Nuuskommentaar: Skop internasionale isolasie van apartheidsjare nou eers in?

Argieffoto

Argieffoto

Sondagoggende op RSG is daar ’n kompetisie waar studentespanne met algemene kennis en spelling teen mekaar meeding. Die spêling is dukwels mar frôt, maar dis die algemene kennis, of gebrek daaraan, wat die oë ook laat rek.

Hierdie Sondag was die slotvraag wie die president van Kenia is. Die aanbieder help en sê wat die voornaam, wat uit ʼn Afrikataal kom, in Afrikaans beteken. Die een span weet, en druk die knoppie: “Goodluck Jonathan” kom die brawe, maar verkeerde antwoord. Van wanneer af is Engels ʼn Afrikataal? I’d rather say not, old chap.

Die span van die ander universiteit het glad nie ’n raaiskoot gewaag nie.

Dis nie asof pres. Uhuru Kenyatta nie die afgelope ruk taamlik in die nuus was nie – soos sy verskyning voor die Internasionale Strafhof in Den Haag.

Bedoeld of onbedoeld, sit Suid-Afrika nou weer met eier in die gesig oor ’n kwessie wat pres. Jacob Zuma raak. Na berig word het Zuma op die laaste nippertjie ’n besoek aan Engeland gekanselleer nadat die Britse premier, David Cameron, aangedui het dat hy Zuma nie (meer) te woord kan staan nie, en deur die vise-premier ontmoet sou word. Maar baie mense, wat ’n idee het hoe Zuma se beeld oorsee lyk, sal die kop skud dat Brand (soos in “brênd”) SA in die eerste plek op Zuma as hoofspreker by die innovaBRICS besluit het. Ja, daar kan aanvaar word dat Zuma streng by die toespraak sou hou wat vir hom voorberei is, maar talle uitlatings en optredes tevore het reeds groot skade aangerig. Pas het die Zuma-administrasie weer skandes gemaak met die rits medaljes wat aan die spartelende polisiekommissaris Riyah Phiyega toegeken is (en sy klaarblyklik aanvaar het).

Sou Brand SA nie weet nie? Of onder “holisties dink” iets verstaan soos dat ’n mens met ʼn sekere deel van sy anatomie dink?

Voor die medium-termynbegroting gelewer is, het Cosatu die minister aangemoedig om hom nie te steur aan wat kredietagentskappe oor Suid-Afrika sê nie. Weet Cosatu regtig nie wat in die internasionale ekonomiese wêreld aangaan en dat so ’n stap Suid-Afrika deur beide voete en sy holisties sou skiet nie?

Kort-kort bepleit Suid-Afrikaners ʼn “tweepartystelsel” soos die VSA, sonder om te besef hoe die ganse politieke bedelings tussen Suid-Afrika en die VSA verskil. Die VSA se kongreslede is nie koukusgebonde soos hier nie, en doen aan hul kiesafdelings verantwoording, nie hul partye nie. Verskillende politieke benaderings soos die Tea Party en die Christian Coalition of America werk op ’n stelsel van steun aan bepaalde kandidate om hul ideologie verteenwoordig te kry, iets wat in Suid-Afrika ondenkbaar is weens die endemiese karakter van korrupsie. Hier word selfs die identiteit van donateurs aan partye geheim gehou, wat sinspeel op die koop van invloed.

Moderne tegnologie maak van die wêreld ’n neutedop. ’n Bom in Boston is kort daarna in bykans elke sitkamer in Suid-Afrika te siene. Danksy e-pos en Skype kommunikeer baie Suid-Afrikaners gereeld met mense in die buiteland – ook deesdae familie.

Tog, so lyk dit, tree daar tog ’n mate van kennis-isolasie in. In die sosiologie is dit nie onbekend nie – terwyl ons met iemand in Alaska korrespondeer, druk ons die oë en ore bottoe vir die swaarkry in die huis net anderkant die ringmuur om ons huis. Ons maak ons eie wêreldjie om ons bitterlik klein.

Dit maak ons maklike teikens van politieke propaganda, en so goed toegerus soos die huiskat daarvoor, gaan staan ons in die toue om ons kruisie te trek.

Miskien leef ons ook in die era waar ons verkies om in ’n sepie-wêreld, met af en toe “realiteitsreekse” te leef, en die verskillende fasette van die werklike lewe, soos die opvoeding van ons kinders, die instandhouding van die werklike geskiedenis, ons burgerskap en ander aspekte aan ander te “delegeer”.

Tydens die hoogtepunt van internasionale isolasie in die apartheidsjare was name soos Joop den Uyl, Olaf Palme, Leabua Jonathan, Kenneth Kaunda, Pierre Trudeau huishoudelike name. Keer nou iemand op straat voor en vra wie die regeringsleiers van Lesotho, Zambië, Nederland, Swede en Kanada is, en dit gaan lol.

Hoe is dit moontlik dat, na die opheffing van internasionale isolasie, en met moderne kommunikasie soos e-pos en slimfone, die “mentaliteit” van die land skynbaar in ’n al nouerwordende kokon vasgespin word?

Of is dit bloot ’n herhaling van ʼn vorige generasie wat meen die jonges is darem treurig omdat hulle nie die twaalf maal tafels op die punte van hul vingers ken nie, en nie meer hoofrekene kan doen nie? En hoofrekene is juis nou soveel makliker deurdat nie meer in ponde, sjielings en pennies gewerk word nie, maar die desimale rande? Om nie van ponde en onse in die gewigsmate te praat nie. Vra ’n jonge, en hy pluk ʼn sakrekenaartjie uit en doen gou-gou die som.

Nou kan die jong persoon haas enige vraag gevra word, en hy ruk sy slimfoon uit, en as die netwerk werk, het hy kort voor lank die antwoord. Mits sy spelling darem só is dat hy die regte spelling vir sy Google-soektog ingetik kry.

Die wêreld beleef ʼn inligtingsontploffing. Volgens Buckminster Fuller het die wêreld se kennis tot 1900 elke eeu verdubbel. Na die Tweede Wêreldoorlog elke 25 jaar, en nou verdubbel dit elke 12 maande, en dit sal binnekort elke twaalf uur verdubbel. Baie hiervan is uiteraard gespesialiseerde inligting, soos nanotegnologie. Die internet huisves na raming sowat 5 miljoen terabytes, waarvan ongeveer 0,004% deur Google geïndekseer is.

Omstandighede hét baie verander, maar dit sou tog ’n skrille ironie wees as juis daardie generasie wat die meeste internasionaal geïsoleer was, veel beter in staat was om met parate kennis na wêreldgebeure te kyk as ’n generasie wat virtueel in die hele wêreld kan leef.

Trouens, in die isolasiejare is dikwels gespot oor die manne in die kroeg wat na ʼn paar kappe so slim raak dat hulle na urelange ontleding van feite al die wêreld se probleme kon oplos. Al was die een been om die kroegstoeltjie se poot gevleg om te keer dat die sitter nie aftuimel nie. Die groot probleem was dat niemand die volgende oggend kon onthou wat daardie oplossings was nie.

Met parate kennis verstaan ’n mens daardie kennis waaroor iemand oor beskik om sy daaglikse lewe te lei, sy werk te doen, te kan ontspan, om sinvol aan ’n verkiesing te gaan deelneem, en om nie om elke hoek en draai weens onkunde met die gereg te bots nie.

In ’n kenniswêreld is dit nodig dat behoorlik strategies gedink kan word om te oorleef en vooruit te kan kom. Sonder strategiese denke sou die Solidariteit Beweging, en ’n instelling soos Akademia, nooit op die monteertafel beland het nie. ’n Mens sidder om te dink wat die posisie van minderhede (en ander) in die land sou wees daarsonder.

Maar vir strategiese denke is dit nodig dat genoeg deelnemers genoeg inligting in die kop (paraat) moet hê, sodat die deelnemers elkeen individueel daardie inligting behoorlik in hul koppe kan integreer. Dan is die dinkskrum sinvol met wat ons ken as briljante idees, wat kollektief verder uitgebou word.

Al het ons nou die wonderlikste rekenaars en die wonderlikste netwerke in die wêreld, niks kom op die oomblik nog by die menslike brein as dit by die ontleding van algemene inligting kom nie.

Jeff Lichtman van Harvard is besig om die ganse menslike brein te katalogiseer. Hy meen daarvoor is datastoorplek van verskeie miljarde petabytes nodig. (Slegs twee petabytes is genoeg om al die inligting in die VSA se akademiese biblioteke saam te stoor).

Indien deelnemers by ʼn strategiese werkwinkel elke keer eers die elektronika moet raadpleeg as ’n naam, soos Riah Phiyega, of enige ander besonderheid opduik, om te kyk wie dit is, en hoekom haar naam ’n sekere reaksie ontlok, gaan só ’n werkwinkel oneindig lank duur om tot sekere basiese gevolgtrekkings te kom.

Om strategiese besluite sonder die nodige parate inligting te neem, is uiteraard nie nuut nie. Met hoeveel sogenaamde apartheidsbesluite het die ding nie eers in die drinkwater beland voor die slimjanne die hulp van etnoloë, soos die legendariese oom Wymie ingeroep het, wat dadelik kon sê waar die situasie verkeerd gelees is, en dan nog kan uitgaan en die skade te herstel nie? Dikwels was die mense met die meeste en beste parate kennis nie die mense met die mees gevorderde kwalifikasies nie (gewoonlik omdat hulle nooit die geleentheid gehad het nie).

Die era van wandelende ensiklopedieë is miskien aan die verbygaan. Miskien nie omdat hulle nie meer bestaan nie, maar omdat nie belanggestel word om hulle te hoor nie.

En intussen word die land nie op sy allerbriljantste geregeer nie. Volstruispolitiek is juis die gevolg van wanneer die besluitnemer net weet van dit wat hy met sy kop in die gat sien.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Pietsnot ·

Briljant, Herman.
Wonder net of meer as 10 mense verder gelees het as die 2de paragraa… ag, whatever.

catryn ·

Goeie artikel, maar nee, dit het niks met apartheid en destydse isolasie te doen nie. Herman Toerien

Gedurende Apartheid was dit uitstaande: Kennis is MAG. Niemand kon dit wat jy geleer het om ‘n sukses van jou lewe te maak, wegneem nie. Dis die trots binne jouself. Dis wat ons ons kinders behoort te leer.

Hierdie wat jy skryf:

Dis pleinweg KOMMUNISME. Kommunisme takel alles af: Dienste, Onderrig, Ekonomie, maatskaplik, finansieel, selfbeeld, letterlik alles, Dit verswak jou lewe, die rondom jou, jou hele volk.

Met kommunisme is onderrig op zero vordering gebasseer, gebrek aan die swak onderrigstelsels wat na 1994 geimplimenteer is.

Baie Afrikaners en blankes besef nie ons is reeds vanaf 1994 in die WURGgreep van kommunisme nie, dit wat ons op die grense beveg het, is vandag binne ons midde en ons nageslag moet “armer op opvoedingsvlak” raak, sodat kommunisme kan seevier. Dus hardloop hulle stroom af, en besef nie hoe slaafs hulle kommunisme najaag nie. Dit is wat slawe maak, hulle volg hul meesters van kommunisme.

George Soros se “Open Society Foundation SA” speel ‘n groot rol hierin – nie net in SA nie. Gaan lees gerus ook die kommunistiese oosbloklande se swak onderrig waardeur hulle vir dekades gegaan het, dit was bv in Romenia en ander lande so swak dat baie nie eers hul naam kon teken nie.

Inteendeel was daar duisende anderskleuriges (leiers ook) wat selfs in apartheid in “isolasie” regtig studeer het en kwalifikasies behaal het, het al self heelwat van hulle opgelees en op internet gekry.
http://politicsweb.co.za/politicsweb/view/politicsweb/en/page71619?oid=323686&sn=Detail&pid=71619

Drieks ·

Erg om in te neem. Ek het nog altyd gewens ek kan as ek dood gaan elke 25 jaar net kom loer wat gaan op die aarde aan. Maar as dit nou elke 12 maande verander, sal ek lewend moet bly om dit te bly beleef. Gelukkig, is die ANC maar dam stadig met hul denke. Of nee, ongelukkig vir ons goeie burgers.

Dr Pieter van der Dussen ·

Graag betuig ek waardering vir die kommentaarstukke van Herman Toerien. Dit is deurgaans in taalgebruik, inhoud en insig van die hoogste gehalte. Ek weet uit eie ervaring wat dit kos om deurlopend die aandag van lesers te behou oor sake waarvoor hulle nie die tyd het om te beoordeel nie. Ook hierdie stuk is goed deurdink en nugter en beredeneerd.
As ek mag, meneer Toerien: U maak ‘n fout en dit is dat daar sogenaamde isolasie in die vorige bedeling was. Ek was van 1965 tot 1970 student in Rotterdam. Hoewel die veldtog teen ons daardie tyd vanuit Londen (let wel: Londen, nie Moskou nie) tot histeriese hoogtes gevoer is, het ek geen probleem gehad om my studie aldaar te voltooi nie. Daarna was ek nog drie keer in Europa. In 1974/75 het ek Wes-Europa drie maande lank deurreis in verband met die gasarbeidertoestand en orals vriendelikheid ervaar. In 1986 en 1988 is ek genooi om voordragte op internasionale konferensies oor energiesake te hou. Destyds is ek ook in “geleerde” kringe alhier verseker hoe geisoleerd ons is. Daarvan het ek niks agtergekom nie. selfs nie met ‘n besoek aan Oos-Berlyn nie.
Natuurlik was daar spanning. Maar was ons (trouens die hele wereld) ooit sedert die sondeval sonder spanning? Waar het ons volk ooit groter spanning beleef as rondom die twee eeuwendinge van 1800 en 1900 – en die sestigerjare? Maar daardie tye het daar leiers na vore gekom – leiers in die ware sin en nie die soort van leiers wat Giliomee uitwys nie, wat in hulle eie posisie en belang opgetree en hulle sogenaamde leierskap daarvoor ingespan het deur dreigemente tot krisispunt op te jaag en die volk tot oorgawe te verlei.
Let wel: Ek se leiers het NA VORE GEKOM. Stadigaan kom hulle nou ook na vore, al is dit nog op die vlak van klein(?) dinge soos privaatonderwys in eie skole en tuis. Wie sal die dag van klein dinge verag? So word die toekomstige leiers opgevoed, grootgemaak. Daarom dat die Kommunistiese regime soos ‘n groot valk die onderwys as sy groot toekomstige gevaar hanteer. Ek het ‘n studiestuk daaroor opgestel wat ek wyd uitgestuur het. Die redaksie van Die Groot Debat het verduidelik dat dit by hulle nerens inpas nie. Dit is op aanvraag by [email protected] beskikbaar – gratis.

herrie ·

Dankie dr. Van Dussen
Heel toevallig het ek vanoggend ‘n e-pos uit Nederland gekry waarin die skrywer na die universiteitsboikot wat in 1976 gebin het. Dit was toevallig die jaar waarin ek self ‘n uitruilstudent daar was. My pa, wat toe president van die Internasionale Anatomie-verenging was, moes in 1977 ‘n spesiale visum kry om die internasionale kongres in Japan te kon bywoon. Hy sou onderweg ‘n kongres in New York toespreek, maar is met sy aankoms daar op die lughawe oorlede.
My argument is egter juis dat die pogings om ons destyds te isoleer nie toe baie suksesvol was nie. Ek kan bv self onthou hoe dikwels iemand soos Kenneth Kaunda toe op TV was – veel meer as wat die huidige president, of selfs die groot skandemaker in Zim, Robert Mugabe nou hier op TV is.
Baie van die destydse buitelandse leiers, soos Den Uyl, Palm ens was natuurlik om die verkeerde redes so in die nuus. Ek onthou nog minsens een Den Uyl-grappie uit daardie era.
Ek besef die hele kwessie is kompleks. Koerante het ie probleem dat die mense wat in buitelandse nuus belangstel, dit gewoonlik al regstreeks op die internet kon lees lank voor die koerant hir beskikbaar is.
Maar tog, ek dink steeds die buiteland se belang vir ons word dikwels onderskat, en ja, selfs “afgeskaf” as koerante te veel sterk plaaslike nuus het. Op 4 Nov hou die VSA bv hul uiters belangrike mid-termynverkiesings, en hier sien of hoor mens baie selde of ooit its daarvan. Objektief is dit belangriker as die verkiesing wat met die presidentsverkiesing saamval.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.