Nuuskommentaar: Is kritiek op howe vir ‘ongrondwetlike uitsprake’ geregverdig of minagting van die hof?

hof-hamer

Argieffoto

Kritiek op die howe in Suid-Afrika is nie nuut nie, en ongelukkig dikwels behoorlik geregverdig. Maar gaan howe nie van hul waardigheid, en dus gesag om regspraak te lewer ontneem word as Jan Rap en sy maat, of liewer professor, joernalis en advokaat, geregverdig kan mond uitspoel nie? Of moet daar nie eerder gesorg word dat regters nie ideologies tot ongrondwetlike uitsprake uitrafel nie? Die Konstitusionele Hof se uitspraak in Gelyke Kanse se saak teen die US het ’n sweer oopgedruk.

As jy moontlik gedink het dit is na ’n aardskuddende hofsaak amper nie meer moontlik om minagting van die hof te pleeg nie, is jy verkeerd. Gaan Google maar “minagting van die hof” – dit is kort-kort in die nuus, en baie van hierdie berigte handel oor gevalle die afgelope paar jaar, 2019 ingesluit. Trouens, ’n regter het opgemerk dat daar ’n toename in die jongste tyd in hierdie soort sake is, en die Konstitusionele Hof het in 2017 nog ’n uitspraak gelewer waarin die ander howe se “voorkeur” vir tronkstraf eerder as die keuse van ’n boete vir dié oortreding gekritiseer is – dit nadat die hooggeregshof én die appèlhof appèl geweier het, en die Konstitusionele Hof per petisie genader is.

Trouens, daar is soveel akademiese literatuur oor wat minagting van die hof is dat dit onmoontlik is om dit selfs net naastenby volledig te omskryf – en selfs dan is daar gate wat om groter duidelikheid roep. Uit sommige beskrywings kom dit voor of die hof net iemand wat regstreeks by ’n spesifieke saak betrokke is, en wat ongeregverdigde kritiek lewer, en spesifiek ’n hofbevel minag, vir minagting kan skuldig bevind en vonnis. Sou dit dan beteken iemand wat byvoorbeeld in ’n lesersbrief of koerantartikel sy mond oor beweerde mistastings van ’n regter of die regstelsel uitspoel dit maar straffeloos kan doen?

Of, soos in die geval van die Reitz-vier-saak, waar ’n uitstellanddros ’n beroep op die media en politici doen om nie ’n moontlike uitspraak vooruit te loop nie. Presies die daaropvolgende Sondag plaas ’n groot koerant ’n brief waarin ’n leser na hulle verwys as skurke. Die persombudsman het geoordeel die koerant het niks verkeerds gedoen nie, dus nie amptelike of nie-amptelike minagting van die hof gepleeg het nie.

Kritiek op hofuitsprake of selfs ander optredes van regters en landdroste is iets wat lankal gereeld voorkom. In die proses word die fama (goeie naam) van die hof gereeld vertrap. Hierdie kritiek moet egter ongeregverdigde kritiek wees om vir benadeling van regsgoed in aanmerking te kom. ’n Prima facie (met die eerste oogopslag) beoordeling laat dit lyk dit of die kritiek op die Konstitusionele Hof soms nie net geregverdig is nie, maar noodsaaklik.

Of dit strafregtelik vervolgbaar is om vir minagting van die hof of soortgelyk tereg te staan al is ’n mens nie by ʼn bepaalde saak betrokke nie, is egter nie in hierdie bespreking ter sake nie. Die persepie dat ’n mens nogtans in die sop kan beland het dekades lank baie mense wie se monde of hande gejeuk het om die persone wat die Grondwet met waardigheid moet onderhou, se koppe deeglik te was, weerhou daarvan om so te maak.

Die opvatting is moontlik gebore uit die regsbeginsels van ex facie curiae naas in facie curiae. Normaalweg beteken die ex die minagting is buite die sig van die voorsittende beampte gepleeg, (maar in minstens sommige lande deur die presedentereg uitgelê om alles op die perseel van die hofgebou as in te beskou), en dus te tel as wat in die sig van die voorsittende beampte te gebeur het. Volgens ’n regsmening kan ex facie curiae ook die belediging van die hof insluit al is die persoon wat geskraap word nie ’n party nie.

Twee onlangse artikels, oor dieselfde saak en dieselfde hof, naamlik die Konstitusionele Hof, sou die “ou mense” wat ’n heilige ontsag vir die howe en hul mag om ’n man se turf te laat sit, oor kritiek of versuim om uitvoering aan hofbevele te gee, se hare laat regop staan het. Die eerste artikel, deur die bekende joernalis en geskiedkundige, dr. Leopold Scholtz, en ’n tweede wat pas deur prof. Koos Malan, regsgeleerde van Tuks geskryf is, het die outeurs hul monde behoorlik, maar tegnies baie sekuur deur die slaggate oor die hof uitgespoel na aanleiding van die uitspraak in die Gelyke Kanse se saak teen die US. Hoewel daar aandag geskenk word aan die skynbaar onetiese optrede van die rektor, prof. Wim de Villiers, en intussen afgetrede regter Edwin Cameron – wat sedertdien tot kanselier verkies is, gaan die kritiek verder.

Daar kan nie twyfel wees dat die regters se sale erg gekneus sou wees deur opmerkings soos dat die regters van die Konstitusionele Hof wat veronderstel is om die Grondwet te bewaak, besig is om dit te verkrag nie. Malan skryf weer dat die regters van die Konstitusionele Hof in ’n reeks onlangse uitsprake as getroue agente van transformasie (regeringsbeleid) ontpop het. Ook dit bring nie salf vir die sale nie.

Hoewel die woord “transformasie” nie in die Grondwet voorkom nie, is die toepassing daarvan (bo minderheidsregte wat wel kol-kol neergepen is) “verduidelik” dat die ganse Grondwet ’n “transformasiedokument” is. (’n Massa ander wette handel oor transformasie, sommiges selfs in die titel, en handel oor bykans enige moontlike saak, maar die Grondwet self swyg.)

Kritiek op die Konstitusionele Hof is ook nie nuut nie. Die FW de Klerk-stigting het jare gelede reeds ’n hele paar sake gelys wat die stigting meen die hof mee geblaps het. Malan noem nou ook twee ander sake wat kritiek ontlok het, naamlik dié van Renate Barnard en dié oor minerale regte.

In aansluiting hierby, met ’n effens ander fokus, was ’n toespraak van dr. (adv.) Jan Heunis, voorsitter van die US se konvokasie waarin hy sy mond goed oor die kommunikasie tussen Cameron en De Villiers, uitgespoel het. ’n Ondersoek van De Villiers se beweerde wangedrag word na verwagting binnekort voltooi. Hy beskuldig De Villiers ook daarvan dat hy “nie die waarheid” gepraat het oor die konvokasie se beweerde toestemming dat Cameron as kanselier aangestel kan word nie.

Die kritiek op die howe is egter nie net tot “regses” of wit mense beperk nie. Uit swart geledere is daar ook gereeld ’n foutvindery met howe. Weliswaar is die kritiek uit swart geledere heeltemal anders gemik, en weerspieël ʼn gans ander narratief.

Minagting van die hof is juis as strafregtelike oortreding ingestel om die waardigheid van die howe te beskerm, want slegs dan kan hulle die Grondwet en ander wette doeltreffend en met die nodige gesag toepas. Alles goed en wel, maar wat as die howe nie daardie waardigheid verdien nie? As wit, swart, bruin en die slagoffers van xenofobie respek vir die howe verloor? Dan gaan die toepassing van minagting van die hof as die beskerming van die onreg beskou word. En dit gebeur reeds, soos plakkers buite ’n woonstelblok wat uitgesit is omdat hulle nie die regmatige bewoners is nie. Maar hul eie saak, naamlik of die munisipaliteit nie dalk kontrakbreuk gepleeg het om ander mense daar te plaas as dié waaraan dit beloof is nie, het skynbaar nie die aandag gekry wat dit verdien nie. Prima facie lyk dit of die hof opgetree het sonder dat die ander kant van die saak aangehoor is. Omkopery is moontlik nie net straffeloos gelaat nie, maar stilswyend toegelaat.

Die reg om regters te kritiseer wat hul posisies om ideologiese of politieke redes misbruik kan nie onderdruk word nie – dit is onversoenbaar met ware grondwetlike demokrasie, én met regspraak wat op natuurlike geregtigheid gerig is. Maar dis nie so maklik om ’n regter te laat vasvat nie. Dink maar hoe lank het dit geneem om regter Nkola Motata te straf – nadat hy afgetree het en intussen vol salaris gekry het, en die proses teen regter John Hlope, hoofregter van die Wes-Kaap hoegenaamd aan die gang te kry.

So ’n klein bietjie sinisme oor die grondwetlike bepaling van almal gelyk voor die gereg. Of sou dit ook anti-transformatief wees?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Judge Dredd ·

Die tipe geregtigheid wat SA’ners van SA howe te wagte kan wees hang ongelukkig deesdae grootliks af van die regter wat jou saak behartig en die kleur van jou vel.

Marius ·

Ek moet darem sê Mogoeng Mogoeng het ń uitnodiging gemaak dat bewyse vir kritiek op die uitsprake gelewer en heroorweeg sal word. Dit is dus nie taboe nie

PJC ·

Ek dink nie enige iemand kan meer twyfel dat daar al hoe meer gebreke in ons regstelsel voorkom nie en dat besig is om drasties toe te neem nie.

Leon ·

Die dametjie het in 1994 al haar blinddoek verloor toe die ANC aan bewing gekom het en haar skaal het in die ANC se kant tot onder gesak. Het ons nog ‘n regstelsel, ja. Het ons ‘n regeverdige en gebalanseerde regstelsel, nee. Die regstelsel is polities vir die ANC.

Christa ·

Die Howe is nie onpartydig nie. Bewyse daarvan is oral. Die doodskis Manne, die twee Manne wat kamtig n skelm van bakkies gestamp het en nadat ingetree is eers Kan apeleer. Dan ook Walus wat Al meer as 25 Jaar sit. Dan ook die Groot klomp plaasmoordenaars en skelms wat wegkom Om more weer voort te Gaan Waar hulle opgehou het. En Om te dink dis my mense wat hulle ook daaraan skuldiges Maak. My Nasie is nie so moordadig nie. Hulle behoort Mo’s hul Bybel the verstaan, dan nie?

John ·

In die Bybel word regters gewaarsku om nie iemand te bevoordeel net omdat hy ryk en vernaam is nie maar ook nie die kant te kies van iemand bloot omdat hy arm en agtergeblewe is nie. Salomo se uitspraak oor die baba waarop twee vroue aanspraak maak dui op die sielswroeginge van regters om op die spoor van die waarheid te bly, En dan is ‘n klomp regters op ‘n dag oor ‘n afgrond gegooi weens hul sluheid. Regters moet kan sweet.

JohanL ·

Regters moet regtig nie dink dit is net hulle wat intelligensie het nie. Daar is vele ander mense wat ook intelligensie het en baie van hulle is ook objektief (of nog meer objektief ) as sekere regters. En dit is diegene wat die howe kritiseer en fout vind.

Die regstelsel het “sy eie bed opgemaak” en moet nou “daarin slaap”. Hy het self gesorg dat mense se kritiek geregverdig is.

En gee die grondwet met sy vryheid van spraak my nie die reg om die howe te kritiseer nie? Of is daar ook seker nou ‘n “ander reg” wat daardie vryheid van spraak onderdruk? Ons weet immers die Grondwet gaan oor ‘n balansering van verskeie regte.

My eenvoudige raad en advies aan die howe, regters en regstelsel is bloot om waarlik objektief te word en nie ‘n politieke speelbal te wees nie. Dan sal julle minder gekritiseer word.

Karel ·

As die landdroste, regters en ander leiers maar net kon weet watse absolute minagting ek vir die meeste van hulle het. Maar dit geld vir party van my base by die werk ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.