Nuuskommentaar: Groenland se taai pad na onafhanklikheid

Plakkate vir die Groenlandse verkiesing in Nuuk, Foto: Christian Klindt Soelbeck/Scanpix 2018

Die pas afgehandelde Groenlandse verkiesing en die inwoners se strewe na onafhanklikheid te midde van ’n klimaat wat warmer word en die eiland meer lewensvatbaar maak, laat die soeklig op hierdie yslandskap val.

Min of meer so groot soos Indië, maar met ’n bevolking van ongeveer 56 000 teenoor die meer as 1 000 miljoen van Indië, is Groenland besig om stadig maar seker danksy klimaatsverandering onder die dik yslae uit te kruip, en weer groen te word. Al hoe meer gewasse word gekweek, en daarmee saam word die aandrang op onafhanklikheid al hoe groter. Maar dis geen reguit lyn nie.

Die teikendatum vir onafhanklikheid van Denemarke is 2021, 300 jaar ná die Deens-Noorweegse sendeling Hans Egede voet aan wal gesit het en kolonisasie ingelui is.

In dié 300 jaar het sake baie verander. Die taal, Groenlands, word beskryf as ’n Inuit (Eskimo) of Aloetiese taal, wat nou verwant is aan die Inuit wat in Kanada gepraat word. Sommige bronne dui egter aan dat die taal ook sterk deur Deens beïnvloed is.

Groenland het 17 dorpe, waarvan nie een per pad verbind is nie. Verkiesingsuitslae moes per hondeslee na die hoofdorp, Nuuk (16 000 inwoners), gebring word. Hoewel die visserybedryf baie sterk toegeneem het sedert die kuswaters warmer geword het, is Groenland nog vir sowat 60% van sy begroting van Denemarke afhanklik. Denemarke dra elke jaar sowat 500 miljoen Euro aan die Groenlandse parlement, bekend as die Inatsisartut, by.

Benewens aartappels, verbou die Groenlanders nou ook onder meer aarbeie, soetrissies, geelwortels, ’n verskeidenheid slaaisoorte en vele meer.

Die Groenlandse geskiedenis met Europa strek egter veel verder as die afgelope 300 jaar, en het in die verlede baie afgehang van klimaatstoestande. Net meer as ’n duisend jaar gelede het die voortvlugtige Erik die Rooie hom in Groenland gevestig. Hoewel algemeen verkondig word dat Erik die land as reklamefoefie vir vestiging gebruik het, was Groenland destyds baie meer bewoonbaar as nou. Vee in ingevoer, en onder meer koring en gars geplant en volgens argeologiese uitgrawings is ruim bier verbou.

Hierdie Nordiese vestiging het min of meer saamgeval met die kerstening van die Nordiese volke. Hoewel Erik die Rooie hom skynbaar nooit self tot die Christendom bekeer het nie, was sy seun Leif Erikson ’n Christen. Leif word sterk met die verkenning en vestiging van Noord-Amerika verbind, en minstens een Christen-Nordiese kolonie in Noord-Amerika word met hom geassosieer, wat ook na hom vernoem is. Tot dusver kon die oorblyfsels van slegs een Nordiese kolonie op die eiland New Foundland bo alle twyfel bevestig word, en dit danksy ’n spinwiel se naald.

Foto: Xinhua/Wang Jiannan (ly/ry)

Die klimaat het egter ’n koue era ingegaan, en toe die Noormanne hul Groenlandse kolonies ontruim, het die Noord-Amerikaanse kolonies ook in die slag gebly. Daar is egter aanduidings dat die inwoners van Ysland nie van Noord-Amerika vergeet het nie – trouens, die geskiedenis is in moderne tye taamlik akkuraat uit ou sagas, gekombineer met ander bronne, gerekonstrueer. Daar word bespiegel dat Columbus tydens ’n besoek aan Ysland van die bestaan van Amerika verneem het, en so, 500 jaar ná die Noormanne, Amerika “ontdek” het.

Sommige Noormanne in Groenland het geweier om te ontruim, en argeologiese fondse dui daarop dat hulle dikwels ’n gru-dood weens onder meer hongersnood gesterf het. Dit terwyl die Inuit in dieselfde omgewings skynbaar ongestoord kon voortbestaan. Deesdae maak dit deel uit van paleo-argeologiese studies wêreldwyd van hoe volke kon oorleef of ondergegaan het weens klimaatsverandering, met aanpasbaarheid of die gebrek daaraan as sleutel.

Die aanduidings is nou dat die Groenlanders die kwessie van onafhanklikheid meer omsigtig hanteer. Die teikendatum van 2021 staan nie meer vas soos ’n wet van Mede en Perse nie, maar ’n ideaal wanneer lewensvatbaarheid bereik word. En dit gaan stadiger as wat gehoop is. Groenland is volgens aanduidings ryk aan verskeie delfstowwe soos goud en olie, maar die terugtrek van die ysvelde het nog nie die spreekwoordelike berg goud opgelewer nie. Buitelandse beleggers is wel noodsaaklik, maar die lae opvoedkundige peil van die Groenlanders tel daarteen. China word veral as belegger in die oog gehou.

En as potensiële beleggers iets uit die geskiedenis geleer het, is dit dat Groenland wel nou ’n warmer era beleef, en dat dit danksy klimaatsverandering nog warmer kan word, maar dat bykans enigiets kan voorval wat dié land binne die poolsirkel weer onder sy diep yskombers kan laat inkruip. Die moontlikheid van ’n reuse- vulkaniese uitbarsting op Ysland, gepaardgaande met ’n reuse-aswolk wat tot ’n ysige tydjie kan lei, is maar een. ’n Meteoriet wat die aarde tref en die klimaat omklits is nog een. Met die terugtrek van die ys is daar juis die oorblyfsels van ’n impakkrater gevind wat groter is as dié van die Vredefort-koepel.

Die Groenlandse voorbeeld hou verskeie lesse vir Suid-Afrika in. Dit is maar een van talle voorbeelde wêreldwyd oor hoe met minderhede omgegaan moet word. As 56 000 mense ’n taal kan handhaaf en ’n universiteit met minder as ’n duisend studente in bedryf kan hou, kan die sowat 4 miljoen Afrikaanssprekendes sekerlik ook so maak, mits hulle in vrede gelaat word om so te maak, en hul aandeel uit die begroting daarvoor opeis. Verskeie van die kursusse word in Groenlands aangebied.

Die droogte in die Wes-Kaap toon ook dat Suid-Afrika nie gevrywaar is van die impak van klimaatsverandering nie. Planne was wel reeds vir die Wes-Kaap opgestel, maar die impak is eers later verwag en het tot die krisis bygedra. Intussen neem verskeie instellings, waaronder die Wes-Kaapse departement van landbou, sterk leiding in die ontwikkeling van gewasse wat by die veranderde klimaatstoestande aangepas is. Ook veestapels word aangepas.

Ons leef te ene male op ’n kwesbare planeet.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Ongekategoriseerd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Eish ·

Baie interressante parallel wat getrek word betreffende die taalkwessie en die minderheid asook die befondsing.

humor ·

Die ryk aan delfstowwe soos goud en olie kan n geweldige pluspunt wees, maar pasop vir die internasionale wolwe. Die geskiedenis van ons SA leer vir ons n duur les.

Abe ·

Relevante inligting wat baie suid-afrikaners, soos ek, skaars bewus van is en hier baie interressant en duidelik vir ons deur Herman Toerien aangebied word. Dankie

Koue ·

Baie interesante artikel. Ek sal nie omgee om te verhuis na ‘n land soos Groenland of Ysland nie. Ek hou van koue en dit lyk sulke skoon lande.

Gerhard ·

Die een voordeel wat die Groenlanders het bo Afrikaners is konsentrasie. Nog een is ‘n redelike en werkende sentrale regering, wat hulle duidelik nie vyandig gesind is nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.