Nuuskommentaar: Kon Zuma-ramp voorkom gewees het?

Pres. Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Pres. Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Ongelukkig is daar nie ʼn presidensiële kiesstelsel wat waterdig kan voorkom dat iemand soos pres. Jacob Zuma die regeringshoof word nie. Daar moet dus oor ʼn wyer front gemobiliseer word om te verseker dat die ANC nie weer iemand soos hy as sy presidentskandidaat verkies wanneer Zuma die politieke toneel verlaat nie.

Die spreekwoord lui: “Voorkoming is beter as genesing.” Met pres. Jacob Zuma wat pas in ʼn oomblik van onbesonnenheid (waansin, volgens baie waarnemers) eiehandig die land binne ure honderde miljarde rande skade berokken het, is daar vir die eerste keer tekens dat die president se posisie nie so lekker knus is nie. Maar oor die ses jaar of so van sy een en ʼn halwe termyn het die president die land veel, veel meer skade berokken.

Onder sy presidentskap het die land erg op verskeie indekse, waaronder die korrupsiepersepsie-indeks en die persvryheidsindeks, die kreeftegang gegaan. Volgens die bekende analis, dr. Leopold Scholtz, haal Zuma gewoonlik net die internasionale media as hy (al weer) skandes maak en as belaglik voorgestel word. Scholtz skroom ook nie om Zuma in ʼn rubriek ʼn “immorele moroon” te noem nie. Rhoda Kadalie beskryf die land nou as die piesang van alle piesangrepublieke.

Zuma het wat die wêreld en ʼn groot deel van Suid-Afrika betref, president geword op die rug van die beeld-kapitaal van oud-president Nelson Mandela. Oud-president Thabo Mbeki het al bietjie van hierdie beeld-kapitaal geërodeer, maar daar was nog oorgenoeg daarvan oor om Zuma taamlik gemaklik deur sy twee termyne te dra. Dat hy dit so gou vermors het, is ʼn redelike “prestasie.”

Dis egter nie die enigste erflating wat Zuma vermors het nie. Hy het trouens die “erflating van apartheid” (met variasies van kolonialisme en Jan van Riebeeck) gereeld ingespan, maar ook daar so aangejaag en “feite” gefabriseer dat hy hierdie kapitaal liederlik verspil het.

Dat die ANC se eie “goeie storie” nie so gereeld die nuus haal soos wat die ANC wil hê nie en die blaam daarvoor op die media geplaas word, swig voor die, soos die kanselier van die Free State University, prof. dr. Khotso Mokhele, dit tydens ʼn gradeplegtigheid gestel het, die “algemene verval wat ons om ons sien.”

Die media word gereeld vir die “verswyging” van die “goeie storie” geblameer.

Die lys van Zuma-blapse is ongelooflik lank, maar dat die meeste Suid-Afrikaners hulself volgens die versoeningsbarometer in terme van hul ras, eerder as Suid-Afrikaners definieer, staan ook as belangrike aanklag teen die rasbenepe uitgangspunte van Zuma.

Die feit dat Zuma weens familie-omstandighede feitlik geen skoolopleiding ondergaan het nie, hoef nie noodwendig as aanklag teen hom te staan nie. Trouens, van die wêreld se beste regeringsleiers, soos pres. Ronald Reagan van die VSA, het nie juis as intellektuele bekend gestaan nie. Hul geheim was om hul leemtes te erken en om hulle met goeie adviseurs te omring én om na die adviseurs se raad te luister. En hiermee word nie twyfelagtige karakters bedoel wat die regeringshoof adviseer oor hoe om hom in sy regeertermyn ten beste uit regeringsbronne (die trog) te help nie.

Aanvanklik het Zuma se grootste selfsloping geskied wanneer hy van sy geskrewe toesprake afgewyk het. Sy sogenaamde honde-uitspraak is een hiervan en waarskynlik ook sy stelling dat hy sy lojaliteit aan die ANC bo sy lojaliteit aan die land stel (en so minstens sy ampseed verbreek).

Sy en sy vernaamste kornuite se gereelde onvanpaste godsdiensuitsprake is nog ʼn deel hiervan. Hy kon egter ook nooit die versoeking weerstaan om soos ʼn stamkaptein van ouds by elke familievuurtjie vir die teenwoordiges te vertel wat hulle graag wil hoor nie (onder meer in Julius Malema se tuisdorp dat die jong man ʼn toekomstige president is). In die moderne era volg die media die regeringshoof en so gebeur dit dat die “nare media” aan die hele land en selfs aan die hele wêreld uitbasuin wat vir ʼn klein groepie se ore bedoel is en in die tradisionele konteks meer as goeie maniere as bindende beloftes beskou word.

Die president het ook die protokol van die “eer en hartlikheid” waarmee hy oorsee deur regerings ontvang is, verwar met persoonlike “eer en hartlikheid.” Die indruk is geskep dat Zuma so verslaaf aan hierdie behandeling geword het (te midde van plaaslike kritiek), dat hy onnodig dikwels oorsee gaan rondflenter het. En hoe luukser, hoe beter.

Uiteindelik het al die pogings van onder meer die SABC TV om Zuma presidensieel te laat vertoon, skynbaar soveel selfvertroue aan die president besorg dat hy dinge op sy eie begin doen het. Soos sy aanstelling van David (Des) van Rooyen in die plek van die gerespekteerde Nhlanhla Nene as minister van finansies. Die land kon dit skouspelagtig duidelik nie bekostig nie en nog ʼn eiehandige flater soos hierdie kan die land plat teen die grond slinger.

Met die veelkoppige veldtog wat nou onder meer manifesteer in #ZumaMustFall, vra baie bekommerde burgers hoe verseker kan word dat, sou Zuma die toneel verlaat (of deur die ANC ʼn flou makou gemaak word wat in beginsel minder skade kan aanrig), hoe verseker kan word dat die land nie weer aan net so ʼn groot ramp uitgelewer word nie. Niemand staan immers so duidelik as opvolger uit dat met sekerheid gesê kan word dat die land nie ʼn presidensiële ramp van soortgelyke omvang as Zuma sal beleef nie.

Die presidensiële kiesstelsel maak dit ongelukkig moontlik dat ʼn tweede ramp die land kan tref.

Ook die stelsel waar presidente regstreeks deur die publiek verkies word, voorkom nie noodwendig dat die kiesers ʼn ramp aan die hoof van die regering aanstel nie. Dit is skynbaar presies wat nou in die VSA gebeur. Die voorloper onder Republikeinse kandidate om as dié party se presidensiële kandidaat genomineer te word, is Donald Trump. Sy veldtog word deur nar-agtige uitsprake gekenmerk en hy maak stellings wat die wêreld se hare laat regop staan. Soms duik dit sy steun bietjie, maar meer dikwels laat dit sy steun groei.

Hoe anders sou Suid-Afrika vandag gelyk het as die land ʼn regstreekse presidensiële verkiesingstelsel gehad het in die dae toe groepe “we want Pik” uitbasuin het?

Beide presidensiële verkiesingstelsels is ewe veel vol voordele en gebreke. Met ʼn stelsel soos Suid-Afrika s’n, is dit in beginsel so dat kabinetskollegas beter as die publiek weet van die voete van klei van ʼn kandidaat-kollega as die breë publiek. Na buite kan so iemand blink vertoon, maar die kabinetskollegas weet van ʼn deurlopende slapheid om sy departement so ver te kry om gereeld verslae in te dien, hulle weet van onafgehandelde prioriteite wat net heen en weer oor die minister se lessenaar dryf, al plaas die amptenary dit elke dag as nommer een in die prioriteitslêer. Hulle weet beter as die publiek van die plat botteltjie waaruit gereeld ʼn paar slukke inspirasie geneem word, van die neiging tot oor-die-draad-loerdery, van onvanpaste sêgoed en “promises” maak…

Die oop verkiesingstelsel, daarenteen, stel die veld aan meer kundiges oop. Die grootste voordeel is dat die president nie noodwendig van dieselfde party as die meerderheid in die parlement is nie. Dit geld nou byvoorbeeld in die VSA waar die Kongres die president in vele opsigte kan stuit. Ook Venezuela het nou ʼn president wat in die gees van wyle Hugo Chavez (probeer) regeer en ʼn parlement waar die eertydse opposisie aan bewind gekom het.

Suid-Afrika het nie so ʼn stelsel nie.

Die sterkste wapenrusting in die hande van die publiek in Suid-Afrika, as land van minderhede, is ʼn werklik vrye media en sterk burgerlike strukture. Dit gaan moontlik nie die ANC tot ʼn val bring nie, maar dit kan die ANC ernstig laat nadink oor die skade wat aangerig word (aan die party self) deur Zuma as president te behou. As die media werklik vry is en nie byvoorbeeld deur “politieke korrektheid” geïnhibeer word nie, sal meer en meer kiesers bewus wees dit is tot hul nadeel dat Zuma sy tweede termyn voltooi en dat ʼn “voortsetting” van sy presidentskap deur die voortgesette presidentskap van die ANC geskied waar ʼn marionetteregering na sy pype dans.

Hoewel afvalligheid nie daartoe sal lei dat die ANC die bewind verloor nie en nog minder met aanstaande jaar se landswye munisipale verkiesings nie, kan stembusverliese vir ʼn tipiese trog-party soos die ANC rampspoedig wees en ʼn domino-effek aan die gang sit na die volgende algemene verkiesing. Hoe meer ANC-raadslede hul setels verloor, hoe meer mense val uit die soustrein uit in werkloosheid en armoede in, met groeiende ongelukkigheid. Dis nie net raadslede wat hul setels verloor nie, maar ook ondersteuningspersoneel en waar ʼn munisipaliteit oorgeneem word, ook die mense wat hul amptenaarsposte aan politieke aanstellings en ontplooiings te danke het.

Hierin lê waarskynlik die grootste moontlikheid om eerder vroeër as later van Zuma ontslae te raak. Wanneer die ANC besef Zuma se blote aanwesigheid en voortdurende blapse bring ook hul posisies in gedrang.

Intussen maak burgerlike strukture sake nie maklik vir ʼn regerende party wat buite die speelveld en met sy eie reëls speel nie. Die probleme wat die e-tolstelsel ervaar is ʼn duidelike bewys hiervan. Solidariteit en AfriForum se hofsake en buitelandse inisiatief en die Plan B is nog voorbeelde hiervan. Dit word net al hoe moeiliker om op ʼn korrupte wyse uit die trog te drink en maatjies met oorskiet te voer.

Dit lyk asof ʼn georkestreerde poging van alle verantwoordelike landsburgers om die ANC onder soveel druk oor Zuma se voortgesette presidentskap te plaas dat dit uiteindelik swaarder weeg as die ontplooiingsvoordele wat Zuma se ANC-netwerk inhou, die enigste manier is om die ANC te dwing om Zuma te herroep.

Dis nie maar bloot ʼn anti-Zuma-sentiment nie, maar ʼn aksie in landsbelang en die belang van alle inwoners behalwe die trogsuipers.

In ʼn land van minderhede is die beste voorkomingsmedisyne, naamlik om die ANC gou by die stembus te verslaan, nie so maklik nie. Die druk op die ANC om nie weer oop oë so ʼn ramp soos Zuma te verhef nie, moet intussen volgehou word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

pieter ·

Zuma moet verantwoordellik gehou word vi verlore geld di afgelope week ,zuma must pay back the money again ,hy kos die land en tax payers baie geld .dis hoog tyd dat tax payers moet begin opstaan teen zuma en sy trawante

NEL ·

Herman, vanoggend spoel jy behoorlik mond uit. Het vanoggend na ‘n gesprek op radio geluister waar ‘n persoon ‘n aanname gemaak het dat al die Afrika lande waar demokrasie by die wit man oorgeneem het, net die eerste president die hond haaraf kon maak. Vandaar is begin om die ongeskoolde kader in te bring in die regeringstelsel en by president nommer drie val alles uitmekaar en as die derde president vir meer as een termyn staan ,is die gevolge duidelik waar ons nou is.Ons as Suid- Afrikaner sal moet moeie oprol en drasties iets doen om die landtjie van ‘n gewisse dood te red.

Fanie ·

Die ANC kaders moenie eers wag vir sy volgende blabs. Hulle moet hom sommer Nou uitstem en uitskop.

Johann Marx ·

Hierdie is net so min ‘n demokrasie was wat die vorige regering ‘n demokrasie was. Die enigste stelsel wat ooit in Afrika sal werk is om die stemmer se stem ‘n “gewig” te gee in ooreenkoms sy bydrae tot die staatskas in terme van belasting. Dan word die nare waarheid ontbloot dat die mense wat tans die “stem keuses” maak oor hulle getalle, GEEN bydrae tot die ekonomie maak nie, maar slegs ‘n regering daar stel wat van die rykes en hardwerkendes “steel”, en vir die armes gee (net genoeg om van te leef, nie genoeg om ‘n beter lewensstyl te vestig nie), in ruil vir die armes se “stemme”. Meer as die helfte van die populasie van SA “kry” iets sonder om daarvoor te werk. Minder as die helfte van die populasie van SA “word swaar belas” om te voorsien wat daardie “arm” meerderheid kry. Die regering produseer niks, en kan net aan armes gee wat hy by iemand anders vat. Sodra daardie “iemand anders” begin om die kraantjie toe te draai wat die regering gebruik om die armes se stemme te “koop”…..dan word die situasie moeilik. In Suid Afrika kan die “tax providers” NIE die kraantjie toedraai nie, daarom vat hulle net hulle goed en loop. En die armes, wat net hulle “stembrief” het om mee te onderhandel vir “nog meer geld”, verstaan nie dat daar nie meer is nie.

‘n Professor het met trots vertel dat hy nog nooit ‘n hele klas gedurende sy loopbaan gedruip het nie, behalwe toe die studente eenparig besluit het Sosialisme is die beste manier om ‘n land te bestuur. Die Prof het toe die volgende toets as volg gemerk: Al die studente kry die student met die hoogste toetspunt se punte ook. Die helfte van die klas het min geleer, en almal A’s gekry. Hulle was in ekstase. Die hardwerkende studente was ongelukkig, want hulle het nagte deur geswot, en die niksdoeners het dieselfde punte gekry. Met die volgende toets het die hardwerkendes minder geleer, en die min leerders het NIKS geleer nie….en die gemiddelde toetspunt was C. Met die volgende toets was dit F, en met die volgende toets het almal gedruip.

Net na Mandela was ons almal by A+. Twintig jaar later…druip ons almal die toets.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.