Nuuskommentaar: Solidariteit versus regering oor rassisme

verenigde-nasiesDie klag van rassisme wat Solidariteit en AfriForum by die VN se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie teen die Suid-Afrikaanse regering gelê het, geskied teen die agtergrond van ’n internasionale dekor wat verander het. Die beeld van die Suid-Afrikaanse regering is wyd erg gekneus, en daar is nuwe beskouings oor presies wat rassisme is – wat weer sake vir Solidariteit en AfriForum kan bemoeilik. Hoe gouer die kwessie uitgepluis en opgerol word, hoe beter.

In die verlede, wanneer die regering voor VN-liggame verkla is oor diskriminerende optrede teen minderhede, het diplomate van Suid-Afrika probeer om te keer dat die klaers, waaronder die Vryheidsfront Plus en AfriForum, hoegenaamd spreekbeurte kry.

Nou het die groot oomblik van waarheid aangebreek, met Solidariteit en AfriForum wat die regering weens rassisme by die VN se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie verkla het. Dié bewegings het dit gedoen deur ’n skaduverslag op die regering se eie verslag oor “vordering” met die uitwissing daarvan op te stel.

Daar was ook mondelinge vrae en antwoorde. Die regering sal na verwagting vandag reageer.

Die verrigtinge geskied egter nie net teen die agtergrond van bekende sake, soos die Renate Barnard-saak en die Solidariteit-DKD-saak nie, maar ’n stortvloed ras-gelaaide opmerkings van pres. Jacob Zuma oor ’n tydperk van meer as ’n jaar wat hom ’n paar klagtes van haatspraak by die Menseregtekommissie op die lyf laat loop het.

Tog gee die regering deurgaans voor as sou hy op die voorpunt staan van die bekamping van rassisme, en veral wit individue wat hulle aan rassistiese uitsprake skuldig gemaak het word tot by oom Daantjie in die kalwerhok, en anderkant uit gery. Daar is duidelike tekens van ras-onewehandigheid.

Kort-kort word gehoor dat swart mense per definisie nie rassiste kan wees nie.

Ander ervaar so ’n aanspraak juis weer as rassisties. Hierdie opvatting het minstens ten dele sy herkoms by die Frans-Karibiese geweldsfilosoof Franz Fanon, wie se leerstelling onder meer via Steve Biko in Suid-Afrika kom nesskop het. Die kwessie is swaar gelaai met politieke korrektheid.

Die bekende menseregteaktivis Rhoda Kadalie het egter by geleentheid in ’n koerantrubriek geskryf dat politieke korrektheid die diktatuur van die liberalis is.

Dit lyk egter of daar ’n nuwe dinamika oor rassisme, of dan nie-rassigheid, in die VSA beslag kry en na Suid-Afrika oorspoel. Dis ’n gevaarlike opvatting en die vorming van ’n kleed van politieke korrektheid daaromheen moet gou kortgeknip word.

Daar is ’n klein aanloop.

Pas het die ekonoom Peter Morici in Fox News geskryf: “Niemand kan meer eerlik praat sonder dat hy as rassis, seksis, as homofobies of bloot onsensitief uitgeskel en in die groot koerante geslag word nie.”

Patrik Jonsson neem in die Christian Science Monitor een van hierdie kwessies, ras, onder die loep onder die opskrif “Beyond a ‘colorblind’ America, a new deal”.

En wat hy skryf, klink ongelooflik baie na wat in Suid-Afrika aan die gang is. Dit is ’n ellelange artikel en kan dalk opgesom word as nuwe denke onder swart Amerikaners dat nie-rassigheid net behaal kan word deur baie rasbewus te wees. Wit mense wat al lank in hul eie oë nie-rassig leef deur sonder die kleurbril deur die lewe te gaan, kom erg onder skoot.

En ja, reparasie, in hierdie geval weens onder meer slawerny, kom by minstens een van die swartbewussynsgroepe ter sprake. Vir ’n wit mens om kleurblind te wees, beteken hy vergeet die onregte van die verlede en wil net skuldloos na die toekoms aanbeweeg.

Kritici meen wit mense word eintlik gedwing om rasbehep te wees om as nie-rassig gekwalifiseer te kan word.

En ja, die opkoms van Donald Trump word tot ’n groot mate toegeskryf aan ’n weerstandigheid onder wit mense om tog so rassensitief, maar tog rasbewus, te wees om nie as rassiste verguis te word nie.

’n Groot deel van hierdie dinamika kan ook in Suid-Afrika gesien word waar talle, waaronder pres. Jacob Zuma, die rassetamboer knaend hard moker – so hard dat hy al ’n paar keer by die Menseregtekommissie verkla is, maar tog meen hy bevind hom in die nie-rassistiese kamp. Sy party voer die een rasdiskriminerende wet na die ander in, sonder selfs ’n sweempie van ’n sonsondergangklousule, en meen op die een of ander manier dis nie rassisties nie. Noem dit net “transformasie” en alle negatiewe, rasse- en rassistiese aspekte word per se “nie-rassig.”

Die Menseregtekommissie staan sterk onder verdenking dat dit ras-onewehandig optree.

In Suid-Afrika het ’n norm vir politieke korrektheid, of eerder politieke inkorrektheid, eers ontwikkel, en nou word probeer om dit statutêr vas te lê. Maar dit staan volgens kritici te veel in die dampkring van die opvatting dat swart mense per definisie nie rassisties kan wees nie.

Watter benadering gaan die VN-komitee volg (dit kan natuurlik verdeeld ook hieroor wees)? Een waar nie-rassigheid  verstaan word as nie-rassig soos wat Solidariteit argumenteer, of dat nie-rassigheid net moontlik is deur ’n hoë mate van rasbewustheid wat byvoorbeeld aan restitusie en boetedoening gekoppel kan word?

Dit lyk in elk geval nie of die Suid-Afrikaanse regering nog in die buiteland outomaties die morele hoë grond beklee nie, veral nie sedert Zuma as wandelende verleentheid president geword het nie. Volksblad en Beeld beskou dit in ’n gedeelde hoofartikel soos volg:

“By die lees van die internasionale reaksies (ook die pas-afgelope munisipale verkiesing) is dit duidelik dat die ANC se wittebroodsdae verby is. In die buiteland word die ANC gesien as ’n hopeloos ondoeltreffende, korrupte party waarvan die meeste leiers in die politiek is om hul eie beursies te vul.

“Daar kan aanvaar word dat die internasionale media se ontledings deur die regerings gedeel word. As sodanig moet die ANC aanvaar dat hy nie meer op spesiale gunste aanspraak kan maak nie. Die era van realpolitiek is hier.”

Wanneer gepleit word dat ons nie die slagoffers van politieke korrektheid hoef te wees nie, word allermins beoog dat haatspraak deur wit mense toelaatbaar moet wees om haatspraak deur swart mense te balanseer. Nee, dit MOET eenvoudig ewehandig hanteer word, anders gaan die probleem nie opgelos word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Loeis ·

Dit moes, maar hierdie is ‘n lywige proses, en Solidariteit het baie teenstand vanaf die regering gekry. Maar dit klink asof Solidariteit besig is om te wen.

Terloops, net verlede week het die meerderheid mense vir partye gestem wat rassekwotas ondersteun. Dit lyk asof mense, ook diegene wie onder die beleid ly, heeltemaal gelukkig met die beleid is.

Wicus ·

Dankie Herman vir ‘n ewewigtige stuk. Ek stem, die spelreëls moet dieselfde vir almal wees ongeag ras, geloof, geslag, stand, regeringsamp, ………., twee verkeerdes maak nie een regte een nie (wat is ‘n mooi Afrikaanse uitdrukking daarvoor?) Ons moet die saak internasionaal dryf en dryf en dryf!

Twee sake pla my egter, die wat die reëls maak en die stilswye van die middelklas waar daar min van die probleme is. In my lewensruimte ondervind ek welwillentheid, saam werk, saam lag, dieselfde frustrasies. Lyk my die probleem is by die politici en die werklose massa.

Theuns ·

Herman nog ‘n kolskoot! Jy se dit nie maar ek wonder of die situasie in hierdie land ooit sal regkom? Net om deur om jou rond te kyk sien jy verval rondom jou en ‘n absolute verontagsaming van etiket en goeie maniere! Papiere, oorskiet kos en bottles/blikke word sommer by Taxi en motor vensters uitgegooi! Onlangs was daar ‘n bierfees by die Botaniese tuine in Pta. Wat het van die grasperke en blomme geword? Gister was daar die samekoms van vroue by die Unie Geboue. Die grasperke en blomtuine het verwyn? Ek wonder hoe lyk dit binne in die geboue? Werk die toilette en Rommel verwydering nog? As jy kyk hoe lyk Nkandla waar Zuma bly kan jy maar net jou hande saamslaan! Nou kan jy met reg vra wat het dit te doen met vergadering tussen AfriForum/Solidariteit en die Regering? Alles want die domste kaders regeer ons en word gestuur om die Regering se saak te stel? Swak bestuur slaan orals uit en ook in die omgewing! Voor die Stemmery het Zuma weer sy danspassies uitgehaal asook sy gevolg? Terwyl almal voorentoe sloeg loop, word die kom links voorentoe gedraai en die linker arm opgeswaai voor die oe in en dan word die storie herhaal. Nou wonder ek maar net is dit uit skaamte uit?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.