Nuuskommentaar: Piesangrepubliek-skandes. Watter skandes?

Argieffoto

n Bekende kommentator het by geleentheid opgemerk dat dit ’n probleem is dat die ANC nie skandes as skandes ervaar nie. Die gevaar is natuurlik dat die deel van die bevolking wat wel omgee, so afgestomp kan raak dat hulle ook maar net skouer optrek – of nog erger, self gaan skep solank dit reën.

Gisteraand is aangekondig dat die ganse Libanese regering bedank het weens druk van opstandige burgers. Die reuse-ontploffing was net die vuurhoutjie in die kruitvat – hoofsaaklik weens korrupsie waarvan die regering beskuldig word en nou ook deur die uitgaande regering as grootste faktor vir die ontploffing en inploffing van die staat erken word. Maar so ’n afstanddoening van mag en geleentheid om buit te aas is ondenkbaar in Suid-Afrika; dis ’n patetiese gestoei oor hoe lank iemand aan ’n pos kan bly klou deur die een appèlproses na die ander, terwyl die land se beeld oorsee potensiële beleggers kopsku laat word. Selfs die grootste leeu aarsel as ’n trop hiënas eers op die prooi beslag gelê het.

Al is korrupsie nou erg (gee die ANC amptelik toe), is dit darem nie so erg nie, want korrupsie is iets wat by die vorige regering aangeleer is. Ja, daar was inderdaad korrupsie onder die vorige regering. ’n Minister het selfs in wat sy goue jare moes wees, in die tronk geslyt hieroor. Nog een het ’n buitekans gestaan om eerste minister te word, maar is op die nipper gestuit toe bedenklike betrokkenheid aan ’n nuwe besproeiingskema aan die lig gekom het. ’n NP-LV het tronkstraf gekry toe dit blyk sy verkiesing is met die hulp van verkiesingsbedrog vermag.

Die ANC het beslis nie korrupsie uitgevind nie … dit net vervolmaak. Kort na 1994 se verkiesing is gegons nadat ’n provinsiale premier sou verweer het: “As ons dan almal moet afdank wat korrup is, hoe gaan ons ooit affirmative action toegepas kry?”

Was pres. Cyril Ramaphosa werklik verbaas en teleurgesteld dat daar soveel korrupsie met die geld vir die Covid-19-pandemie na die “regte” kaders se eie rekeninge geswendel word? Gaan die vuur en swael op diegene wat ten spyte van skynbaar ernstige vermanings deur Ramaphosa op die skelms neerslaan? As die effektiewe vergifnis van die burgemeester van Matjhabeng wat ʼn raskwetsende woord ingespan het toe hy na die stad se bruin mense as “Boesmans” verwys het, heraangestel is, lyk dit beslis nie of die ANC naastenby sensitief genoeg is nie. Daar word woer-woer met die ANC se integriteitskomitee gespeel.

Met die skrywe hiervan weier die burgemeester van Mangaung (Bloemfontein en omstreke) om haar amp en kantoor te ontruim na sy ’n geslaagde mosie van wantroue in die raad op die lyf geloop het. Dit is nog nie duidelik hoekom sy meen die mosie was onwettig nie. Die persoon wat die mosie ingestel het, ’n raadslid van die Vryheidsfront Plus, is ’n gekwalifiseerde advokaat en het as professor in die regte diep spore getrap in die definiëring van teistering in die werkplek, veral vroulike werknemers. Op die oog af sou ’n mens verwag dat sy strate meer van die reg en regsprosesse sou weet as ’n burgemeester wat so erg as burgemeester drooggemaak het dat ’n groot deel van haar koukus in ’n geheime stemming teen haar gestem het. Sy is ’n groot ondersteuner van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, oor wie se kop gereeld storms woed.

Maar nog voor ’n mens bly kan wees oor die ANC twee van sy burgemeesters die trekpas gegee het wat by die VBS-skandaal betrokke was, lyk dit klaar of hulle moontlik deur die ANC begunstig gaan word.

Benewens die probleem van korrupsie, is daar onsekerheid oor die akkuraatheid van ongeveer alles wat in syfers uitgedruk kan word. Die jongste misdaadsyfers was skaars uitgereik, toe die TLU SA laat weet hul eie statistieke oor plaasaanvalle en -moorde is hoër as dié van die staat. En dis nie die eerste keer nie. Hoe betroubaar is die sensussyfers? En akkurate sensussyfers is onontbeerlik vir die staat vir sy beplanning.

Volgens die jongste syfers wat in The Conversation geplaas is, word daar in die VSA gewerk op die aanname dat die ondertelling van Covid-19-gevalle tussen ses en 20 keer te min is. As is aanmerking geneem word dat die sensus-afwykings met elke sensus in Suid-Afrika in ’n heel ander orde is as in die VSA en dat die na-sensus-aanpassings veel groter is as in die VSA; dan is daar op die oog af goeie rede om te wil aanvaar dat daar veel meer Covid-19-gevalle in Suid-Afrika sal wees as wat die amptelike syfers aandui.

Hiermee hang die kwessie saam hoe die stand van moraliteit tydens ’n pandemie staan. Prof. Agnes Mueller erken in ’n nuwe artikel dat ’n peiling van Pew reg is dat sowat ’n kwart van alle Amerikaners se godsdiens verdiep het sedert die pandemie begin het. Mueller wys egter daarop dat ’n literatuurstudie van pandemies in die verlede daarop dui dat dit wel soms die geval kan wees, maar tydens ander neig mense om totaal godsdienstig ontredder te word.

Daar is heelwat definisies van wat ’n piesangrepubliek behels, maar dit kan saamgevat word as ’n staat wat sy geloofwaardigheid verbeur het deur van die parlement ’n parleboendoe te maak, en die grondwet soos handleiding vir korrupsie te hanteer. In hierdie stadium lyk dit of die huidige stand hiervan sedert die Zuma-era van die huidige verskil deurdat die rol van hofnar van die hoofindoena self na die hoofindoena se adviseurs verskuif het. Dan is dit vanselfsprekend dat die definisie van goeie voornemens is dat dit iets is wat ten alle koste verhinder moet word om uitgevoer te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Adam Adriaan ·

En die gees van die dwalig is gestuur; sodat die volgelinge van die ANC/EFF nie kan sien waarmee die partye mee besig is nie. Hulle hou aan om vir hulle te stem. Hulle is bereid om te sterf vir die laksmanne wat hulle aan hulle kele beet het. Die beleid en modus operandi van kommunisme is hier op sy beste sigbaar.

Prikkie ·

As jy geen skaamte het nie, dan het jy NIKS oor in hierdie lewe nie.

Pieter ·

Daar is nie woorde vir julle siek ANC nie behalwe voetsek.

Nick ·

Dis ongelukkig nie net die anc nie,dis ons eie wit nasietjie wat die dinge toelaat!!!!

Joggie ·

Hulle naam is nie verniet: African National Corruption nie!

Nie Verbaas ·

Die skaamtelose oeverblindery van die ANC stoom voort. Ek hoop van harte dat hulle huidige benadering tot korrupsie dieselfde gevolge gaan he tot ANC se selfvernietiging. Hulle is besig met n benadering wat nie volhou kan word nie.

Nick ·

Hulle kan dit volhou want hulle weet hulle is die baas en die res is te banggat om op te staan en hierdie regering te stop maar nee wat die wittetjies leef nog te lekker!!
Viva anc,julle is Afrikaners se baas!!!!!!

Kokerboom ·

Arrogansie, verwaandheid, gierigheid en vermetelheid verblind hul vermoeë om skaam te kan wees indien dit ooit in hul verwysingsraamwerk bestaan

Vrystater ·

Uitstekend verwoord, Herman.
Die polities-korrekte woord en -praktyk vir “apartheid,” het ons nou ontdek, is “sosiale distansiëring.” Of dalk, “sosiale (af)stand”?
So, indien ons die woord “apartheid” in al ons ou wetboeke, woordeboeke, geskiedenisboeke, navorsing, koerante en tydskrifte vervang met “sosiale distansiëring,” wat reeds op die wetboeke ter plaatse en wêreldwyd is, dan kan die VN dieselfde doen, en verval Suid-Afrika se skuldigbevinding dat sy “sosiale distansiëring” ‘n misdaad teen menslikheid was.
Die oorsprong van Suid-Afrika se statutêre sosiale distansiëring het gevolg na die Spaanse Griep van 1918 en die ontdekking van die Vigs-virus in die Belgiese Kongo in 1920.
Nietemin, die moraliteit van die polities-korrekte, sogenaamde “agtergeblewenes ” of liewer, “hier-gevondenes in self-onderdrukking,” se leiers is ook ‘n pandemie:
volgens die inheemse tradisionele etiek is jy net skuldig aan ‘n misdryf indien jy so onversigtig was om toe te laat dat jy uitgevang word.

Jakes ·

Die aaname wat n vorige president van SA gemaak het ivm wat met SA sou gebeur indien die meerderheid sou regeer, het presies so ontvou. Die swart kiesers in SA kon na soveel verkiesings nie vir n beter bestel stem nie want die ANC het hulle nog altyd die son, maan en sterre belowe en tot nou het dadels daarvan gekom.

Prikkie ·

Een baie belangrike ding wat onthou moet word, en dit kan nie aan Jan van Riebeeck of apartheid toegeskryf word nie, is dat die ANC ‘n bevrydingsorganisasie is en nie ‘n regering nie.

Die dat die “struggle” nou nog voortduur.

Ek dink hulle struggle is meestal gesetel in die feit dat die ANC TOTAAL onbekwaam is om te regeer.

Jacobus ·

Uitstekend! Vrugte is ‘n probleem as selfs papajas Covid opdoen. Die skielke gewetens aanvalle is seker ‘n redelike vordering as mens jou asem só lank kan inhou.

Adam Adriaan ·

Die Woord sê ook wee die land waar die slaaf koning word

Anoniem ·

Korrupsie en skande is mos volgens hulle westerse begrippe.

JohanR ·

There should be a place in jail for everyone who steals from their own people. But there should be a place in Hell for those who find the fortitude within them to steal from the people during a pandemic. – Daily Maverick

Sarel ·

Hulle kan nooit verantwoordelikheid vir enige iets aanvaar nie. Teen hulle beginsels?

Marthinus W ·

Herman, oor die korrupsie onder die vorige regering se mense: dis sou gaaf wees, as historiese dokument, indien hulle name genoem kan word. Maar, ek naam aan jy noem hulle nie weens vrees vir crimen injura of iets. Pik Botha het genoem dat “P” sy vriend was, en het vir hom in die tronk gaan kuier.

Die Verenigde Oostindische Companjie (VOC) is gespot, dat hulle gesink het weens korrupsie, daarom is die akroniem spottenderwys genoem “Vergaan Onder Corruptie”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.