Nuuskommentaar: PUK, Steve, transformasie en Menseregtedag

Grafika; mnn.com

Grafika; mnn.com

Môre is dit Menseregtedag, en die regering het reeds in die aanloop verskeie kere aangedui dat rassisme een van die brandende temas sal wees. En ja, daar is baie rassisme, maar dalk sou dit ook al beter gewees het as die regering die hand in eie boesem gesteek het en nie so die rassetamboer op elke denkbare manier gemoker het nie.

En meer sensitief was oor emosionele kulturele kwessies soos pleknaamveranderings. ʼn Vrystaatse LUR het juis vandeesweek aangekondig dat die Vrystaat se naam gaan verander omdat dit ʼn Sotho-naam moet kry. Die ANC het intussen effe teruggekrabbel. “Om ’n bestaande naam weg te neem kom op niks minder as kulturele imperialisme neer nie,” sê ds. Theunis Botha, leier van die CDP. “Die Vrystaat het dringend ’n groot ekonomiese inspuiting nodig om die agteruitgang op byna elke terrein te bekamp. Dit beteken dat ’n gesamentlike entoesiastiese poging van almal in die provinsie nodig is.”

Daar is rassisme, en te oordeel na die inskrywings op die kuberruim, baie daarvan. Opmerkings soos “Ek haat die goed” is volop. Die grootste gevaar is egter om persepsies te koester dat rassisme iets is waaraan net wit mense hulle skuldig maak – trouens, so ʼn opvatting of stelling sou op alfa-rassisme neerkom.

Wat anders as ʼn rassis is iemand wat verkondig dat swart rassisme nie rassisme is nie, maar ʼn fatsoenlike respons tot kolonialisme (en Jan van Riebeeck) en rasdiskriminerende praktyke van die verlede?

Tog sny hierdie soort opvatting diep, en nie net vanuit swart geledere nie. Dit is ’n doodsonde om “Die Stem” te sing (wat nie verbied is nie en geen haatspraak bevat nie), en die pleger moet lank en aanhoudend gestraf word hieroor, maar wanneer iets soos “Maak dood die boer” gesing word, word vanuit dieselfde geledere wal gegooi dat dit klap dat dit nie op haatspraak neerkom nie. Vryheid van uitdrukking en kontekstuele “verskonings” word ingespan, en diegene wat nie saamstem nie, word met die teerkwas bygedam.

Die Vryheidsfront Plus het dit op hom geneem om in die parlementêre debat oor Menseregtedag die politiek onjuiste vraag te vra: “Waarom die dubbele standaarde betreffende rassisme en menseregte in Suid-Afrika? Waarom word al meer weggekyk wanneer wittes slagoffers van misdaad word? Is dit omdat joernaliste onder meer weens politieke korrektheid bang is om die waarheid hieroor te skryf?”

Intussen tree die een nuwe wet of wetsartikel ná die ander in werking wat dit vir werkgewers moeiliker maak om wit mense aan te stel, of selfs in diens te hou. Die spartelende Eskom is ʼn goeie voorbeeld waar adjunkpres. Cyril Ramaphosa – aan die hoof van die krisisbestuurspan wat die kragreus moet regruk – nou een storie oor bestaande kundigheid verkondig, maar die departement van arbeid aandring dat hy die wet gaan toepas om die “oorverteenwoordigende” groep wit ingenieurs weggewerk te kry.

Al stort die land in duie.

Dit is hierdie soort ras-verabsolutering wat die groot gros van die blaam moet kry dat die jongste versoeningsbarometer onder meer aantoon dat die meeste Suid-Afrikaners hulle nie op grond van Suid-Afrikaner eerste uitdruk nie, maar ras.

Menseregte handel egter oor veel meer as net kwessies van menswaardigheid, gelykheid en die reg om alles wat in jou kop opkom uit te blaker. Daar is verskillende “generasies” menseregte, waarvan sommige slegs in werking kan tree as die middele daartoe bestaan. ʼn Reg op ’n spoeltoilet in die huis is net haalbaar as die ganse infrastruktuur daarvoor bestaan, en daarvoor moet daar weer geld wees. Tog, in die aanloop tot volgende jaar se munisipale verkiesings en die diensleweringsbetogings sou ʼn mens verwag dat die regering met groter erns na hierdie soort regte sou kyk. Ongelukkig (vir die ANC) behels die oplossing dat die beste kundigheid ingespan moet word, en nie die mees lojale kaders daarvoor ontplooi moet word nie. Hierdie halsstarrigheid maak dat die regering daagliks die menseregte van talle van sy eie ondersteuners ook vertrap.

’n Behoorlike erkenning van die probleem sou die verkoop van “goeie stories” waarmee die regering nou besig is, kelder. Wanneer dinge baie warm raak, word plekname verander maar die probleme nie opgelos nie.

Vandag begin die buitengewone raadsvergadering van die Noordwes-Universiteit wat lotsbepalend kan wees oor Afrikaans as onderrigtaal op Potchefstroom (ʼn mensereg), maar ook die behoud van kultuurgoedere wat deur die Grondwet (en die volkereg) gewaarborg word. In die aanloop het bitter baie suur sop uitgeloop en die rektor, prof. Dan Kgwadi, se beeld van deelnemende  en konsekwente bestuur moontlik blywend ʼn vraagteken op die lyf geloop.

Soveel klein byltjies is geslyp dat ʼn analis wakker moet slaap om nie self daarin te verval nie en eerder bloot fokus op die belangrike beginselsake wat ter tafel is.

ʼn Ontstellende aspek is dat daar heelwat mense is wat op sosiale media aandui dat hulle geensins daarin belangstel om aan ʼn versoeningsproses deel te neem nie. Hierdie houding kan daartoe bydra (of selfs die regstreekse oorsaak wees) dat hul eie kinders, of iemand anders se ouers, tydens ʼn plaasaanval sterf.

In die aanloop tot die 1994-bedeling het die destydse president van die RGN, dr. Tjaart van der Walt, profeties gemaan dat geen grondwet, selfs nie die beste ter wêreld, sal werk as die mense mekaar nie verstaan en vertrou nie. Dit lyk inderdaad asof die onderhandelaars by Kemptonpark te veel “outomatiese regkomaksies” van ons Grondwet self verwag het. Die sekretariaat van die Vredesakkoord is voor die einde van daardie jaar reeds ontbind asof aanvaar is dat alles van toe af vanself reg sou verloop.

Pas skryf prof. Koos Malan soos volg op Maroela Media: “Die geloof in die Grondwet is met (sektaries-) religieuse onverdraagsaamheid afgedwing. Gevolglik is die enkele twyfelstemme wat die geldigheid van die aansprake van die oppermagtige Grondwet betwyfel, sonder meer stilgemaak. Die twyfelstemme was kettery wat angs ingeboesem het dat die grondwetlike geloof ongeldig was. Hierdie kettery moes die swye opgelê word. As een van die “ketters” het ek eerstehandse ervaring hiervan. Sake het intussen ingrypend verander. Hier en daar is daar dalk nog ʼn wêreldvreemde constitutional lawyer wat dit predik of dalk ’n oudpolitikus wie se politieke nalatenskap op die gewaande oppermag van die Grondwet gebou is of ʼn joernalis met sterre, strooi of iets dergeliks in die oë, wat die oppermagtige grondwetlike geloof bely.

“Oor die afgelope 20 jaar het die Grondwet ver na die agtergrond verskuif en is dit lank nie meer die meesterkonsep van die openbare gesprek nie. Die geloof daarin is as ongegrond bewys en die enkele oënskynlike ketters van weleer was reg en die leërskare van grondwetlike apostels was klaarblyklik verkeerd.”

Elkeen het die keuse: Hy kan bydra tot ʼn versoening en sorg dat menseregte na behore uitgeleef word, of hy kan die nes vir homself, sy kinders en ander help bevuil … en dan ander daarvoor verwyt.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Jan ·

Versoening, klink pragtig, maar waar in die wereld het dit al suksesvol tussen verskillende rasse gewerk. Herman, ek geniet jou artikels elke dag, maar hierdie klink vir my na wensdenkery !

Herman Toerien ·

Jan, daar sal uiteraard nie gevalle wees waar almal met almal versoen het nie, maar daar is wel gevalle van “genoegsame versoening” om sekere prosesse te laat voortgaan. In Nieu-Seeland is sake redelik genormaliseer, terwyl die Maori’s ook ‘n eie kongres (parlement) het asook ‘n aantal gereserveerde setels in die nasionale parlement. Indië het ‘n soortgelyke stelsel vir sy oorspronklike inheemse bevolking. Wat ek probeer sê is dat versoening vergemaklik word as minderhede voel hulle kry ‘n vorm van regte om na hul eie belangte om te sien. Kanada volg iets soortgelyks tov sy inheemse bevolking.
Die belangrike ding is dat ‘n mens moet afvra wat was eerste, die hoender of die eier. Volgens die grondwet hier se bepalings in artikel 235 (selfbebeskikking) sal geen groep territoriale of korporatiewe selfbeskikking kry as hy op ‘n vyandige voet met die regering is nie. Die artikel maak nie eens vir eksterne selfbeskikking voorsiening nie.
My seun woon op ‘n plaas, en in hul omgewing word dit op die hart gedruk om die kanse vir plaasaanvalle te verminder deur bv nie groot bedrae kontant in die huis te hou nie, maar oa ook om op ‘n goeie voet met die plaaswerkers in die omgewing te wees. Dit doen hy. Maar as hy wel aangeval sou word oor iemand anders in die omgewing wat nié die riglyne volg nie, gaan ek waarskynlik vir daardie persoon net so kwaad wees as vir die aanvallers self.

KOWIE ·

HOE KAN JY VIR VERSOENING VRAE , AS HULLE DIE BLANKES SO UIT MOOR EN MISHANDEL . KYK NET BIETJIE TERUG OP AL DIE MOORDE WAT DAAR GEPLEEG WORD DAG VIR DAG .

Rupert Ashford ·

Herman, die nes is reeds vuil. Ek stem dat omsigtig tewerk gegaan moet word, maar verder kan daar nie gekruip en verskoning gevra word nie, dit is vir 20 jaar probeer en ons sit nou met die resultaat. Dis tyd vir aksie, maar slim aksie. Jou waarskuwing oor plaasaanvalle is ook onvanpas en ongevraagd. Pasop…

Vic ·

Om vas te val in die klein dingetjies, soos nasmsverandering, is presies wat hulle wil he. Dit lei die fokus af van die skrikwekkende dinge wat elke dag gebeur. As daar nie slim gedink word nie is die land verlore. Waarom geld mors om te stry teen nasmsverandering as dit in elk geval gaan gebeur. Fokus op veiligheid, onderwys en die skepping van werksgeleenthede vir blankes, en aanhoudende, dringende inligting aan die buiteland met versoeke om sanksies en beleggingsontrekkings as die grondwet nie respekteer word nie.

Arno ·

Dankie vir ‘n insiggewende en gebalanseerde kommentaar. ‘n Paar punte wat opval het my opgeval.
Eerstens, die Grondwet alleen kan ons nie red nie. Dit vat nogtans ‘n wil (van veral regeringskant af) om dit toe te pas. Ek het so ‘n gevoel die ANC sal waarlik die Grondwet verander om hulle te pas as hulle sodanig die geleentheid kry.
Tweedens, die ANC self vertrap die regte van sy eie kiesers — en dit is waarlik tragies!
Derdens, versoening is ‘n werkwoord en rassisme is ‘n mors van tyd en energie… (maar gaan dit ooit in Suid-Afrika verander?).

Leendert van Oostrum ·

Die ANC hoef nie die grondwet te verander om hulle te pas nie.

Hulle ignoreer hom eenvoudig waar dit hulle pas.

En versoeing kom van alle kante:

Die enigste manier wat werklike “versoening” kan geskied is as ALLE burgers waak oor die grondwet en toesien dat die burgerregte van ALMAL afgedwing word. Dit beteken ook dat die outjies wat sonder toilette sit moet toesien dat die regte en vryhede beskerm word van diegene wat die belastings geneer moet genereer wat moet betaal vir die toilette (en die gesondheidsklinieke en die onderwysers ens. ens.)

Maar sulke idees strook nie met die toe-eieningsgesindheid van die Nuwe Demokratiese Revolusie nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.