Nuuskommentaar: ‘Is wit ‘n kleur of ‘n godsdiens?’

hande kultureel diversiteit rasse

Argieffoto (Foto: maxlkt, Pixabay)

“Wit issie ‘n colour nie.” Dié titel van ‘n bundel van die skrywer, Nathan Trantraal, se artikels in Kaapse Afrikaans, trek dadelik aandag. In ‘n resensie oor die boek interpreteer die resensieskrywer sy boodskap soos volg: “… Want wit is nie ‘n kleur nie, sê Trantraal; wit is ‘n godsdiens. Dít is sy kritiek teen die status quo. Wit is – en word steeds – soos ‘n godsdiens bedryf en word ook van die een geslag tot die volgende oorgedra.” Maar is dié afleiding van Trantraal waar?

Dit is ongetwyfeld so dat vir sommige “blankes” hul wit(terige) velle ’n aanspraak op iets besonders is (claim to fame). Vir ander is dit ’n biologiese “toevalligheid” waardeur hul, en hul kinders se lewe op die een of ander wyse van die wieg tot die graf regeer.

Dat apartheid ’n groot stempel op die gemoed van baie niewit Suid-Afrikaners geplaas het, is ongetwyfeld so. Suid-Afrika is nie uniek nie, met onder meer die VSA wie se slawebeleid steeds angels laat, en daarna gevolg deur ’n beleid van segregasie met ongetwyfeld diskriminerende praktyke wat byvoorbeeld grootliks bydra daartoe dat “blackfacing” tot vandag ook in Suid-Afrika as hoogs emosioneel beskou word. Ook Australië het maar in hedendaagse tye van sy wetgewing afgestap wat niewit immigrasie sou inkort.

Getrou aan die Afrikaner se diep Christelike lewenswyse het die Afrikaner ook ’n sin vir geregtigheid gehad, en was die beleid van afsonderlike ontwikkeling by baie eindelik op ’n regverdige bedeling bestem. Trouens, enduit het baie geglo in hierdie ideaal, met ongelukkige struikelblokke en maatreëls wat onvermydelik was om die einddoel te bereik.

Terselfdertyd is ’n alternatiewe geskiedenis “geskryf” wat vertel van grondgryping sonder vergoeding, in plaas van mét vergoeding of grondruiling om “swart kolle” “op te ruim.” In baie gevalle, en by uitstek by bruin mense, was dié proses ekonomiese agteruitgang.

Dit mag nie as deel van huidige populêre “oorwinning oor apartheid” aangebied word nie, maar dit is ook so dat dit die Nasionale Party was wat reeds voor 1994 al die apartheidswette uit die wetboek verwyder het, onder meer die wet wat mense volgens ras só registreer. Die harde werklikheid is dat dit die ANC is wat ’n seleksie van dié ou wette steeds toepas asof dit op die wetboek staan, aangesuiwer deur ’n horde rasgebaseerde wette. Dit is wat nou gevoel word, en die nalatenskap van iets wat andersins reeds begraaf kon wees, sou laat vervaag.

Onlangs skryf dr. Braam Hanekom, direkteur van die Sentrum vir Openbare Geskiedenis, op Netwerk 24 ná ’n besoek aan Bloemfontein onder meer soos volg oor die stad se toekomsvooruitsigte (en huidige voorkoms teenoor die vroeëre van ’n Rosestad): “Rassevooroordele vier steeds hoogty. Die mense van die stad het geleer om daarmee saam te leef en is meestal goed gekamoefleer.”

Hanekom maak op wortels met die stad aanspraak (sy ma het hier grootgeword), en dat hy die stad goed ken. Tog gee hy die indruk van iemand wat in die styl van oudpres. Thabo Mbeki tydens ’n blitsbesoek aan Suid-Afrika oor die land gevlieg en toe verklaar het die vreeslike armoede bestaan nie, want ’n mens sien dit nie. Minstens sommige inwoners ervaar wel wat Hanekom waarneem, maar ander ervaar ook ’n stad waarin daar baie goedgesindheid is, al kos dit bietjie betrokkenheid en selfs delfwerk. Hierdie skrywer het nog selde soveel rasseharmonie beleef soos tydens die judotoernooie waarby hy danksy sy jongste seun se deelname betrokke is. Dieselfde geld vir die Kinderhuis van wie onder meer feitlik ’n hele satelliethuis by die judo betrokke is.

’n Groot gevaar is natuurlik dat mense soos die uwe self in die proses van selektiewe ervaring in dieselfde slaggat trap as ’n regering van ouds wat deur sy vinger op die Cebe-clan (Lennox en kie) te gehou het, gemeen het dat hulle die Suid-Afrikaanse pols voel en alles min of meer klopdisselboom gaan.

Dié soort gesprekke is nie nuut nie, en kom vandag weer mildelik in die Volksblad aan die bod. Prof. Johannes Froneman van Potchefstroom skryf onder meer: “Ons moet almal aanvaar dat linkse politieke korrektheid net so giftig is as die regse ontkenning van rassisme.”

Op die gevaar af om die bedoelde konteks deur ’n té selektiewe aanhaling te verander, word die volgende aanhaling van die bekende Dawie Jacobs van Sterrewag weergegee: “En ja, ek beleef ook ’n land waar minderheidsgroepe aan alle kante alles deur ’n kleurbril sien en rassevure aan die brand steek.”

Weer eens, sonder om na Trantraal se skryfwerk te verwys, maar die titel van die bundel, wie se skuld is dit dat “ons” nou alles deur ’n kleurbril raaksien? Ja, dis ou nuus om na oudpres. en nou skynbaar Don Jacob Zuma en sy gevolg se rassebeheptheid te kyk en vinger te wys. Kruiwavragte vol klagtes is byvoorbeeld by die “Menseregtekommissie” ingedien, soms ná deurtastende ondersoeke om reeds voor indiening die provokasie mét bewyse te voorsien. Dít ná die 1994-generasie behoudendes in hul geskrifte en voorleggings baie omsigtig was om die term “ras” af te weer wanneer dit oor positiewe minderheidsregte, soos selfregering (onder meer korporatiewe selfbeskikking) handel.

So oortuigend was dit dat selfs Die Burger deur sy hoofartikel ’n oproep op deelname gedoen het. Akademici wat hulle nou op die ander punt van die politieke spektrum bevind, het nog met groot fanfare gaan voorleggings doen aan onder meer die Volkstaatraad. (Ook die HAT sluit ras as deeldefinisie van die term “volk” uit, en so ook die Volkereg, en artikel 235 van die Grondwet. Ras het wel “negatiewe” regte soos ’n verbod op diskriminasie, om uitgemoor te word, ens.)

Die respons was egter eentonig soos in ’n onderhoud van Gwede Mantashe, toe sekretaris-generaal van die ANC, met Beeld waarin hy die woord “Afrikaner” onmiddellik sinoniem met “blank” gemaak het, en wat daarom geen minderheidsregte sou kon kry nie. Ook dr. Nkosazana Dlamini-Zuma het tydens die abortiewe Kliptownberaad (danksy die regering se ontsporing daarvan) soortgelyke geluide geuiter toe sy dr. Pieter Mulder die kop gewas het.

Wanneer dit by die bruin bevolking kom, is dit ’n heel ander wêreld waarin katvoet geloop moet word – en onthou, elke keer sonder die geringste idee van kwaadwilligheid. Dis kompleks met (legitieme) Khoi en (moontlik veral San-) belange.

Dan ’n tipe Griekwa-deels-ontwaking, en ʼn magdom ander. Die mees komplekse is egter waar die wit mense verwyt word vir afstandplasing, en selfs afstoot.

Terselfdertyd word in veral akademiese kringe soos prof. Jonathan Jansen, na bruin mense as swart verwys. Die indruk, reg of verkeerd, is dat dit ’n soort ere-swartskap is wat dan ook ander bruin mense sou insluit soos wyle prof. Russel Botman, indertyd rektor van die US. ’n Groep bruin Afrikaanse skrywers word dan ook deur die media, asof dit nou die politiek-korrekte agenda is, “swart Afrikaanse skrywers”. (Daar sal wel “etniese” swart skrywers teenwoordig wees.)

Wanneer die sportowerhede, soos Suid-Afrikaanse krieket, raskwotas afdwing wat provinsiale krieket tot ’n patetiese laagtepunt gevoer het, word met “etniese swart kwota” presies dít beskou. Geen bruin speler, voorkoms of meriete ten spyt, kan ’n etniese swart speler wees nie. Die (eensydige) opraap van “swartskap” stel dus geen beginsel reg nie, en bring ook nie opportunistiese voordele nie.

En terwyl die bevolkingsregistrasiewet afgeskaf word, hoekom noem die wit bevolking hulself dan nie ook swart nie? Hier neig die owerhede om dit in die kiem te smoor (en hulself dan ewe pikant nierassig te noem).

Ja, dis verwarrend en dikwels uitmergelend om in Suid-Afrika met bona fides deel van die grondwetlike ideaal te probeer kom. Die byvoegings soos restitusie en blywende boetedoening (waaraan veral die jonger geslagte, maar ook die ouer geslagte weens onkunde oor dikwels onwettige praktyke en ongevoelige administratiewe handelinge) word ingebou.

As iemand twyfel oor die gevolge van rasse-onmin (en die jaarlikse rassebarometer fyn dopgehou word), leef hy nie in dié wêreld nie. Die koerante dra oorvloedige berigte oor onwettige grondbesetting wat behoorlik vlamgevat het ná nie net die ANC se beleidsverandering oor grondgryping sonder vergoeding nie (eintlik handel die betrokke artikel 25 van die Grondwet oor alle vorme van eiendom), daar word selfs in van die berigte en artikels gemaan pres. Cyril Ramaphosa het met die wyse van sy aanvanklike aanbieding ’n perd opgesaal wat moeilik gery gaan word.

Hoeveel gunstiger kon die naweek se Moody’s-gradering gewees het as die fynskrif die duidelike hoofskrifte was? Hoeveel ontwikkelaars sit nou met twyfel daaroor om wagtende kapitaal in kapitaalprojekte om te sit?

Teen hierdie agtergrond: “Is dit nog billik om na witheid as ’n godsdiens te verwys?” Ja, vir diegene wat die titel “white supremacists” verdien wat Don Zuma alle wit mense, in plaas van net die skuldiges opgelê het, nogal op ’n spesiale dag wat teen rassisme uitgeroep is, is die wet wel soos ’n godsdiens. In baie gevalle is dit al wat hulle in hul eie oë watwonders maak.

Maar vir verreweg die meeste word gesien hoe internasionaal-erkende minderheidsregte (wat internasionaal ’n deel van menseregte uitmaak) geërodeer word of in die spervuur kom. Minderheidsregte is egter ’n pakket wat verkieslik in geheel, of baie na daaraan moet kom. Iemand wil nie net sy moedertaal in die huis praat nie, maar verkieslik ook in sy kerk, skole en ja, universiteite. Hy wil nie vae teorieë oor die bevordering van diversiteit en veeltaligheid hoor, maar in die praktyk sien hoe sy taal voor sy oë aggressief weggeveeg word nie.

Onderliggend speel die kwessie van kritiese massa ook ’n rol. Al meer loop hulle in ervarings in waar ’n groep die kritiese massa bereik en bedoeld, of onbedoeld, ander vervreemd laat.

Laat die Afrikaner sy godsdiens wat hy liefhet, koester. Dis meestal Calvinisties, al word al meer charismatiese kerke ’n werklikheid. Gewoonlik kan hulle saam oor kerkverbande heen gou ’n kringetjie vorm en saam vir ’n siek kollega bid of een wat slegte nuus gekry het. Om die eentalige spyskaart (sedert onlangs) van die hospitaal baas te raak, kan vir ’n boerseun soos die uwe ’n skraps ete beteken.

Dit kan oor ander grense, al is dit onnodige grense, heen ook gedoen word. Die uwe het dit onlangs tydens hospitalisasie beleef toe wit en bruin pasiënte soggens en saans saam gebid het – alles in die skoonste taal.

Godsdiens mag nie, nie eens by wyse van beeldspraak, as verdeler opgeklits word nie. Dit is veronderstel om die grondslag vir versoening daar te stel.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Casper Labuschagne ·

Mense word nie in die oggend wakker en vra watter diaboliese daad hulle vandag kan verrig om ander te onderdruk nie. Hulle gaan eenvoudig voort met hul dagtake. In daardie opsig het ons, of ons voorgeslagte presies dieselfde gedoen as die inwoners van enige Europese land, as die inwoners van Amerika, of Kanada, of Australië of enige ander volk.

Maar nou is ons verskuldig – ons is skuldig aan ‘n “oorspronklike sonde” teenoor die meerderheid; skuldig vanweë wit voorreg; skuldig vanweë dat ek wit is en dat die gepaardgaande wit voorreg van die een geslag na die ander oorgedra word.

Ek verwerp die veroordelings en weier om dit te aanvaar. Toe my oorspronklike stamvader in 1711 hier gekom het, het hy ‘n wingerd bedryf. Sy seuns was boere en die volgende geslagte ook. Teen die 1850’s het daar ‘n reeks NG-Kerk en Hervormde kerk dominees gekom. En aan die begin van die eeu ‘n reeks prokureurs, onderwysers, ouditeurs. Mense wat streng Calvinisties was en eerbare lewens gelei het.

Jammer Nathan Trantaal, ek is skuldig aan niks nie en weier om skuld te aanvaar omdat my voorvaders hul lewens en die van hul kinders stappie vir stappie verbeter het nie.

Paul ·

So word die raskaart om elke hoek en draai gespeel. Jammer maar ek weet eintlik nie wat om werklik vir so ‘n persoon soos Trantraal te sê nie, die wind is skoon uit my seile geneem, so iets het nooit eens by my opgekom nie en dit is die laaste vergelyking waaraan en ooit sou dink dat iemand ‘wit’ as ‘n godsdiens sou beskryf.

Christi Van Der Westhuizen skryf weer verlede week oor menseregtedag op Netwerk24 onder die opskrif, ‘Dit is net kleur, niks anders nie’, wat dit beteken om wit en Afrikaans te wees.

Dan sien ek Mmusi Maimane agiteer nou by hul kongres baie sterk daarvoor dat die woorde ‘ras transformasie’ en ‘demografiese verteenwoordiging’ in die DA se grondwet inskryf moet word, dit is nou omdat hulle nog gesien word as ‘n ‘te wit’ party.

Ina ·

As daar met godsdiens kerk of vormgodsdiens bedoel word, mag dié stelling moontlik waar wees. In daardie area bly die sielevyand dag en nag die beuel van rassisme blaas en daarmee jaag hy ieder en elk uiteen.

Maar dié wat waaragtig ín Christus is, is een van hart. Dít is nie ‘n godsdiens nie. Dit is ‘n lewende verhouding met God deur Jesus Christus, en die kleur van die vel is daar volkome irrelevant. Dáár word eenheid geskep deur die Gees van God Self, deur die waaragtige liefde van God deur Sy Seun, Jesus Christus. Dit verander geensins jou identiteit van volk of ras nie, maar ten eerste is jy dan burger van God se hemelse koninkryk. Ja, jy bly deel van jou volk, maar dit is sekondêr. Daar bestaan geen eenheid soos die eenheid waarmee God Self Sy eie kinders een maak nie, ongeag kleur of ras. Nie elkeen sal dit verstaan nie, maar die waaragtige kind van God sal. Ware kinders van God is doof vir die duiwel se beuel van rassisme. Wêreldwyd bestaan daar wonderbare, lewende bewyse daarvan, ook in ons einste Suid-Afrika. Soos die Woord sê: “Nie deur krag of geweld nie, maar deur My Gees, so spreek die Here”.

Ben ·

My suster Sêra seg altoos vir my daar is net een hemel en net een hel. Watter kant toe ek ookal beplan vir die ewigheid, saamwees sal ons saamwees.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.