Nuuskommentaar: Hoekom Oscar-fiksasie te midde van belangriker nuus?

'n Ondersteuner van Oscar Pistorius buite die hooggeregshof in Pretoria. Foto: SAPA

Ondersteuners van Oscar Pistorius buite die hooggeregshof in Pretoria. Foto: SAPA

Van vandag af sit ’n groot aantal Suid-Afrikaners weer vasgenael voor die TV en op sosiale media wanneer regter Thokozila Masipa begin uitspraak lewer in die Oscar Pistorius-moordverhoor.

’n Groot buitelandse span verslaggewers word in die land verwag, en hoewel hul aandag skerp op die verhoor gevestig sal wees, sou hulle voor hul koms eers agtergrond oor Suid-Afrika gelees het. Hulle sal weet dis ʼn land waar die president en kabinet uitsprake maak wat op hul eie, en nie die meriete daarvan nie, vir die internasionale media bestem moet wees.

Dis nie nou ’n gawe tyd om die land se naam met ʼn plank te slaan nie, want dit gaan die buitelandse media haal.

Maar die vraag staan steeds hoekom die fiksasie op Oscar as daar soveel belangriker nuus is?

Byvoorbeeld. Vandag kan ʼn deelnemer aan die Nederlandse Ope op Zandvoort met ’n kolhou op die 15de putjie ’n ruimtereis in 2015 wen. Die simboliese betekenis van kommersiële passasiers-ruimtevlugte is beduidend, soos deur XCOR Space Expeditions aangekondig. Intussen lyk dit of Richard Branson se Virgin Galactic XCOR gaan voorspring met die eerste passasiersvlug “binnekort”, met 500 kaartjies teen $250 000 elk reeds verkoop. Die vlugte het nog nie eens begin nie, maar die bemarkingsmededinging het al ruimtehoë vlakke bereik.

Pas is die jongste verslag van die Wêreld Meteorologiese Organisasie oor die vrystelling en vlakke van kweekhuisgasse in die atmosfeer vrygestel. Dit bestryk die periode tot einde 2013. Die toename in CO2 in die atmosfeer was sedert 1984 nog nooit so vinnig soos tussen 2012 en 2013 nie, en dit het in 2013 die hoogste vlakke ooit bereik.

In nog ’n verslag, dié keer van die VN se omgewingsorganisasie, word gesê dit lyk of die aarde se osoonlaag teen 2050 weer tot die gewenste vlakke sal herstel. Nie alle wetenskaplikes sal dit eens met die VN-organisasie wees oor hoekom die osoonlaag uitgerafel het nie, maar almal sal saamstem dat die behoorlike herstel daarvan baie goeie nuus is.

Vandag gaan vyf opposisiepartye ʼn simboliese poging aanwend om die speaker van die parlement, Baleka Mbete, vervang te kry. As speaker van die parlement moet sy onpartydig wees, iets wat sy kwalik as voorsitter van die ANC kan wees, en heel klaarblyklik nie is nie. Die ANC se verbintenis tot demokrasie word vandag getoets terwyl die buitelandse media in die land saamgetrek is.

Maar hoekom kom alles tot stilstand as Oscar in die beskuldigdebank instap?

In ʼn artikel in The Guardian skryf die bekende misdaad-fiksieskrywer, Deon Meyer, dat hy en ander skrywers van dieselfde genre meen dit spruit uit almal se onderliggende vrees vir die uiteindelike finaliteit van dood, en ’n ingeboude wil dat die goeie in ’n wêreld van onreg moet seëvier. Hy verwys ook na die glinsterprofiele van Oscar en Reeva Steenkamp. Die verhoor het meer aandag, ook media-aandag, as die afsterwe van oud-president Nelson Mandela getrek.

Het die mens nie maar ʼn ingebore behoefte aan ’n koningshuis – verkieslik ’n nie-uitvoerende koningshuis waar voete van klei nie ernstige implikasies inhou nie? Baie Suid-Afrikaners en Amerikaners is immers taamlik anti-Engels, maar as die Britse koningshuis ʼn menslike ding oorkom soos wanneer ʼn swangerskap aangekondig word, is baie van dieselfde mense gaande. En is hierdie mooi mense nog werklik mooi ook, soos prinses Diana, gaan staan baie mense se verstand stil soos hulle fikseer. Dit terwyl daar belangriker koningshuise is, maar buite hul eie lande skaars ’n wenkbrou laat lig.

Al wat in die Oscar-saak ontbreek het, was blou bloed. ’n Voorste rolmodel wat die onmoontlike oorkom het om ʼn sportheld te word, wat op Valentynsdag sy glinster modelmeisie doodgeskiet het.

By sommige mense is net daardie oemf-faktor teenwoordig wat van hulle mooi mense maak. Die bekende sportskrywer, Joe Venter, het by geleentheid ook hieroor geskryf – die Bobby Skinstad-gier waar veral jong vroue geswymel het oor Bobby wat tog in die Springbokspan moes wees. En, skryf Venter, as hy hulle vra wat dan van André Venter? Dan kom die oorblufte vraag: “André wie?” En hy antwoord: “Net die beste flank in die wêreld en die man wat julle sy plek wil laat verloor.” Venter was nie net die beste flank van sy tyd nie, maar binne die kringe wat hom geken het, die toonbeeld van hardwerkendheid om sy min tekortkominge met super-fiksheid te kompenseer. Weens ’n siekte het hy verlam geraak, en is steeds in ’n rolstoel, maar het so ʼn top-sakeman geword. As diep gelowige mens het hy wyd om enige skandale en omstredenheid beweeg.

Tog is Bobby die man wat deur baie onthou word.

Oscar en Reeva was van daardie mense wat groter as die werklikheid geword het, en nou word Oscar, en tot ʼn mindere mate, Reeva se lewens tot die fynste besonderhede oopgevlek – sien almal dat hulle ook mense met menslike eienskappe soos swakhede, was. Dit bied vir die vaalste “muisie” die “kanaal” om iets met ʼn “mooi mens” te kan deel.

Baie van hierdie Oscar-sepie-slawe het ook reeds vir hulself uitgemaak of Oscar skuldig is of nie, ongeag wat die regter bevind. Dis nie hulle wat dalk verkeerd gaan wees nie, maar die regter. En as die regter, volgens hulle, verkeerd was gaan die twee ander hoofspelers, Barry Roux en Gerrie Nel die skuld kry.

Vir diegene wat gaan kyk, geniet dit.

NS: Vir diegene met ’n los $250 000 en wat lus is vir ’n spoedige ruimtereis, besoek Virgin Galactic se besprekingskantoor hier.

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.