Nuuskommentaar: Nasionale Ontwikkelingsplan – vriend of vyand?

Met die bekendmaking van die Nasionale Ontwikkelingsplan, en latere aanvaarding daarvan by die ANC se Mangaung-kongres in Bloemfontein, is die lofliedere daaroor omtrént gesing.

Moontlik het die feit dat mnre. Trevor Manuel en Cyril Ramaphosa die argitekte daarvan is, daartoe bygedra dat dit so wyd onkrities omhels is. Die blote feit dat Cosatu, en veral sy radikale filiale soos Numsa daarteen gekant is en al feller daarteen lostrek, dra waarskynlik daartoe by dat ‘n persepsie ontstaan het dat dit in pas met moderne ekonomiese beginsels is.

Trouens, die Nasionale Ontwikkelingsplan het ‘n konsensus-lanseerplatform geword waarmee die ANC gelooi is as ANC-ministers met wetgewing vorendag kom wat die doelwitte van die plan sou frustreer, soos minister Rob Davies se omstrede wetsontwerp wat van munisipaliteite gaan verwag om alle sake-ondernemings, selfs die kleinstes, met lisensiëring te reguleer. Trouens, daar is reeds berigte oor beplande hofsake hierteen.

‘n Artikel in Rapport werp egter ‘n effense ander lig op die bates al dan nie van die Nasionale Ontwikkelingsplan. Hiervolgens het die SA Instituut vir Rasseverhoudinge, wat as liberale organisasie beskryf word, ernstige probleme daarmee en beskou dit as ‘n verlengstuk van die ANC se Nasionale Demokratiese Rewolusie. Die DA, wat as die ander belangrike liberale instelling beskryf word, ondersteun die plan weer.

Van die sinvolste kommentaar wat in die artikel ingespan word, kom egter van Piet le Roux, senior ekonoom van Solidariteit. Onder die opskrif, The dark side of the National Development Plan het Le Roux onlangs in Politicsweb die kwessie deeglik onder die loep geneem. Dit is geen liggewig-artikel nie. Dit wys op ‘n wye reeks gevare wat in die plan opgesluit lê.

Maar hoe het dit gebeur dat mense wat van beter gehoort te weet so op loop met die plan gegaan, en skynbaar daarin gelees het wat nie daar staan nie, of wat miskien wel daarin staan, meer omvattend elders in die plan ondergrawe word?

Die maklike antwoord sou wes dat die plan ‘n baie lywige dokument was, en daar met die bekendstelling druk op almal was wat kommentaar moes lewer, om dit gou te doen. Selfs die amptelike opsomming is ‘n lywige dokument, en die meeste kommentators en moontlik selfs navorsers van politieke partye het waarskynlik die opsomming gebruik om gou menings, en selfs amptelike menings te formuleer.

Die amptelike opsomming bevat egter talle op die oog af onsinnighede en vaaghede wat na haas enige kant vertolk kan word. Die versoeking sou dus groot wees om dan terug te val op die reputasie van die twee hoof-opstellers, en hul vertolkings volgens hul persepsie van hierdie twee here te skik.

Toe ds. Cassie Aucamp nog ‘n parlementslid was, het hy by geleentheid ‘n nuusverklaring uitgereik, maar gou daarna besef hy het ‘n feitefout begaan. Maar voor die regstelling nog uitgestuur is, het ‘n oorywerige ontleder (die uwe) dié fout herhaal. Aucamp se nota aan die ontleder het kort en kragtig gelees: “As een blinde ‘n ander blinde lei, val beide in die sloot.”

Verdiend of onverdiend, die vinger word nou ook na die DA gewys wat oor ‘n gedugte span navorsers en parlementslede beskik, wat die plan gou gesteun het en steeds steun. Dit is die party se goeie reg. Het ander hierdie steun bloot klakkeloos nagevolg sonder om self die basisdokument behoorlik onder oë te neem en met ‘n fyn kam deur te gaan?

Al word Numsa en kie se besware in die wind geslaan, is die kritiek uit werklike kundige oorde nou van so ‘n aard dat dit baie ernstig opgeneem moet word sodat opposisiepartye hul standpunte hieroor gou formuleer, en herformuleer indien nodig. ‘n Verkiesing is vir alle praktiese doeleindes op hande, wat ‘n korter parlementêre periode as gewoonlik bied. Boonop is die opposisieparlementslede tot oor hul ore besig om oor ander belangrike wetgewing en groenskrifte wal te gooi, en om te keer dat skandale onder die mat ingevee word.

Dis nie nou die tyd om rug styf te maak en die hakke in te skop oor iets wat fundamenteel skadelik vir die land kan wees nie.

Met die Mandela-dag oorhandiging van HOP-huise duidelik as ANC-propaganda onder arm wit kiesers, en die gevolge, kan kiesers nou vroegtydig sien hoe ‘n aan die slaap opposisie uit steun uit koudgesit kan word. Boonop is van die media wat dikwels onkrities opposisie weg van die ANC steun, nou in hul hoofartikels knyperig teenoor daardie partye. Swak plekke, soos die akkommodasie van mense wat uit beginsel nie in daardie partye hoort nie, word maklik erg krities aan die groot klok gehang.

As die gesamentlik opposisie die beeld van vertroue aan die kiesers wil uitdra as partye van verantwoordelikheid en kundigheid, is dit gebiedend noodsaaklik dat besluite nie net populariteit nie, maar ook kundigheid en gevolge moet verreken.

En die Nasionale Ontwikkelingsplan is klaarblyklik iets wat herbesoek moet word om in parlementêre debat goggas daarin te kan uitwys, en met beter voorstelle te kom – en die kiesers daarvan te oortuig.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae