Nuuskommentaar: Tweepartystelsel: Demokrasie of diktatuur?

Na 1994, met die oop proporsionele kiesstelsel, het Suid-Afrika ‘n stelsel wat dit vir selfs baie klein partytjies moontlik maak om in die parlement verteenwoordiging te verkry. Trouens, ‘n kwart persent van die stemme verteenwoordig ‘n gewaarborgde setel, maar omdat dié kwotas nie altyd volgemaak word nie, kan kleiner partye ook nog inglip. Die doel hiervan was om te kompenseer vir die meer gebruiklike stelsel van gewaarborgde setels vir
minderhede, soos wat die oorspronklike, inheemse bevolking van Indië geniet, asook die Maori’s in Nieu-Seeland.

Nieu-Seeland is juis een van die lande waar die oop proporsionele stelsel getemper word deurdat partye eers ‘n sekere drempel verby moet steek voor hulle verteenwoordiging in die parlement kry. Dié drempel word soms taamlik hoog, soos tien persent stemme, gestel. In Nieu-Seeland moes die Christian Heritage Party byvoorbeeld uiteindelik ontbind omdat dit te duur geword het om ‘n party sonder verteenwoordiging te bly bedryf.

Verkiesings, veral nasionale verkiesings, in Suid-Afrika lewer egter kanniedode soos Kiss, die groenes en ander op wat elke keer nie daarin slaag om selfs die kwart persent steun te behaal nie. Meer as 50 partye waarvan die naam met ‘n “A” begin is by die OVK geregistreer. Die kiesers self neig egter om in ‘n groter mate te groepeer. Die oorheersing van die ANC en die voortdurende kleitrappery deur die regerende party, asook voortdurende berigte van korrupsie, laat die politiek min of meer kristalliseer in die ANC aan die een kant, en die ander wat teen die ANC is. Veral na vanjaar se munisipale verkiesings lyk dit of die kieser eers sy demokratiese reg om vir sy eie beginsels te stem, links laat lê om óf die ANC te bestendig, óf die ANC te opponeer, en ‘n tweepartybedeling begin kristalliseer. Die onlangse inisiatief van Cope om op 25 November opposisiegesprekke vir groter opposisie-eenheid te hou, is deels ‘n manifestasie van die kiesers se instink om eerstens teen die ANC te stem, en daarna eers oor beginsels bekommerd te wees. ‘n Jaar gelede was prof. Jakes Gerwel in sy Rapport-rubriek byvoorbeeld beswaard omdat die publiek dikwels die ANC as landsvyand voorstel. Hy gee wel toe dat die ANC dalk ‘n vrot regering is.

Die DA het dié verskynsel ook probeer benut met die voorverkiesingsoproep dat kiesers hul stem vir die DA moet leen.
Dit sluit aan by ander soort oproepe, soos deur die destydse leier van die NP, mnr. Marthinus van Schalkwyk dat kiesers nie hul stemme moet mors deur vir kleiner partye te stem nie, wat die destydse leier van die toe nog klein DP, mnr. Tony Leon woedend gemaak het. Na die DA groter as die NNP geword het, het die DA egter dieselfde voorstel aan die kiesers probeer verkoop, en weer ander opposisieleiers ontstoke gelaat.

Hierdie soort uitsprake is in die konteks van hoe die stelsel werk, net so opportunisties en onwaar soos “Ons sal jul stem wees” deur by die ANC te gaan aansluit, en daar daarna van hierdie belofte nie eens ‘n piep gekom het nie.
Die de facto Amerikaanse tweepartybedeling word gereeld voorgehou as ‘n voorbeeld van wat hier nagevolg moet word, sonder dat die ooglopende verskille in ag geneem word. In die eerste plek is die VSA, anders as Suid-Afrika, ‘n federasie en is die federale regering en president se magte baie beperk. Die deelstate het volle soewereine magte oor ‘n groot verskeidenheid binnelandse sake. Nog laer vlakke van owerheid is ook gedemokratiseer, en dié is gewoonlik los van die stryd tussen die Demokratiese Party en die Republikeine, of die Grand Old party (GOP) soos sy ondersteuners dit graag noem.

Verder kies die Amerikaners die president regstreeks, en dit gebeur dikwels die dat president nie deel van die regerende party is die kongres is nie. Trouens, dit gebeur dikwels dat die twee huise van die kongres, die senaat en die Huis van Verteenwoordigers, deur verskillende partye beheer word soos nou die geval is.

‘n Baie belangrike verskil is egter dat die Kongreslede, anders as die politici hier, nie koukusgebonde is nie. Hulle doen in die eerste plek verantwoording aan die kiesafdeling wat hulle verkies het. In plaas van eie politieke partye stig, sal belangegroepe en lobbies ontstaan, elke met sy eie beleid soos wat ‘n politieke party het. Die Christian Coalition of America met sy 4 miljoen ingeskrewe lede se webwerf en beleid is byvoorbeeld kwalik te onderskei van die webwerf van Christen-demokratiese partye elders. Tot voor pres. Barack Obama se verkiesing was dit haas onmoontlik om vas te stel of dié organisasie neig om die Demokrate, of die GOP te steun – die steun het duidelik van ‘n kandidaat se individuele verbintenis tot die CCMA se beginsels en beleid afgehang. Sedert Obama aan bewind gekom het, is dit eerder ‘n geval van welke Republikeinse kandidaat gesteun word.

Dag vir dag monitor die CCMA die uitsprake en gewildheid van die vernaamste aanspraakmakers om uiteindelik as GOP-kandidaat teen Obama te staan te kom. Een van die belangrikste onderwerpe wat gemonitor word, is Obama se pogings om aborsies op aanvraag deur staatsbefondsing te bewerkstellig, terwyl die GOP dit verbete teenstaan. Elke kandidaat se pro-lewe-standpunte word versigtig gemonitor en aan die groot klok gehang.

Min of meer dieselfde, maar op groter skaal, vind via die Tea Party-beweging plaas. ‘n GOP-kandidaat wat die wind van voor by die Tea Party kry, kan maar die handdoek ingooi. Die lobbie-stelsel kan egter ook net werk waar korrupsie onder beheer is. Hoewel die maatreëls om korrupsie te beperk deurlopend, en ironies dikwels deur die Demokratiese Party verskerp word, kom daar kort-kort gevalle voor soos ten volle betaalde ekskursies na ‘n Skotse gholflandgoed, waarna sleutelstemmings gehou word. Nogtans is die VSA ‘n veel beter kandidaat waar dit kan werk – op Transparrency International se korrupsiepersepsieindeks kry die VSA 7,1 uit tien vir skoon administrasie, en Suid-Afrika 4,5. Suid-Afrika se telling maak dit volgens die indeks “hoogs korrup.” Die VSA is 20ste op die persvryheidsindeks en sy posisie is stabiel. Suid-Afrika is in die 38ste posisie en boer agteruit. Na verwagting sal Suid-Afrika se posisie op die jongste indeks, wat enige dag verwag word, skerp terugsak na aanleiding van die omstrede bepalings in die Inligtingswetsontwerp wat die ANC nou deur die parlement probeer stoomroller, die planne van ‘n mediatribunaal wat nog nie gaan lê het nie, en die aanvalle op joernaliste tydens die Malema-verhoor.

‘n Persvrye media is ‘n onontbeerlike deel van demokrasie, en as die media self ook nog onverbonde is soveel te beter. ‘n De facto-tweepartybedeling in Suid-Afrika kan nie met die VSA vergelyk word nie; in werklikheid verskraal dit die demokrasie hier en ontneem kiesers die reg om vir hul eie oortuigings te stem dermate dat dit nie meer as demokrasie tel nie. Dit frustreer ook die doel van die oop proporsionele kiesstelsel om sodoende aan minderhede verteenwoordiging te verskaf

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Louis du Plessis ·

UIT EENHEID KRAG

Herman ~

1 Al het ek jou opstel baie geniet, moet jy jouself afvra of jou gevolgtrekkings logies uit jou argumente uit spruit. Ek dink nie so nie.

2 Jy beweer nie net dat ons proporsionele stelsel die “demokrasie verskraal” nie ook: dit “ontneem kiesers die reg om vir hul eie oortuigings te stem”. Jy weet mos dis nie waar nie. Dit staan kiesers van alle oortuigings en minderhede vry om ‘n politieke party te stig en daarvoor te stem. As seksionele partytjies soos die Xhosa-UDM of fundamentalistiese ACDP of Indiër-MF, nie die mas kan opkom nie, hoe kan jy die stelsel blameer!

3 Suid-Afrikaners het ‘n keuse. Hulle kan berus by die eenparty-dominante-stelsel van die ANC (63% steun in Mei) wie se onbevoegte kaders alles insypel en afbreek terwyl ‘n klomp klein partytjies min invloed uitoefen en maklik deur ANC-besture of deur die ANC-regering gekoöpteer kan word, soos tans gebeur met die IVP (4%), NVP (2%) en VF (.4%). Of Suid-Afrikaners kan verder beweeg in die rigting van ‘n tweepartystelsel waar die ANC uitgestem word deur wakker kiesers wat ‘n lewenskragtige en vrysinnige party soos die DA (24%) verkies. Selfs al stem ons nie met alles saam wat sommige DA-verteenwoordigers soms opmerk nie, staan die DA in Suid-Afrika vandag soos ‘n Dawid teen Goliat.

4 As ons ons stemme versplinter, is dit die einde van ons bedingingsvermoë. Dis die implikasie van ons teenstanders se “Verdeel en heers”. Gaan dink weer oor die leuse “Uit eenheid krag!” Slegs veggroepe wat vuurkrag kan konsentreer, kan die vyand oorwin.

Met agting

Herman Toerien ·

Ek verwelkom reaksie want dit wys belangstelling en dat dit mense aan die dink sit. So het ek al baie insigte verwerf, en is ook waarde tot my oorspronklike artikels toegevoeg
Net ‘n paar opmerkings: Daar is meer as een manier van samewerking, met die twee hoofuitgangspunte samespanning voor ‘n verkiesing ter wille van die poel van hulpbronne, en samespanning eers na ‘n verkiesing dat ‘n mens eers ‘n profiel kry van hoe die mense dink. ‘n Klop faktore speel ‘n rol of iets slaag of nie – by die vorming van Allainsie 2000+ het twee plus twee nie vier opgelewer nie, maar een. Met die vorming van die DA het dit weer gewerk, en met die NNP se opname in die ANC waarskynlik weer nie gewerk nie – in elk geval nie om iemand se (baie stil) stem te gaan word nie.
My fokus was die de facto-situasie waar ons met ‘n broad church-ANC sit wat van nuttige idiote tot idealiste tot geharde kommuniste verteenwoordig. As die teenreaksie ook is om dit wat ideologies nie bymekaar hoort nie in ‘n enkele struktuur te laat opgaan, ten koste van stem vir eie oortuigings, dan word die demokrasie nie net verskraal nie, maar ‘n mens kry oa ook mense wat skisofrenies Sondae in die kerk aan een stel beginsels glo, en in die week aan ‘n ander. Het die koukusgebondenheid nie gegeld nie, soos in die VSA, was dit ‘n ander saak. Om bloot ter wille van ilustrasie te toon – ‘n paar jaar gelede het iemand in u vrou se party ‘n verklaring uitgereik waarin sy iets steun, en ‘n uurt of wat later het die destydse Oos-Kaapse leier ‘n verklaring uitgereik waarin presies dieselfde saak ten sterkste veroordeel word.
In my betrokkenheid hier probeer ek werklik my los maak van eie partypolitieke voorkeure, en slegs die beginsels behandel. My vrou is ook nie ‘n LP nie – trouens, op die oomblik het ek nie vriende of familie iewers in ‘n politieke posisie nie. Maar ek was ‘n werknemer van ‘n politieke party (wat my ontsettend ontnugter het). In kort, ek dink baie van die deelnemers op hierdie forum is politiek behoorlik onderlê en as ons mekaar onderling op daardie terrein moet aandurf, gaan dit nie ‘n mooi prentjie afgee nie.
Die lesers verdien beslis beter.

Louis du Plessis ·

PARTYKEUSE IS VRYWILLIG

Herman ~

1 Dankie vir jou interessante antwoord. Ek lees graag wat jy in jou gereelde bydraes oor die nuus in konteks skryf, en het hierbo reageer op die spesifiek geval waar ek iets van jou wou regstel. Om demokratiese kiesers in Suid-Afrika saam te snoer, lê na aan my hart.

2 Voor ek egter reageer op jou inskrywing hierbo, wil ek jou inlig dat jou terloopse verwysings na my vrou jou argumente onwaardig is. Wanneer iemand ad hominem (teen die persoon) argumenteer pleks van ad rem (teen die saak) antwoord ek as ‘n reël glad nie. Saam met verskeie ander soort formulerings, waaraan jy gelukkig nie skuldig is nie, word ad hominem-argumente binne die kenteorie en logika as ‘n denkfout ontbloot. Die doel is om nie persoonlike argumente nie, maar feitelike argumente aan te voer. Hoekom ek egter desondanks wel op jou reageer, is uit respek vir wat jy normaalweg skryf.

3 Om ons as Suid-Afrikaners in die algemeen, en Afrikaners in die besonder, in die partypolitiek te laat geld, moet ons heg kan saamwerk in ‘n partystruktuur, soos van die DA, terwyl ons steeds, wat jy noem, ons “eie oortuigings” handhaaf. So bou ons ‘n party wat die ANC kan oorwin. Diegene in die veeldimensionele Suid-Afrika wat egter (jou woord) “ideologies” wil sterk staan, soos egte regte ware kommuniste graag doen, en nie kan kompromis maak nie, is reeds in die politieke woestyn en sal daar uitsterf. Daar is in meeste samelewings voorbeelde van sulke partye. Dink in ons eie geskiedenis aan onder meer die Verenigde Party, die Progressiewe Party, die HNP, en helaas die NNP.

4 Afrikaners kan oor elke faset van hulle lewes sterk beginsels handhaaf, maar om in die politieke stelsel te vorder, waar 79.5% kiesers swart Afrikane is, en Afrikaners beswaarlik 6% van die kieserskorps vorm, móét hulle saamwerk met ander. Diegene wat vol ideologiese trots spog met hulle onbuigsaamheid, beland outomaties in die politieke wildernis. Binne die kenteorie word dogmatisme dikwels beskryf as ‘n intellektuele siekte.

5 Die “koukusgebondenheid”, waarna jy verwys, is ‘n integrale kenmerk van die partystelsel. In vandag se Groot Debat-bydrae maak dr Isak Burger van die AGS ook enkele uitsprake waarin hy die koukusstelsel binne partye in ‘n swak lig stel. Dit doen hy nogal op sogenaamde Bybelse gronde wat die menslike gewete betrek! Wow! Omdat ek egter akkoord gaan met die anti-ANC-strekking van sy kommentaar, het ek maar eerder nog ‘n koppie koffie gaan drink. So wat ek nou gaan skryf, is mutatis mutandis ook op sy bydrae van toepassing.

6 Wat is die alternatief vir “koukusgebondenheid”? Niemand dwing ‘n lid van ‘n munisipale koukus, ‘n provinsiale koukus of ‘n parlementêre koukus om lid te wees nie. So iemand staan in ‘n verkiesing vrywillig vir ‘n politieke party en word dan ipso facto ‘n lid van die party se koukus. As hy hom nie meer met die beleid vereenselwig nie, kan hy bedank. Dit staan hom of haar altyd vry. As hy of sy gereeld teen partybeleid sal stem, sal die party hom kort voor lank in elk geval vra om te dank.

7 Weer eens, wat is die alternatief? ‘n Paar jaar gelede het die parlement gelukkig ontslae geraak van die oorloopwetgewing. Hiervolgens kon lede oorstap na ander partye toe. So het enkele LPs van die DA weens beloftes deur die ANC, oorgestap ANC toe. Hierdie stelsel het nie net (jou woord) “koukusgebondenheid” ondermyn nie, maar gelei tot agterdog, wantroue en skeptisisme binne die kieserskorps oor die partystelsel. Hoe kan ek vir ‘n verteenwoordiger stem wat my party en beleid moet uitdra as hy die reg het om, vir eie gewin, oor te stap. Hoe kan jy verteenwoordigers vir wie jy gestem het, toelaat om hulle rug op jou stem te draai? Dis ‘n verloëning van my vertroue as kieser.

8 Byvoorbeeld: As ek vir die IVP stem of vir die NVP, wat tans onderskeidelik die derde en vierde grootste politieke partye in die nasionale vergadering is, en hulle lede verraai my stem, sal ek my nooit weer met so ‘n party identifiseer nie. (Terloops, ek sal dit in elk geval nie doen nie, want albei dié partye regeer tans êrens koalisies saam met die ANC! Hierdie snoesige soen van die dood, wat die ANC aan sy bedmaats gee, is een van die redes hoekom die DA [24%] tans sestig keer meer gewild is as die VF [.4%].)

9 Elke verteenwoordiger word gekies met die hulp, vlugskrifte, plakkate, simbole en standpunte van ‘n party. As hy hom nie meer daarmee vereenselwig nie, moet hy bedank en by ‘n ander aansluit of sy eie party stig. Binne ‘n stelsel van demokrasie – demos + kratein: volk + regeer – is dit wat ek as kieser van my verteenwoordigers verwag.

Met agting

Herman Toerien ·

Dankie vir jou reaksie Louis.
Die verwysing na jou vrou was ongevraag, maar na my verduideliking hieronder sal ek dit waardeer as jy sal besin oor jou stelling dat ek nie eerlik in my gevolgtrekkings was nie. Uiteraard werk ‘n mens hier oor temas wat eintlik boekdele sal beslaan maar dit hoort nie hier nie.
By geleentheid het iemand wat veel geleerder as ek is gesê as ‘n vliegtuig uit die buiteland op die OR Tambo-lughawe kom land word aangekondig: “Ons land binnekort op die OR Tambo-lughawe in Suid-Afrika. Draai u horlosies 30 jaar terug.” Dit geld by uitstek die politieke volwassenheid hier.
Wat die politiek betref het ‘n sterk beweging in Europa tot stand gekom om weg te beweeg van begrippe soos “links” en “regs” en is ten regte gevoel verskillende partye het beleidsaspekte wat op enige plek in die spektrum, iewers in ‘n sirkel, eerder as op ‘n reguit lyn voorkom. Met die opkoms van regse partye soos van Geert Wilders het die saak voorlopig eers weer baie na die lyn-model teruggekeer. Tog is min sin uit daardie lyn-oorweging te make uit hoe die pas-afgelope stemming in Nederland oor onder meer plaasmoorde hier verloop het.
Voorts kom daar ook elemente van reaktiewe politiek na vore, maw kiesers se swaai weg van een party na ‘n ander hou meer verband met kwessies wat met beginsels min te make het. Byvoorbeeld, die ChristenUnie in Nederland sal teen sy groeiende neiging in skielik steun inboet wanneer kiesers na die groter CDA stroom om dié party se krimping te stuit.
Nogtans, kiesers kan in die algemeen volgens hul beginsels stem, of dan ideologies as jy wil, want dit is in die eerste plek waaroor partye van mekaar verskil. Gewoonlik lewer elke verkiesing ‘n “Kodesa” op waar ‘n regeer kkoord opgestel word. Met die vorige koalisieregering in Nederland was twee van die drie partye – die grootste en die kleinste – gekant teen aborsies en het boonop wat dit betref hier en daar by ander partye ook steun gehad. Dié kwessie het glad nie deel uitgemaak van die koalisie-akkoord nie omdat die PvdA niks daarvan wou weet nie.
Die kerk waarvan ek lidmaat is (die NH Kerk) is soos die meeste erkende kerke gekant teen aborsie op aanvraag. Tog, as ‘n mens op die politieke spektrum afgaan, gaan ‘n mens ‘n hele paar partye verby voor ‘n mens een kry wat dieselfde standpunt deel. (Ek weet van die kwessie van keusevryheid wat een party gee – ook weer iets wat net kan werk solank ‘n party in die opposisie is).
Ek gebruik maar hierdie voorbeeld oor dit so ‘n kernbelangrike aspek in die Amerikaanse verkiesing is. Ek het vandag die eerste keer in ‘n lang tydperk die Christian Coalition of America se nuusbrief gekry waarin daar nie regstreeks of onregstreeks na kandidate se aanvaarbaarheid in terme van aborsie (pro life) verwys is nie.
Kortom, tel beginsels vir die gemiddelde Suid-Afrikaanse kieser minder as vir ‘n kieser in die VSA of Europa?
En kom ‘n mens by beginsels, is daar ‘n stel beginsels waartoe sommige mense nie sommer tot kompromieë bereid sal wees nie. Die kerklidmaat is immers nie net ‘n Christen in sy kerk nie, maar ook in sy huwelik, sy werkplek, die skoolbeheerraad waarop hy dien…
‘n Mens gly werklikwaar ver terug op die demokratiese leer as ‘n mens beginselpolitiek vir magspolitiek moet verruil. Beide beginselpolitiek en magspolitiek glo hulle is op realiteitspolitiek (die groot oorhoofse krag van die ANC as broad church) afgestem. Ideologiese oortuiging kan ‘n kragtige dryfkrag wees. Twee weermageenhede ruk op na die front om met ‘n gesamentlike vyand te gaan slaags raak. Die een eenheid se troepe is ‘n bonte verskeidenheid van dikwels botsende oortuigings. Die probleem is “oorkom” deurdat almal iewers kompromieë moes maak en almal is op pad om die stryd te gaan aansê terwyl hulle net deels saamstem met dit wat hulle in die proses gaan bereik. Baie stem ideologies meer saam met die vyand as met van hul mede-troepe.
Die ander eenheid is gemotiveer en aangevuur omdat hulle eendragtig ‘n sekere doelwit wil gaan bereik. Hulle glo volkome in die saak.
Demokrasie is op beleid afgestem, en beleid is op beginsels gegrondves. Terwyl daar stellig binne partye effense beleidsaksente sal wees, sal dit vir ‘n party katastrofaal wees as die toutrekkery die karakter moet aanneem wat ‘n mens in kerke raakloop, en ‘n mens hoef maar net na die webwerwe te gaan kyk van die NG Kerk se Diversiteitsforum en die NH Kerk se Steedshervormers-facebook om te besef hoeveel energie vir koninkrykwerk word verspil – terwyl kopgekrap word oor hoekom kerke krimp.
Ek dink daar is bitter min partye buite die ANC wat nie op ‘n vorm van samespanning afgestem is nie. Dit behels dat partye wat ideologies identies is of baie naby aan mekaar is, nie sinvol afsonderlike bestaansreg het nie. Dis nie altyd so simplisties nie, want bv het die ID hom betreklik onlangs as sosiaal-demokratiese party getipeer wat dit teoreties nader aan die ANC as die Liberaal-demokratiese DA sou bring. Tog is dit nie wat gebeur het nie. Beide die ANC en die DA het hulself as Freedom Charter-verbonde en selfs as die draers van Mandela se nalatenskap verklaar, maar in die praktyk word soos kat en hond baklei. In Kaapstad het die DA en VF+ saamgespan vir ‘n regerende koalisie, maar soos ek verstaan, in die ooreenstemmende tyd het die DA en Sasco by Tuks teen die VF+ saamgespan.
Maar gestel ideologies-eenderses kon saam kristalliseer, dan is daar steeds ‘n ideologiese spektrum waar die kwessie van kompromieë aangaan nie werklik haalbaar is nie. Met die NNP se onttrekking uit die DA het die NNP-leierskap dit aan ideologiese afstand toegeskryf – ‘n liberaal-demokratiese DA en ‘n Christelik-nasionale NNP. Kort hierna het die NNP egter in die ANC opgegaan en is steeds daar.
Hierdie uiteenlopendes kan wel voor ‘n verkiesing logistiek saamwerk, soos ek verstaan grootliks die ondertoon van Cope se inisiatief verlede week was. En word die ANC in die toekoms verslaan, gaan die land in alle waarskynlikheid ook soos die Europeërs ‘n koalisie-Kodesa hê – iets wat die land nou al bitter nodig het na die ANC gewoon van Kodesa afgestap het, ‘n “oorwinning” opeis (as hulle ‘n militêre oorwinning bedoel is dit die grootste oorwinning nog in iemand se verbeelding), en selfs ongedurig is omdat die howe die Kodesa-voortspruitende grondwet verskans.
Elders op die forum is ‘n heerlike debat oor die Angolese oorlog, en die name van groot stratege word uitgeruk. Ek bring dit te berde teen die agtergrond van jou verwysing na gekonsentreerde vuur. Ek wil myself graag oortuig dat my denke eerder gevorm is deur die onkonvensionele denke van Sun Tsu, terwyl ek ook kleintyd leesstof oor Honibal verslind het. Heel toevallig het ek ‘n paar dae gelees hoe Julius Ceasar te werk gegaan het om Gallië telkemale teen groot oormagte te verower. So uiteenlopend soos die benaderings op die oog af was, die strategiese denke oor mobiliteit en terreinkennis en die benutting daarvan was van kardinale belang. In die politiek sou gekonsentreerde vuur ‘n klein taktiese deel uitmaak van ‘n veel, veel omvattender strategie.
Net ‘n kwalifikasie oor vakwetenskaplik suiwer en buite die partypolitiek bly: Geen party, maar veral nie die regerende party, kan aanspraak maak daarop dat dit nie vakwetenskaplik getoets kan word nie. Hoe ‘n groter aandeel dit in die regeerkoek het, hoe meer sal die fokus wees om dit te meet aan sy vermoë om in algemene belang te regeer, en hoe meer sal misstappe soos korrupsie onder die loep geneem word. Die ware vakwetenskaplike sal egter ook daar waar ‘n kleiner party ‘n deel van die koek beheer, met dieselfde mate meet soos in Midvaal, Plettenbergbaai, George en elders. Weer eens, anders word die demokrasie nie gedien nie.
Ek glo ons sal kan ooreenkom om te verskil, en dat jy sal aanvaar dat ek nie, soos jy in jou aanvanklike kommentaar, meen is ek oneerlik in my gevolgtrekkings nie.
Herman

Louis du Plessis ·

FOKUS OP DIE KIESERS!

Goeienaand Herman ~

1 Ek het jou antwoord van 21:46 hieronder noukeurig deurgegaan. Eerstens: jy merk twee keer op ek het na jou as “oneerlik” verwys. Dit is nie korrek nie. Ek het geskryf: “Al het ek jou opstel baie geniet, moet jy jouself afvra of jou gevolgtrekkings logies uit jou argumente uit spruit. Ek dink nie so nie.” Die redes het ek daarna verduidelik, naamlik dat jy konstateer ‘n tweepartystelsel (jou woorde) “ontneem kiesers die reg om vir hul eie oortuigings te stem”. In my antwoord op 26 en toe weer op 30 November om 17:50 hieronder het ek opmerkings gemaak oor die rol van kiesers en hulle verteenwoordigers wat aantoon dat ‘n gevolgtrekking dat “partykeuse vrywillig is” ‘n meer logiese konklusie oor die demokratiese tweepartystelsel sou wees.

2 Ek sien altyd in jou tekste jy begryp, beter as talle ander, die kompleksiteite van binnelandse politiek, ook in ander samelewings. Ek hou van hierdie begrip van jou.

3 Jy verwys soms met allerlei terme na beleid en beginsels, soos “christelik-nasionaal” en “liberaal-demokraties”. Ons sien ook hoe sommige hulleself binne “konserwatisme” of “sosialisme” posisioneer. Ek glimlag in my mou. Talle werklik skerpsinnige denkers soos Nicolo Machiavelli en Friedrich Nietzsche en George Orwell het aangetoon hoe breedsprakige prinsipiële frases soos hierdie dikwels net rookskerms is vir die mees selfsugtige eiebelang. Sogenaamde “beginsels” is dikwels ‘n dekmantel vir onheil. Dit wys die ANC met beleide soos “deursigtigheid”, “bemagtiging” en “transformasie” glashelder vir ons. Dis meestal terminologiese bedrog.

4 Wat is die antwoord? Ons moenie toelaat dat rookskerm van allerlei ideologiese frases enige politici se eiesinnige selfsug bedek nie! Kyk dwarsdeur die grootpratery! Snuffel hulle werklike belange uit! En verder: Dis ook beter om selfs in wetenskaplike bespreking metafisiese terme te vermy.

5 Om steun te kry, moet ‘n party die belange van die uiteenlopende kiesersegmente akkommodeer. Om suksesvol te wees, moet sy beleid kiesersensitief wees eerder as ideologiebehep. Die vuurkrag van ‘n politieke party lê in die aantal kruisies wat kiesers agter sy simbole trek. Om sy vuurkrag te verhoog moet ‘n politieke party nie homself nie, maar die kiesers dien.

Lekker slaap!

Herman Toerien ·

Dankie weer eens vir die reaksie Louis
Op die gevaar af dat ons die hare in nog dunner repies gaan kloof, en het dié sinnetjie uit jou aanvanklike stuk gaan “knip” en “plak dit hier: “Jy weet mos dis nie waar nie.“ As jy daarmee nie bedoel het dat ek op ‘n manier (bv teenoor myself) oneerlik was nie, jammer dat ek woorde in jou mond gelê het.
Ek kan boekdele skryf oor beginsellose politiek. Sommer in my eerste jaar op Kovsies moes ons leer van die Christelike beleid van apartheid versus die humanistiese beleid van gelykstelling. Ek was vanuit die staanspoor in verset, en my eerstejaarspredie was ‘n reuse 51 %. Eers na daardie dosent parlement toe is het sy opvolger gesê as apartheid nie ook op gelykstelling afgestem is nie, kan dit nie Christelik wees nie. Eers hierna het ek onderskeidings begin kry.
Die eerstydse dosent is dwarsdeur die driekamerstelsel (waarvan hy niks wou weet toe ek dit as spekulerende werkstuk tien jaar te vroeg aangebied het nie, Kodesa tot in Lekota se Uitvoerende Raad. Onder die einste Lekota is ek onder die mees ongunstige omstandighede moontlik op vervroegde pensioen geplaas, en ‘n blanke Afrikaanse manlike klerk uit die voertuigpoel in my plek as adjunkdirekteur aangestel in ‘n vakkundige rigting. Daardie persoon is vandag ‘n senior politikus. (Die Openbare Beskermer se finale verslag kry ek nou nog nie uit die OB gewurg nie, na dit baie laat maar al omtrent ‘n dekade gelede ‘n voorlopige verslag in my guns uitgebring het).
By geleentheid tree die leier van die “Christelike party” waarvoor ek gewerk het teen my op. Eers ‘n jaar en ‘n half later vind ek uit wat ek verkeerd sou gedoen het, en toe ek sê ek was nie betrokke nie, is niks verander nie. Dit was maar net ‘n verskoning om my uit te werk omdat ek bevriend was met iemand wat die leier in ‘n stadium om die leierskap uitgedaag het.
Voor dit egter gebeur het nader ons ‘n persoon om as kandidaat in ‘n munisipale wyk te staan, en hy is dankbaar, en sal daaroor gaan bid. Naderhand hou hy ons verkiesingsveldtog op, en die volgende lees ons in die koerant hy is raai watter party se kandidaat.
Gelukkig ken ek ook beginselvaste politici sodat ek nie heeltemal saamstem met die ou grappie nie: “Hoe weet ‘n mens ‘n politikus lieg?” Die antwoord: “As hy sy lippe beweeg.” En glo my, en ken sulke politici.
Toe ek gisteraand my vorige antwoord opgestel het, het ek gou ge-Google en gesien daar is omtrent 350 miljoen verwysings waarin beleid en beginsels in dieselfde dokument voorkom (Engelse soektog). Trouens, ons grondwet is veronderstel om in pas te wees met sy eie “founding principles.”
Tog, ek vroeg my media-scan vir vanoggend se nuuskommentaar doen, lees ek in die buitelandse media SA het weer ‘n duik op die korrupsie-persepsie-indeks gevat. En selfs al het ‘n mens nie ‘n beginselprobleem met korrupsie nie, dit skaad die ekonomie en tref veral die armes.
Uit die politieke sosiologie leer ‘n mens egter hoe belangrik dit is dat ‘n staat ‘n behoorlike morele onderbou moet hê, en juis daarom sal ek bly streef om moraliteit te vestig en korrupsie vas te vat. Al het ek kort na 1994 ‘n skokkende ervaring gehad. In daardie stadium het ek al ‘n paar jaar regstreeks onder ‘n hoofdirekteur gewerk wat, soos die Bybel sê, gereeld “Here, Here” geroep het. Kort na 1994 se veranderings roep hy my in, in die teenwoordigheid van die tak se regsadviseur. Hy wil my net mooi waarsku dat my felheid teen korrupsie vir die nuwe regering probleme skep. Ek moet in my eie belang net leer om die oog te kan wegdraai en diskresie te gebruik. En as ek hom ooit aanhaal, sal hy dit voor die Here ontken. Hy het egter ook nie veel langer as ek gehou nie.
In die proses kon my gestremde seun in kritieke stadiums nie die nodige terapie kry nie.
Glo my, ek moet hard aan myself werk om ‘n beginselgrondslag in die land se politiek te probeer bewerkstellig en te bly hoop. Ek ken my egter ook self – as ek die dag hoop opgee dat beginsels ooit sal seëvier, dan sal ek nie meer ek wees nie.
Lekker dag
Herman

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.