Nuuskommentaar: Hoe lank vir Boris terwyl die “Keltiese opstandigheid” begin roer?

Boris Johnson. Foto: Dominic Lipinski/Pool Photo via AP, File

Met die verkiesing van Boris Johnson tot nuwe Britse premier is Brexit volgens alle aanduidings nou op koers, al is dit minstens nou nog ’n taamlike koerslose koers. Boonop kan alles in die “reset”-posisie kom as die verwagte mosie van wantroue teen Johnson vroeg in September in die Laerhuis sou slaag. Sou Johnson alles oorleef, moet hy ook nog die oog hou op ’n sogenaamde “Celtic uprising” waar die Skotte, Iere en Walliesers ander sentimente oor Brexit koester as die Engelse en wat dalk in belangrikheid kan toeneem.

Meer as ’n halwe eeu lank het die Brit Boris Johnson aan sy lewensideaal gewerk om eendag Britse premier te word. Hy het pas hierdie mylpaal bereik maar reeds word kliphard bespiegel oor hoe lank dié onmoontlike taak te midde van Brexit volgehou sal kan word. Een van die kortste scenario’s vir ’n Boris-era is dat die Laerhuis, wanneer dit aan die begin van Augustus van die somerreses terugkeer, ’n mosie van wantroue in Johnson kan aanneem, wat tot sy bedanking sal lei. Of beskik hy oor pres. Donald Trump, met wie hy gereeld vergelyk word, se uithouvermoë?

Sekerlik die onsmaaklikste vergelyking tussen Trump en Johnson is dat beide glo kompulsiewe leuenaars is.  Aan die positiewe kant beskou baie albei as mens-mense met ’n oop oor vir die verwagtinge van die publiek. Die peilingsagentskap Rasmussen het byvoorbeeld pas bevind dat meer Amerikaanse kiesers meen Trump het ’n oop oor vir hulle as die kongreslede. Aan die ander kant van die munt is dit net 41% wat meen Trump het so ’n oop oor, met 45% wat meen Trump luister nie na die kiesers nie. Dit reflekteer nie goed op die kongreslede nie.

Of vertoon Johnson nou so goed omdat die parlement maar swak teen hom vertoon?

Die tyd sal leer, en daardie tyd kan dalk oor net meer as ’n maand wees. ’n Ander vraag, hoewel sterk op die agtergrond, is of Johnson se verkiesing dalk Skotse onafhanklikheid kan verhaas, en sake (verder) met die Iere kan vertroebel.

Nog ’n belangrike aspek waaroor gou antwoorde gesoek gaan word, is hoe Brexit, met of sonder ’n ooreenkoms, die wêreldekonomie, en veral die ekonomieë van verskeie lande – ook dié van Suid-Afrika – gaan beïnvloed. Volgens berigte hoop Johnson dat die VSA sal kan kompenseer vir die negatiewe impak wat Brexit waarskynlik op die Britse ekonomie gaan hê, maar daaroor heers ook heelwat skeptisisme.

Boris Johnson. Foto: AP Photo/Frank Augstein

Die Skotse kwessie word nog net periodiek genoem. In die oorhoofse toutrekkery is dat daar eenvoudig nie nog plek vir die Skotte om dit nog meer kompleks te maak nie. Maar die kwessie word ook nie heeltemal begraaf nie, ook nie eens net tydelik nie.

Met die referendum oor Brexit het die meerderheid Skotte, Walliesers en Noord-Iere teen Brexit gestem. Dit was kort nadat die meerderheid Skotte teen onafhanklikheid van Brittanje gestem het. Hul Brexit-keuse is egter deur die Engelse meerderheid min of meer van die tafel gevee.

Deur van Brittanje onafhanklik te word, maar lid van die EU te bly, kan die Skotte twee ideale bereik – staatkundige onafhanklikheid behaal, maar steeds in ’n tipe konfederale liggaam “beskerm” word en miljoene ponde per jaar aan subsidie uit die Europese Unie verkry.

Ierland, by monde van sy adjunkregeringshoof, het reeds vir Johnson, voor hy verkies is, gewaarsku om nie met Brexit-stappe voort te gaan wat Ierland se posisie kan beïnvloed nie. Ierland se posisie word ook intens deur Brexit geraak deurdat Ierland geen planne het om die EU te verlaat nie, terwyl Noord-Ierland, soos Skotland, by die Engelse se besluite moet inval.

Johnson se Konserwatiewe Party is in ’n regeringsalliansie met die Noord-Ierse Unioniste-party gewikkel, terwyl die Noord-Iere volgens peilings nou veel meer aangetrokke tot die Ierse as die Britse regering staan. Kort-kort is daar sprake dat die Brexit-kwessie tot ’n hervatting van vyandelikhede kan lei, en daar was al enkele sabotasie-insidente, hoewel skynbaar deur nuwe rolspelers, eerder as die ou hande soos die Ierse Republikeinse Leër en INLA wat formeel vrede gesluit het.

Boris Johnson. Foto: Yui Mok/PA via AP

Dit is egter nog te vroeg om te sien of die sogenaamde “Celtic uprising” waaroor al hoe meer berigte in verskillende gedaantes verskyn, enige noemenswaardige impak gaan hê, en selfs of dit tot iets konkreets kan of sal lei. Lees gerus hier, hier, hier, hier, hier en hier.

Ten spyte daarvan dat sommige berigte en artikels die moontlikheid van ’n “Celtic uprising” of “Celtic Revenge” ernstig opneem, verdien dit waarskynlik (nog) nie om as faktor swaar op te weeg nie, maar dit sal duidelik Johnson loon om sy adviseurs te vra om die situasie te monitor.

Indien ’n “Celtic uprising” wel duideliker sou manifesteer, kan dit ’n uitkringeffek op ander heterogene lande in Europa hê soos veral België, maar ook Spanje, Italië en verskeie ander waar beduidende minderhede voorkom. Dit is immers ’n bekende begrip dat waar sulke super-strukture (konfederaal) soos die EU tot stand kom, minderhede kan voel die nasionale state waarvan hulle deel is, se bestaan is onnodig en kan daardie funksies doeltreffend verdeel word tussen byvoorbeeld die Vlaamse regering en die EU.

In ’n stadium is selfs geskryf oor die oplewing van irredentisme. Verskeie provinsies tussen Nederland en België is immers in die middel deurgesny toe België en Nederland geskei is, byvoorbeeld Brabant. Brabants, ’n taal met sterk Nederlandse en Duitse kenmerke, het enkele jare gelede sy eie Bybelvertaling gekry.

Wat taamlik duidelik is, is dat Johnson hom nie nou te veel met moontlike ontluikende en herrese nasionalismes hoef te bemoei nie. Die partypolitieke en moontlike ekonomiese bedreigings oorheers relevansie op die oomblik, en sluit die hekkies in wat Johnson gouer sal moet kan oor, soos die waarskynlike mosie van wantroue.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

John ·

… al klaar word wantroue gesaai… ja, soos Trump, die groot leuenaar en voetjie-voetjie-speler met Rusland… soveel onsmaaklikhede… bla… bla. Indien die pers enigiets positief sou sè, is jy ‘n domkop, so wie gaan dit durf waag om die bibber-antie en haar magtige slinkse finansièle spelers teè te staan. Nooit! Go for the show!

Heinrich ·

Help my reg as ek dit mis het, maar het die Britte nie hulself maar ook aan die Iere en Skotte opgedwing soos hulle hier ook kom maak het nie? Wat is die voor- en nadele sou Ierland en Skotland selfbeskikking kry vir die betrokke partye en ook vir die wêreld, en wat sal die gevolge wees?

Stan ·

Die wereld is in goeie hande met leiers soos Trump en Johnson. Die liberaalse minderheid en Godslasterheid sal nou tot ‘n einde kom.

THYS MULLER ·

Die liberalis is altyd verkeerd met hulle voorspellings, ek onthou nog beeld se hoofopskrif, ”
Clinton het 80% kans om te wen, dit was fopnuus op sy beste, sy het nooit enige kans gehad nie. Dis hou kom die konserwatiewes die so gehaat word

R Schwarzer ·

Die gedeelte van die berig wat verwys na die opname oor Trump maak nie sin nie. 45% is meer as 41%. Volgens die artikel glo die meerderheid (41%) dat Trump meer toeganklik is?

Petrus ·

Dalk nie die skerpste potlood on die boks nie. Maar soos in VSA – as jy jou landgenote “deplorable” (daai ouens wat hard werk en belasting betaal) noem ontplof die spul in jou gesig. Al wat dan oorbly is walglike beledigende opinies voorgehou as feite in die lingse pers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.