Nuuskommentaar: Lesufi krap waar hy nie hoefie. Aanslag teen Afrikaans en/of wit?

Panyaza Lesufi. (Foto: Oupa Mokoena/African News Agency (ANA)

Die opvallende verskil tussen hoe hoofsaaklik swart mense Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, en Afrikaanssprekendes hom beskou, verskil soos dag teenoor nag. Loop hierdie kloof baie wyer as net die Lesufi-diskoers, en indien wel, moet pres. Ramaphosa nie dringend ingryp om, soos hy beloof het, president vir alle Suid-Afrikaners te wees nie?

Omtrent al wat snaaks is aan die uitsprake en teorieë oor hoekom die bekende (of berugte) Gautengse LUR vir onderwys na twee dae in hierdie pos heraangestel is, is Max du Preez se “verklaring” dat dit eintlik ’n polarisasie van AfriForum en sy ondersteuners is teenoor die ander (prysenswaardige) Suid-Afrikaners.

Dit is geen geheim dat Max en ander lede van die Seunse Weenkoor ’n fiksasie het met die lidorganisasies van die Solidariteit Beweging nie.

Max se onderrok het gisteraand weer goed uitgehang in die andersins puik uitsending van RSG se program Kommentaar onder leiding van Ivor Price. Hy was, ten regte, vol lof vir die sogenaamde SABC 8 wat onder die leiding van Foeta Krige teen die gewese de facto‑hoof van die SAUK, Hlaudi Motsoeneng, in opstand gekom het en mediavryheid in Suid-Afrika ’n enorme hupstoot gegee het. Nie ’n woord is gerep dat dit die Solidariteit-vakbond was wat die agt nie net in die regstryd ondersteun het nie, maar hulle oor die algemeen onder hul beskerming geneem het.

Subjektiwiteit, subjektiwiteit…

Maar, het Max mos by geleentheid geskryf, Solidariteit het die Afrikaner gestaatskaap.

Is Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners, hul verwagtinge en versugtinge, nou irrelevant vir die res? Nee wag, diskwalifiseer die feit dat jy Afrikaanssprekend is jou van jou grondwetlike regte? ’n Mens het die gevoel reeds in die tweede deel van Zuma se Zuptaryk gekry.
Natuurlik nie net die regering se skuld nie. Wanneer laas het jy die slagoffer geword van ’n telebemarker wat, nadat jy in Afrikaans geantwoord en gegroet het, sommer dadelik met Engels betakel te word? Ek weet dit kan nie anders nie, maar wat van “the client is always right”? Met ander woorde, om darem eers weg te val met ’n verskoning dat jy nie Afrikaans magtig is nie, en gaan jy omgee as hy daarom sy storie in Engels gaan spin?

Ja, die privaat sektor skend die grondwetlike taalregte op so ’n skaal dat Engels dikwels maar net sowel die enigste amptelike taal, en selfs gebruikstaal kon gewees het.

Die Gautengse premier het Lesufi op openbare aandrang teruggeskuif onderwys toe. (Blykbaar het Cosatu en die onderwysminister, Angie Motshekga, asook andere druk uitgeoefen.)

Die uwe het tot in daardie stadium nog nooit iets positief oor Lesufi te lese gekry nie (en onthou, ek lees wyd in my navorsing vir my nuuskommentare).  Daar is ’n ontsaglike kloof tussen minstens wit en swart oor die beskouing van Lesufi as onderwysman en LUR, het dit geblyk.

Die eerste wat die uwe dit besef het, was in ’n rubriek van Barnard Beukman, iemand vir wie se oordeel en analise-vermoë ek baie, baie respek het. Beukman kritiseer die DA se Gautengse premierskandidaat en vorige burgemeester van Tshwane, Solly Msimanga, omdat hy met groot lof na Lesufi verwys. Daar word sommer ’n paar redes verskaf hoekom Solly Msimanga die kat liederlik aan die stert beet het.

Die aand toe pres. Ramaphosa sy “tradisie” voortsit en weer vreeslik laat sy afspraak vir die aankondiging van sy kabinet “nakom”, luister ek na die TV-bespreking in afwagting. Die onderhoudvoerder van die SABC is ’n swart vrou, die een paneellid is ’n swart sakeleier, en die ander ’n swart prof. In ’n stadium, half uit die bloute, stel die onderhoudvoerder dit as feit dat dit erg jammer is dat die baie knap Lesufi by onderwys weggeneem is. Daar was dan ’n verwagting dat hy die minister van onderwys sou word. Die ander twee paneellede stem volmondig saam.

Geen aanduiding dat hulle bewus is daarvan dat nie almal saamstem nie, laat staan nog byna ’n ganse taalgemeenskap, en dat daar geldige redes voor is, soos minagting van die Grondwet – soos reeds in minstens een hofsaak bewys is wat Lesufi sleg verloor het.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

My persoonlike indruk is dat Ramaphosa, nadat hy aanvanklik skynbaar ook toondoof was vir sentimente uit die Afrikaanse gemeenskap, nader na die verkiesing skielik besef het dat hy ook president van die Afrikaanse gemeenskap is, en dat hulle nie net daar is vir leegtap (restitusie, grondgryp sonder vergoeding, ens.) nie. Die Afrikanerbond, met sy eeufeesvieringe, het die aanvanklike ingesteldheid gou opgetel, en dit met ’n verklaring of wat aan die groot klok gehang. Ramaphosa het aanvanklik nie gereageer op die AB se uitnodiging na sy eeufeesvieringe nie. So asof iemand in ’n laat stadium hom aangespreek het, toe wel Paarl toe is vir die geleentheid, en a la Zuma min of meer die regte dinge gesê het, en daarna, ook a la Zuma, min of meer alles weerspreek het, of die teenoorgestelde gedoen het.

Ek het juis, nadat ek die gevoel gekry het dat die wiel gedraai het (soos om te beklemtoon hy is president vir almal) toe hy nié vir Lesufi kabinet toe oproep nie. Natuurlik kan hy nou nie verder gaan deur druk uit te oefen om Lesufi nou weer by onderwys weg te skuif nie. Wat nou sal gebeur – as iets gebeur – is agter die skerms vir Lesufi aanspreek om in pas met die president se sienings te kom.

Ek lei af dat daar wel blankes is wat Lesufi se goeie kwaliteite raakgesien het, soos dr. Jaco Deacon wat sê Fedsas het nog altyd goed met Lesufi oor die weg gekom, en as die koerant hom reg aangehaal het, sy terugkeer na onderwys, verwelkom.

Maar so ver bly die algemene indruk dat die swart mense wat menings uitspreek oor Lesufi, Afrikaanse/wit menings as heeltemal irrelevant beskou. Dat Lesufi se minagting van die Grondwet heeltemal in die haak is. (Selfs met inagneming van die Van der Westhuizen-beskouing dat die taal- en kultuurregte in die Grondwet eers gewig begin dra nadat sosio-ekonomiese ongelykhede eers mee weggedoen is, en dat die taalregte ensovoorts nie kan opweeg teen die “prioriteit” van die sosio-ekonomiese pariteitsideaal nie.) Maar wat van Bybelse tekste wat dui op die een ding gedoen word, en die ander nie gelaat moet word nie? Sosio-ekonomiese ongelykhede kan nog lank bestaan as dit nie holisties hanteer word nie en daar byvoorbeeld nie ’n pariteit in gesinsgroottes bereik word nie. Kies maar enige land in die wêreld, en sien dis nie ’n wolhaarstorie nie. Oorgeërfde agterstande en voordele is nie ’n mite nie.

Maar dis ’n onderwerp vir ’n ander dag.

Ten slotte, dis vir my bitter jammer dat dit nodig was om die terme “wit” en “swart” in hierdie nuuskommentaar te moes inspan. Ek sal eers gemak hê met ’n skrywe soos hierdie as konsekwent na Afrikaanssprekendes verwys kon word.

Die ANC se fiksasie met ras maak dit egter onmoontlik om rasloos te skryf en in die hoofstroom van die openbare diskoers te bly. In die jongste uitgawe van die AB se maandelikse nuusbrief, onder die titel, Woorde wat kwel, word verwys na die gebruik van die woorde, mlungu /umlungu deur die moordenaars van twee jong (wit) mense. In Sesotho en Tswana het lekgowa of makgowa dieselfde betekenis. Maar presies wat is daardie betekenis? Beteken dit gewoon wit persoon, of wit skuim? Dit hang uiteraard van die konteks af, maar baie blankes ervaar dit, geldig of nie, as beledigend soos swart mense die k-woord ervaar.

Dan het die land nie nog Lesufi’s nodig, of mense wat hom vreeslik prys voor hy nie sy onsensitiwiteit teen Afrikaans afgeskud het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Andreas ·

Herman, jy vat hier saam wat elke Afrikaner in die hart voel, en dalk meeste Afrikaanssprekendes, dis nou buiten daardie na wie jy verwys het en hul ondersteuners, daardie wat Afrikaans praat. Ek verstaan waarom daar aktiviste moet wees, erge aktiviste, juis as teenvoeter dat mens se taal vertrap word.

En dan raak mens wit van woede.

Andreas ·

Wat help dit dan nou hoegenaamd daar is ‘n brief aan Cyril gestuur, of mense wil hom gaan spreek oor Lesufi se houding en hoe hy dinge hanteer. Die onderwysminister staan self agter die deur en Cyril het haar dan aangestel wel wetende wat haar sentimente jeens moedertaalonderrig en Afrikaans is.

Lollie ·

Laat my nou dink! Ons gesin skenk al vir baie jare bloed. Die laaste keer wat ons gaan skenk het is ons meegedeel dat daar voortaan nie meer afrikaanse vorms sal wees nie maar slegs engels. Dit is ń liefdadigheids gebaar om te skenk, jy word nie daarvoor betaal nie. Nou vra ek, waarom nou nie meer Afrikaans nie?
Ek verstaan engels maar ek weier om verder te skenk as Afrikaners blykbaar nie meer enigsins vir hulle belangrik is nie. Dis ons moedertaal en ek gaan baklei daarvoor!!
Wens daar is baie meer wat voel soos ek oor die saak!

Humbug ·

Lollie en charles, ek self is boeremeisie en lief my taal ontsettend. Lollie die feit dat jy nie bloed wil skenk oor die vorms is hartseer. Ek werk elke dag met kindertjies met kanker wat daai bloed so nodig het. Moet hul nie te na kom agv sekere mense nie. Jy kan n lewe red. As ek kon sou ek self skenk maar dvt het veroorsaak dat ek nie mag. Asb hou aan met jul onbaatsugtige skenkings.

JohanL ·

Dankie Herman vir net nog ‘n intelligente weldeurdenkte stuk kommentaar. Ek lees altyd jou kommentaar, want ek leer daaruit en vind jou objektiwiteit insiggewend.

Net een vuishou na Liewe Maxie – ek het onlangs ‘n boek gelees van Maritz Spaarwater (oud NI-lid) en sy ontmoeting met Max in ‘n restaurant wat ordelik, vriendelik en met die beste van intensies vanaf Spaarwater se kant ge-inisieer is. Die hele ete het goed afgeloop (aldus Spaarwater), maar Max het sy onvolwasse houding uitgestal toe die ete verby is en Spaarwater en sy kollega die restaurant verlaat. Max het luidkeels ‘n neerhalende opmerking gemaak en sy bes probeer om Spaarwater en kie te probeer verneder. So “messteek in die rug” houding vanaf Max. Nee wat – Max du Preez probeer objektief wees maar sy anti-wit en anti-Afrikaans onderrok hang so v^er uit, dit is nie eers waar nie. Max soek geleenthede om die blanke en veral die Afrikaner sleg te s^e.

Myns insiens sal Lesufi en Max goed oor die weg kom. Die heraanstelling van Lesufi is slegte nuus en teleurstellend. Feite (verlore hofsaak en regte in Grondwet) bewys dat Lesufi nie bevoeg is om die pos te beklee nie.

Charles ·

Baie dankie Herman, jou artikel is ONMISBAAR :)

AFRIKAANS LEEF! (SIEN AF. WIKIPEDIA VIR BEWYSE EN AFRIKAANSE LITERATUUR WAT UIT SY NATE UIT BARS!)

Ons is Afrikaans, sonder ons dierbare taal is ons NIKS.

marous ·

Die Afrikaner moet gestroop word van alles en dan uitgeroei word . Dit was die opdrag van die begin af en nou gebeur dit .

Trojaanse Donkie ·

Stem 100% saam. sissell se louwater sal binnekort begin kook, maxie of te nie.

ChrisE ·

JohanL ek het nog nie Maritz Spaarwater se boek gelees nie maar het die voorreg gehad om hom te ken. Hy was ‘n besonderse mens. Hy het ‘n innemende persoonlikheid gehad. Almal met respek en waardigheid behandel. Die feit is egter dat nie almal met my sal saamstem nie. Dit daar gelaat. Die ander feit is ook dat jy kan grond koop, maar agtergrond nie. Mnre Du Preez en sy maatjie Jankoos Paauw moenie te veel sê nie. Hulle het geraamtes in die kas wat nog op die stadium stil sit.

Charles ·

Ek stem saam Chris- dit is dikwels diegene met geraamtes in die kas wat die hardste skree :)

Andreas ·

Wat ek nie kan verstaan nie, is hoe kan ‘n regering jou belasting vat en dan aan geen van jou behoeftes of aspirasies voldoen nie. Hoe werk so ‘n mens se ingesteldheid? Kry Cyril nie skaam nie? O ja, en hoe dik moet so ‘n mens se vel wees, ‘n paar meter?

Grassie ·

Dit is nie net die ANC en hul meelopers wat van Lesufi hou nie. Die DA hou ook baie van hom. Hulle het onlangs al die regeringsleiers beoordeel en persentasiepunte aan hul toegeken. Lesufi het omtrent die beste gevaar met 75%. As ‘n mens in gedagte hou dat hulle opposisie is en daarom moedswillig punte aftrek, is 75% ‘n baie hoë telling, eintlik ‘n onderskeiding. Dit weerspieël duidelik die DA se dunk van Afrikaans en Afrikaners. Dan was daar wragtie nog van ons mense wat vir hulle gestem het in die verkiesing.

GB ·

As ek mense soos Max du Preez (en meeste hoofstroom hoernaluste en academici) reg verstaan, dan is hulle van mening dat Afrikaners eerder moet bekhou en terugstaan, dat hulle nie moet aanstoot gee nie. Om vas te skop en “moeilikheid” te maak is om verdelend te wees, is om rassehaat aan te blaas, is om die groot reenboognasieprojek te kelder.

Hul aanname is skynbaar dat nasiebou die weg na vrede en voorspoed is.

Dit behoort egter vir enige nugter mens duidelik te wees dat die term “nasiebou” n eufemisme is so reg uit n George Orwell roman: n term wat skynbaar iets mooies veronderstel maar in werklikheid donkerder, gevaarliker ideologiee verskans. Dit is tog duidelik dat daar magte is wat hard werk om alle taal- en etniese gemeenskappe in ons land te vernietig. Hulle doen dit deur minderhede te verswelg en hul regte te vertrap in die naam van die massa se behoeftes.

Minderheidsgroepe wat hulself organiseer rondom gedeelde belange is nie die oorsaak nie, maar die gevolg van konflik en rassespanning wat juis geskep word deur nasiebouprojekte wat verskillende kultuurgroepe saam wil dwing.

Andreas ·

Ek lees die nuus vandag oor die jongste plaasmoord, dan besef ek, CYRIL IS NIE IN BEHEER VAN DIE LAND NIE.

Dirk ·

GB, dit gaan juis daaroor dat jy weerstand bied wanneer jou weerstand opgewasse is teen die aanslag. Max reken dat die Afrikaner nie opgewasse is vir die aanslag nie en dus nie langer weerstand moet bied nie, want Max voel jammer vir die onskuldiges wat geteiken word. Max is in n mate reg. Ons moet so weerstand bied dat slegs die wat weerstand bied geteiken word. Tans skuil die wat weerstand bied agter die kwesbaarstes van die Afrikaner en is dit onskuldige weerloses wat dit ontgeld! Politici maak uitsprake dat ons nie ons grond sal afstaan nie, maar hulself bly nie eers op n plaas nie, so hulle word nie geteiken nie, maar wel diegene oor wie daar gepraat word en namens wie weerstand gebied word! Jy kan dus nie namens die boer weerstand bied as nie jy of die boer opgewasse is teen die aanslag wat jou weerstand veroorsaak! Sterfte statistiek wys duidelik dat die Afrikaner nie opgewasse is teen die aanslag nie!

jaco ·

ek kan die diskriminasie Afrikaans verstaan as n vorm van straf op die wit mense vir die misdaad van apartheid. laat ons dan maar liewer so gestraf word, as met strafkampe en grootskaalse uitwissing. Maar wat ek nie verstaan nie, is hoe die swart ANC wat Afrikaans so aftakel, in die proses ook teen Afrikaanssprekende kleurlinge diskrimineer. Kleurlinge was tog ook slagoffers van apartheid.
Wat ook vreemd is, is dat NET wit afrikaanssprekendes kla oor diskriminasie teen Afrikaans. Afrikaanssprekende kleurlinge is stil.
Of besef die kleurlinge dalk wat die wit mense nog moet leer: hou jou mond en aanvaar net hoe jy behandel word, want die teendeel is om uiters sleg behandel te word met VEEL SWAARDER strawwe as net diskriminasie teen Afrikaans.

GB ·

Dirk, om te dink dat dit miskien die antagoniste sal paai as ons nie weerstand bied nie, is om die onderbou van hierdie aanslag teen ons gladnie te begryp nie.

Hoe minder ons weerstand bied, hoe minder ons protes aanteken, hoe groter word die stille mandaat wat ons aan ons vyande gee om voort te gaan met hul aanslag.

As Max reg is in sy estimasie dat ons nie tans opgewasse is om weerstand te bied nie, gaan ons baie vinnig moet leer om te begin saamstaan en ophou om hulle wat die moed het om iets te doen verdag te maak en medeaanspreeklik te hou vir die aanslag teen ons.

Henk ·

Meng jou met die semels en die varke gaan vir jou opvreet! Siener van Rensburg het ons gewaarsku teen hierdie president wat die Afrikaner aanvanklik goedgesind gaan wees. Moenie vergeet waar Ramaphosa vandaan kom en hoe swart bemagtiging hom verryk het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.