Nuuskommentaar: Politici lieg, en lui joernalistiek

Pres. Jacob Zuma. Foto: DoC

Pres. Jacob Zuma is volgens baie waarnemings ’n kluitjiebakkoning, maar is joernaliste in Suid-Afrika lui soos Amerikaanse joernaliste (aldus die ontleder Ted Rall)? Gelukkig ag baie Suid-Afrikaanse joernaliste hul professionele integriteit baie hoog, en lesers beloon instansies soos Maroela Media wat ’n baie hoë premie hierop stel.

Met ’n kluitjiebakkoning as president bly van sy ministers nie ver agter met wolhaarstories nie, soos wanneer getuienis voor ’n gekose parlementêre komitee afgelê word. Verbreekte verkiesingsbeloftes is ook ’n vorm van kiesers donkie-ore aansit.

Die probleem eindig nie daar nie, skryf die Amerikaanse ontleder, Ted Rall. Hy het dit oor ’n opname uit 2005, bekend as die “Access Holywood”, waarop gehoor kan word hoe Donald Trump saam met Billy Bush grappe maak oor vrouegeslagsdele. Toe die band tydens die presidentsverkiesingsveldtog aan die lig gekom het, het Trump om verskoning gevra. Nou ontken hy dat dit sy stem op die band is.

Rall self glo nie Trump se ontkenning nie, en maak ook geen geheim daarvan dat hy nie ooghare vir die president het nie, maar voel die eerste probleem is dat “lui joernaliste” nooit die moeite gedoen het om die band forensies te laat ontleed vir egtheid nie.

Die gevoel is dat Rall se kritiek op joernaliste, en hy sluit die ongelooflik hoogs besoldigde joernaliste van koerante soos die New York Times in, oormatig krities is, en selfs aan bietjie goedkoop ontledingswerk voldoen.

Moderne tegnologie het ongetwyfeld ten minste ’n deel van sommige joernalistieke velde baie makliker gemaak. Ontbrekende en bykomende inligting word maklik “gegoogle”, en ander nuusbronne kan maklik geraadpleeg word. Navrae kan maklik per e-pos oorsee gerig word, en so keer dat iemand in byvoorbeeld die VSA in die middel van die nag daar wakker gebel word.

Is dit werklik nodig om sindikasieberigte en -artikels op te volg, tensy iets die joernalistieke alarm vir akkuraatheid laat afgaan? Of as die storie hom tot nog veel meer leen as dit wat ontvang is?

En dan is daar die alewige politieke bevooroordeeldheid.

Onlangs is op ’n TV-kanaal berig hoe ’n groep boere van Namibië per motorfiets polisiestasies in Noordwes besoek het om die betrokke stasies te bedank vir die goeie werk wat betreffende landelike veiligheid en plaasaanvalle gedoen word. Volgens radioberigte en radio-aktualiteitsprogramme het die motorfietsryers die polisiestasies egter besoek om te vra dat plaasaanvalle geprioritiseer word, omdat gevoel word die polisie doen nie genoeg vir landelike veiligheid nie. Iewers was iemand polities moedswillig.

In hul kritiek op instansies soos AfriForum en Solidariteit sal kritiese joernaliste soms ’n wolhaarfeit aanbied asof dit so ’n gemene saak is dat dit nie nodig is om die waarheid daarvan te bepaal nie. Die instansies word gereeld as rassisties uitgemaak ondanks ’n oorvloed bewyse tot die teendeel. Soms word diep in die geskiedenis gedelf, tot in die dae van die Mynwerkersunie, om ’n kwessie te vind en op te blaas asof dit vandag nog geld. Of al die speelgoed word uit die kot gegooi oor “syferliegwerk” oor syfers wat oor tyd heen verander, of van ’n ander basis af bereken word; net om iets te kry en opgeblaas te word om eie byltjies te slyp.

Gelukkig is daar ook baie joernaliste wat groot moeite doen om hoë professionele standaarde daar te stel. Daarsonder sou die #GuptaLeaks nooit na die oppervlak gekom het nie.

Verskeie instansies borg joernalistieke toekennings. Die grootste erkenning wat joernaliste egter kan kry, is lesersgetalle. Wat dit betref, het Maroela Media sedert sy ontstaan verskeie teikens oortref. Verskeie kere moes ver voor die beplanning na kuberplatforms met groter kapasiteit verskuif word. Maroela se Facebookblad het pas ’n kwartmiljoen “likes” behaal, en in die proses verskeie konkurrente van agter ingehaal en ver verbygesteek.

’n Strewe na gehalte en akkuraatheid word deur Suid-Afrikaanse lesers en luisteraars beloon, en so hoort dit.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Loeis ·

Dit laat mens aan ‘n geval net voor die 2014 verkiesing dink, toe Anchen Dreyer van die DA op Pretoria FM gese het dat haar party nie swart bemagtiging steun nie. Kort daarna het Helen Zille op televisie gese dat haar party dit steun.

Pieter Mulder, toe leier van VF+, het Dreyer op haar misleiding gewys, maar blykbaar het mense geen probleem daarmee gehad om steeds vir Dreyer se party te stem nie.

Henk ·

Laat ons nou nie doekies om draai en kluitjies bak nie. SA se joernalistiek is deurtrek met joernaliste met GEEN integriteit nie!

Susan ·

Dis die waarheid daai, Henk. Maar die wye publiek gaan ook baie losweg om met die waarheid! Selfs wanneer daar in die howe getuig word, word daar so blatant gelieg dat mense hulle eie liegstories glo! En indien die lui regslui dit regkry om dit te ontbloot as ‘n leuen, dan word die volgende liegstorie met die dieselfde oortuiging vertel!!

Therese van Schalkwyk ·

Groot waardering vir die daaglikse nuuskommentaar deur Herman Toerien in Maroela!
Ook ‘n verskeidenheid ander skrywers wat nie huiwer om kwessies op ‘politiek inkorrekte’ wyse te bespreek nie.

Die Multichoice-Naspers-Koos Bekker-sage is egter nog nie op Maroela bespreek nie, en is nuuswaardig aangesien die Gupta-naam ook opgeduik het.
Hoop iemand se “joernalistieke alarm” gaan af :-)

m.d.r. ·

Baie interessante artikel, Herman. Eintlik gaan dit oor joernalistieke integriteit. Hier moet ek met jou saamstem oor Maroela. Baie maal herstel hulle vinnig ‘n berig as lesers hulle op foute wys
Daar is egter ‘n ander dimensie in joernalistiek–dit is doelbewuste weerhouding van inligting van hulle lesers.
Ek gaan ook delf in die geskiedenis om ‘n voorbeeld aan te haal–
Op 3 Julie 1994 skryf dr Izak de Villiers as redakteur van Rapport ‘n lang redaksionele beswaar teen Regstellende Aksie. Dit was enkele weke na die ANC amptelike bewindsoorname in SA.
Hierdie stelsel is vervat in wet 200 van 1993 ook bekend as die Interim Grondwet

Ek vind dit vreemd, dat terwyl hierdie wet reeds ‘n redelike tyd op die wetboeke was, dat geen Naspers joernalis ooit voor dr De villiers daaroor geskryf het nie ..
Hulle moes tog sekerlik daarvan geweet het..?

Doelbewuste swye, of onkundigheid oor ‘n saak waaronder ons wittes voorspelbaar nog baie sou ly….
Joernalistieke integriteit….?

Eish ·

Ongelukkig verleen hierdie Psalm 37 land hom juis daartoe dat die swak joernalistiek die massas se aanhang geniet vanweë die akkomodering van die populistiese gees en gevolglik seker n goeie opbrengs vir die poppemeesters genereer.

Die room van joernalistiek sal uiteraard graviteer na die instansies wat hul laat gedy. Ons moet elk dus vir homself bepaal wat ons waardesisteme is, en dit aanhang wat dit aanspreek.

Die waarheid is deesdae n kommoditeit waarmee uitsonderlik spaarsamig mee omgegaan word en dit werk neerdrukkend in op die hele samelewing. Goeie joernaliste is as gevolg hiervan ook n bedreigde spesie wat tot gevolg het dat mentorskap grootliks daar onder ly.

Goeie joernaliste bevind hulself binne en buite die baromer van oordeel indien hul die waarheid konsekwent navolg, aangesien die waarheid soms ons eie voorkeure aftakel.

Hoe dit ookal sy, ek is van mening dat goeie joernalistiek op die langtermyn sal oorleef, desondanks aanslae van populistiese opportuniste.

Hansie slim ·

Dit is seker so dat joernaliste die prentjie “inkleur” of miskien selfs kluitjies bak maar dat politici blatant lieg is so, maar almal leer mos by die beste, nommer 1..

Henk Roos ·

Susan, jul moet toelaat dat daar ook op die redakteur se antwoord repliek gelewer kan word. Stem volkome saam met jou antwoord aan (ander) Henk

John ·

Lesergetalle… nee wat, dis ook ‘n jok. Gewildheid is geen maatstaf nie… Herman jy weet dit self…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.