Nuuskommentaar: Is dit sonde om Afrikaner te wees?

afrikaner vraagtekenSeker een van die mees politiek-inkorrekte vrae om nou te vra so kort voor die Toekomsberaad Saterdag, is of dit gepas is om van Afrikaneridentiteit en behoede, grondwetlike regte, te praat.

Maar die olifant is in die kamer en word op allerlei versluierde maniere bespreek. Daar word gemaan teen die isolasie van Afrikaans en daar word na die breë onderskeid tussen ʼn reënboog van Afrikaanssprekendes en ʼn enger groep, die Afrikaner, verwys.

En ook vrese dat die Afrikaner se “lomp” hantering van die situasie sake vir ander Afrikaanssprekendes kan bemoeilik.

Daar is geldige punte in oorvloed. Vir baie Afrikaners is wat hulle van ander Afrikaanssprekendes onderskei, gewoon hul velkleur en word nie-bestaande terme soos “die blanke volk” gereeld ingespan in sosiale kommentaar. Die volkereg en die grondwet maak egter net vir volkere-onderskeiding op sterkte van taal en kultuur voorsiening.

Nie dat ʼn mens konteks moet verloor nie. Vandag nog, bykans ʼn kwart eeu nadat die vorige regering rasseklassifikasie afgeskaf het, word rasseklassifikasie vir die doeleindes van bevoordeling (en dus benadeling ook) al strenger toegepas. Dit beïnvloed die persoon se lewe van die wieg tot die graf. Dit maak saak.

Ook bruin Afrikaanssprekendes word geraak, soos blyk uit die geding tussen Solidariteit en die DKD. Die regering vereis die toepassing van ʼn nasionale demografie en basta met die feit dat “oorverteenwoordiging” tot marginalisasie lei. Opnames staaf dat baie en selfs die meeste Suid-Afrikaners, hulself in terme van ras eerste definieer. Die opkoms van die EFF is stellig ʼn goeie voorbeeld van die manifestasie hiervan. Blanke lede met ʼn ingesteldheid van “Unter mit uns” is wel welkom.

Boonop het die ANC-regering die vuil nuk om, veral opportunisties, die woord “Afrikaner” as sinoniem met “blank” te verklaar en dan aanvalle op die beweerde ras-bevoordeling te doen. Met die Toekomsberaad sal dit stellig nie anders wees nie.

Dit is egter nie net die regering se reaksie op die Toekomsberaad wat interessant is nie. Trouens, die regering se reaksie is grootliks gedemp en versluier, soos Zuma se waarskuwing oor Afrikaans in die konteks van wat op kampusse gebeur.

Gestel die netelige kwessie van ras kan ten volle uit die Toekomsberaad gehaal word. Is dit dan steeds ʼn sonde om ʼn Afrikaner te wees – iemand wat hom taalgewys en kultureel aan ʼn identifiseerbare groep verbind? Word na die grondwet en die internasionale reg oor minderheidsgroepe gekyk? Tog nie. Tog verhinder dit nie heelwat (blanke) Afrikaanse akademici om allerlei afwysende eiertjies oor die Toekomsberaad te lê nie. Hul koppe word goed in die sosiale media gewas, soms op so ʼn wyse dat die Afrikaner selfs ʼn beeld kan kry van ʼn volk met besonder baie onopgevoede ghwarre. Geen volk het egter nie ook sy segment van armes van gees nie.

Van die Toekomsberaad se kritici is moontlik pragmatici wat “ter wille van” bereid is om grondwetlike regte te begrawe. Ander het bewese klein byltjies wat hulle met leiers in die Solidariteit Beweging slyp en dit borrel gereeld na die oppervlak. Ander is elders op ʼn mikroskaal besig om delikaat oor regte op byvoorbeeld universiteitsvlak te beding en op die oog af hier en daar selfs te kruip. ʼn Rugstyfmakery elders en veral op die makro-vlak, bemoeilik die kwessie. Dan is daar diegene wat ideologies op ʼn manier gevorm is en geyk geraak het en aan wie geen salf te smeer is nie. Kompulsief sal dit wat nie binne die eie links-liberale agenda val nie, eenvoudig aangeval word. Feite en beginsels is besonder sekondêr en mag nie in die pad staan van verdwaalde gatvasheid nie.

Mens kan eindeloos stry oor die kwessie van Afrikaner en Afrikaanssprekende en wie vir wie uitlaat of agterlaat. Die feit is, die situasie het so ontwikkel dat niemand meer vir ander Afrikaanssprekendes kan wag om te besluit of hulle aan boord wil kom of nie. Trouens, in bruin geledere, is daar reeds ʼn beweging, die Bruin Belangebeweging (BBB) wat die kwessie geïdentifiseer het en ʼn groot beraad gehou het. Daar is ook tallose kleiner groeperings, wat in die bruin gemeenskap dikwels erg deurloop, juis omdat hulle nie met “die groter prentjie” saamloop nie.

Om vrede te hê met die BBB en dit selfs te steun, maar terselftertyd die Toekomsberaad as ʼn vorm van verraad voor te hou, is egter bietjie dik vir ʼn daalder. Dat die Toekomsberaad voortgaan, beteken egter ook nie ʼn pad van uitsluiting gaan gevolg word nie, maar dit beteken wel dat keuses in die nabye toekoms gemaak sal moet word.

Dis nie ʼn skande om ʼn Afrikaner te wees nie en die Afrikaner het grondwetlike en volkeregtelike regte. Dit is wel ʼn skande om ʼn Afrikaner te wees wat hom skandalig gedra en die saak van sy mense saboteer.

In hul hoofartikel vandag skryf Beeld en Volksblad onder meer: “Dit is tyd dat Afrikaanssprekendes – in die ryke verskeidenheid in die taal – ophou om verskonend te wees oor Afrikaans. Daar word dalk, soos Zuma sê, “voorsiening gemaak” vir die ontwikkeling van die taal, maar die aktiewe bevordering, groei en ontwikkeling daarvan lê in die hande van sy sprekers. En in hierdie sprekers se vermoë om nie met gevoude hande of gebalde vuiste te staan teenoor andertaliges nie.”

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Ludwig ·

Hoekom moet ons as Afrikaanssprekendes verskoning vra dat ons bestaan? Ons kan eerder onsself en ons voorsate op die skouer klop vir wat in hierdie land vermag is. En baie van hierdie prestasies is nie bereik op grond van ander se arbeid nie, maar op grond van ons eie mense se hardwerkendheid, Kyk maar na die groot sakeryke wat hier opgebou is, kyk maar na die infrastruktuur, kyk maar na die geestelike goedere, soos ons letterkunde, kyk maar na prestasies op w etenskaplike gebied – soos die hartoorplanting, die mediese deurbrake wat daarop gevolg het, ander deurbrake op mediese gebied soos onlangs weer in die mediese fakulteitf van Stellenbosch,, die baanbrekerswerk wat op Onderstepoort gedoen word, die manier waarop ons boere elke dag, ondanks droogte en terugslae, miljoene mense van kos voorsien, kyk maar waar het Afrikaanssprekendes al diep spore getrap. Nou onlangs selfs in die ruimtevaart toe ‘n Afrikaanssprekende betrokke was by die sending na wie weet watter planeet. Dis net so vinnig genoem. Nee, ons hoef niemand om verskoning te vra omdat ons hier is nie. Ons is hier en ons het goeie rede om hier te wees. En ons is bereid om ander saam met ons te neem na ‘n wonderlike toekoms vir hierdie land. Al wat ons vra, is dat ons erken word, ons en ons taal en ons bydrae tot voordeel van hierdie land. Ons het gewys dat ons ook kan sien wanneer ons nie heeltenal op die regte pad was nie, en dan het ons ‘n ommekeer gemaak. Ons het gewys dat ons ook kan aanpas, dat ons ook ander ‘n plekkie in die son gun. Ons belangrikste voorwaarde is net dat ons óók so ‘n plekkie gegun sal word. In ruil daarvoor sal ons ons kant bring, soos wat ons dit nog altyd gedoen het.

GES ·

Volgens die liberaliste en vyande van die Afrikanervolk is dit sonde om te bestaan. Mense wat geen wortels of trots het nie voel heeltyd bedreig en sal altyd alles en almal aanval en verkleineer om self beter te probeer lyk. Dit werk eenvoudig nie om identiteitloos deur die lewe te probeer gaan. Die werlklikheid gaan jou inhaal. Die Afrikanervolk het soveel om op trots te wees. Ons is geplant deur die Hoërhand aan die suidpunt van Afrika met ‘n doel en ‘n misie. Vervul jou roeping!

neelsie ·

As Afrikaner kan ons baie trots wees op dit wat ons in die land verrig het.
Na die 2de Vryheidsoorlog was ons voorouers brandarm,maar hulle het self uit die as opgestaan, die land ontwikkel, kos voorsien, werk verskaf aan almal in Suid Afrika.
Op tegnologiese gebied was ons voorlopers met o.a. Yskor, Sasol , Uraanverryking, Atoomkrag, pad- en spoornetwerk, om nie eers te praat van onderwys en universiteite nie, hier is te veel om te noem. Die mediese ontwikkeling was van wereldgehalte.
Dit was lekker om in RSA te woon en deel te wees van die ontwikkeling.
Daarom moet ons opstaan en vorentoe gaan, Afrikaners gaan nie le nie.!!

Willem ·

Daar kom n tyd wanneer gewone mense moeg raak vir gesprekke en debatte in lugversorgde konferensie kamers oor hul lewensomstandighede.Dan breek hulle weg en gebruik hul eie goeie oordeel om riool in strate,slaggate,water en krag toevoer,straatrommel ens ens op te ruim om di menswaardigheid van n gemeenskap te herstel.Dit is mou oprol werk wat di elite in di konferensie kamers ni verstaan ni.
Indien dit n groep Afrikaners is wat di inisiatief neem laat dit so wees want indien ons wag vir di raadsaal filosowe sal ons n generasie van lamsakke kweek wat vergeet dat harde werk di enigste manier is om die krisisse van die werklikheid daar buite te verbeter.
Eendag sal di konferensie kamer bewoners straks agterkom dat hul ni meer volgelinge het ni en dat hul irrelevant geword het!
Viva Afrikaners!Viva.

PIET DU PLESSIS ·

Goeie stuk. Beslis moet ons na kommentare en kritiek luister, maar beslis moet ons ook nie dat ons van stryk gebring word wanneer on vir ons taal- en kultuurregte opstaan nie.

Johannes Meintjes ·

Die heropstanding van die Afrikaner is ‘n reuse deurbraak. SA en Afrika baat by sy volke, tale, nasies en stamme wie hul identieit koester maar ook met integriteit meedoen aan die groter lewensroeping in die kontinent. Indien politieke en ekonomiese sake werklik wedersyds voordelig verloop het na 1994 sou daar nie nou sulke kulturele identiteitskrisisse gewees het nie. Die Afrikaner beraad beplan op 10 Oktober is myns insiens ‘n geskiedkundige en waardevolle mylpaal. Dit bring groot verantwoordelikhede, vereis medewerking en stel belangrike keuses vorentoe, soos wat Herman Toerien ook aandui.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.