Nuuskommentaar: Gaan parlementslede van Ramaphosa ontslae raak?

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS/Twitter)

Donderdag gaan pres. Ramaphosa onder sy eerste mosie van wantroue deurloop. Hierdie mosie is aanvanklik in Februarie vanjaar deur die African Transformation Movement (ATM) ingedien, maar weens die Covid-19-pandemie uitgestel. Die party was boonop self heel verbaas toe die mosie wel toegestaan is om in die parlement aangehoor te word.

Die vraag is of ʼn mens enigsins opgewonde hieroor moet wees. Wat gaan waarskynlik met die mosie gebeur en watter uitwerking gaan dit op ons politieke landskap hê? Die vraag kan waarskynlik die beste beantwoord word deur te kyk na ons post-1994-geskiedenis van sulke mosies.

In 2008 het ʼn mosie van wantroue oudpres. Thabo Mbeki bedreig. Patricia de Lille, wat in daardie stadium leier van die Independent Democrats (ID) was, wou dié mosie deurvoer. Dit het grootliks gehandel oor die elektrisiteitskrisis wat onder Mbeki se leierskap ontstaan het. Voor die mosie nog eens die parlement kon haal, het die ANC Mbeki as leier herroep en hy het daarna vrywillig sy amp neergelê.

Sodoende het die ANC dié geskil intern opgelos, eerder as om dit in ʼn openbare stemming in die parlement te doen.

Oudpres. Jacob Zuma het ook niks minder nie as sewe mosies van wantroue oorleef. Elk van dié mosies wat teen Zuma ingedien is, is deur opposisiepartye aangevra. Dit was daarom nie die ANC self wat Zuma in hierdie forum probeer verwyder het nie. Die ANC het hier weereens verkies om sy sake agter geslote deure uit te pluis en op sy manier vir Zuma uit te skop.

Mosies van wantroue plaas groot druk op die ANC. Dit lê nie net faksiegevegte bloot nie, maar dwing die ANC telkens tot interne optrede.

Hierdie kort geskiedenis voorspel dat Ramaphosa ook waarskynlik sy eerste mosie van wantroue gaan oorleef. Dit sou amper vreemd wees as daar nié ʼn mosie van wantroue in die een of ander stadium teen hom ingestel word nie. Hoewel mosies van wantroue eintlik veronderstel is om ernstig te wees en ernstig opgeneem te word, getuig ons geskiedenis nie daarvan nie.

Die mosies is gewild onder opposisiepartye omdat dit veronderstel is om as nuttige remedie te dien wanneer jy ongelukkig met die sittende president is.

Dit is egter ʼn skynbare vertoning van mag deur opposisiepartye. Die ANC is 26 jaar later steeds die meerderheid in die parlement en kan homself maklik hiermee beskerm. Indien daar werklik ongelukkigheid in die party is, sal die ANC dit altyd eerder intern uitklaar.

Mosies van wantroue wys gewoonlik ook die krake in die ANC uit. Donderdag se mosie gaan egter ook druk op die opposisiepartye plaas. Dit was maklik om Zuma te verag. Amper geen opposisiepartye sou stem om Zuma as president te behou nie.

Ramaphosa is egter anders en dit maak hierdie besluit vir opposisiepartye moeiliker. Daar is reeds bespiegeling dat partye soos die DA en VF Plus teen die mosie gaan stem.

Ace Magashule. (Foto: Itumeleng English/ANA)

Opposisiepartye weet dat geen radikale verandering teweeggebring kan word met ʼn presidentsverandering nie. Die ANC bly die ANC. Die vraag is dan nou watter ANC-lid in dié slegte omstandighede die beste sal wees. Hulle moet hulself afvra of Ramaphosa – met al sy foute – werklik so sleg is. Veral in die lig van die feit dat David Mabuza sy opvolger gaan wees. Mabuza wat beheer van die leisels neem, sal ʼn versterking van die Ace Magashule-faksie beteken.

Is dit werklik die bes moontlike skuif? Opposisiepartye moet besluit of hulle een vorm van radikale ANC wil hê, of die ander vorm daarvan.

Die mosie gaan egter ook die faksiekrake in die ANC blootlê. Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, het ʼn paar weke gelede – ná sy hofverskyning – sterk stellings gemaak oor die toekoms van die party.

Magashule het eintlik bevestig dat die staat – wat deur Ramaphosa verteenwoordig word – die ANC se vyand is, asook dat die ANC deur sogenaamde impimpi’s geïnfiltreer is waarvan die ANC ontslae moet raak.

ʼn Mens kan met redelike sekerheid aanvaar dat hy na Ramaphosa verwys het. Sodoende kan ʼn mens verwag dat Magashule ook vir sy eie heil van Ramaphosa ontslae wil raak – heel waarskynlik in Mei volgende jaar by die ANC se algemene raadsvergadering.

Getrou aan die ANC se geskiedenis sal die party intern van hom ontslae raak, eerder as deur ʼn mosie van wantroue. Die belangrike vraag is dan nou vir wie die Magashule-faksie gaan stem. Indien hulle vir die mosie stem, sal die krake in die ANC drasties blootgelê en vergroot word. Dit sal die byna verlammende interne spanning net verhoog; dit is iets wat die ANC nie noodwendig kan bekostig nie. Indien hulle téén die mosie stem, gaan dit faksiegevegte vir eers uitstel, maar beslis nie vir ewig oplos nie.

Vir opposisiepartye gaan die vraag dus wees of Ramaphosa werklik slegter is as wat ʼn Mabuza-regering gaan wees. Vir die ANC is die vraag waarskynlik wanneer en hoe hulle van Ramaphosa ontslae gaan raak, eerder as óf hulle van hom ontslae gaan raak.

In enige normale land behoort mosies van wantroue saak te maak. In ʼn normale land behoort presidente en leiers maklik uitgestem te word indien hulle slegte werk doen.

Suid-Afrika se politieke stelsel is egter wanfunksioneel – die ANC sal amper nooit korrupte, onbevoegde amptenare uitstem as dit die party se eksterne eenheid skaad nie. Hy sal ook nie dikteer word deur iets soos die Grondwet of wetlike prosesse nie. Hy verkies om geskille intern op te los, op sy eie voorwaardes en volgens sy eie prosesse.

Hierdie mosie gaan waarskynlik nie slaag nie en moet jou ook nie te veel moed gee nie.

Dit gaan ons egter ʼn goeie idee gee van wat die stand van ons politieke landskap is. Dít is belangrik veral in die lig van die komende munisipale verkiesing volgende jaar – dit is nou indien die ANC dit enigsins gaan laat voortgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Pieter ·

Ou ACE is mos deel van ATM hond gaan nou hond eet welkom in zimbabwe

Sarel ·

Beter hoop hy oorleef want die alternatief is ondenkbaar. Dink bietjie waar kom die mosie vandaan
Party biute die ANC maar het sterk bande met Magashule.

JohanR ·

Het ons ooit gedink dat ons sal kom by ‘n punt dat ons nie van SLEG wil ontslae raak nie want wat agter SLEG is, is nog SLEGTER!

JohanR ·

In enige ander land as ‘n president of eerste minister moet loop dan kry jy gewoonlik iemand beter. In Suid Afrika kry jy iemand nog slegter. My gooiste ons het David Mabuza, NDZ en Ace Magashule!

Anoniem ·

Magashule het ‘n sterk verbintenis met die ATM, dus is ek nie verbaas hieroor nie, Magashule weet sy oranje oorpak is bespreek, so hy is desperaat. Ek twyfel egter of die mosie sal slaag, maar indien wel, is SA op ‘n snelweg oppad ondertoe. Persoonlik sal ek Ramaphosa 1 kans gee om die ANC skoon te maak, dus vir nou sal ek maak soos die spreekwoord sê: “Rather deal with the devil you know”.

Marius ·

Dit is niks om van iemand ontslae te raak nie , maar wie kom in sy plek . “From bad to worse” ???
Vra maar net .

Chris ·

Indien die ATM hom nie voorgespring het nie, is ek seker hy sou self die mosie ingedien het. Reken is tyd om voltyds te gaan boer sonder enige ergernis of gewete beswaar.

Persheks Adri ·

Gmp en ons grootste ramp is reeds die ANC om te dink Ace staan ‘n groot kans is kommerwekkend verby tsssk net die hele lot van julle!

Wielspore ·

As CR die mosie van wantroue oorleef met die steun van die pro Zuma kamp binne die ANC is die skrif aan die muur dat ACE en sy kaders se dae getel is. Dan is dit net ‘n kwessie van tyd tot CR die kaders gaan uitskop want CR is in die openbaar verneder. Baie geskiedkundige geleentheid!

Corne ·

As ek so na die artikel kyk , is ons terug in die skool. Trappe van vergelyking. Sleg, Slegter, Slegste.

Danie ·

Ag Ramaphosa kan maar gaan want hy het nog niks gedoen of bereik nie. Hy is soos n verkleur mannetjie. As hy witmense toespreek dan is hulle ok as hy swartmense toespreek dan is hulle weer ok. Hy se goed en niks kom daarvan. Hy moet eerder vir Bona so paar fiksie stories skryf maar asb nie die storie begin met My dear fellow south africans nie want al wat by hom dear is, is sy korrupte comrades

Dirk Mostert ·

In watter opsig is Ramaphosa anders (minder veragtelik) as Zuma?

wim ·

Uit die kommentare hier wil dit voorkom asof die Stokholm sindroom ‘n pandemie onder die volk is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.