Nuuskommentaar: Van diversiteit tot identiteitspolitiek

Die standbeeld van Christopher Columbus in Providence, Rhode island is Maandag met rooi verf gevandaliseer. Foto: (AP Photo/Michelle R. Smith)

Wat het die viering van Columbusdag vandag en die hofuitspraak oor die mislukte Katalaanse onafhanklikheidspoging met mekaar gemeen? Die antwoord, diversiteit en identiteitspolitiek.

Dag vir inheemse volke

Vandag vier die VSA, onder meer, Columbusdag ter herdenking van die “ontdekking” van die Nuwe Wêreld meer as 500 jaar gelede, maar al hoe meer mense wil nie meer meedoen nie – hulle vier Dag vir Inheemse Volke.

Die redenasie is dat Columbus hoogstens die Amerikas herontdek het – die Vikings het immers reeds meer as ’n duisend jaar gelede kolonies, en daarby ’n Christenkolonie, op Noord-Amerikaanse bodem gestig en dié gebied Vinland (Wynland) genoem.

Klimaatsverandering wat ’n groen Groenland laat verys het, het die Nore op Groenland laat verkas, of die vasbyters van koue laat uitsterf. Maar die Vikings was ook nie die eerste mense in die Nuwe Wêreld nie. Daar is nog geen konsensus oor wanneer die eerste mense die Amerikas bereik het en gevestig het nie. Bewyse van al hoe ouer vestiging van tot sowat 20 000 jaar gelede word deurlopend gevind.

Al hoe meer word geargumenteer dat dit ’n belediging is om die aankoms van die inheemse mense as minder belangrik as die aankoms van die eerste Wes-Europeërs te beskou en te vier. Hierdie bewuswording plant wortels, nie die enigstes nie, van identiteitspolitiek. Dit is vandag die hooftema van die jongste Amerikaanse uitgawe van The Conservation. Die hoofstorie is “Why more places are abandoning Columbus Day in favor of Indigenous Peoples Day”

Ander stories sluit in:

En baie belangrik, “How the loss of Native American languages affects our understanding of the natural world”

Besonder baie van die problematiek van Suid-Afrika kan in hierdie temas gelees word. Die taalkwessie herinner aan die oorlewingstryd van Afrikaans en verskeie Khoi- en Santale terwyl nie eens die inheemse amptelike tale die voorkeur-aanmoediging kry wat die Grondwet vereis nie; dis “all English” soos Panyaza “Milner” Lesufi demonstreer.

Die artikel oor die grens tussen die VSA en Mexiko wat vir die inheemse bevolking ’n verbeeldingsvlug is, herinner aan die Pan-Afrikanistiese idee dat Afrika staatkundig nader aan ’n enkele politieke entiteit kan beweeg. Pres. Cyril Ramaphosa het juis pas gesê die kontinent se “Westerse grense” (koloniale grense) gaan nie meer lank hou nie. Dit terwyl die Afrika Unie se grondwet, die koloniale grense as onskendbaar verklaar. Xenofobie is ’n enorme verleentheid vir die regering, en die bestaan daarvan word grootliks ontken, terwyl die werklikheid luidkeels ’n ander liedjie aanhef.

Daar is probeer om te verseker dat die inheemse volke wat gevorderde beskawings opgerig het, se prestasies nie deur Westerse meerderwaardigheid “gesteel” word nie. Die Majas se kalender was, byvoorbeeld, meer akkuraat as die Westerse kalender in dieselfde tydperk. Indrukwekkende bouwerke is oral oor die twee kontinente opgerig, en die Majas se skrif was besonder ontwikkel met nie net karakters wat ingespan is nie, maar ook simbole en kleur om verskillende klanke en betekenisse voort te bring.

Onder die Amasone se woudbedekking word nog spore van ’n eens gevorderde beskawing gevind van, onder meer, breë paaie en strate, weerskante begrens deur kanale waarop kano’s kon vaar, oorblyfsels van landerye, en konsentrasies bome in die woude van bome wat neute en ander vrugte dra, verklap die bestaan van oer-boorde.

Die grootste agterstand was die afwesigheid van wiele. Die mense het wel die wiel geken, soos gebruik met speelgoed en ornamente, maar dit kon nie in die praktyk gebruik word nie, want ’n sterk genoeg as is nie geken nie.

Die Westerse dieet is aansienlik uitgebrei na Columbus se herontdekking van die Amerikas, met kossoorte soos die aartappel, mielies, patats, tamaties, verskeie boonsoorte, pynappels, soetrissies, pampoen, en selfs die Jerusalem-artisjok is deur die inheemse mense ontwikkel en gekweek.

Hoewel daar ’n oplewing is wat meer erkenning aan die inheemse mense en hul volkereverband wil gee, dui die jongste peiling daarop dat 57% van die potensiële Amerikaanse kiesers steeds Columbusdag wil vier. Hulle “onderhou” in wese die mite dat Columbus die Nuwe Wêreld ontdek het.

Wes-Europa

Maar selfs die “beskaafde” Weste kon nog nie die problematiek van identiteitspolitiek en diversiteit mooi uitgepluis kry nie. Met die totstandkoming van die Europese Unie is ’n voorwaarde vir lidmaatskap geplaas dat lande selfregering moet toestaan aan minderheidsgroepe wat dit verlang. In Brittanje is die Skotse parlement herstel, asook ’n wetgewende liggaam vir Wallis. Selfs Cornwallis het ’n mate van selfbeskikking gekry, sonder om skynbaar daarvoor te vra.

Spanje, pas nadat die Franco-diktatuur waarin minderhede soos die Baske erg onderdruk is, het sy grondwet aangepas sodat die “andersoortige” gebiede, soos Biskaje en Katalonië ’n meer gevorderde vlak van selfbeskikking kon kry as die suiwer Spaanse gebiede. Spanje se hoogste hof was egter nie hiermee gediend nie, en het die verskillende vlakke van selfregering onwettig verklaar. Voorts sal die ganse Spanje aan referendums moet deelneem as ’n streek onafhanklikheid wil hê.

Katalonië het egter sy eie referendum gehou, wat dadelik deur Spanje onwettig verklaar is, en is ook deur Kataloniërs wat onafhanklikheid teenstaan, geboikot. Die meeste het egter vir onafhanklikheid gestem, hoewel Spaanse magte hul bes probeer het om die verkiesing te smoor. Die hofsaak waarin die leiers van die “rebellie” verhoor is, is pas afgehandel (lees hier en hier) en die huidige president van Katalonië het die lang gevangenistermyne as ’n belediging vir demokrasie beskryf.

En juis hierin het hy die essensie van die probleem van een mens een stem binne ’n diverse / heterogene gebied met ’n unitêre of dan de facto unitêre stelsel ingespan.

Maar presies hoe “demokraties” sou dit wees as met die referendum oor Skotse onafhanklikheid, die ganse Engeland ook aan die verkiesing kon deelneem, veral omdat daar veel meer Engelse as Skotte is. Of as die Vlaminge iewers in die toekoms ’n referendum oor onafhanklikheid van België wou hou (al is dit in die vorm van ’n konfederasie), maar die Belgiese federale regering bepaal dat alle Belge aan die referendum moet kan deelneem? Wallonië, wat erg deur Vlaandere gesubsidieer word, sal uiteraard teen Vlaamse onafhanklikheid stem.

Suid-Afrika se Grondwetskrywing

Suid-Afrika het die geleentheid gehad om sy Grondwet ooreenkomstig die demografiese werklikhede op te stel. Die geleentheid vir die logiese proses waar politieke sosioloë die werklikheid bepaal en formuleer, en die politieke wetenskaplike en politieke geograwe die ideale modelle bepaal en voorstel, met die staatsregsgeleerdes wat die nuwe Grondwet regstegnies giet, is verspeel.

Politieke sosioloë het in onguns verval en is tot ’n groot mate uitgesluit. Politieke wetenskaplikes het wel deelgeneem, maar is grootliks geïgnoreer wat in wese beteken het dat die uitmuntende werk wat die voormalige presidentsraad se staatkundige komitee gedoen het, en in die bundel Besluitnemings en Tegnieke in Staatkundige stelsels, grootliks snippermandjie toe is. Sonder dié onderbou is die Grondwet grootliks in die lug gebou sonder verbinding met die diversiteitsrealiteite en met weinig raakvlakke met die grootliks internasionaal beproefde modelle.

Teen hierdie agtergrond is dit amper vreemd dat ’n artikel deur die student, Hendré Cubitt in Maroela se “Nou pra’ jy”, naamlik “#Jong stemme: Identiteitspolitiek demokrasie se grootste vyand”, nie erg betwis is nie.

Juis daarom beskou lande, soos onder meer versamel in die EU, die begrip “menseregte” as ’n kombinasie van individuele regte en minderheidsregte. In seker een van die mees diverse samelewings ter wêreld, Suid-Afrika, se Grondwet ontbreek ’n handves van minderheidsregte geheel, behalwe waar dit terloops as opsionele en “verdringbare regte” opgeneem is soos taalregte en artikel 235 van die Grondwet bestaan. Die bepaling, soos pas weer deur die konstitusionele hof bevestig, dat onderrig in, byvoorbeeld, Afrikaans slegs bestaan as dit bekostigbaar is, skakel dit in effek as grondwetlike reg uit omdat dit bloot op administratiewe vlak polities verongeluk kan word.

Die onlosmaaklikheid van individuele regte en minderheidsregte blyk goed uit die afsterwe van die destydse Nederlandse minister, Max van der Stoel. Hy was as’t ware premier Joop den Uyl se “laksman” teen apartheid, maar is ná sy dood veral onthou vir sy selfopgelegde lewenstaak om minderheidsregte te bevorder.

Lees ook Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond, se artikel in die Oktober-nuusbrief, “Identiteitspolitiek en die Realiteite van Suid-Afrika”.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Petrus ·

Interessante opsomming van stand van sake.
Miskien moet ons elkeen besef dat ons ras, kleur, taal, geslag ens Godgegewe feite is. Dit blyk dat daar internasionaal ‘n beweging is om alles wat geslag, geskiedenis ens wil vermeng in ‘n indentiteitlose mengelmoes. Mens moet net “woke” wees en besef die vermengings religie is niks anders as ‘n stille magstryd wat ‘n enger “have and have not” bestel wil vestig. (sameswerings teorie) dink nie so nie. Daar is diegene wat taal, geskiedenis, identiteit en alles wil wegneem om eie belange te vestig. Sê maar snert maar gaan dink daaroor!

Hans ·

Blade beweer hy wil Afrikaans as taal red van “verregse” sprekers wat dit kaap… Gelyke kanse, solank dit in ENGELS is by Stellenbosch?

Hendrik ·

Dat daar ‘n verandering moet kom in die huidige situasie is waar. Dit gaan baie moeilik wees om enige iets grondwetlik te verander met die regeerders. Gaan selfbestuur lui tot selfbeskikking of gaan S.A so ekonomies verval dat groepe selfbestuur gaan toepas om die situasie te red en dus sal dit ongesiens verby gaan? Ons almal voel onrustig en met Zimbabwe as voorbeeld is dit logies om so te voel. In ons onderbewusyn begin almal planne in plek sit en soos Frans Cronje (IRR) vra: Hoe oorleef jy die toekomstige staatsverval senario en fiskale afgrond wat verskeie ekonome ons teen waarsku. Identiteite gaan beslis groepeer om te oorleef net soos ons geskiedenis van na die Anglo-boere oorlog ons wys. Identiteitspolitiek is ‘n werklikheid en Identiteits-politiek gaan versterk soos die land ekonomies verval.

Jerry ·

Die realiteit vir minderhede en hulle regte in SA is dat die demokratiese bestel en grondwet te veel mag verleen aan die wil van die meerderheid van wie die regerende party se denke geskoei is op of alles vir die meerderheid of niks vir niemand nie. Daarom dat die Afrikaner as n minderheidsgroep se regte regstegnies stadig maar seker deur die regerende party ingeperk en in sekere gevalle uitgesluit word. Sonder regte en selfregering loop die Afrikaner dus die gevaar om in SA deur demokratiese twee derdes meerderheid parlementere wetgewing gedwing te word om toenemend sy identiteit mbt taal, kultuur en godsdiens prys te gee aan links liberale humanistiese denke. Daarom dat die bewustheid van die aanslag teen die regte van die minderheid, die Afrikaner verdeel, maar tog ook tot orde en aksie roep, hetsy om te bly en van vooraf te bou, of om te gly en net aan te gaan in bestaande westerse denkskole waar ware eenheid en beskerming van regte in diversiteit, ook vir die Afrikaner se regte en identiteit geld!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.