Nuuskommentaar: Politiek en sport en om te d*nd*r waar dit nie jeuk nie

Hoewel daar nou al ‘n geruime tyd minder van ‘n ophef in Suid-Afrika was oor die regering, of ander se politieke inmenging in sport, het die internasionale felheid daarteen nie veel verander nie. Dit is teen dié agtergrond dat die Suid-Afrikaanse sokkerbase se besluit om die parlement se hulp in te roep die wenkbroue behoort te laat lig. Die stap volg omdat klubs veroorsaak dat die land raap en skraap om geskikte spelers bymekaar te kry wat as onder 23-span die land by die Olimpiese Spele moet verteenwoordig.

Die meeste internasionale sportliggame het twee bepalings wat dikwels ten nouste saamloop – geen rassisme word toegelaat nie, en geen regering mag in die betrokke sportkode inmeng nie. Hoewel die jongste weergawe van Fifa se statuut bloot die inmenging van derde partye verbied, is die oog steeds duidelik op regerings gerig. Toe Nigerië in skande van die wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika huis toe gekeer het, het die Nigeriese regering dissiplinêre stappe aangekondig. Fifa het die voer neergesit, en die regering moes die knie buig. Dit was trouens die tweede keer dat die Nigeriese regering die aftog voor Fifa geblaas het.

Verskeie lande het die rug styfgemaak, en is geskors. Dit sluit lande soos Griekeland, Iran en Kenia in, terwyl selfs Brasilië, wat die wêreldtoernooi in 2014 aanbied, in ‘n stadium ook die knie moes buig. ‘n Bietjie meer uit die openbare oog is die nuus dat Fifa se grootbaas, Sep Blatter, na die toernooi in Suid-Afrika, ook gedreig het om Frankryk uit te skop. In Frankryk, so word geskryf, is dit so moeilik om die regering uit sokkersake te hou soos om die Brasiliaanse sokkerspan sonder die kenmerkende geel voor te stel. Suid-Afrika het na 1994 by verskillende sportkodes spesiale behandeling gekry as dit oor die rassekwessie en politieke inmenging kom. Die rassekwotas was, en is, soms geen geheim nie, terwyl ook ander politieke inmenging, soos die aanstelling van Peter de Villiers as Springbokafrigter ‘n duidelike ras-politieke kleur gehad het. Dit is moeilik om te bepaal hoeveel sielkundige skade Jacques Rudolf destyds gelei het toe hy as briljante jong speler ‘n kwotaslagoffer was.

Suid-Afrika is selfs by geleentheid by die Internasionale Rugbyraad verkla, en die reaksie was ‘n koddige eierdans wat aan ‘n mengsel van die haka en die Riemlandse riel herinner het. Nou het die minister van Sport in Krieket SA se sake ingegryp en ‘n kommissie van ondersoek ingestel. Die meeste Suid-Afrikaners sal waarskynlik saamstem dat dit nodig was, of minstens goed is om seker te maak dat daar nie ongemaklike goggas oorgebly het na ‘n negatiewe ouditverslag in wese gerak is nie. Maar is dit toelaatbaar?

Onlangs het die baas van Engeland se krieketunie Pakistan besoek om te probeer walgooi teen politieke inmenging in Pakistanse krieketsake. Die IKK is om dieselfde rede met Sri Lanka se regering haaks. Ten spyte van die teenspoed wat ander lande, ook lande in Afrika, by Fifa op die lyf geloop het, het die Suid-Afrikaanse sokkerbase waarskynlik min te vrees om by die parlement om hulp te gaan aanklop. Suid-Afrika word veral wat sokker betref, anders behandel. Met die aanbieding van die wêreldtoernooi is Fifa se reëls lustig gebuig sodat die Suid-Afrikaanse regering, eerder as die plaaslike sokkerliggaam, die plaaslike verantwoordelike instansie was. Is dié aanpassing nie gemaak nie, het die kontinent steeds nie ‘n wêreld-eindtoernooi vir sokker aangebied nie.

Die ideaal bly egter dat regerings hul rol beperk tot die voorsiening van geriewe op alle vlakke, sodat talent van jongs af kan ontwikkel. Bykans elke keer wat in geriewe by ‘n afgeskeepte skool belê word, word goud raakgeboor. Sokker kan nog betreklik goed op ‘n gelykgeskraapte lap aarde langs ‘n plaasskool ontwikkel word, maar krieket, rugby en baie atletieknommers nie. Subsidies sodat onderwysers behoorlike afrigtingskursusse kan bywoon, en dat skole en opkomende klubs teen mekaar kan meeding, sal ook baie werd wees.

Speel die regering op die regte plekke sy rol reg, sal latere ingrepe en ander vorme van inmenging hopelik minder gereeld nodig wees. Die afwesigheid van regeringsinmenging moet nie die gevolg van dreigemente deur Fifa en ander internasionale beheerliggame wees nie. maar omdat dit onnodig behoort te wees. En intussen lees al hoe meer opskrifte, veral in die pers wat op die swart lesers gemik is, dat sokker besig is om in ‘n verleentheid vir die land te ontwikkel. Net meer as ‘n jaar gelede het die regering groot verwagtinge gekoester dat die toernooi in Suid-Afrika die land se mense sou saamsnoer, en in ‘n groot mate het dit gewerk. Selfs mense wat nog nooit in sokker belanggestel het nie, het skielik ook in selfaangestelde kenners ontpop, al het hul kennis dikwels nie verder as die besit van ‘n – soos die Nederlanders dit in afkeer gestel het – raserige blaastoeter – gestrek nie.

Daardie euforie is intussen grootliks tot niet gemaak – daarvoor het Malema, Manyi en ander gesorg. Daarvoor was daar net te veel plaasmoorde sedertdien, en sorg kommer oor die groenskrif oor grondhervorming. Die regering het bietjie woema uit die sokkerkapitaal probeer beredder toe Minister Fikile Mbalula die Springbokke na die wêreldbekertoernooi in Nieu-Seeland afgesien het met die opdrag om die ander te gaan d*nder.

In Suid-Afrika is daar net te veel plekke wat jeuk – die land kan nie werklik bekostig dat gekrap – of gedo*nder – word waar dit nie jeuk nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae