Nuuskommentaar: Verkiesing sonder stembriewe?

Argieffoto: Phillip Bruwer

Hoe groot gaan die slagting onder uitgebragte stemme met die komende algemene verkiesing wees as kiesers, nadat hulle hul kruisies getrek het, eers ’n kort toets moet aflê om te wys hulle weet genoegsaam wat hul party van keuse se beleid behels, voor die stem wel getel kan word? Of kiesers moet eers wat die Amerikaners ’n vaardigheidstoets noem, aflê om te bepaal of iemand inderdaad stemgeregtig behoort te wees? So wenslik as wat dit mag wees dat kiesers ingelig moet wees, so onprakties is dit. Maar wat as tegnologie ’n rekenaargebaseerde “stembrief” moontlik maak waar kiesers vir beleidsaspekte en nie partye nie stem? Die kundigheid is al halfpad daar.

In sommige lande is daar met verkiesings nie gedrukte stembriewe nie. Die bevolkingsgetalle is gewoon te groot om ’n handtellery te kan hanteer, en daarom word van “stembriewe” op die rekenaar gebruik gemaak. Sodra u gestem het, is u stem sommer ook al getel. Dit vereis natuurlik ’n byna 100% geletterde bevolking en nie ’n gevaar van beurtkrag nie om so ’n stelsel te kan implementeer.

Maar wat van ’n stelsel waar daar geen stembriefie met partye se name op die skerm is nie, maar net keuses tussen verskillende beleidsaspekte? U kies dan met watter beleidsaspekte u saamstem, en die blikbrein gaan plaas u stem by die party met wie se beleid u keuses die naaste ooreenstem. Dié keer is die verwerking ingewikkelder, want nie al u keuses stem noodwendig met net een party ooreen nie, en heelwat partye kan oor sekere aspekte dieselfde beleid hê. Dan gaan daardie stem na meer as een party.

Dit gaan uiteraard rekenaars met enorme kapasiteit verg om sulke berekenings te doen.

Die konsep van ’n “stemtoets” is nie nuut nie. De Standaard van België, met die hulp van kundiges, het weer, soos ook tevore, ’n stemtoets vir lesers vir die komende verkiesing ontwikkel. Dit handel hier oor die stem wat u op u stembrief sou uitbring. U klik gewoon op ’n aangewese skakel en die “stembrief”, wat die totaal van belangrikste beleidsaspekte van die partye lys, verskyn, maar sonder ’n spoor van enige party se naam daarby.

Hierdie stemtoets, so meen die koerant, is die gevorderdste wat nog ontwikkel is.

Lesers kan nou self bepaal vir watter party hulle beleidsgewys behoort te stem. Daar is drie verkiesings op hande, waaruit hulle eers ’n keuse vir hul stemtoets moet maak. Hulle kan aan die Belgiese federale verkiesing “deelneem”, of aan die streeksregering, byvoorbeeld die Vlaamse, Brusselse of dié van Wallonië. Dan moet hulle ook vir kandidate in die Europese parlement stem.

Dié oefening is nie veronderstel om partye ’n aanduiding te gee oor hoeveel steun hulle sou geniet nie, maar om die leser in staat te stel om vas te stel watter party beleidsgewys sy stem behoort te kry.

Op die teoretiese vlak behoort tog besin te word of hierdie suiwer beleidskeuses wat uitgebring kan word, nie meriete het om as kiesstelsel te dien nie. Dit voorkom dan immers demokrasie-versteurings soos dat kiesers vir ’n bepaalde party stem, omdat hul ouers byvoorbeeld ook daardie party gesteun het. Die allerbelangrikste aspek, naamlik beleid, is vir sulke kiesers irrelevant.

Voorts skakel dit in praktyk ongeletterde kiesers uit. Die tegnologiese teenvraag is of ’n kieser wat nie kan lees nie, stemreg behoort te hê. Hoe stel hy immers vas met watter party se beleid sy eie oortuigings die nouste ooreenstem?

Die teenargumente sou byvoorbeeld wees dat beleid nie al oorweging by kiesers is nie. Hulle kan byvoorbeeld ’n yslike probleem hê om vir ’n party te stem wat hom aan korrupsie, die beskerming van korruptes, onbevoegdheid, en ja, sommer staatskaping ook, skuldig maak. Maar beleidsgewys is die kiesers so hartlik eens met dié betrokke party wat ’n mens walg, dat die blikbrein die stem daar sal gaan plaas, tensy die blikbrein ook vra vir watter party of twee ’n mens beslis nié voor wil stem nie. Die tweede naaste keuse kan dan die stem kry.

Met nog heelwat dinkskrums en verdere tegnologiese deurbrake, kan iets op hierdie trant in die toekoms moontlik oorweeg word om die demokrasie suiwerder te maak. Dit sal die politiek ook suiwer van opportunistiese bogpraatjies soos stemme op kleiner partye vermors, en leen ons jou stem (wat agterna blyk annekseer, en nie bruikleen nie, beteken).

Dit het nadele ook. Die speelveld tussen kleptokratiese of gekaapte partye, en partye met werklike integriteit, word gelyk gemaak, want verbintenis tot skoon administrasie teenoor korrupsie kan nie uit beleidsvrae afgelei word nie (tensy ’n party blatant sy voorkeur vir korrupsie uitspreek – amper soos oud-pres. Jacob Zuma wat gesê het korrupsie is ’n Westerse konsep).

’n Ervare party met ’n meetbare geskiedenis, en ’n nuwe party, of ʼn party vol loodswaaiers, sal nie op ’n vraelys oor beleidsaspekte van mekaar onderskei kan word nie. Dit kan moontlik oorkom word deur die kieser wel sy voorkeurparty op die “stembrief” te laat aanteken. Is daar ’n groot genoeg ooreenkoms tussen die gekose party en daardie party se beleid soos op die vraelys geselekteer, word die party-stem geaktiveer en die totaal van kiesers tel argumentsonthalwe 25% van die totale stemme.

’n Finale oorweging: Kan die vraelys so aangepas word om voldoende voorsiening te maak vir ’n vorm van tegnokrasie? Dit wil sê dat meganismes ingebou word om te verseker dat ’n herhaling met Eskom en ander instansies wat swaar op kundigheid leen, nie deur ’n tipe Zuptakrasie, leeg geplunder of in die grond in bestuur kan word nie.

Met genoeg toewyding sal elke vraag en probleem wel uitgestryk kan word. Maar tot dan, sal die “stemtoets” eintlik net geskik wees om die kieser te help om die regte party vir sy oortuigings te vind. Trouens, dit kan reeds ’n baie goeie bydrae lewer om kiesers wat om die verkeerde redes vir bepaalde partye stem, te help om die demokrasie te gebruik waarvoor dit bedoel is.

Is daar ander maniere om te verseker ’n kieser se onkunde verongeluk nie werklike demokratiese uitdrukking en selfs ’n vorm van merietekrasie is nie?

Daar was inderdaad stelsels in Engels bekend as ’n “literacy test”. Tot 1965 was dit inderdaad praktyk in verskeie suidelike state in die VSA dat sulke toetse vooraf afgelê moes word om te bepaal of iemand geregtig behoort te wees om te kan stem. Dikwels was dit daarop gemik om nie-blankes, arm blankes en immigrante se stemreg te ontneem, of minstens te vertraag tot hulle alle relevante aspekte om demokrasie en die beoefening daarvan onder die knie het. (Lees hier en hier).

Die verskynsel van mense wat sê “ek lees nie meer koerant nie”, en “ek luister of kyk nie meer die nuus nie want dis net te ontstellend” is al deur analiste “verdomming” genoem. Die verspreiding van fopnuus deur die sosiale media vererger sake boonop. Ons beland immers al meer in geselskappe waar iemand, selfs met goeie kwalifikasies, opvallend nie kan saampraat nie omdat hulle byvoorbeeld nog nooit van die nuwe boek oor Ace Magashule of die Zondo-kommissie gehoor het nie. Dien dit enigsins ’n doel om hierdie toondowes vir die werklikheid te laat stem?

Dit is ’n beginseldebat op sy eie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

ZAR ·

Ek hou van die idee, maar ek is nie so seker oor die praktiese uitvoerbaarheid daarvan nie.
Ek kan my net indink hoeveel miljoene mense vir die volgende sal stem…
Kos verniet
Behuising verniet
Studies verniet
Verwydering van kolonialiste
Verwydering van koloniale opvoeding
Ensovoorts.
Die EFF sal dan verseker wen.

Elsje ·

Jy moet ‘n belasting nommer he om te stem, slegs belastingbetaler is geregtig om te stem.

Andreas ·

Wil jy nou vir my sê dat mense wat toelaes ontvang kan nie stem nie?

piper ·

net persone wat vir persoonlike belasting by sars geregistreer is moet kan stem.

Heinrich ·

Goeie artikel Herman, baie dankie. Dit is lekker om te sien hoe eerstewêreldse lande die ding doen. Dit sal nogal ‘n oefening en ‘n half wees om die ding ‘Africa-proof’ te maak om hier te werk.
En met Lewensoriëntering op skole wat alles behalwe sulke praktiese dinge in die leerplan het , saam met die lae opleidingsvlak van baie mense, gaan dit hier ondoenbaar wees. Maar ons kan wens…

Marcel ·

Kry mens regtig nog mense (hier en in ander lande) wat dink die beleid wat ‘n party voor die verkiesing verkondig, is dieselfde beleid wat hulle na die verkiesing gaan implimenteer?
So daar is regtig in die jaar 2019 nog steeds mense wat politici (wit, swart, manlik, vroulik, Christen, Moslem, Hindu, Afrikaans, Engels, Zoeloe, Duits, Frans, noem maar op) glo?
Sjoe!

Andreas ·

Briljante rubriek, ten minste kan daar nie paddas gekook word nie. 100 vir jou Mnr Toerien! Nou moet die stelsel net aan Cyril en kie verkoop word. En dan is die vraag, wanneer sal ‘ons’ in die land daarvoor reg wees? Mens moet onthou ons het ‘n magdom tale in die land en die rekenaar sal al die wysheid op aarde benodig om dit in daardie tale aan die mense oor te dra. So nou moet die rekenaar ook eers ‘n vaardigheidstoets ondergaan.

Dries du Toit ·

Om hierdie ding maklik op te los is eenvoudig. Klassifiseer mense volgens hulle kwalifikasies. Ongeletterd = 1 stem. Matriek =2 stemme, tersiere kwalifikasie=3 stemme. Hoogs akademiese kwalifikasie, nagraadse kwalifikasie ,dr, prof, hon ens =4 stemme. Dit sal verseker dat ons nie uitgelewer word aan die denke van onnosele oningeligte mense nie.

Andreas ·

Klink heel reg vir my, en dan kwalifiseer ek seker vir 5 stemme. Maar nou is ons ongelukkig ‘n Afrika demokratiese land wat die meerderheid hieroor ‘n besluit het.

Carina ·

Daar behoort ‘n stemstelsel ingestel te word waar jy jou vinger afdruk moet gee voor jy op die stelsel gaan om vir jou party te stem. Dis natuurlik gekoppel aan jou ID, ens, so die stelsel sal dadelik optel of jy ‘n SA burger is, hoe oud jy is, waar jy woon, ens. En jy kan net 1x stem. En die stemme is ook dadelik klaar getel, geen papiere wat wegraak of gedupliseer word nie. Geen mense wat van oor ons grense ingery word om skelm te kom stem nie, ens.

Andreas ·

‘n Vingerafdruk is te veel moeite, hulle moet ‘n stoel ontwerp waarop mens net kan gaan sit vir die afdruk.

Buite Stander ·

Nee Andreas, party kiesers sal nie in die stoel pas nie, ander sal die stoel wegdra.

Alida ·

1ste wereld se plannetjies werk nie in n 3de wereld vol haatdraende opgesweepte mense nie. Vergeet dit. Hulle sal nie die stelsel verstaan nie.

John ·

Herman bly jy nou in Europa of steeds in Bloemfontein, SA. Hierdie is Cloud-drome en opdrifsels. Selfs Belgiè word derdewèrelds met sy donker bevolking meerdendeels Mulatto’s. Sonder krag, is enige droom vir sulke ontwikkeling taboe. Alexandra is meer die rigting waarin ons beweeg of as ons gelukkig is Venezuela.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.