Nuuskommentaar: En hoe het partye toe gevaar?

Grafika: OVK (elections.org.za)

Grafika: OVK (elections.org.za)

Met bykans dertig persent van die stemme getel, word voorspel dat die ANC sowat 63% van die stemme gaan kry, sowat twee tot drie persent minder as met die vorige verkiesing.

Dit lyk of die ANC die stemme wat hy aan Julius Malema se EFF (sowat 4% maar baie vloeibaar) afgestaan het, by Cope teruggeneem het. Malema is duidelik op pad parlement toe, en die duur van sy parlementêre diens sal afhang van of hy die regsmoeilikheid die hoof kan bied. Die ANC en die EFF behoort saam ‘n tweederde-meerderheid te behaal.

Cope het soos verwag, ‘n plettervat met sy neus in die grond gedoen.

Die DA het in daardie stadium van die tellery geraak-raak aan 30% maar voorspellings van onder meer die WNNR het vir die DA ‘n uiteindelike aandeel van sowat 22% gegee.

In daardie stadium het die ANC sowat 53% van die stemme in Gauteng getrek, maar minder as tien persent van die uitgebragte stemme was toe geteken, en kon daar nog nie met sekerheid gesê word dat die ANC wel ‘n volstrekte meerderheid sou behaal nie. Sou die ANC nie 50% haal nie, en nie ‘n koalisievennoot vind nie, sou dit die DA met ‘n dilemma laat, want met omtrent ‘n derde van die stemme vir die DA sou hy ook koalisievennote moes vind. Die DA het reeds aangedui dat die EFF (sowat 8 % van die stemme) buite die kwessie is.

In daardie stadium het dit gelyk of net die VF+ (byna twee persent van die stemme) betreklik seker van verteenwoordiging sou wees – te min om die DA in ‘n koalisie te help. Dit wil dus lyk of die ANC die Gautengse regering steeds sal beheer, hetsy op sy eie as die party uiteindelik meer as 50 persent kry, of in alliansie met die EFF, of in alliansie met die DA. Nie een van die koalisie-opsies is vir die ANC aptytlik nie.

Die Noord-Kaap lyk of dit betreklik maklik deur die ANC behou gaan word. In die Wes-Kaap het blykbaar dadels gekom van die ANC se pogings om die provinsie te herwin. Dit lyk of die DA naby die sestig persent van die stemme gaan kry, veral danksy die bruin stemme wat tot ‘n groot mate van die ANC na die DA verskuif het. Die Solidariteit-DKD-saak, en swak leierskap deur die ANC het klaarblyklik sy tol op die ANC gehad.

Op die nasionale vlak is dit nog te vroeg om met groot sekerheid te sê of die Vryheidsfront Plus beduidend gebaat het by die ongedurigheid wat oor die DA en Afrikanerbelange ontstaan het.

Dit lyk of die IVP byna die helfte van sy steun aan die NFP kon afgestaan het.

Die ACDP kan dalk sy huidige drie parlementêre verteenwoordigers behou, maar op provinsiale vlak lyk dit of die ACDP met die moontlike uitsondering van die Wes-Kaap, vir die eerste keer sedert sy ontstaan sonder verteenwoordiging kan sit.

Die moontlikheid bestaan dat die partye in die Pan-Afrikanistiese dampkring dalk al hul verteenwoordiging kan verloor. Die PAC, APC en Azapo het swak vertoon.

Dit lyk ook of die eindfluitjie vir AgangSA kon geblaas het. Ook die UCDP sal oor sy voortbestaan moet herbesin.

Dit sal nog gesien moet word of die verwagte geringe agteruitgang van die ANC die druk binne die ANC sal laat oplaai om president Jacob Zuma te pos. In die Wes-Kaap is dit betreklik seker dat Marius Fransman die sondebok gemaak sal word.

Terwyl daar nog vloeibaarheid oor die uitslae is, staan ‘n paar sake soos ‘n paal bo water:

– Minderhede, ter wille van die handhawing en uitbouing van hul minderheidsregte, sal toenemend hul heil by sterk burgerlike instellings moet soek. Die volgehoue groei in die ledetal van die Solidariteit-familie, wat AfriForum insluit, sal eenvoudig uitgebou moet word. Die rol van burgerlike instellings is ‘n essensiële deel van ‘n volwasse grondwetlike demokrasie, soos Outa ook getoon het. Die noodsaak van sterker burgerlike instansies het toegeneem met die moontlikheid dat die ANC vir sleutelwetgewing ‘n tweederde-meerderheid saam met Malema se party kan kry. Die howe sal waarskynlik meer gereeld opgesoek moet word om die spesiale verskaningseffek van driekwart-meerderhede wat vir sommige bepalings in die grondwet vereis te laat deursuurdeug.

– Persvryheid sal soos ‘n groot kleinood opgepas moet word om die aanslag teen korrupsie te verstewig.

– Elke burger sal moet doen wat sy hand vind om te doen, soos om sy gewig in skoolbeheerliggame en ander instellings in te werp.

– Die landswye munisipale verkiesings moet binne twee jaar plaasvind, en dit is geen geheim nie dat die kiesers hul kant sal moet bring om ‘n einde te maak aan die verdoemende verslae van die ouditeur-generaal wat die publiek jaar vir jaar skok.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae