Nuuskommentaar: Ras, kwotas en die blinde sambok

Die National Football League Foto: chicagonow.com

Die National Football League Foto: chicagonow.com

Dat die Suid-Afrikaanse regering uitsonderlik rasbehep is – tot so ‘n mate dat dit die grens van rassisme toets en selfs onkant speel – is lank nie meer ‘n geheim nie.

Dit kom in verskeie gedaantes, soos pas die kwessie van kwotas in skolesport, en die voorneme dat ras aan die registrasie van grondeienaarskap gekoppel moet word. Nuwe SEB-wetgewing is pas onderteken.

Die ironie is dat rasbeheptheid dan knaend aan die ander kant van die draad gesoek word. Afrikaanse studente se grondwetlike reg op Afrikaanse onderrig word wyd verdink en selfs vertolk as maniere om raseksklusiwiteit te beding.

Sportkwotas is ‘n besonder gevoelige kwessie omdat die meeste groot sportliggame, soos Fifa en die IOK rassisme en regeringsinmenging in sport verbied. En wat anders is regeringsdruk op sportliggame om sekere kwotas, of soos dit eufemisties gestel word, teikens te behaal?

Verskillende kulture gee voorkeur aan verskillende sportsoorte. Om nie van rassisme beskuldig te word nie, word uitsluitlik na voorbeelde in die buiteland gekyk.

In Nieu-Seeland woed al ‘n geruime tyd ‘n lewendige debat of sokker nie eendag rugby as die land se belangrikste sportsoort sal verdring nie, en selfs die voortbestaan van rugby kan bedreig. Terwyl min Kiwi’s die ondenkbare glo dat rugby in die land van die silwer varing sal kan noustrop trek, dui demografiese besonderhede tog op ‘n geleidelike skuif na sokker.

Waar Nieu-Seeland in die sestiger en sewentiger jare van die vorige eeu ‘n ontploffing van immigrasie van die rugbygek Suidsee-eilande beleef het (Auckland word as die grootste Polinesiese stad in die wêreld beskryf), kom baie van die nuwe immigrante uit lande soos Italië, en ook lande soos China, waar rugby nie werklik in dieselfde asem met sokker genoem kan word nie.

Die invloei van immigrante uit Samoa, Fidji en Tonga het as ‘n baie groot hupstoot vir Nieu-Seeland se rugby gekom. In 1999 was ses spelers in die All Black-groep spelers wie se herkoms na die Suidsee-eilande teruggevoer kon word. In 2003 was dit nege, en in 2007 was dit 11. Dit sluit nie die Maori’s in wat ook van Polinesiese herkoms is nie. In ‘n stadium was 15 van die Blues se spelers in hul Super-groep van Suidsee-herkoms.

Die getalle het hoog gebly selfs na ‘n bepaling dat die Super-spanne nie meer as twee buitelandse spelers mag insluit nie. Daar was enersyds reeds “genoeg” Suidsee-spelers wat permanent in Nieu-Seeland gewoon het, of wat die reg om vir die lande van herkoms te speel opgesê het.

Nou het Nieu-Seeland ‘n strategie vir die verowering van die volgende wêreldbeker opgestel waarin die “beste belange” van Suidsee-spelers behoorlik verreken word.

Dit is egter nie net Nieu-Seeland waar Suid-Seespelers gewild is nie. In ‘n onlangse Australiese wetenskaplike studie is bevind dat Suidsee-spelers en Maori’s “erg oorverteenwoordig is in Australiese rugby”. Dit is lank nie meer die dae dat die bekende Willie Ofahengaue (algemeen bekend as Willie O) die enigste Suidseespeler in die Australiese toetsspan was nie.

Maar so lyk die situasie wêreldwyd wat beroepspelers van die Suidsee-eilande betref: die Verenigde Koninkryk en Ierland – 78, Japan – 76, Australiese Super-spanne – 36, Nieu-Seelandse Super-spanne – 60, Italië en Roemenië – 9.

Suidseespelers wat oral ter wêreld toetsrugby speel, lyk soos volg: Tonga – 69, Samoa – 63, Fidji – 66, Nieu-Seeland plus sewes – 40, Japan – 14, Australië – 8, Engeland insluitend sewes – 5, Frankryk – 3, VSA – 2, Wallis – 1, Skotland – 1.

Die prentjie word min of meer herhaal in Rugby League, of te wel die 13-mankode.

Die gegewens vir Amerikaanse voetbal (Gridiron) is ook interessant. Sowat 57 tot 60 persent van die VSA se nasionale kampioenskapspanne is spelers van kleur. Dit sluit onder meer die van Latyns-Amerikaanse herkoms in. ‘n Interessante feit is egter dat byna 2% van die spelers in hierdie liga van Amerikaans-Samoaanse herkoms is, en dus ook uit die Suidsee-eilande afkomstig. Dit is moeilik om te bepaal hoeveel mense van Amerikaans-Samoa woon in die VSA omdat hulle gewoonlik saam met die Samoane van die ander Samoaanse eilande getel word. Hierdie Samoane maak saam sowat een uit elke 200 000 van die VSA se inwoners uit, maar ‘n deel hiervan maak byna 2% van die top voetbalspelers uit!

Hierteenoor was net 4% van die VSA se studente-bofbalspan wat aan die studente-wêreldkampioenskap deelgeneem het swart, ‘n getal wat steeds afneem. Daarteenoor is sowat 80% van die land se top-basketbalspelers swart – merkwaardig as in ag geneem word dat die eerste swart speler eers in 1947 in die top-liga begin speel het.

Een van die redes wat aangegee word waarom kwotas/teikens in Suid-Afrikaanse sportsoorte gestel word, is om te sorg dat Suid-Afrika in verskillende sportsoorte mededingend bly. ‘n Suiwer numeriese benadering word gevolg dat die aandeel van wit, bruin en Indiërspelers in die bevolkingsamestelling te min is om die land in sportsoorte waarin hierdie groepe goed verteenwoordig is, mededingend te hou.

Ander lande, so lyk dit, probeer hierdie “probleem” oorkom deur juis spelers uit sekere groepe of lande te trek om sekere swakhede in eie geledere uit te skakel. In die VSA is byvoorbeeld wyd gespog oor hoe verteenwoordigend sy sokkerspan na die wêreldbekereindtoernooi was, nie net van groepe in die VSA nie maar ook van buitelandse nasionaliteite. Volgens die literatuur stel baie top-Europese rugbyklubs dit openlik as beleid om minstens een Suidsee-speler as vleuel in hul span te hê.

Daar kan geen probleem mee gevind word om die binnelandse talentpoel vir verskillende sportsoorte optimaal te ontwikkel nie. Of kwotas die ding gaan doen sonder dat daar behoorlike geriewe en afrigting van skoolvlak af is, is ‘n ander vraag. Hoe kan verwag word dat skool op skool wat net oor twee doelhokke met ‘n min of meer skoongeskraapte stuk grond tussenin Springbok-rugbyspelers oplewer? Veral as die onnies saam met die huistoegaanklok verkas en nie belangstel om sport af te rig nie? Is hier nie ‘n yslike braakveld om te ontgin nie?

Die beskikbaarheid al dan nie van geriewe en afrigters op skoolvlak is ook nie die volle prentjie nie, want dit sou nie die “oorverteenwoordiging” van swart atlete in veral landloop en veldwedlope kon verklaar nie. Dan sou Ethiopië en Kenia ook nie so uitstekende langasems opgelewer het nie, want die geriewe steek erg af by baie lande wat hulle onder die stof hardloop.

Presies hoe word plaaslike talent ontwikkel as “kwotaspelers” boonop uit ander lande gewerf word?

Is die weglating van die beter speler weens sy velkleur ten koste van die minder goeie speler sport of politiek? Juis hierom het van die land se voorste swart en bruin spelers al heftig beswaar gemaak oor hulle deur die politici as kwotaspelers voorgehou word – asof hulle die hoogste sport nie op meriete sou haal nie. Die politici was skoon haaks met hierdie spelers hieroor.

Een van die redes waarom daar op kwotas aangedring word, is dat te veel spelers van kleur “verdwyn” wanneer hulle die senior vlakke moet betree. Sake soos kulturele, sosio-ekonomiese en selfs faktore soos laat-ontwikkeling speel hierin ‘n rol, as na die verskillende studies hieroor gekyk word. Dit is egter besonder moeilik om enige van hierdie faktore aan te spreek sonder om politiek-korrek erg onkant te speel.

Iets wat egter gereeld genoem word in rugby, is die “beheptheid met grootte,” onder meer iets wat gereeld voor die huidige Springbok-afrigter Heyneke Meyer se kop geslinger word. Die stief behandeling wat Heinrich Brüssow glo te beurt val by Meyer, word gereeld daaraan toegeskryf dat hy nie wat grootte betref met Meyer se voorkeurkandidate kan saamgesels nie. Maar dit raak verskeie bekende bruin spelers, soos die kwiksilwer Gio Aplon se stryd om ‘n Bok te word en te bly, terwyl die belowende opkomende Cheslin Kolbe se gebrek aan grootte by voorbaat as probleem genoem word.

Uiteindelik staan twee kwessies uit. Die eerste is dat ‘n mens beswaarlik nie-rassig en erg rasbehep tegelyk kan wees. Moet dus nie ras by alles insleep en dan iemand met ‘n IK bo twee probeer oortuig dis nie-rassig nie.

Die tweede aspek is dat Suid-Afrika hom moet ophou verbeel dat die internasionale sportkodes se verbod op regeringsinmenging in sport vir almal behalwe Suid-Afrika geld. Kenia was al hieroor uit Fifa geskors, en Nigerië moes vinnig sy inmenging staak om skorsing na die wêreldbekereindtoernooi in Suid-Afrika vry te spring. Iran en Griekeland is van die ander lande wat geskors was. Die Suid-Afrikaanse Rugbyraad is reeds tevore verkla wat ‘n geskarrel afgegee het.

Daar is bepaald ander maniere om sportontwikkeling só te laat geskied dat onontginde talent ontdek en ontwikkel kan word – soos om die peperduur partytjies te los en die geld te gebruik vir die skep van geriewe en geleenthede. Hierdie onontginde spelers gaan nie net onder swart en bruin gemeenskappe aangetref word nie – ‘n mens kan maar net wonder hoeveel klein Barry Richards’e is daar in Afrikaanse skole wat nie krieket as sportsoort aanbied nie. Of Ryk Neethlings in skole wat nie swembaddens het nie. Of potensiële tennissterre waar wat eens tennisbane was, as parkeerplek gebruik word.

Sorg dat die openbare uitsaaier die sportsoorte wat nog agter die “teikens” is genoegsaam uitsaai sodat die teikengemeenskappe daaraan blootgestel word. Tref binne die sportliggame maatreëls om te keer dat ryker bonde bloot hul “kwotaspelers” by ander bonde wat wel hierdie spelers ontwikkel, opkoop, en wel genoeg aandag aan eie spelerontwikkeling spandeer.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Sarie ·

Wat my gister opgeval het was hoe laag Suid-Afrika op die prestasielys van die Statebondspele gele het.

Chris Byleveld ·

Dit bly my verbyster dat geen woord oor verteenwoordigendheid in SA sokker gerep word nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.