Nuuskommentaar: Goeiemôre! ’n Stomende kommetjie gaat met bies op Afrikaans

afrikaans scrabbleNegentig jaar nadat Afrikaans ’n amptelike taal geword het, is daar weer ’n oorlewingstryd vir die taal se amptelike voortbestaan en is Afrikaans reeds tot groot mate uit die ekonomiese sektor gesnoeker.

Tog leef die taal in ’n rype verskeidenheid dialekte naas Standaardafrikaans voort.

Geen aanslag kan die prestasies van die verlede en die hede wegveeg nie. Gaan kyk maar na oupa se boekrak hoe gou, ná Afrikaans as’t ware die groen lig gekry het, was daar reeds boeke oor byna alles in Afrikaans. Van romans en fiksie, tot geskiedenisboeke, selfs (vertaalde) ensiklopedieë, akademiese boeke, digbundels en vele meer. Die vergoeding, indien enigsins, vir die skrywers, vertalers en uitgewers was dikwels maar skraps – hulle het dit immers vir die saak gedoen.

Hier en daar was daar prulwerk, gesaai met spelfoute en soortgelyk, maar daardie uitgewers bestaan lank nie meer nie.

Afrikaans is lank reeds gepraat voordat dit ’n amptelike taal geword het, soos blyk uit die opkoms van die eerste Afrikaanse taalbeweging met name soos oom Lokomotief, Jepete Toerien (wat later na sy vrou, Sarie Maré, die liedjie Sarie Marais sou geskryf het), en ander. Hul spelwyse om fonetiese klanke weer te gee het op die oog af sterk aan Brabants herinner, ’n taal, oftewel dialek, wat wydsbeen oor groot dele van Nederland en België gepraat word.

Vandag is die mees onderskeidende Afrikaans-dialek waarskynlik dit wat in die Namakwaland in, en ander dele van die Noordweste gepraat word. ’n Boorling wat op Parys in die Vrystaat gaan werk het, neem eendag sy Vrystaatse plaasnooi-vroutjie na sy geboortewêreld en kuier by ’n neef en dié se vrou. Koffietyd kom die bitter sterk koffie sonder melk, soos die plaaslike gebruik was. Sy vrou drink nie swart koffie nie, en sy blik vang sy neef se oog. Dié snap: “Mêtjie, lô tsjarra da biekie bies vir die kjind se gaat.” (Gaan haal asseblief bietjie melk vir die gas se koffie.) Die melk is geloop haal, maar die kjend wou steeds nie haar bekkie daaraan sit nie.

Oor die amptelike staanplek van Kaaps is daar minder eensgesindheid. Persoonlikhede soos die oudpremier van die Wes-Kaap, Peter Marais, en sy volgelinge is verheug oor die groter formele erkenning van Kaaps, maar sommige taalpuriste meen daar is nou so baie Engelse woorde ingemix dat dit kwalik nog as Afrikaans herkenbaar is.

En dan nog die Afrikaans in die tsotsitaal? Help die uitreiking hierna nie bydra tot die persepsie by baie dat Afrikaans steeds nie in goeie geselskap hoort nie? Iets wat die sprekers van Akademikaans, nademaal die saak goed geweeg is, en die verskillende individuele dinge teenoor mekaar afgeweeg is, tot die slotsom sou kon laat raak dat taalonsuiwerhede ’n terminale bedreiging vir Standaardafrikaans sou inhou.

Op die ander punt, wie sal sommer die era van die Zeffers vergeet, ek sê?

“Hei ghabba, hoe lykit met ’n las da? Die baaik se juice maak nog net dampe, ek sê.”

Baie skrywers, soos Petro Hansen, het al die kuns vervolmaak om as woordkunstenaars die taal in lieflike harmonie te laat huppel. En laastens, hoe lekker laat Herman Lategan Afrikaanse woorde nie weekliks wip nie?

In die jongste verlede is daar uit verskeie oorde kommer uitgespreek oor die skynbare geringe rol wat bruin Afrikaanssprekendes in die feesvieringe speel. Die bykanse bitterbek-monduitspoelery oor die Ghoema-toekennings was maar een van die manifestasies van hierdie waarneming van uitsluiting. Hier is ruim ruimte vir vingerwys en verwyte, maar terselfdertyd is daar die groot uitdaging om hierdie situasie oor tien jaar, wanneer die eeufees vir amptelike taal aanbreek, reggestel te hê. Die Afrikaanse Taalraad het die taak op sy eie skouers gelaai, maar dit sal uit baie meer oorde gesteun moet word om haalbaar en bereikbaar te wees.

Daar was ’n tyd toe Afrikaans ampshalwe taamlik dominant was. Dit was die taal van die kabinet, en in ’n stadium moes ’n sekere kategorie staatsamptenare toetse vir voldoende vaardigheid in Afrikaans aflê om permanente aanstellings in die owerheidsektor te kon kry. So het ’n Engelssprekende erg moedeloos van sy toets teruggekeer en toe sy kollegas belangstellend wou weet hoe dit gegaan het, sê hy floutjies hy het gedruip, want “what do I know about the stomach of a horse?”. ’n Afrikaanssprekende neem die vraestel en lees die vraag: “Skryf ’n opstel oor die mag van die pers.”

Vandag sit die skoen heeltemal aan die ander voet. Ook in die privaat sektor, selfs by ons jare lange bank of mediese fonds, is dit dikwels onmoontlik om telefonies in Afrikaans geholpe te raak.

Onlangs was daar die voorbeeld van hoe die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap die Talewet probeer gebruik om, in opdrag van die departement van wetenskap en tegnologie, Afrikaans as’t ware uit die Grondwet te steel maar darem erkenning aan Zoeloe en Pedi te gee. Afrikaans is die enigste inheemse Afrikataal met ’n volledige ruimteterminologieskat en selfs -woordeboek.

Nog ’n tegniek is om Afrikaanse skole eers tweetalig te maak, en dan eentalig Engels te maak. Op die oog af lyk dit of dieselfde nou by Kovsies kan gebeur waar die Grondwet en sy bedoelings bloot deur administratiewe handelings tot ’n nulliteit gereduseer kan word. Ja, onder kommentators met akademiese agtergrond was daar al openlike verwyte oor Afrikaanssprekendes wat die Grondwet “misbruik” om ’n eie ruimte vir hul taal en kultuur te skep. Daar was selfs al die absurde verwyt dat hierdie mense die “liberale Grondwet” misbruik om die Grondwet self om te stoot!

Dié argument kan net so maklik omgekeer word, deur te verwyt dat daar diegene is wat Afrikaans en sy instellings misbruik om Afrikaans (en sy sprekers) hul staanplek ongeag die Grondwet te ontneem, die sogenaamde vyfdekolonners.

Verskillende bronne gebruik verskillende syfers oor hoeveel tale van die wêreld nou byna uitgesterf is, maar die syfer van 473 uit byna 7 000 tale sluit gelukkig (nog) nie Afrikaans in nie.

Die groot uitdaging oor die volgende tien jaar is om te voorkom dat Afrikaans nog net op papier ’n amptelike taal is. Dit maak byvoorbeeld min sin dat die taal as een van die grotes in die land op die SAUK se TV-kanale slegs ses persent van die beeldsaaityd kry. Nie alle Afrikaanssprekendes kan betaal-TV bekostig om meer Afrikaans op die kykkassie te sien nie.

Maar die privaat sektor moet ook wakkerder slaap. Te maklik word na slegs Engels oorgeskakel omdat dit onprakties is om 11 amptelike tale te gebruik. Inderdaad, nie net onprakties nie, soos om Venda volwaardig in die Wes-Kaap te gaan inspan waar daar waarskynlik meer Somalisprekendes en Joroebas uit Nigerië as Vendas is. Juis daarom maak die Grondwet voorsiening dat provinsies hul eie amptelike tale kan hê, wat selde meer as drie is.

So was dit onnodig dat Bloemfontein se skou vanjaar slegs Engelse aanwys-, wegwys- en naamborde sou gebruik (en in die proses ’n paar taal- en spelfoute gemaak het). Die gebruik van die provinsie se drie amptelike tale, Afrikaans, Engels en Suid-Sotho, sou veel meer sin gemaak het. Maar buiten ’n brommerasie hier en daar was daar nie besware nie.

Afrikaans is nog nie by die punt waar iemand net sy hôrrôgh, vetkoek en Coke by ’n Afrikaanse kerk se stalletjie koop, maar weinig meer nie. Maar as daar nie iewers hakke ingeslaan word nie, is die snelbaan soontoe ons voorland.

En Potch-proffies wat voel albei hande moet in satynhandskoene geklee wees as die taalkwessie en die regte wat daarmee gepaardgaan, (opnuut) beding moet word, moenie wharrie nie, ons sal dit in styl en fatsoenlik met waardigheid doen en net die grondwetlike knuppel inspan indien werklik nodig. (Want die howe is %$#@ duur.)

Ons kan natuurlik nie instaan vir die moontlike hoernalistiek waaraan ons pogings in veral een bepaalde medium onderwerp word nie. Daai ene wat nou blykbaar daardie proffies se medium van voorkeur geword het.

Hoekom duik daai gesegde van die donkie wat sy kop net een keer stamp nou voor die geestesoog op?

En daai proffies is oor een ding reg: Die ghwarre wat hulle so op die sosiale media wangedra, doen die saak van Afrikaans meer skade as goed aan.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Peet Schabort ·

Dit lyk my ek is ook een van die Ghwarre (met ‘n hoofletter “G”)?

Peet Schabort ·

Nou wel nie op sosiale media maar wel met my “common”-taarbydrae op ‘kommentaar’.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.