Nuuskommentaar: ’n Monumentale staatsrede met te veel pap wiele

Die EFF buite die parlement nadat hulle uitgestap het. Foto: Sune van Heerden/Maroela Media

Die EFF se skandalige optrede het meer aandag as die staatsrede self getrek, maar die staatsrede gisteraand skep ook rede tot kommer, veral weens revolusionêre retoriek wat pres. Cyril Ramaphosa plek-plek opgedis het, en sy volharding met grondgrypplanne sonder vergoeding.

Die Afrikaanse koerant Beeld oortref homself vandag met ʼn opskrif: “Op ’n punt van (wan-)orde”. Beter as dit sou die EFF se optrede en die gevolg daarvan stellig nie beskryf kon word nie. Vir pres. Ramaphosa was die toespraak bedoel as reddingsboei nadat hy hom in ’n magdom teenspoed begin vasloop het wat nie net die Ramaforia mateloos laat demp het nie, maar hom druipsyfers besorg het vir pogings vir die regruk van die ekonomie, die vasvat van korrupsie en weens die koöptering van sy mees aktiewe dwarsbomers en staatskapers. ’n Mens kan maar net hoop die ideaal van die bou van ’n inklusiewe ekonomie het nie dieselfde soort inklusiwiteit as sy koöptering van staatskapers in gedagte nie.

Maar eers terug na die EFF-opperbevelhebber en sy bende se optrede by die parlement. Op die oog af wil dit voorkom of die regering die EFF se tande effens wou trek deur hulle nie soos in die verlede uit die parlement te gooi nie, maar ’n ruk lank te laat begaan en die ander parlementslede en ’n groot deel van die Suid-Afrikaanse publiek die hoenders in vir hulle te maak. Die speaker het dus net gedreig en gedreig, en in ’n stadium ’n vroulike lid die deur gewys, waaraan sy haar afgevee het en Thandi Modise oor dié kwessie skynbaar die aftog geblaas het. Of die EFF, in elk geval onder opgevoedes, meer skade as wins op die lyf geloop het, moet nog gesien word. Parlementslede van ander partye het vuur geblaas en dit lyk byna seker dat die EFF-lede gestraf gaan word, onder andere deur aan hul salarisse te vat.

Reeds met die aanvang van die ANC-bewind was dit duidelik dat dié organisasie goed vaar met die maak van beloftes, maar toe reeds probleme ervaar het om te “deliver”. Voeg hierby die hopelose onderskatting van die belangrikheid van onderhoud, soos die agteruitgang van onder andere paaie en Eskom getuig. Hierdie werklikheid het skynbaar duidelik tot Ramaphosa gespreek sodat toe hy na twee “drome” verwys het, naamlik sy veelbesproke droomstad en ’n dam in die Oos-Kaap wat dié streek se waterprobleme sou oplos; hy kon meld dat konstruksie aan albei reeds begin het.

Die dam-aankondiging herinner aan ’n geval waar ’n ANC-raadslid die Oos-Kaap se ekonomiese probleme aan apartheid toegedig het, omdat daardie regering glo te groot damme gebou het, wat te lank vat om vol te word. Die ANC sou daarom kleiner damme bou wat gouer vol sou kon word en so die provinsie se waterprobleme oplos. Maar Medupi, Kusile en die Gautengse tolpaaie is voorbeelde van waar wel met die projekte begin is, maar grootliks nie dieselfde eeu, laat staan nog millennium, se voltooiingsdatum kon haal nie, om die dam-raadslid se soort “logika” in te span. Die koste is met miljarde rande oorskry, en die korrupsiespore loop dik – na bewering tot letterlik in Nkandla met die bou van ’n teerpad daarheen in ruil vir die toestaan van ’n tender wat op die oog af bitter bedenklik lyk.

Die grootste bedreiging vir Ramaphosa se planne is en bly sy steun aan grondgryp sonder vergoeding. Hy bly hardkoppig daaraan klou al word die land deur al hoe meer lande en regerings gemaan dat dit beleggings- of handelsgevolge gaan hê. Veral die Agoa-ooreenkoms met die VSA kan ’n uiters gevoelige gevolg vir die land inhou. Die EFF se gedrag was boonop petrol op hierdie vuur.

President Cyril Ramaphosa lewer die 2020 staatsrede. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Die belowendste aspek van Ramaphosa se toespraak was die aankondiging dat onafhanklike kragverskaffers nou ook minstens gedeeltelik om die ekonomie kan meeding. By die aanhoor van die toespraak, veral die dele wat kragdadig gestel is en belowend klink, kom die vraag onwillekeurig op oor waar die geld daarvoor vandaan gaan kom.

Ramaphosa het wel wéér indrukwekkende syfers van voorgenome buitelandse beleggingshulp genoem, en nog sulke bedrae na nog ’n voorgenome konferensie hieroor geopper, maar deur na Fidel Castro en ander revolusionêre as vriende te verwys, en grondgryp sonder vergoeding as feit te verwys, gaan hierdie berg uiteindelik ’n muis baar.

Beide TLU SA en die Vryheidsfront Plus het met baie bedenkinge op die toespraak gereageer. TLU SA se opskrif is: “Woorde wek, maar voorbeelde trek”. Die koers wat die ANC inslaan, is gedoem tot ekonomiese mislukking. Alvorens die ANC homself nie verbind tot daardie ekonomiese beginsels wat wêreldwyd bewys het dit groei bring nie, is die staatsrede en wat die ANC daarna gaan doen van geen waarde vir Suid-Afrika en sy inwoners nie, lui die verklaring. “TLU SA is steeds nie oortuig dat die beloftes wat president Cyril Ramaphosa tydens sy staatsrede 2020 – toe hy uiteindelik ’n spreekbeurt gekry het – gemaak het, wel tot die voordeel van die land is, of selfs deurgevoer kan word nie.”

Die Vryheidsfront Plus sê die EFF het met sy ontwrigtingstaktiek president Ramaphosa se staatsrede vir 2020 op ʼn lae noot laat begin en die president het op die teleurstellende trant voortgeborduur met geen aankondiging wat ekonomiese groei sal aanwakker nie.

Die VF Plus het voor die staatsrede gevra dat daar daadwerklike stappe geneem moet word om die land en die ekonomie te red. Onder die huidige omstandighede is dit moeilik om te sien hoe die ekonomie met ʼn enkele persentasiepunt kan groei.

Verskeie kernsake is wel aangeraak, maar die oplossings wat die president vir die probleme aangebied het, is bloot kosmeties van aard of baie gering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Werner ·

Het mos vroer die week gese CR gaan kwaai na links beweeg sy sak is belangriker as die land hirdie land is onherstelbaar geskaad en anargie is ons voorland met die huidige regering

Sandra ·

Ek is jammer om te se ek het nie die berig gelees nie. Nie oor dit sleg is of iets nie, maar omdat ek weet die staatsrede voorspel niks goeds vir Suid Afrika nie. Ek het gisteraand op die nuus gesien hoe gaan die EFF aan. As daar nie dissipline tydens die staatsrede is nie, gaan dieselfde ook nie in ons daaglikse samelewing wees nie. Die feit dat Ramaphosa die ANC gekies het bo die land, vertel vir my dat hy soos die engelse se “trying to curry favor” omdat hy nie wil “dislike” word nie. Ek voel jammer vir my twee seuns wat probeer om ‘n eerlike lewe te lei, dat hulle dit dalk verniet doen in die wettelose land.

HOOP ·

As daar so onopgevoede /lae mentaliteits vlakkige optredes in ons parliment gebeur wat se die wereld van ons , sal jy hier wil bele ? Wat n skande .

Nie Verbaas ·

Kan nie glo dat buiteland nog in Suid Afrika wil bele nie. Ramaphosa, jy is heeltemal bereid om ons land tot stof te laat vergaan net vir eie gewin. Die onbevoegdheid is wereld bekend en die beskaafdes le soos hulle lag vir julle ideologie.

Snowball ·

Die ‘African Renaissance ‘ het nou gekrimp tot drome van ‘n ‘Smart City’ by Lanseria met plek vir so ‘n halfmiljoen. Seker nou opgegee om die bestaande stede se ‘smut’ te verander in ‘smart’.
Teen half tien het Cyril al 8 keer ‘ensure’ gebruik, toe hou ek maar op met tel. Alles is ‘ensure’, maar daar is nie ‘n plan in plek om môre te ‘ensure’ van enige iets nie.
Groot lawaai en weinig wol….

Johan Venter ·

Hy praat van ‘n ‘slimstad’, nou wonder ek vir hoe lank gaan daardie ‘n slimstad wees, en gaan dit gemeet word aan ‘n slaagsyfer van 30%?

Mens sou wou dink dat dit makliker gaan wees om bestaande stede op te gradeer, maar tot dusver sien ons is bestaande stede net afgradeer.

Ek het ‘n idee hulle moet daardie ‘slimstad’ vir Moody’s en die ander graderingsagentskappe wegsteek.

Tokkel ·

Die EFF is nie net ‘n skande vir sy eie mense nie, maar ook vir die hele land. Hy is arrogant en ‘n regter Hitler! Ek kan nie verstaan dat hulle hul mikrofone net eenvoudig afgeskakel het nie. Al die ander partye wou saamwerk, maar hierdie breinlose man wil net gedurig moeilikheid maak en rassegroepe van mekaar verwyder!

Johan Venter ·

Die staatsrede is dieselfde opportunistiese paadjie as al die voriges gestap, ‘n klop op die skouer vol blommegeure en kleure wat mens na die asem laat snak van nie wag op die uitkoms van hul ideologie wat ons ook hierdie keer nie gespaar is nie.

Maar dan wonder ek oor sy Afrika-visie, infrastruktuur, die pad van Kaïro tot in die Kaap. Sy Superstad het hy nou vir ‘n stad daar by Lanseria ingeruil (wat toevallig besig is om daar te herrys?). Wat het van sy Brulpadda gasveld en sy skaliegas van geleenthede in die Karoo geword? Daaroor is dié keer geen sprak gesprook nie, en natuurlik gaan die Mynhuise hul eie krag opwek.

En hier sit ons nou op Valentynsdag, ‘n dag na die staatsrede, en ons hoef nie te wonder oor hoe die land oor ‘n jaar daar sal uitsien nie.

Fluisterwind ·

Ek ondersteun glad nie die EFF of die ANC. Maar ek dink ons kyk iets mis! Die EFF se ideologie is kommunisties, daarom wil en moet hulle chaos skep as oposisie party. Die EFF stel nie belang in demokrasie, reëls of orde nie. Ek dink weer hulle het inteendeel baie ondersteuners gewen. Die ANC gebruik die EFF om hierdie ideologie te bevorder sonder dat hulle soos die varke in die verhaal lyk, uiters polities slim. Beide partye gee duidelik nie ‘n vlenter om vir die land wat hulle op ‘n skikbord gekry het nie! Wys jou net, wanneer jy nie hard gewerk het vir iets, waardeer jy dit nie!

Johan Venter ·

Ongelooflik, dié slimstad, dink nou, so ‘n entweg op die snelweg uit na Lanseria lughawe kry mens ‘n yslike bord links van die pad, daarop staan in groot wit letters op die groen, ‘Lanseria Tolplaza – 1 Km’, met onderaan die tariewe. By die tolhek aangekom, sien mens, al van ‘n afstand, is ‘n kollosale advertensiebord aan die bokant van die struktuur oor al vier bane aangebring en daarop pryk: ‘Cyril Ramaphosa- en Lanseria 3D Slimstad – 10 Km.’ (Dit verwys na die stad wat met behulp van 3D drukkers binne ‘n japtrap gebou is, net soos die Sjinese dit doen, en natuurlik met al die nuutste tegnologie.) Na ‘n tyd kom mens by die ingang na die stad toe aan, ry om ‘n yslike verkeersirkel en sien ‘n kennisgewingbord, amper versteek agter ‘n enkele jakarandaboom, waarop in verligte letters staan, dit loop so van regs na links oor die skerm: ‘Windkrag nie beskikbaar – Suidooster waai nie tans in die Kaap …. Eskom beurtkrag soos per die daaglikse skedule op die Lanseria Daily se webwerf.’

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.