Nuuskommentaar: ʼn Terugblik en ʼn toekomsblik

Foto: Pixabay

Om 2020 in oënskou te neem, laat baie vrae oor ons land se toekoms opduik. Vanjaar se pandemie het die ware aard van ons land en leiers blootgelê, nié verander nie. Ons regering is ontmasker as onbevoegde, magshonger sentrale beheerders. Hoewel dit geen verrassing was nie, het talle mense nog gehoop dat Cyril Ramaphosa die nodig verandering in leierskap sou verskaf om ons op ʼn beter trajek te kry. Hierdie hoop is egter verwoes deur Ramaphosa wat by amper elke moontlike geleentheid die ANC se belange bo die land s’n kies.

Daar is ook verskeie foute in ons land se demokratiese strukture uitgewys. Suid-Afrika is veronderstel om ʼn unitêre staat met federale elemente te wees. Dit beteken dat ons provinsiale en munisipale regerings eintlik mag en beheer nader aan die mense moet bring vir ʼn meer pasgemaakte plaaslike regering. Die regering het egter oor die jare heen die ware mag van provinsies en munisipaliteite so afgewater dat dié federale element grootliks nutteloos is en ook tydens die pandemie só was.

Die laaste en belangrikste probleem is dat ʼn mens nie sommer ʼn beter regering aan bewind kan kry nie. Suid-Afrika se een-man-een-stem-stelsel beteken dat enige verkiesing eintlik net ʼn sensusopname is. Die demografiese werklikhede van ons land beteken dat minderheidsgroepe altyd verswelg word deur die demografiese werklikheid van die meerderheid. ʼn Koalisieregering van verskillende minderheidsgroepe is byna onmoontlik. Die ANC gaan altyd óf alleen óf saam met ʼn bondgenoot soos die EFF regeer.

ʼn Mens kan nie met die kombinasie van bogenoemde drie probleme saamleef nie: 50% van die stem gee tans vir die ANC 100% van die mag. Demografiese werklikhede beteken dat ons demokrasie net ʼn demokrasie vir die meerderheid is. Ook verseker die ANC se alomteenwoordigheid vir álmal onbevoegde regering.

Die vraag is dan nou wat die oplossing hiervoor is. Die eerste antwoord is dat ʼn mens dit nie gelate hoef te aanvaar nie. Suid-Afrika se 1994-oorgang was nie noodwendig die einde van ons land se geskiedenis nie.

In sy boek, Die pad na selfbestuur, skryf Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, dat die verlede ons altyd leer daar is ʼn toekoms. Die verlede leer ʼn mens dat dinge nooit bly soos wat dit is nie. Indien volke of nasies ongelukkig met hul omstandighede is, kán hulle dit verander. Buys meen dat jy net na die afgelope 100 jaar van ons geskiedenis hoef te kyk om dit te verstaan.

In een eeu het ons land ses keer ʼn bewindsverandering ondergaan. Vanaf onafhanklike Boererepublieke in die laat 1800’s na Britse oorheersing in die begin 1900’s, Britse kolonie, selfregerende unie in 1910, ʼn Afrikanerrepubliek in 1961 en uiteindelik na ʼn nuwe “demokratiese” Suid-Afrika in 1994.

Hierdie geskiedenis wys nie net uit watter verandering moontlik is nie, maar ook hoe ongelooflik jonk Suid-Afrika as land en demokrasie is. Suid-Afrika soos wat ons dit vandag ken, het eers in 1910 ʼn soewereine staat geword. Ons demokrasie is ook nou eers ʼn kwarteeu oud. Verskeie lande oor die wêreld, soos die VSA, België en Australië, is al langer demokrasieë as wat ons ʼn soewereine staat is.

Hierdie perspektief moet ʼn mens gerusstel oor al die probleme wat ons tans ervaar. Dit is glad nie vreemd vir ʼn land en demokrasie so jonk soos ons s’n om groeipyne te ervaar nie. Indien ons huidige bestel nie perfek is vir die land nie, is dit ook nie ʼn krisis nie. Dit sou vreemd wees as ʼn land so jonk soos ons s’n reeds alle politieke probleme perfek uitgesorteer het.

Ons moet dus nie bang wees om hierdie werklikheid aan te gryp nie. Ons huidige bestel is nie perfek vir die omstandighede en werklikhede op grondvlak nie. Dit sien ons met die verloop van elke jaar. Daar is soveel probleme wat ons elke dag ervaar wat juis toegeskryf kan word aan die foute met ons demokratiese raamwerk, eerder as foute in leierskap.

Suid-Afrika wat in 1994 gedemokratiseer is, is beslis nie die einde van ons geskiedenis nie. Die geskiedenis gaan egter nie bloot met ons gebeur nie. Suid-Afrika gaan slegs verbeter indien ons dit verbeter. Indien ons ʼn politieke bestel wil sien waarin minderhede meer mag het, moet ons bereid wees om dit op grondvlak te vorm. Indien ons ʼn bestel wil sien waarin mag nader aan grondvlak is, eerder as die sentrale bestel wat ons tans het, moet ons dit vorm. Indien ons ʼn land wil sien waarin ras irrelevant is, maar kultuur saak maak, moet ons so begin leef.

Dit is egter nie iets wat oornag gaan gebeur nie. Dit is wel ʼn goeie begin om dít wat ons uiteindelik in die politieke bestel wil sien, op grondvlak te begin vorm. Die voordeel hiervan is dat die werklikheid wat jy graag wil sien stadig maar seker begin vorm. Ook word dié werklikheid sodoende van grondvlak af boontoe gevorm, eerder as ʼn werklikheid wat van bo af op mense afgedwing word. Ons moet nie afgeskrik word deur die gedagte van politieke verandering nie. Ook nie deur die gedagte van ʼn Suid-Afrika wat anders lyk as die huidige een nie. Dit is moontlik om met die apartheidsbestel én die ANC se regering ontevrede te wees. ʼn Land wat anders as dié twee lyk, is ook moontlik.

Indien 2020 ons een ding kan leer, is dit dat verandering moontlik is indien ʼn mens dit najaag. Vanjaar het burgerlike gemeenskappe tot groot mate die land aanmekaargehou. Dit is ʼn goeie begin in die regte rigting. Ons het nie net die burgerlike organisasies nie, maar ook die wilskrag om verandering teweeg te bring. Dit is hoopgewend. Ons het die kapasiteit en wilskrag om vir onsself ʼn beter werklikheid op grondvlak te skep. Ons moet net deurentyd braaf genoeg wees om verandering na te jaag.

Slegs met die nodige braafheid sal ons ʼn Suid-Afrika kan vorm waarin ons nié aan ons land se huidige probleme uitgelewer bly nie. Let wel, ʼn land waarin ons die ruimte het om vry, veilig en voorspoedig aan ons volk se nalatenskap te bou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vrijburger ·

Die stelling van die jaar: “Vanjaar se pandemie het die ware aard van ons land en leiers blootgelê, nié verander nie.”

Karina ·

Bring dieselfde stelsel in om ‘n president te verkies soos bv Amerika. Maar aan die ander kant van die muntstuk wonder ek of dit enigsins sal werk?

Pietertjie ·

Ons is maar net besig om dieselfde pad as die res van Afrika met sy “siening” van vryheid en demokrasie te loop. En daai pad word letterlik al vir eeue geloop. Ons kan maklik uitvind wat die toekoms vir hierdie land inhou : kyk net Noord, en verwyder die deel waar verhongerde massas Suid beweeg. Want daar is niks verder Suid nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.