Nuuskommentaar: Nesskop van Maroela Media

Argieffoto

Argieffoto

Maroela verjaar

Maroela het gister drie jaar oud geword. In hierdie drie jaar het sake by Maroela nie stilgestaan nie, maar die omgewing waarbinne Maroela funksioneer, het binne drie jaar ook drasties verander, waaronder ‘n deurlopende migrasie van nuusverbruikers na die kuberruim.

Terwyl ons byna daagliks hoor oor die besondere uitdagings waarmee gedrukte koerante daagliks wêreldwyd te kampe het, word ook gereeld hoog opgegee dat dit die “skuld” van die opkoms van die nuusblaaie in die kuberruim is. So eenvoudig is dit egter nie. Koerante maak nou self op groot skaal van die kuberruim gebruik om digitale koerante die lig te laat sien, en enkeles het selfs volkome na die kuberruim verhuis.

Maroela se derde verjaarsdag bied die geleentheid om na die veranderende prentjie van die nuuswêreld te kyk.

Nuus in die kuberruim

Waarskynlik die grootste probleem wat kubernuusblaaie ondervind, is om voldoende inkomstebronne te skep. Johanna van Eeden, die redakteur van Volksblad, en nou ‘n jaar lank Nieman-genoot in die VSA, het onlangs daarop gewys dat haar koerant se meeste lesers nou in die kuberruim te vinde is, maar dat die gedrukte weergawe steeds die meeste inkomste oplewer. Volksblad, soos Beeld en Die Burger, se kuberweergawes is betaalplatforms. Baie adverteerders is egter skynbaar steeds kopsku vir die digitale weergawe, en wêreldwyd word kliphard gewerk aan maniere om advertensies se trefkrag te verhoog om dit vir adverteerders die moeite werd te maak om in hierdie mediavorm te belê. Ander, innoverende inkomstebronne word ook gesoek.

Daar is egter ‘n aspek wat ‘n invloed op voorkeure vir nuusmedia sterk beïnvloed wat min, of dalk niks met die opkoms van die kubermedia te make het nie, naamlik geloofwaardigheid. ‘n Jaar gelede het Rasmussen bevind dat slegs 24% van die Amerikaners nog daagliks, of byna daagliks, hul plaaslike koerant aanskaf. Maar as mense ‘n keuse het, verkies 58% die gedrukte koerant bo die internet. Net 22% het toe verkies om hul nuus aanlyn te lees.

Kom dit egter by ‘n beskouing oor geloofwaardigheid, meen 40% dat die internet die mees betroubare nuus voorsien, 37% meen die TV is die mees geloofwaardige, 9% verkies om hul ore aan radionuus uit te leen, en net 7% dink die gedrukte media is die mees geloofwaardige.

In ‘n studie van die Nieu-Seelandse Law Society wat in April 2012 gepubliseer is, het dit geblyk dat die meeste Kiwi’s, 42%, die TV as vernaamste nuusbron gebruik. Die webwerwe van koerante was in die tweede plek, naamlik 25%, terwyl die koerante self net 11% aftrek gekry het. Ander nuuswebwerwe was 8% se vernaamste nuusbron. Diegene onder die ouderdom van 30 het ‘n groter voorkeur vir aanlynnuus gehad as ander ouderdomsgroepe.

Hierdie syfers verskil van plek tot plek oor die wêreld. Die geloofwaardigheid van die TV-nuus sal byvoorbeeld sterk beïnvloed word deur die redaksionele onafhanklikheid van die TV, maar die gemeenskaplike boodskap is dat die gedrukte media in baie lande ‘n probleem het om geloofwaardig te wees.

Of hierdie kritiek geregverdig is of nie, is ook al goed nagevors. Een so ‘n Amerikaanse studie het bevind dat koerante in hul eie ideologiese en politieke meningsvorming uit pas met die deursnee-lesers is. Die gemiddelde Amerikaanse joernalis is meer liberaal as die gemiddelde Amerikaner.

Dat dit nie in die eerste instansie daaroor handel dat lesers ‘n voorkeur vir die kuberruim bo die gedrukte geniet toon nie, blyk uit ‘n baie onlangse Rasmussen-peiling. Sowat 22% van die Amerikaanse volwassenes maak van e-lesers gebruik om e-boeke te lees. In 2011 het nog net 8% van e-lesers gebruik gemaak. Volgens die peiling verkies 75% van die volwasse bevolking om gedrukte boeke te lees.

Die gedrukte media

Op die gevaar af om appels met pere te vergelyk, het Beeld se sirkulasie volgens ABC-syfers wat in Mei 2014 gepubliseer is, van 67 700 tot 62 766 geval. Die Burger het van 62 237 tot 59 895 gedaal, en dié van Volksblad van 21 811 tot 20 590. In Maart 2012 was Beeld se daaglikse verkope nog meer as 75 000.

Beeld se aantal lesers is toe op meer as 400 000 per dag geraam.

Die afgelope maand het Maroela 800 000 besoeke gehad, en 340 000 unieke besoeke. Beeld se gedrukte koerant bereik dus per dag ongeveer die helfte soveel besoekers as wat Maroela in ’n maand besoek. Aan die ander kant, Maroela het in sy eerste maand drie jaar gelede 7 000 besoeke gehad, en is aan die toeneem. Rome is nie in een dag gebou nie. Terwyl die een krimp, groei die ander.

Kompetisie om die lesersmark

Die mededinging om lesers raak egter nie net die gedrukte media teenoor die kuberruim nie. Daar is ook ’n deurlopende teenwoordigheid van gemeenskapsmedia – gedruk en as gemeenskapsradiostasies. Saam verhinder hierdie media, dikwels onafhanklik, dat die koerante soos vroeër ’n idee-imperialisme sou kon bedryf sonder om ’n knou of wat weg te kry. Die veldtog wat Solidariteit teen Beeld begin het uit reaksie op onder meer die styl van Puk-beriggewing is ’n tekenende voorbeeld. Ook die SAUK loop deurlopend die gevaar om in geloofwaardigheid in te boet sou dit te veel na “His Masters’ Voice” neig, omdat ander nuus en perspektiewe bloot deur ander media, waaronder die kuberruim, daaromheen spoel.

“Politiek-korrekte” kommentators en meningsvormers wat eens ’n redelike ongeopponeerde monopolie in die media geniet het, word nou in die sosiale media vir die geringste feite- en denkfout genadeloos gesloop. Alternatiewe menings begin algaande vastrappek kry, en media wat ’n blinde oog op hierdie tendens werp, loop die gevaar om self geloofwaardigheid in te boet.

Nuuskommentaar

Een van Maroela se stigtingsvoornemens was om ’n forum vir nuuskonteks te skep. Die nuuskommentaar wat van Maandae tot Vrydae geplaas word, en die Groot Debat is manifestasies hiervan.

Die nuuskommentaar “gebeur” nie bloot in ’n nuusvakuum nie. Soms, soos met die beëindiging van die Numsa-staking, is die keuse van ’n onderwerp voor die hand liggend. Maar dit gebeur ook dat onderwerpe genoodsaak word uit ’n rits onderling verwante nuusgebeure wat weens die skynbare geringheid daarvan, nie prominent plaaslik of selfs internasionaal in die nuus is nie.

In die nuuskommentaar word die lyne van hierdie nuusleemte dan getrek, en geanaliseer. Maroela was byvoorbeeld een van die eerste nuusbronne wat na die vroeë ontwikkeling van die situasie in Oekraïne as ’n nuwe koue oorlog verwys het. Dinsdag het dit duidelik geword dat die Europese Unie en die VSA met sekere sanksies teen Rusland voortgaan.

Maroela is tot op hede een van die min media wat sy lesers volledige agtergrond oor die opkoms van die neo-Salafisme, as vertakking van die Soenie Islam, verskaf het om die opkoms van die IS (voorheen ISIS) met hul “kalifaat” in Sirië en Irak, en die onderlinge ideologiese verband van Al Kaïda met El Shabaab, Boko Haram en ander radikale groeperings verskaf het.

Soms ding ’n hele paar ewe belangrike nuusgebeure met mekaar mee om as die dag se onderwerp vir nuuskommentaar gekies te word. Soms is die “kompetisie” so sterk dat Maroela noodwendig ’n tweede nuuskommentaar op ’n dag moet plaas. Soms, egter, is daar geen onderwerp wat duidelik hande opsteek nie, en word vroeg soggens wanneer die meeste mense nog heerlik snoesig slaap, ’n soektog onderneem deur die wêreld en die plaaslike media, en ander nuusbronne soos peilings, om ’n onderwerp te soek. Wanneer iets gevind word, moet daar gewoonlik aansienlike bykomende navorsing oor die onderwerp gedoen word, met die oogmerk om die nuus in konteks te plaas altyd in die agterkop. Nogtans is daar altyd ‘n paar ysters in die vuur – nuusgebeure wat gemonitor word en ondertussen agtergrond oor ingewin word vir wanneer die nuuswaardigheid “ryp” is.

Die produk is nie ’n eenmanpoging nie – dit sou immers baie moeilik haalbaar wees dat een persoon, ongeag “struikelblokke” soos ’n steeks internet, sterftes in die familie, siekte en vele meer jaar in en jaar uit daagliks meer as 800 nuuskommentare sou kon produseer. Maroela is immers deel van die groot Solidariteit-familie waartoe ook AfriForum, Solidariteit se Navorsingsinstituut, die FAK en vele meer behoort.

Die nuuskommentaarskrywer het ook ‘n “paneel” van kundiges uit ’n wye verskeidenheid vakgebiede, asook senior joernaliste. Hulle wissel van “links” tot “regs.” Die doel is om te sorg dat die nuuskommentaar ook vakkundig suiwer is. Weens die tydsdruk soggens sou enige terugvoer uit hierdie paneel gewoonlik te laat wees om die plasing vooraf te beïnvloed, maar dit help om te keer dat soortgelyke foute in die toekoms gemaak word, of dit help dat ander insigte in die toekoms verreken word.

Uiteindelik bly dit ’n produk waarin gestreef word om onverbonde en objektief te ontleed en weer te gee, en genoeg ruimte te laat dat die leser sy eie denke kan vorm.

Die doel kan nooit wees om die moontlike populariteit van ’n onderwerp die keuse van die onderwerp te maak nie. Die aftrek wat ’n nuuskommentaar by die lesers kry, wissel dus geweldig van dag tot dag. Maandag se nuuskommentaar, Het Zuma afgetree? het in ’n japtrap meer as ‘n 1 000 Facebook-“shares” van die hoofblad af gekry. Dinsdag se nuuskommentaar wat oor die afloop van die verwoestende Numsa-staking geskryf is, Nou moet gekyk word na stakings en die reg om te werk, het teen vanoggend nog net 18 getrek.

Die nuuskommentaarskrywer moet nie net so onverbonde as menslik moontlik wees nie, hy moet so objektief as menslik moontlik wees. Selfs die beste propaganda van ’n politieke party waarmee hulle met die kiesers se koppe smokkel, moet die analis nie meesleur nie. Soms is daardie propaganda ook snert. Dit beteken dat so ’n analis ook deur die ondersteuners van so ‘n party verkwalik kan word, en inderdaad verkwalik word.

Maar eerder as ‘n gladdebek wat as gewilde spreker by landboukongresse en dies meer floreer, moet ‘n goeie nuuskommentator erns maak met sy feitegebaseerde analiseervermoë, en uit ‘n geykte dampkring kan styg om nuwe, ook politieke inkorrekte, grense te toets.

Ja, dit is wonderlik as ‘n groot koerant in sy hoofartikel ‘n paar sinne net so uit ‘n nuuskommentaar haal, maar dit is nie eerstens die doel nie.

Daar is nie ‘n werklike pro-forma waarvolgens ‘n nuuskommentaar saamgestel word nie. Die groot volume literatuur hieroor weerspreek mekaar so veel dat elke nuuskommentator daaruit moet put wat vir hom werk. Tog, sonder om dit klakkeloos na te volg is daar heelwat wysheid opgesluit in die riglyne wat die Society for Industrial and Organizational Psychology stel. Dit lees onder meer:

The goal of the focal article-commentary format is to advance the field by providing a forum for varying perspectives on the topic under consideration. A commentary may be:
a) a critical challenge to one or more aspects of the focal article, arguing for a position other than that taken in the focal article;
b) an elaboration or extension of the position taken in the focal article, basically sympathetic to the position taken in the focal article, but pushing the argument further;
c) an application of a theoretical perspective that sheds light on the issues addressed in the focal article;
d) a reflection on the writer’s experiences in applying the issues addressed in the focal article in particular organizational settings;
e) a comment on applicability of the issues raised in the focal article to other settings, or to other cultures;
f) a comment with a focus other than those listed above.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Ant ·

Ek waardeer Maroela media se feitelike berigte. Baie dankie.

Die groot toets vir Afrikaners is om “ordentlik” te bly en nie ingesleep te work in die tipiese internet kommentaar nie. Maroela slaag goed hierin en gee ons rede tot trots, want ons Afrikaners het nodig om ons ware kleure te wys, al is dit net vir ons-self en op-bou van ons eie, terwyl gaos rondom ons heers. Uitnemendheid skep uitnemendheid”

Slegs 3 jaar! – wys jou, jy kan ‘n goeie ondernemer nie onderhou nie….mooi Afrikaner gees.

Barry ·

Dankie vd uitstekende daaglikse ontledings- dit gee perspektief en vertolk die nuus vd besige leser. Die skrywer beskik oor ‘n onuitputlike algemene kennis wat skerpsinnig en skeppend aangewend word om die wereld te vertolk.

Danie ·

Hou so aan Maroela.Rome is nie in n dag gebou nie.Ek dink iets wat in Maroela Media se guns tel is dat dit deel is van n ware volksbeweging,Maroela is immers deel van die Solidariteit beweging.Soos wat meer en meer mense deel word van Solidariteit,so sal meer en meer mense bewus word van Maroela en sal Maroela net van krag tot krag gaan.
Ek hoop egter gedrukte Afrikaanse koerante oorleef.Ek kan my nie indink dat daar n tyd sal kom waar daar nie gedrukte Afrikaanse koerante sal wees nie.Ek dink Afrikaans as n taal kan net verloor as daar geen Afrikaanse koerante is nie.

Danie ·

Hou so aan Maroela.Rome is nie in n dag gebou nie.Ek dink iets wat in Maroela Media se guns tel is dat dit deel is van n ware volksbeweging,Maroela is immers deel van die Solidariteit beweging.Soos wat meer en meer mense deel word van Solidariteit,so sal meer en meer mense bewus word van Maroela en sal Maroela net van krag tot krag gaan.
Ek hoop egter gedrukte Afrikaanse koerante oorleef.Ek kan my nie indink dat daar n tyd sal kom waar daar nie gedrukte Afrikaanse koerante sal wees nie.Ek dink Afrikaans as n taal kan net verloor as daar geen Afrikaanse koerante is nie

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.