Nuuskommentaar: VSA se politiek pure teater, maar moenie SA boendoe-teater weggooi

Argieffoto: Pixabay

Die Amerikaanse politiek word dikwels met teater geassosieer – juis nou weer met die Trump-voorverhoor. Maar kan die Yanks nie kom les vat by ons voorste eksponente van die politieke boendoe-teater nie? Malema en die EFF, die BLF, die skaapslagters op ’n Kaapse strand, radikale vakbond-woordvoeders met die SAL se klaarblyklike swanesangrituele, die Konstitusionele Hof se Gelyke Kanse-uitspraak.

Die Amerikaanse politiek word lank reeds met teater vergelyk – nie net in voorkoms nie, maar in funksionaliteit. Soms word dit meer spesifiek omskryf, soos dat hierdie teater handel oor die weergee/opvoering van die teater van die lewe. Die omgekeerde gebeur ook, met verskeie kunstenaars wat die teatergenre satire inspan om tong in die kies harde politieke werklikhede as lawwigheid voor te stel, en daaroor heerlik te kan lag. Dis broodnodige terapie, hoewel veral die politici wat as die “rolmodelle” gebruik word, waarskynlik minder hartlik die lagspiere sal inspan.

Die kwessie word weer eens deur meningsvormers onder die loep geneem nadat die verhore begin het om te bepaal of pres. Donald Trump in ’n staat van beskuldiging geplaas moet word. Trouens, vir alle praktiese doeleindes is Trump reeds in ’n staat van beskuldiging, want sou die getuienis téén hom slaag, sal hy kwalik as herverkiesbaar voorgestel word, al “wen” hy ook dié rondte.

Onder die opskrif, Relax David Nunes – theatre is essential to politics, skryf Harvey Young in die jongste uitgawe van The Conversation, dat politiek-aktiewe mense kennis moet neem van die band tussen teater en politiek. Nunes is dekaan van die kollege vir die skone kunste van die Universiteit Boston en ook ’n Republikeinse senator wat taamlik bitterbek op die verrigtinge teen Trump gereageer het en dit “A televised theatrical performance staged by the Democrats,” genoem het.

Young se artikel is waarskynlik heel onafhanklik van ’n onlangse artikel wat in dieselfde e-tydskrif geskryf is. Onder die opskrif Why tyranny could be the inevitable outcome of democracy skryf Lawrence Torcello onder meer: “But looking at the modern political world, it seems much less far-fetched to me now. In democratic nations like Turkey, the U.K., Hungary, Brazil and the U.S., anti-elite demagogues are riding a wave of populism fueled by nationalist pride. It is a sign that liberal constraints on democracy are weakening.”

Hy gaan haal sy storie ver, naamlik by Plato wat geskryf het dat waar mense hulself mag regeer, dit onafwendbaar tot ’n tirannie sal lei. Die volgende aanhaling knoop egter Young en Torcello se artikels onlosmaaklik: “Aristotle and his students had not yet formalized the basic concepts and principles of logic, so those who sought influence learned from sophists, teachers of rhetoric who focused on controlling the audience’s emotions rather than influencing their logical thinking… There lay the trap: Power belonged to anyone who could harness the collective will of the citizens directly by appealing to their emotions rather than using evidence and facts to change their minds.”

Durf ons nou tong in die kies sê: “Hallo pres. Pieter-Dirk Uys, of pres. Jacob Zuma, of pres. Casper de Vries, pres. Julius Malema?”

Teen dié tyd is dit immers met ’n prima facie-bewyslas meer as duidelik dat Zuma die staat probeer kaap het, en ver daarmee gevorder het. Julius Malema en sy EFF maak dit duidelik genoeg dat hulle wit mense se grond wil VBS. Wat anders as teater was die EFF se molesmakery in die parlement?

Met die leerstellings van die geweldsfilosoof Franz Fanon wat duidelik neerslag in die filosofiese onderbou van swart bewussyn in Suid-Afrika gevind het, kan gerus gekoekeloer word na wat Fanon self oor politiek en teater geskryf het. Dit lyk op die oog af nie of die teaterkonsep sterk by hom inslag gevind het nie, al het hy self sy pen aan teaterstukke gewaag en graag teateropvoerings bygewoon. Maar ander waarnemers meen weer sy aandeel aan die Algerynse vryheidsoorlog teen Frankryk was soos ’n teateropvoering voorberei.

Wat is die doeltreffendste – teaterpolitiek of werklikheidspolitiek? As voorbeeld van werklikheidspolitiek kan die versameling mediaverklarings van die Vryheidsfront Plus gisteraand dien. En onthou, die VF+ se mediakapasiteit is ontwerp deur ’n voormalige professor in kommunikasie, dr. Pieter Mulder.  Die opskrifte gistermiddag en -aand demonstreer die aktualiteit en realiteit:

  • Medupi en Kusile is toonbeelde van die vernietigende effek van regstellende aksie
  • Departement van justisie moet kennis neem daar kan geen vryheid sonder geregtigheid wees nie
  • Departement van landbou tot op hede stil oor omvang van bek-en-klouseer
  • Agteruitgang van entiteite by departement van omgewingsake raak almal in die samelewing
  • Hoër onderwys gekenmerk deur swak bestuur, onderdrukking van Afrikaans

Daar is stellig niks verkeerd met die verklarings nie – inteendeel, hulle kan as uitstekend en noodsaaklik beskou word. Maar … as dié trant nie met iets positiefs afgewissel word nie, gaan dit nie naderhand voel dit word deur die VF-negatief uitgereik nie? John Steenhuisen, nuwe waarnemende leier van die DA, het immers aangedui hy wil die persepsie afskud dat die DA net die ANC kan kritiseer en dit vervang met ’n aanslag wat eerder toon wat die DA reg doen.

Oorlede oupa Meyer het altoos, as die sirkus die dorp besoek, gesê die “spulle” is nou hier. Intussen, so lyk dit, het die spulle die land oorgeneem. Maar, so lyk dit, spulle weet van teater inspan om mense wolle oor die oë te trek (en sommer bloukaas in die ore te druk), maar van regeer so min weet dat die VF Plus se opskrifte dodelik in die kol is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Feite ·

Stem saam dat die VF se opskrifte dodelik in die kol is wat westerse denke aanbetref en dat dit net as negatief ervaar word, maar dit weerspieel die realiteit. Enersyds kan die realiteit summier ongedaan gemaak word deur “pan africanist” denke wanneer die gevolge van apartheid vir daardie opskrifte geblameer word. Andersyds kan die VF se opskrifte as n rewolusionere oorwinning van die ANC oor die VF se boere en oor afrikaans beskou word. Ek ag Dr. Pieter Mulder as n bevoegde en gesoute politieke kommunikator, maar met alle respek, hierdie VF opskrifte kan nie pan afrikanisme se denke en idees troef nie, laat staan nog, beinvloed!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.