Nuuskommentaar: Oorlog in ons sitkamers

Oscar in die Pretoria-landdroshof. Foto: Alex Crawford / Sky News / Twitter

Oscar in die Pretoria-landdroshof. Foto: Alex Crawford / Sky News / Twitter

Is die skop, skiet en …, wel, die geweld van verskeie TV-reekse nie meer oortuigend genoeg nie? Geen probleem nie. Skakel dan in op hoe die polisie en betogers mekaar met haas enige denkbare ding, soos afgebreekte plaveisel en Molotov-cocktails bestook, en mense regtig doodgemaak word. En nee, dis nie (altyd) in Suid-Afrika nie.

Dié week kon kykers, veral diegene met internettoegang, kies tussen sulke werklike botsings in die Oekraïne, Thailand en Venezuela. Daar is geen tekort aan opsies om “live streams” te vind nie.

In Suid-Afrika moet ‘n regter nou uitspraak lewer oor of die verrigtinge in die Oscar Pistoriussaak regstreeks gebeeldsaai mag word. Dié saak geniet wêreldwyd media-aandag.  Met die werklike verhoor wat nog moet begin, het die gesamentlike woorde “Oscacr Psitorius trial” reeds 15 miljoen Google-trefslae.

Oor hoekom die Pistoriussaak juis soveel belangstelling by die publiek wek – ook onder diegene wat bitter kwaad is oor ander, en die media, so ‘n ophef daarvan maak, kan reeds verhandelings vanuit sielkundige, sosiologiese en ander vakdissipline-hoeke geskryf word.

Oor of so ‘n regstreekse uitsending goed of sleg vir die regspraak is, moet die regter nou besin. Daar is ‘n regsbeginsel dat regspleging “gesien” moet word om vertroue by die publiek te wek. Daar is egter getuies wat deur die teenwoordigheid van TV-kameras geïntimideer kan word – almal is immers nie kollig-mense nie – en dat die doeltreffendheid van die regspraak so in die wiele gery kan word. En word iemand wie se skuld nog bepaal moet word, nie so reeds vroegtydig gestraf nie?

Die feit is dat die tegnologie daar is, en wonderlike resultate oplewer. Toe ‘n twintig-meter deursnee meteoriet ‘n jaar gelede oor Rusland geval het, was beeldmateriaal volop, onder meer danksy die gebruik om videokameras op motors se stuurpanele aan te bring. ‘n Soortgelyke tegnologie word ingespan om vir ongeregistreerde gebruikers van e-tolpaaie rekenings te stuur, hoewel dié stelsel ook leemtes het soos die rekening wat ‘n bejaarde egpaar van die Boland gekry het wat dekades laas in Gauteng was, en hulle boonop aangeskryf is omdat hulle met ‘n stokou trekker gery het – die foto toon ‘n paneelwaentjie met hul trekker se nommerplaat.

In die jaar 2000 is ‘n asteroïde met ‘n deursnee van ongeveer 300 meter ontdek, en bereken dat dit vroeg die week “rakelings” by die aarde verby sou swiep. Duisende volgelinge van die Slooh-teleskoop sou die verbyblits op hul rekenaars kon volg – maar toe is die teleskoop wat die verbyvlug moes volg, se toerusting vasgevries, en boonop was die asteroïde blykbaar ook nie presies waar dit moes wees nie.

Daar was ‘n groot ophef toe dit geblyk het SAUK-ringkoppe het opdrag gegee dat die uitjouery van pres. Jacob Zuma tydens die Soweto-gedenkdiens vir oud-president Nelson Mandela uitgeredigeer moes word.

Die konflikte in die Oekraïne, Venezuela en Thailand is almal vir die wêreld, en ook Suid-Afrika uiters belangrik. Al drie leer die les dat die blote hou van veelparty-verkiesings ‘n baie halfgebakte demokrasie kan oplewer, en dat verkiesings nie self alle verskille van opinie besleg nie.

Demokrasie behels nie in die eerste plek meerderheidsregering nie, want as so ‘n regering nie in algemene belang regeer nie, is dit ‘n diktatuur van die meerderheid. Of selfs ‘n regering in “belang” van die meerderheid se elite – dus in werklikheid ‘n minderheidsregering.

En as daar boonop sprake was van verkiesingsknoeiery is die ontevredenes nie al te oortuig dat hulle werklik die minderheid is nie. Presies hoeveel vertroue moet die kiesers in ‘n verkiesingsuitslag hê as die verkiesingsuitslag, soos in Azerbaidjan uitgereik is nog voor almal klaar gestem het? Dit is weliswaar as fout beskryf, en teruggetrek, maar dit sal aanhou pla oor hoe so iets selfs “per ongeluk” kon gebeur het.

Maar is dit goed dat die tegnologie ingespan kan word om geweld na ons sitkamers te bring?

Kweek dit respek vir regerende instellings as die publiek kan kyk hoe hul parlementslede, soos dié in Taiwan, mekaar in ‘n massa-appelswaaiery te lyf gaan? Of in Suid-Afrika waar een “agbare” ‘n verspotte houtjie na ‘n ander mik, net om met ‘n teksboek-haakhou self op die waardige instelling se vloer te beland? Of is dit minder skadelik vir persepsies as die beeldmateriaal wys hoe ‘n agbare heerlik dut terwyl ernstige landsake onder die loep geneem word. Die jongste Rasmussen-peiling toon dat net 8% van die Amerikaanse kiesers meen diegene wat deur hulle kongres toe gestuur is, goeie werk doen.

Kenners oor terreur het in die dae toe groepe soos die PLO, die Rooi Brigades, asook Carlos die jakkals, en ander wêreldwyd opskuddings veroorsaak het, geskryf dat die terroris nie baie mense wil dood maak nie, maar wil hê baie mense moet kyk. Dit is teater, met TV-kykers oor die hele wêreld wat in hul sitkamers die toeskouers is en bewus word van sake waarvan hulle andersins nooit sou geweet het nie.

Pres. Barack Obama moes pas die versekering aan die wêreld gee dat die gewelddadige betogings in die Oekraïne en Venezuela, en die konflik in Sirië nie ‘n koverte voortsetting van die Koue Oorlog is nie. Dit is egter maklik om te sien hoekom baie mense sal glo dat dit wel so ‘n magstryd deur afstandbeheer is – waar ander se bloed gestort word. In die Oekraïne gaan dit immers oor ‘n magstryd tussen ‘n pro-Russiese president, en ‘n pro-Westerse opposisie. In Venezuela probeer die president ‘n kloon te wees van die linkse, afgestorwe pres. Hugo Chavez, wat op sy beurt die herrese Ché Guevarra probeer wees het. Pas is ‘n aantal Amerikaanse diplomate uit hierdie olieryke land gesit omdat hulle glo studente sou aanhits om aan die betogings deel te neem – iets wat die VSA ontken. In Sirië bly Rusland en China die bondgenote van pres. Bashar al Assad, en laat die burgeroorlog so uitgerek word. Die stryd in Thailand is (nog) effe buite hierdie dampkring, maar die grondslag is reeds daar vir groot moondhede om hul beste belange te ondersteun.

En die gewelddadige betogings in Suid-Afrika?

Of is die ideologiese stryd in Suid-Afrika so ver agter wêreldverwikkelinge dat dit te moeilik te bepaal is watter moondheid die meeste gaan baat uit Numsa en die EFF se opmars na uitgediende sosialisme, die Zuma-administrasie se beheptheid met die aanstel van kommuniste in sy kabinet, die land se keuses van vriende soos Kuba, Zimbabwe en duidelik téén Israel?

Wat duidelik is, is dat die oorlog in ons sitkamers nog nie vir almal ‘n geval is van “sien is glo” nie. Opnames toon dat nog gans te veel Suid-Afrikaners met die komende verkiesing gaan stem vir wat hulle nié wil hê nie. En dat ons plaaslike, regstreekse “sepie” van plaaslike geweld in on sitkamers, ook na die verkiesing voortgesit gaan word. En ‘n jong geslag afgestomp gaan grootword oor hoe maklik die bloed kan vloei.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae