Nuuskommentaar: Spook Kodesa-flaters nou met verkiesing-sêdinge?

Ace Magashule. Foto: ANC

“Moenie die ANC straf vir die foute van sy leiers nie.” Hierdie pikante juweeltjie kom van die hoogs omstrede Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC.

Magashule, wat steeds volhou dat hy engeltjiestatus verdien, kom hiermee baie naby daaraan om te erken dat daar waarheid kan steek in Pieter-Louis Myburgh se puik boek oor einste Magashule, Gangster State.

Eintlik is Magashule se sêding baie soos ’n turksvy. Dis pittig, maar ook die ene dorings.

Maar dis lank nie die enigste politieke sêding waardeur kiesers se intelligensie onderskat word nie. Onthou mense nog die sottigheid van “ons sal jul stem (binne die ANC) wees”?

Dieselfde persoon het destyds ook Tony Leon, toe leier van die DP (nou DA) se bloed laat kook met sy oproep “Moenie jou stem op ’n klein partytjie vermors nie”. Nie lank nie, volg seker die mees ironiese politieke bollemakiesie. En wie sou nou ooit kon droom dat daar kiesers sou wees wat sou val vir die oproep van “leen ons jou stem”?

Daar was natuurlik ander voorbeelde ook.

Vir sulke oproepe om te slaag moet kiesers swak ingelig, mislei of selfs ietwat dof tussen die ore wees. Of eerder, die politici wat dit uiter, moet glo daar is genoeg kiesers wat sag in die kop is dat genoeg daarvoor sal val om ’n verskil te maak.

Is dit hoekom daar voor verkiesings skielik ’n paar ministers is wat nog nooit gehoor is dat hulle Afrikaans kan praat nie, maar skielik hier en daar, en soms maar krom en skeef, Afrikaans gooi? Is dit hoekom pres. Cyril Ramaphosa wit jong mense “aan bome sou wou vasbind” om te keer dat hulle die land verlaat?

Maar waar sou die opvatting vandaan kom dat wit kiesers, byvoorbeeld, hulle so maklik met verkiesings laat vang? Omdat daar inderdaad wit kiesers is wat hulle laat vang? Dink maar aan briewe in die media waar wit kiesers steeds ’n oproep doen op ander om vir Ramaphosa te stem en argumenteer dat dit nie ook ’n stem vir die ANC beteken nie. Presies hoe dom dink hulle is wit kiesers?

Daar kan seker baie redes aangevoer word oor hoekom die opvatting kon ontstaan dat wit kiesers en kiesers van ander minderheidsgroepe so maklik met donkie-ore toegerus kan word.

Dit sou verregaande wees om alles na Kodesa terug te voer, en baie sal steeds argumenteer dat die onderhandelaars van die (N)NP en die regering eintlik puik werk verrig het. Maar daar is net te veel stories, waar of vals, in omloop oor hoe lekker Ramaphosa, die ANC se hoofonderhandelaar, saans ná die onderhandelinge saam met die ander ANC-onderhandelaars gelag het omdat hulle die dom boere (my bewoording) so maklik ore kon aansit. Soms het die ANC besluit hulle sal nog heelwat toegee, maar dan het die regeringsonderhandelaars sommer met die wegtrek die handdoek ingewerp.

Pres. Cyril Ramaphosa tydens ‘n gesprek met sakeleiers, boere en akademici in Stellenbosch. (Foto: MYANC via Twitter)

Jare gelede het die meester-rubriekskrywer, Leopold Scholtz, in Die Burger geskryf dat nadat dr. Gerrit Viljoen, die regering se hoofonderhandelaar, hom weens gesondheidsredes moes onttrek, die regering sy laagste span se reserwes as onderhandelaars ingestuur het. Dit herinner nogal ietwat aan wolf in skaapsklere deurdat dié span se leier, Roelf Meyer, later self ’n ANC-ondersteuner geword het.

(Let wel: Die bedoeling hier is nie om te bepeins of die finale produk goed of sleg was nie. Dis ’n onderwerp op sy eie, en terugskoue werp ook heelwat bykomende lig op destyds ongebakende padvindery. Die doel hier is bloot om te bepeins in hoe ’n mate aannames wat uit die Kodesa-onderhandelings voortgevloei het, kon bydra tot die opvatting dat minderheidskiesers kwesbaar is vir twakstories. Verder sou baie minderheidskiesers weens hul eie ideologiese oriëntasie heel in hul skik wees met die eindresultaat van die Grondwet. Verder het “politieke korrektheid” – ook ’n onderwerp op sy eie – lank ’n duidelike toegeneentheid teenoor die Grondwet gevoed. Politieke korrektheid se assosiasie met pragmatisme en realiteit staan selde op stewige bene.)

En wat sê dit van die wit kiesers se intellek dat die “ja”-stem so ’n yslike oorwinning tydens die referendum gekry het? Die rol van die beloofde tweede referendum, wat oor die aanvaarding al dan nie van die onderhandelde produk moes beslis, maar toe nooit gerealiseer het nie, is reeds op 22 Februarie vanjaar in ’n Nuuskommentaar bespreek. Prof. Hermann Giliomee se boek, The rise and demise of the Afrikaner, was ’n belangrike bron.

Die kuns is dat minderheidsgroepe moet toon hulle is nié kwesbare stemvee nie, maar op ’n manier waardeur daar nie aanstoot deur meerderwaardigheid gegee word nie. Waar nodig, moet die voet egter neergesit word, solank binne die perke van die internasionale reg gebly word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Johan ·

Ek is jammer om dit te sê, maar ek dink daar is geweldig baie naïewe kiesers in Suid-Afrika wat hulle laat lei deur die simpelste politieke stellings.

Dries du Toit ·

Baie goeie artikel Herman. Ek sal so bitter graag wou hoor wat De Klerk, Meyer en Wessels te se het hieroor. Ek wonder of hulle hulself dalk verlekker oor die hel wat hulle op ons losgelaat het

fred ·

hulle al drie het baie goed vir hulle self gedoen…..nou sit ons met die gemors….waar is die drie nou? baie baie stil weggesteek…

B ·

‘Ons’ meet mense op optredes onbewustelik aan hoe ‘ons’ is, en dis wat ek glo destyds gebeur het. (Ons verstekwaardes geprojekteer)

Destyds was ‘ons’ grootliks die gemoedelike, polities-naiewe gelowiges wat nie die omvang en impak van deurwinterde rewolusioneres se agendas besef het nie, tot ons eindelose verdriet. (Ek verwys NIE na die ja/nee stem saak, ek praat in die algemeen)

Nou moet ons spartel vir oorlewing in CR se pot :(

(Bv net gister weer omsendbrief gekry wat stel dat geen wittes aangestel mag word, al is ons <10% van die werksmag van so paar duisend. Ook, die aandeelskema (waaraan wittes nie kan behoort) so voortreflik presteer)

Dis tyd vir vryheid.

Genieve ·

Dan kan ek nie verstaan hoekom daar nog wittes vir die ANC stem nie as dit elkedag oor die wittes gaan nie jy het seker maar n keuse vir wie jy kan stem Ace jys n verleentheid vir jou party.

Alida X ·

Jou welkleur bepaal nie jou siening en die party waarvoor jy gaan stem nie.
Dit is jou siening en dit wat in jou kop aangaan wat bepaal waar jou kruisie gaan wees op 8 Mei 2019.
Dit is dus nie verbasend dat blankes wel ANC stem nie soos swart ook vir ander partye stem nie.

Jerry ·

Minderheidsgroepe as kwesbare stemvee sal weldra besef dat vir wie hulle ookal stem, die opposisiepartye hulle gefaal het. Die feite is dat BEE, regstellende aksie, dubbele standaarde, isolering, uitsluiting ens bestaan, staatskaping het plaasgevind wat Suid Afrikaners en opposisiepartye gyselaar hou en verandering word geimplementeer en geen, maar geen politieke party of burgerregte organisasie kon dit stop of kan dit stop nie. Alle partye praat en doen, maar steeds maak die ANC soos die ANC wil en kom weg daarmee. Die partye wend hulle tot die MRK en howe wat afhanklik staan van die staat en die partye eindig op in n doodloopstraat. Opposisie partye wat mislukkings van die staat nie kan keer nie, beteken vir Suid Afrikaners niks nie, omrede die staat se mislukkings doelbewus plaasvind as revolusionere suksesse ten koste van teenrevolusionere Suid Afrikaners. Kiesers gaan stem met die wete dat opposisie partye hulle weer gaan faal, tensy n wonderwerk gebeur! Leiers aan die teenrevolusionere kant van die SA spektrum verstaan nie tans wat dit verg om n revolusionere bevrydingsorganisasie binne n Afrika demokrasie, die stryd aan te se nie.

Dries du Toit ·

Jerry. Wat se jy nou eintlik. Jy skel almal wat weerstand bied. Wat se jy moet ons doen ????????

Theoman ·

Ek weet van so paar wittes wat so graag ANC stem dis nou ou Piet Koonrhof se seun anc lv Gerhard en die se neef Nic, adj ministers Andries Nel en ou Gert Oosthuisen n Beukman kerel natuurlik Roelfie Meyer, Leon Wessel Sam de Beer ja, almal oud NP”s

Dries du Toit ·

Ja Theoman dit is soos n dolk in n mens se hart om te dink dat daardie selfde individue hulle nou verlekker in die ondergang van ons mense. Ek wonder of hulle saam met Niehaus juig as daar n 80 jarige plaasboer en sy vrou gruwelik vermoor word

HPV ·

Dit is ongelooflik dat hierdie mense FW en Roelf hulle so maklik kon uitoorlê. Dit spreek boekdele oor ons onderhandelaars.

Andreas ·

Sien, hulle het nou al ‘n persepsie oor die wit mense, dis hoekom ons daarteen moet waak dat ons nie weer met slimpraatjies of ‘n slap riem gevang word nie.

nabetragting ·

Sou dit ons land anders laat lyk het as die Afrikaner jare gelede groter vrymoedigheid gehad het om homself in Engels uit te druk . Baie van ons het geweet waarheen ons oppad is, maar was te skaam om in Engels in forums te praat waarby ons betrokke was.
Politieke korrektheid was ‘n ander faktor, wat bygedra het tot die stilswye onder die Afrikaner. Die opvoedingsomgewing waarin ons betrokke was, glo ek, het bygedra tot hierdie stilswye. Daardie minderwaardigheidsgevoel en frustrasie is beslis iets van die verlede.
Vandag hoor en sien ons jong Afrikaners in Engels kommunikeer en wens dat hierdie vermoe ons beskore was, maar helaas. Ons het stilgebly toe ons moes praat.

Marietjie Blignaut ·

Herman Toerien…….dankie dat jy opkom vir minderhede. Wens net dit kan aan ‘n Baie groot klok gehang word dat minderhede moet besef dat hul as stemvee gebruik is in die verlede. Dat hulle NOU sal besef dat minderhede lank genoeg jammer gesê het. Dat hul ook sal sê: “Slaan terug, genoeg is genoeg”.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.