Nuuskommentaar: Geld wat stom is, maak in politiek als wat krom is

geld 4

Argieffoto.

In ’n land wat pas weens korrupsie en staatskaping op ’n belangrike internasionale indeks erg slae gekry het, is die nuus dat geheime skenkers aan politieke partye oor sowat 18 maande iets van die verlede behoort te wees, werklik goeie nuus. Dit beteken wel nie dat alle geheime skenkings tot dusver kwaadwillige motiewe gehad het nie, maar dis ’n luukse wat ’n land waar korrupsie en staatskaping endemies geword het ongelukkig nie kan bekostig nie.

Terwyl die Cosatu-staking en -optogte teen korrupsie en staatskaping plaasvind, lewer die hooggeregshof in Kaapstad ’n belangrike uitspraak. Die parlement het nou 18 maande om die wet op toegang tot inligting so aan te pas dat dit ook die bekendmaking van skenkings aan politieke partye en individue verpligtend moet maak.

Hierdie kwessie is internasionaal ’n ongemaklike een. In welgestelde lande is privaat skenkings soms heeltemal onnodig en taboe, en ontvang partye nie net voldoende staatsgeld om hul wiele aan die rol te hou nie, maar ook staatsgeld vir projekte soos dat partye ter wille van die bevordering van demokrasie wêreldwyd, susterpartye in ontwikkelende lande geldelik kan ondersteun. So, byvoorbeeld, het die ACDP ’n klompie jare gelede ’n welkome meevaller van die Sweedse Christendemokrate ontvang, en die ANC van die destydse regerende party in Swede. Dit het die aanbied van werksessies oor die vestiging van demokrasie ingesluit.

In armer lande is staatsfinansiering afwesig, of heeltemal gebrekkig. Private skenkings is dus noodsaaklik. Die feit dat die name van skenkers in sommige lande weerhou kan word, is egter problematies. Dit leen hom tot korrupsie en skep ’n klimaat bevorderlik vir staatskaping.

Daar is selfs voorbeelde waar regerings geld aan politieke partye in ander lande skenk in die hoop om partye wat hom goedgesind is aan bewind te plaas of ten minste sterk in tel te hou.

In die VSA, waar die stelsel van koukusgebondenheid nie soos hier geld nie, is lobbying ’n voltydse werk. Die Amerikaanse kongres het oor die jare ’n enorme taak aangepak om misbruike hok te slaan, wat soms darem baie blatant geword het. So erg het dit by geleentheid ontaard dat ’n Amerikaanse firma ’n hele aantal kongreslede (en hul metgeselle) met ’n privaat vlug na Skotland geneem het waar ’n ruk lank op ’n splinternuwe gholflandgoed deurgebring is.

Slegs die mees stiksienige sal nie besef dat die meevallertjie gunstige stemme oor stekelrige kwessies sou verwag nie.

In Suid-Afrika word politieke partye wat in verskillende liggame soos die parlement of provinsiale wetgewers verteenwoordig is, op verskillende maniere met staatsfinansiering gehelp. Dit stel partye in staat om ondersteuningspersoneel aan te stel, en selfs kantore te huur (afgesien van dit wat voorsien word). Hoewel Suid-Afrika nie kiesafdelings het nie, word geld toegeken vir “kiesafdelingskantore” en allerlei funksies wat met “kiesafdelings” verband hou.

En hoe meer verteenwoordigers ’n party het, hoe mildeliker is die finansiering.

Hoe meer privaat skenkings ontvang word, hoe meer geld het ’n party om aan kantore, personeel en verkiesingsuitgawes te bestee.

Nie alle skenkings is egter sonder bymotiewe nie, en daarom moet veral regerende partye waak teen die verwagtinge van teenprestasies. Die geheimhouding op versoek van die skenker verseker dat ruimte vir korrupsie, en selfs staatskaping, geskep word.

So, in beginsel, word die kieser van sy demokratiese stemreg gestroop. Hy stem vir ’n party ooreenkomstig die verkiesingsbeloftes wat gemaak is, maar sien verbysterd dat ’n ander koers ingeslaan word omdat geld harder as die stemme gehoor word. Dit beteken nie noodwendig dit vind plaas nie, maar die potensiaal daarvoor bestaan.

Moet die name van die skenkers bekend gemaak word, kan patrone gouer vasgestel word oor waar daar skewe motiewe agter die skenkings was. Dit is wel jammer vir die bona fide-skenker wat bloot verkies om anoniem te wees, en van hulle mag nou toe hande hê.

Maar in ’n land wat pas 14 plekke op die internasionale mededingingsindeks gesak het, hoofsaaklik weens korrupsie en staatskaping, is dit goed dat die howe die geleenthede vir verdere misbruik in die kiem smoor.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

WL ·

So as Mnr. A geld oorplaas na Mnr. B, wat op sy beurt die geld oorplaas na die politieke party, wie se naam moet bekend gemaak word? Hierdie klink vir my na ‘n niksseggende hofuitspraak, want die persone wat anoniem sal wil bly, wel maniere sal vind om dit so te behou.

E.K. (vra net) ·

Herman, moet opskrif nie lees “..maak in politiek als REG wat krom is” nie?

Herman Toerien ·

Hallo E.K. Die “reg” is inderdaad doelbewus weggelaat, juis omdat geld gebruik word vir korrupsie en staatskaping.

John ·

Ja, beslis niksseggend. En omkoopgeld, gewaste geld, geld van die VO vir migrante, wat eintlik na die staatskas moes gaan en… en… Blykbaar het van ons mense weens skok in 1994 in ‘n diepe slaap geval en weier om wakker te word voor alles weer perfek is. Dit was nog nooit en sal ook nooit. Die grootste innovasie in SA geskied op die gebied van skelmstreke. Dis eintlik al terrein waar Afrika die wereld voor is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.