Nuuskommentaar: SA kwesbaarheid al dan nie teen Covid-19

(Foto: Lee Jin-man/AP)

Hoe gevaarlik is die koronavirus wat Covid-19 veroorsaak, en wat is die virus se potensiaal in Suid-Afrika as dit sou “ontsnap” en onder die bevolking begin versprei? En hoe lank nog voor ’n teenmiddel ontwikkel is?

Presies hoe gevaarlik is Covid-19, en hoe gevaarlik sal dit in Suid-Afrika wees, noudat die eerste geval hier bevestig is? Wetenskaplikes bereken die gemiddelde sterftekoers weens hierdie nuwe korona-mutasie as 2,5%, wat hoog is in vergelyking met die 1% van griep, maar laag is teenoor die 10% van ander korona-mutasies soos MERS en SARS. Dit het egter gou geblyk dat die Covid-19-weergawe wat in lande soos China, Suid-Korea en België paniek saai, veral ouer mense, mense met kanker, tuberkulose en MIV kwesbaarder maak.

Die voorkoms van vigs in Suid-Afrika, wat volgens sommige bronne die grootste ter wêreld is, en waar 2 000 volwasse vroue per week met MIV besmet raak, maak Suid-Afrika dus betreklik kwesbaar. In 2018 het volgens ’n regeringsadvertensie 7,7 miljoen mense in Suid-Afrika met MIV geleef.

Voeg hierby die snelle verspreiding van Covid-19 oor die wêreld, en dit lyk of dit net ’n kwessie van tyd is voor Covid-19, vigs en tuberkulose mekaar in Suid-Afrika gaan begin beïnvloed. Dit is egter ook duidelik dat baie media baie omsigtig met hierdie voorspooksel omgaan, waarskynlik om nie onnodige paniek te veroorsaak nie, maar dit na ’n politiek korrekte sensitiwiteit laat klink om nie tot die vooroordele teen MIV/vigs-slagoffers by te dra nie.

Gelukkig word Covid-19 nie deur water en die atmosfeer oorgedra nie, maar deur persoonlike kontak, wat die kans op besmetting verminder. Weke nadat Covid-19 sy naam gekry het, neig sommige publikasies en die uitsaaimedia oor die wêreld om steeds na die nuwe koronavirus as dié koronavirus te verwys, in plaas van na die amptelike naam wat dit ondertussen gekry het. Streng gesproke is dit misleidend, omdat ook sekere verkoues deur die koronavirus veroorsaak word. Die virus ondergaan periodiek mutasies wat dan ’n ander “nuwe koronavirus” veroorsaak en so genoem word tot die mutasie sy eie naam kry. Onder die vorige gevaarlike mutasies tel MERS en SARS.

Griepvirusse is bekende mutasies, wat elke jaar by mense ’n nuwe mutasie oplewer, en waarvoor daar jaarliks ’n nuwe teenmiddel ontwikkel word, waarvoor mense ingeënt kan word. Die nuwe griepinenting sal volgens ’n apteker oor minder as twee weke beskikbaar wees, en weens die teenwoordigheid van Covid-19 baie belangrik wees.

Bykomende soorte griep het ook deur mutasies ontstaan, soos voëlgriep en varkgriep. Die koronavirusse kan ook, soos griep, spesiegrense oorskry. Tot ’n nuutaangetaste spesie hom teen weerstandigheid vasloop, kan dit baie dodelik wees, soos toe ’n mutasie van katgriep in staat gestel is om honde aan te val. Die 2009-varkgriep het die mediese wetenskap onkant betrap, en moontlik tot ’n halfmiljoen menselewens geëis. Aanvanklik het honde wat katgriep opgedoen het weens ’n gebrek aan weerstandigheid byna almal omgekom. Dit het boonop tyd gevat voor ’n teenmiddel ontwikkel is.

Met griep is die doeltreffendheid van teenmiddels in “goeie jare” sowat 60%, maar in “swak jare” ongeveer 10%. ’n Paar jaar gelede het navorsers in Nederland met regeringsteun begin om ’n universele griepmiddel te probeer ontwikkel. Vandag word die navorsing ook wêreldwyd gedoen. Juis weens die onstabiliteit sal so ’n proses aanvanklik nie al die mutasies op een slag kan voorkom nie. Sedert 2008 en 2009 is daar gelukkig ’n aantal teenliggaampies by mense ontdek wat ’n breë spektrum griepvirusse teenwerk. Nadat besef is waarna om te soek, is nog heelwat gevind.

Tans toon navorsingsprogramme belowende tekens vir die ontwikkeling van ’n universele teenmiddel teen griep. Dit is 100 jaar sedert die uitbreek van die Spaanse Griep wat die lewe van ongeveer 50 miljoen mense geëis het. Maar dit moet nog gesien word of hierdie navorsing uiteindelik die breë basis beskerming gaan bied wat gesoek word.

’n Doeltreffende teenmiddel of teenmiddels teen Covid-19, waarvoor navorsing in verskillende lande gedoen word, word binnekort verwag, maar veel meer navorsing is nodig om alle bestaande en toekomstige mutasies met ’n universele middel te kan hokslaan.

Weens ’n gebrek aan ruimte kan nie in detail ingegaan word oor voorsorgmaatreëls wat nou aangebied word nie. Die skakels na spiksplinternuwe voorstelle word egter verskaf.

  1. Lees gerus hier: “What really works to keep coronavirus away? 4 questions answered by a public health professional.”
  2. Die wetenskap-redakteur van De Standaard het vyf artikels en ’n potgooi oor die siekte versamel wat wydlopend aspekte daarvan hanteer. Lees gerus hier, hier , hier, hier, en luister die potgooi hier. Vrae soos hoe met die entstof gevorder word, word bespreek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anel ·

En so word die bevolking op ‘n “natuurlike wyse” beheer.

Werner ·

Dink nie as die virus sou ontsnap nie hoeveel mense is nie klaar aangesteek deur daai persoon nie en ek glo nie dit is die eenigste geval nie glo die virus is al goed los hier in SA

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.