakter te verander nie. Dit beteken nie dat hulle nie hulle aan ander groepe mag blootstel om Afrikaans en die Afrikaanse kultuur addisonele blootstelling te gee nie.

Johannes Meintjes ·

Na mening is dit een van ons ernstige Afrikaner volks- of nasie tekortkominge dat ons nie daarin slaag om eerstens voluit in eie identiteit, taal en kutuur te kan funksioneer en dan onderskeidende selektief met ander kan saamleef nie. Waarom in elk geval ‘n ATKV, ‘n GHRA en ‘n FAK? Ons is inderdaad erg onderling verdeeld en verward!

Lizl ·

Verdruk en vertrap is die Afrikaner…. Pasop net dat die doringboompie nie weer reop staan nie

Arno ·

Het julle enigsins Max du Preez se rubriek in vandag se Die Burger gelees? Hy is heelhartig agter die ATKV Plus en absoluut teen Afriforum/Solidariteit (en Maroela Media wat hulle “mondstuk” is). Eers het ek sy opinie in ag geneem, maar nou dat ek Herman Toerien se gebalanseerde rubriek gelees het, het ek finaal besef dat Max meestal eensydig dink. Hoe kan ek hom dan ernstig opneem? Die kind word die heeltyd saam met die badwater uitgegooi. As ATKV Plus voordelig is vir Afrikaans sal ek dit ondersteun, maar as Maroela Media/Afriforum/Solidariteit ook goeie werk vir Afrikaans doen, sal ek dit ook ondersteun.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.