Nuuskommentaar: Geen, maar geen ruimte vir korrupsie na begroting

Minister Tito Mboweni. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Met die belowender as verwagte begroting gelewer, lê hef aan voor om daardie positiewe aspekte raak te myn en te ontgin, sodat die myn nie soos ’n kaartehuis op die werkers en bevolking instort nie.

Minister Tito Mboweni het toe die spreekwoordelike haas uit die hoed gepluk deur tot ’n groot mate vir individue verligting te bied deur die fiskale kruiping in sy spore te stuit en nie die BTW-koers te verhoog nie.

Maar die groeivooruitsigte word nou op 0,9% gestel, wat ’n afname behels. Die meeste staatsdiensvakbonde dreig, want ’n groot besparing op staatsuitgawes word in die vooruitsig gestel. Landbou-organisasies het ook gemaan dat belastingbetalers nie net in die positiewe in die begroting moet baai nie, maar die negatiewe ook moet verreken.

Die staatsdiensvakbonde waarsku juis dat korruptes nie nou bloot hul tande in nuwe teikens gaan inslaan nie, want om die staat se balansstaat te laat klop kan nie bekostig word dat een sent waarop as inkomste bereken is, in die gulsige hande van boewe beland nie. Die feit dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) miljoene rande meer kry, dui ook daarop dat besef word die korruptes en medestaatskapers nie net aan die pen moet ry nie, maar die onregmatige verryking teen korrupsie moet vir die staatskas herwin word.

Heel moontlik het die regering nou besef dat buitelandse finansiële hulp afhanklik is van werklike optrede teen korrupsie.

Maar as die boodskap dat daar geen verdraagsaamheid teenoor korrupsie vanuit die buiteland ingebou is nie, nie tot die regering deurgedring het nie, gaan ons klippe kou. So ook as die regstreekse aanmanings uit die buiteland dat die regering se rassistiese grondroofplanne ook vir ’n fiskale guillotine bestem is, nie ernstig opgeneem word nie.

Voor die begroting is berig dat van elke rand wat die regering voor begroot, 20 sent deur lenings gefinansier word. En geleende geld trek rente, veral as ’n land rommelstatus op die lyf geloop het.

En gaan diegene wat die land so van binne geplunder het nou skielik hul lang, inhalige vingers in hul broeksakke laat? Dit gaan ’n enorme gedissiplineerde poging van almal verg om die nuwe begroting nie te laat ontspoor nie. En daarin moet die regering met durf en daad die voorbeeld stel. Soos van die skeptici uitgewys het – die land staan ’n kans solank by voornemens gebly word, maar die oomblik as die president die ANC voor die land stel, wag rampspoed.

Om nie met die ekonomie in die algemeen, en die begroting in die besonder, ore aangesit te word nie, geld die ou ekonomiese beginsel dat volmaakte kennis nodig is om ’n suiwer kapitalistiese stelsel te laat werk. Dié het Suid-Afrika nie, maar dit beteken nie dat alle burgers goeie kennis oor die ekonomie nodig het nie.

Elizabeth Stoycheff, medeprofessor van kommunikasie van die Wayne State Universiteit, doen in vandag se The Conversation vier stappe aan die hand om ’n mens van disinformasie te vrywaar:

  1. Maak van werklike professionele nuusbronne gebruik, en nie instansies soos Twitter en Facebook nie. Hierdie instansies se belang is daarop ingestel om lesers se aandag so lank as moontlik vasgevang te hou ter wille van getalle sodat die maksimum uit advertensie-inkomstes geput kan word.
  2. Gebruik bekende tegnieke soos die Fermi-beramings of beramings gebaseer op gesonde verstand om die akkuraatheid van nuusbronne te bepaal. Baie van die fopnuus wat via selfoonboodskappe die rondte begin doen, is ooglopende kaf, maar soms is daar geloofwaardige elemente in wat paniek kan veroorsaak.
  3. Die mens neig om nuus op te soek wat dinge bevestig wat hulle reeds glo. Dit word dikwels uitgebuit, en daarom moet alle nuus se geloofwaardigheid bepaal word.
  4. Pas op om ’n mens se eie nuusinsigte te sterk deur ’n mens se eie nuusvoorkeure te laat beïnvloed, veral as ’n mens korrek ingelig wil wees om aan verkiesings deel te neem. ’n Gebrek aan belangstelling, en gevolglik ook ’n tekort aan nuus van ’n plaaslike aard, kan veroorsaak dat ’n mens heel onkundig aan munisipale verkiesings kan gaan deelneem. As een blinde ’n ander blinde lei, val beide in die sloot.

In Suid-Afrika veroorsaak uiteenlopende narratiewe van die werklikheid dat mense in min of meer homogene groepe hul kruisies trek. En die narratief wat seëvier, is nie noodwendig die korrekte nie, en om ’n wolhaarstorie te glo soos dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel, kan rampspoedige gevolge inhou. Die mens tree immers volgens sy persepsie van die werklikheid op, eerder as die werklikheid self.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Werner

Dis nog nie April nie heeltemal te vroeg vir grappe daar is altyd ruimte vir korrupsie

Genis

Met die hele ANC top 6, sal dit nooit gebeur nie…hulle is ver te eerlik..

Arno

Ag tito, african national corruption is nog in beheer. Korrupsie gaan daar nog op n daaglikse basis wees. Jou begroting is geskoei op korrupsie…..vat, vat, vat.

Nie Verbaas

Wel, met nog nie een van die korruptes agter tralies en gesteelde fondse nie verhaal nie, vra hy vir die onmoontlike om te gebeur.

Johan Venter

Fiskale kruiping mag in sy spore gestuit wees, maar die verhoging in die petrolheffing gaan dit meer as uitkanselleer, dit gaan ‘n impak op almal hê, van padvervoerdienste, tot op die Spar en Pick ‘n Pay se rakke, in effek alle handelaars s’n, buiten inflasie gaan dit die lewenskoste nog so ‘n hupstoot gee, en daarna bereken mens weer die BTW op die nuwe prys, en dit gaan nou weer in die staat se koffers in. Aha, en dan het party mense ‘n teenfop- en disinformasierealiteitsmeter wat na links en regs skandeer en die rooi ligte laat aangaan om ons… Lees meer »