Nuuskommentaar: Geregtigheid deur die waarheid

Argieffoto: Pixabay

Die waarheid maak vry, maar as twee verskillende gemeenskappe dieselfde grondgebied deel maar totaal verskillende sienings oor die waarheid het, kan die gevolglike spanning selfs tot burgeroorlog lei.

Hierdie waarheid word in Suid-Afrika goed gedemonstreer deur beskouings oor hoe mense aan hul grond gekom het, en in besonder wit mense. Terwyl die destydse president, Jacob Zuma, gevra het hoe anders het wit mense dan aan hul grond gekom as om dit van swart mense te gesteel het, is hy by die Menseregtekommissie verkla omdat hy die stelling in die eerste plek gemaak het. Dr. Pieter Mulder se feitegebaseerde “lesing” oor grondbesit in die parlement het groot ontevredenheid by swart LP’s ontlok – nie net van die ANC nie, maar ook swart DA-LP’s het gaan kla.

Die agteruitgang van rasseverhoudinge feitlik wêreldwyd, ook in Suid-Afrika, of minstens gebrek aan vordering om dit te verbeter soos blyk uit ’n peiling in die VSA, duik kort-kort in die nuus op. Maar wat is nodig om dit te verbeter?

Voor 1994 het die opvatting wyd bestaan dat goeie of slegte rasseverhoudinge na die staatsvorm herlei kon word. Die stelling is gereeld gehoor – verwyder net apartheid en alles sal regkom. Daar was gesaghebbende stemme wat teen so ’n simplistiese siening gemaan het, soos dr. Tjaart van der Walt, destyds hoof van die RGN, wat gewaarsku het dat geen grondwet, nie eens die beste ter wêreld, sal werk as die mense mekaar nie verstaan en begryp nie. Hy is in oordaad reg bewys.

Dat die NP-regering se koppe in daardie rigting vasgehaak het, blyk uit ’n opdrag aan die staatkundige komitee van die presidentsraad om ondersoek in te stel na besluitnemings- en konflikbeslegtingsmeganismes en -tegnieke in staatkundige stelsels. Let op die ankerrol wat “staatkundige stelsels” hierin moes inneem. Die verslag het in 1990 die lig gesien.

Die oorheersende rol wat die staatkunde in persepsies oor die verligting van rassespanning gespeel het, blyk daaruit dat die regering, kort ná die bewindsaanvaarding van FW de Klerk, die Maatskaplike Komitee van die Presidentsraad se ondersoek na gemeenskaps- (rasse)-verhoudings opgeskort het.

In hierdie ondersoek is holisties na veel meer aspekte gekyk, waaronder sosio-ekonomiese ongelykheid, gebrekkige nie-paternalistiese kommunikasie, knelpunte wat aandag moet kry en vele meer. Die Verhoudingsaksie van Suid-Afrika is afgeskaf. Die abortiewe vredeskomitees sonder kundigheid en kundige leiding het hierna die lig gesien.

Met die Kodesa-onderhandelings het die voorstelle in die staatkundige komitee se verslag byna voor die voet in die slag gebly.

Dit was gou duidelik dat die staatkundige model wat sou geld, nie op sy eie ’n duursame rasseharmonie sou teweegbring nie. ʼn Unitêre staatkundige model vir ’n heterogene gemeenskap sou altyd onder druk wees. Dit is goed bekend dat die ANC se Kodesa-onderhandelaars enigiets wat na minderheidsregte sou ruik, met mening sou teenstaan, omdat dit as die insmokkel van apartheid beskou is.

Die benaming van die Waarheids-en-versoeningskommissie het daarop gedui dat daar ’n sterk opvatting is dat versoening net moontlik is as die waarheid aan die lig kom. Mettertyd het dit egter gelyk of veral baie swart mense dit nie as voldoende beskou nie. Vermoedelik afkomstig uit die swartbewussynsbeweging in die VSA het die idee ook ontstaan dat restitusie ook nodig is. Dit maak nie saak of wit mense se voorouers geslagte gelede slawe aangehou het nie. Die wit persoon moet nou ook eers ’n vorm van restitusie betaal voor hy nie as rassis beskou sal word nie. Die “regverdiging” hiervoor word gekoppel aan die begrip van “oorerflikheid” van benadeling en van bevoordeling.

Opnames toon dat sowat 85% van alle swart Suid-Afrikaners glo dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel (al was dit ook ’n rukkie gelede). Al is dit, soos die ad hoc-komitee vir eiendomsreg dit gestel het, ’n groot leuen, bied hierdie persepsie die teelaarde vir eise van grondonteiening sonder vergoeding.

Die probleem is wat met versoening gebeur as die twee gemeenskappe wat teenoor mekaar gepolariseer word, heel verskillende weergawes het van wat die waarheid is. As voorbeeld word verwys na die skrywer Sisonke Msimang se onlangse aanbied van die Nelson Mandela-gedenklesing in Amsterdam, asook twee omvattende koerantonderhoude met haar. Sy is deel van die groeiende groep wat meen oudpres. Nelson Mandela was te genadig met wit mense. Volgens haar word rassespanning onder meer gedryf deur wit mense wat weerstand bied teen restitusie deur hulle onder meer te verset daarteen dat hul “gesteelde grond” aan swart mense “terugbesorg” word. Volgens haar is die grond tydens apartheid gesteel.

Dis so maklik soos om van die bed af te val om te weet sy bak kluitjies. Enige wit grondeienaar in Suid-Afrika kan die (wit) kaart-en-transporthouers van hul grond tot baie lank voor 1945 terugvoer, toe afsonderlike ontwikkeling werklikheid geword het.

Die briljante Belgiese akademikus en regsgeleerde Thomas van Poeke skryf in ’n artikel in De Standaard onder meer: “Geregtigheid kom slegs deur die waarheid.”

Die Bybel slaan ook die waarheid hoog aan. In Johannes 8: 31 – 32 lees ons: “Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: ‘As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak’.”

Maar wat nou as die twee partye wat teenoor mekaar staan heeltemal uiteenlopende opvattings het van wat die waarheid is?

Lank voor die grondgryp-kwessie sulke ernstige afmetings aangeneem het, is daar verskeie kere in nuuskommentare op Maroela Media gemaan dat daar daadwerklike pogings moet wees om so na as moontlik aan ’n gedeelde visie oor die waarheid te kom.

Met versoening gaan dit soos met die vraag wat eerste was, die hoender of die eier. As versoening die einddoel is, wat kom eerste? Die waarheid, bieg, vergifnis, geregtigheid, restitusie?

So lank as wat twee gemeenskappe wat dieselfde grond deel, verskillende weergawes van die waarheid/werklikheid het en sterk daaroor voel, so lank sluimer die potensiaal van ’n burgeroorlog, of selfs oorlog. Ons het dit onlangs met Katalonië en Spanje gesien. In die geval van die Krim-skiereiland ding drie waarhede, die van die Krim-Tartare, die Russe en die Oekraïners met mekaar mee.

Afrikaners het pas weer met verbasing verneem van die ou propaganda-weergawe van die Britte oor die Anglo-Boereoorlog, toe ’n Britse LP basies die konsentrasiekampe goedgepraat het. Tot betreklik onlangs het selfs Britse ensiklopedieë die oorlog as ’n soort Britse humanitêre ingryping voorgehou om verskillende kulture van die Boere te bevry. Daardie weergawe van die “waarheid” gaan selde goed af by die Afrikaner.

Ter afsluiting iets in ’n ligter luim. ʼn Paar dekades gelede het die WP B-kolwer Paul Rayner ’n reusehonderdtal teen die Vrystaat op Nuweland gemoker. Die Kaapse sportverslaggewers probeer hom net daar in die WP se top-span inskryf, maar hy reageer beskeie deur daarop “te wys” dat dit darem ’n middelmatige boulaanval was.

Dié “middelmatige” boulaanval het latere Springbokke soos Corrie van Zyl en Alan Donald ingesluit, asook Nicky Bojé en Gerbrand Grobler. Soos die noodlot dit wou hê, het Rayner (wat wel bevorder is), op ’n streep vier nulletjies teen dié “middelmatige” boulaanval gekry, meestal op die Ramblers in Bloemfontein. Die toeskouers het vreeslike genot geput daaruit om die woedende kolwer te koggel wanneer hy na sy nulletjies van die veld stap.


• Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.

• Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos aan [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

6 Kommentare

Thinus Erasmus ·

Ja Herman dankie, in SA se geval is die enigste gedeelde waarheid dat ons nie saamstem nie!
Die geskiedenis soos ons dit opgeteken het, is nie korrek in die oe van ons opponente nie.
En al word daar ‘n ondersoek op internasionale vlak deur ‘n verskeidenheid organisasie saam gedoen, sal almal nie tevrede wees met daardie uitslag nie. So ons sal nooit kan saamstem nie.
As ons dan nie kan ooreenkom oor die geskiedenis nie,kom ons kyk na die hede:
Wie is die stelers en moordenaars
Wie is die leunaars en bedriers
Wie is die afbrekers en brandstigters
Wie is die onwettige indringers
Wie is die aggressors en die aanhitsers
Wie is die wat nog altyd deur die ander probeer vertrap en verdryf.
Die Afrikaner het vanaf sy ontstaan in Afrika, met harde eerlike werk en goeie vreedsame betrekkinge probeer om Afrika te ontwikkel. Die Afrikaner trek nog heeltyd aan die kortste ent, maak nie saak van sy goeie intensies nie.
Moet ons nou die geboorte van ons volk verag en vervloek?

Afrikaner ·

As die ANC en swart mense moet toegee aan die waarheid dat wit mense regmatig aan hul grond gekom het, van Jan Van Riebeeck te tyd, dan val die mure waarop hul ideologie gebou is plat, dan het hulle geen wortel aan die punt van die stok om hul mense na die stembus te lok nie. En dit kan hulle allermins bekostig, al weet Cyril en base dit.

waarheid1 ·

Skelms, luiaaard en bedrieers hou nie van die waarheid nie.
Hulle sien dit net uit ‘n skelm oogpunt uit.

Thinus ·

Herman, die ondersoeke in 1990 is kastig opgestel na die Dakar konfensie van 9 en 12 Julie 1987 gemaak waar die ANC geen strategie gehad het nie, en nadat IDASA, die volgende voorgestel het: 1. Strukture vir n Liberale Ekonomie, 2. Struktuur vir n Liberale Regering, (Let wel nie Demokrasie nie) 3. Nasionale Eenheid, 4. Strategie vir verandering, waarop Mbeki die volgorde verander 4,3,2,1. Let wel IDASA (Derde mag, of Mosesstoel Mat 23, vier ruiters van Openb 6, Regslui, Geestelikes, en Opvoedkundiges) onderhandel met die ANC NADAT die Britse en Amerikaanse Geldmag Suid-Afrika by die ANC gekoop het. Die ANC is en was nog nooit vir die volk of ‘n Demokrasie nie. Die stigters van die ANC is almal ryk besigheidsmanne wat slawerny voorstaan 1 Sam 8. Kyk die foto van die eerste afvaardiging na Britanje en was hofsaaklik meelopers van die Britte tydens die AOB wat soos die Zumas tydens die AZO oorloë dan vergoeding ontvang het deur grondvergrype!Soos wat Potinger nie vir Pretorius in 1847 die goewerneur geweier het en Sy afstamellinge die twak oor die Afrikaner namens die Guptas geskryf het, ook Mandela se sogenaamde toespraak tydens sy verhoor. ‘n Demokrasie sal die einde van Koningskappe, Regerings beteken. En hulle sal n Demokrasie slegs kan implimenteer as hulle 464, 46164, en 46664 kan verklaar, want om aan die Ewige drie eenheid te voldoen is 464, Mitologie, 46164 Religie en 46664 Filosofie, wat Meta fisika insluit. Ek het hierdie opdrag reeds in 1979 voltooi!

Afrikaner ·

Herman, Cyril Ramaphosa het so ‘n paar dae gelede gesê die episentrum van die landbourevolusie lê in Suid-Afrika se landelike gebiede. Nou sal ek graag by hom wil hoor, as dit in die land gaan soos dit gaan met als wat afgebreek is, dienslewering wat vodde is en Eskom wat nie werk nie, hoe beplan hulle op krag by daardie mense uit te kry, of gaan hulle net bestaansboere wees?

John ·

Wat is waarheid? Wie besluit tensy ons almal die Bybel as handleiding gebruik. Thinus se skrywe… wat kan mens sè. behalwe dat dit klink of Openbaring se gebeure om die draai lè. Was cannabis in 1994 en omstreke beskikbaar, want die redenasies van die mense met IK’s van minder as 100 was pateties en met al die verliefdes wat destyds maar gesukkel het met die nuwe tegnologie, was die mense se breine redelik beneweld. Dis ongelooflik wat aangegaan het en dan was Max ook nog daar met sy speurder-stofjas om kleur aan die benarde aktiwiteite te verleen. ‘n Swart komedie op sy beste… iets om oor te huil, as daar nog trane oor is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.