Nuuskommentaar: Vandag regeer die howe

hof-hamer

Argieffoto.

Die oë is vandag op twee waterskeidingsake gerig – die geheime stemming wat die UDM in ’n mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma aanvra, en die saak van Ogod oor godsdiensvryheid in skole.

Twee belangrike sake sal van vandag af die aandag trek. In die konstitusionele hof dien die UDM se aansoek dat die volgende mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma per geheime stem hanteer word.

In die hooggeregshof in Johannesburg dien ’n waterskeidingsaak wat die posisie van godsdiensvryheid in skole gaan raak.

Met albei hofsake sny die wortels diep. Met die hofsaak oor godsdiens in skole sal die saak waarskynlik nog lank duur omdat die verloorder moontlik sal appelleer tot die saak uiteindelik in die konstitusionele hof besleg word.

Oor die uitkoms van die UDM (gesteun deur ander opposisiepartye) is daar oor ’n breë front regsonsekerheid. Een aspek wat waarskynlik in die UDM se guns beslis gaan word, is dat die speaker, Baleke Mbete, dwaal in haar stelling dat die Grondwet en parlementêre reëls nie vir ’n geheime stemming (in ’n mosie van wantroue) voorsiening maak nie. Die reëls bepaal egter dat die speaker in spesiale omstandighede ’n geheime stemming kan gelas. Omdat sy reeds gesê het sy is nie teen ’n geheime stemming gekant nie, gaan die druk op haar enorm wees as die hof die opsie vir geheime stemming bevestig.

Die konstitusionele hof is egter bekend daarvoor dat dit dikwels in sy uitsprake regskrywend optree, en met geïmproviseerde oplossings vorendag kom. Dis moeilik om ’n uitspraak vooruit te loop.

Wat egter wel baie duidelik op die politieke toneel is, is dat Zuma baie benoud oor hierdie en ander komende uitsprake is. Sy ondersteuners het dus ook die kritiek op howe met ’n aks gelig.

Om die kroon te span is die Nasionale Vervolgingsgesag deur die DA op terme geplaas om teen vandag lig te werp op wat geword het van die strafregtelike klagte teen Zuma in verband met die Nkandla-debakel. Anders is daar nog ’n saak teen Zuma in die hof.

Dit is ook moontlik dat van die opposisiepartye, en/of nieregeringsorganisasies, vandag ’n interdik teen die heraanstelling van Brian Molefe as Eskom-voorsitter sal bekom. Ook binne die ANC is ’n sterk gevoel dat die aanstelling gestuit moet word. Dit word as ’n groot terugslag vir die Zupta-kabaal beskou.

Wanneer dit by die skole-godsdienssaak kom wat die organisasie Ogod teen ses skole (as verteenwoordigend van die res van die staatsgefinansierde skole) aanhangig gemaak het, is dit nodig om met groot omsigtigheid op te tree. Dit is insiggewend dat Ogod gekla het dat die media in hul beriggewing die feite erg verdraai het. Die verloop en uiteindelike uitspraak sal lig werp op die ingrypende aard al dan nie van die aansoek.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie het hom as party tot die saak onttrek na dié organisasie onder skoot gekom het omdat dit sy pleitstukke “in pas met die Grondwet” aangepas het, en volgens die ander partye wesenlik Ogod se standpunt ingeneem het.

Wat wel baie duidelik is, is dat die bevestiging van godsdiensvryheid, en die reg van ’n skool om sy religieuse onderbou self te bepaal, skerp beperkings sal plaas daarop dat hierdie etos gebruik kan word om op enige manier kinders wat nié die etos onderskryf nie, op enige manier ongemaklik te laat voel. Kortom, onderwysers en medeleerders wat snedige aanmerkings maak wanneer die ateïstiese kinders, of kinders van ander geloofsrigtings, die saal voor godsdiensbeoefening verlaat, kan ernstige teenspoed verwag.

Kortom, daar kan van skole met ’n Christelike etos verwag word dat onderwysers en kinders hulle soos ware Christene teenoor die “ander” moet gedra. Oor wat dit behels, kan ’n mens maar net kyk na die goeie vrugte van die Heilige Gees, soos uit die Bybel gehaal: verstaan die genade van God, regverdigheid, waarheid, leer wat gee God vreugde, liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid,  getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing, inskiklik, vol genade, onpartydig en nie veroordelend wees nie.

Of ’n Christen kan gaan kyk na die eienskappe van die slegte vrugte oor hoe om hom nié te gedra nie: deelname aan ongehoorsaamheid, dade wat in die geheim gepleeg word te erg om te noem, verwaandheid, uitlokkend/skoorsoekerig, selfsugtig wees, jaloers wees, leuens vertel, skynheilig en veroordeel kwaadwillig.

Gaan kyk gerus na die leserskommentare onderaan die berigte oor die Ogod-hofsaak en besluit hoeveel van diegene wat ’n smerigheid “namens die Here” neerpen, beweeg eerder in die omgewing van die slegte vrugte rond, as by die goeie vrugte van die Heilige Gees.

Aan die ander kant het die opvatting wat eens baie sterk oor die wêreld gevestig was, naamlik godsdiensvryheid, noodwendig op die onderhouding van geen-godsdiens in openbare instellings ook die wind van voor gekry. Die besef het posgevat dat ateïsme wel dieselfde status as ’n godsdiens kan geniet, maar nie oorkoepelend neutraal kan wees nie. In die VSA is nog gereeld hofsake waar Christene terugbaklei om hul geloofsvryheid herstel te kry, en onder meer die reg verlang om munisipale raadsvergaderings met gebed te open.

Dat die uiteindelike finale lyne in die konstitusionele hof getrek sal word, beteken egter nie dat die hofsaak wat vandag in die hooggeregshof begin word minder belangrik is nie. Die feitelike bevinding wat die hof in hierdie saak maak, asook die bepaling van regsbeginsels, gaan ’n baie groot invloed op ’n moontlike appèlhofuitspraak, en uiteindelik die uitspraak van die konstitusionele hof hê. Dit is dus baie belangrik dat baie sterk mure reeds vandag en oor die volgende paar dae in die hof gebou word.

Die politieke toneel staan egter nie stil terwyl die publiek op waterskeiding-hofsake wag nie. Zuma voel duidelik die druk terwyl sake om hom verkrummel, en dit al duideliker word dat die ANC self by die verkrummelingsproses ingetrek word. Die besef groei duidelik dat dit ’n geval is van óf die ANC, óf Zuma. Politieke ontleders sê enkele ANC-parlementslede het teenoor hulle laat blyk dat hulle in ’n volgende mosie van wantroue teen Zuma óók teen Zuma gaan stem, al is dit nie per geheime stembrief nie. Baie ander gaan sorg dat hulle daardie dag ander verpligtinge het.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

pieter ·

EK GLO IN DIE WAARHEID WAT VRY MAAK,GELEI DEUR DIE HEILIGE GEES. AS GELOWIGE IN DIE DRIE EENHEID DISTANSIEER EK MY VAN KERKE WAT VIR SKELM POLITISIE BID EN EK WAG VIR PREDIKANTE WAT STANDPUNT INNEEM TEEN DIE ONDING.

Justice ·

Abrahams van die NVG se redes of Zuma vervolg gaan word of nie is net so belangrik. Sy patetiese selfverontskuldiging as NVG hoof is besig om belaglik te raak en impliseer hom indirek.

Dirk ·

Dit is verseker so dat die howe ‘n aantal ongemaklike sake sal moet aanhoor en daaroor beslis.

Dit bly egter ‘n ope vraag of die wat daardeur geraak word, hulleself daaraan sal onder sal onderwerp. Hierby uitgesluit die godsdiens-saak. Ek is ‘n voorstander dat godsdiens uit skole verwyder word. Dwaalleerstellings is besig om oorhand te kry. Dit druis in teen dit wat ek tuis my kinders leer.

Al die ander gevalle het die potensiaal om die land op ‘n pad van voorspoed te plaas sou almal wat daardeur geraak word gehoor gee aan die Reg en die beginsils van geregtigheid. Dit is egter ‘n gegewe dat dit nooit sal wees nie.

Vir nou is daar ‘n gemeenskaplike vyand – Zuma en sy maatjies. Sodra die vyand verwyder is sal die fokus terugskuif na die oorspronklike teiken, nl die wit “burgers”. Zuma het dan ook die teiken ‘n meer formele naam gegee. Radikale finansieele transformasie.

Of Zamu nou loop of bly bepaal slegs die tyd waarop die aandag teruggeskuif word na die oorspronklike teiken. Daar is geen genade vir die wit “burger” nie. Die dubbel standaard wat heers ten opsigte van swart op wit moord teenoor wit op swart moord bly bewys hiervan. Verder word die vyandskap lewendig gehou deur NRO’s se navorsing wat beweer dat wiites steeds meer geld het as die swart bevolking.

Wie dwing hofbevele teen die regering af? Hiervoor het die grondwet geen antwoord nie. Die hof kan nie ook sy eie polisieman wees nie!

Boerseun ·

Ek hoop van harte OGOD wen die saak dat ons die sieklike godsdienstige indoktrinasie uit die skole, en ek hoop ook universiteite en die staat, kan kry.

eish ·

Baie insiggewende en uiteenlopende standpunte. Daar is duisende “Christelike denominasies” en gevolglik net soveel standpunte oor dogma. Party glo die Sabbat is Saterdag, ander Sondag, party glo ons gaan hemel toe (Oom Angus), ander glo ons slaap tot Jesus terugkeer en Sy koninkryk hier op aarde oprig( Bybel). So gaan dit aan. Née wat, met die babelse verwarring gaan die denominasies nou begin onder mekaar veg. Dalk beter om maar elkeen die waarheid te laat soek op sy eie buite die skoolhek.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.