Nuuskommentaar: Wanneer “regstellende optrede” rassisme word

Argieffoto

Argieffoto

Die Eskomkrisis en die departement van arbeid se beslistheid om kwotas onder die ingenieurs wetlik af te dwing, al sê adjunkpres. Cyril Ramaphosa wat, laat weer die fokus val op talle praktyke en wanpraktyke wat blindelings onder die term “regstellende optrede” ingevee word.

Waarskynlik die grootste vergryp is om “affirmative action” met “regstellende optrede” te vertaal. Regstellende optrede impliseer dat iets wat verkeerd is, reggestel word en hiermee kan nie veel fout gevind word nie. “Affirmative action” impliseer duidelik dat iemand wat in ’n sekere kategorie (byvoorbeeld ras) val, bevoordeel word al is sy posisie by herhaling al “reggestel”.

Internasionaal beweeg die denke weg van ’n blindelingse kleurbevoordeling na een waar na die meriete van die aanstelling van die individu gekyk word. Die feit dat iemand agtergeblewe is, is nie noodwendig van sy kleur af te lei nie. In die VSA is daar byvoorbeeld baie wit gesinne wat swaar kry, en dit sou uiters onbillik wees as ’n kind wat hieruit kan uitstyg oor sy velkleur teruggehou word, terwyl die swart kind van miljoenêrouers bevoordeel word bloot omdat hy of sy swart is.

Hoeveel regverdiging kan daar byvoorbeeld wees as twee Suid-Afrikaanse klasmaats, albei uit bevoorregte gesinne, langs mekaar op die skoolbanke sit, maar in matriek moet die een gemiddeld ver oor die 90 persent haal en die ander skaars 60 persent om vir medies gekeur te word?

Die bekende analis by die Washington Examiner, Michael Barone, wys byna terloops op die onbedoelde implikasie waar daar nie duidelik ’n sonsondergangklousule is nie. In sy artikel, Will Hispanics fire up America, vra hy watter inspirasie sal die Latyns-Amerikaners (Hispanics), en veral hul leiers, hê om ooit met die res van die Amerikaanse gemeenskap te integreer as dit sou beteken dat hulle hul aanspraak op “affirmative action” verloor?

In die VSA is so iets meer van ’n akademiese vraag. Sowat 40 persent van die “Hispanics” trou met mense wat nie “Hispanics” is nie. “Misbruike” kom voor, soos dat iemand kan beweer hy of sy is ’n Cherokee of ander Inheemse Amerikaner omdat sy of haar oumagrootjie na bewering ’n Inheemse Amerikaner (sogenaamde Rooihuid) was, en daarom byvoorbeeld vir ʼn universiteitspos in aanmerking kom waarvoor daar kwotas geld. ’n Blonde lid van die Kongres het voorheen so ’n pos by die Bostonse Regskool gekry.

Hierteenoor het pres. Barack Obama reeds aangedui dat hy daarteen gekant is dat sy dogters deur “affirmative action” bevoordeel word, want hulle het nog nooit in hul lewe enige benadeling op grond van hul ras ervaar nie.

Wat, volgens die Grondwet, het Suid-Afrika veronderstel om te hê? Die Grondwet gebruik nie die terme “regstellende optrede” of “affirmative action” nie. Trouens, dit staan nie eens op eie bene nie, maar is as beperkende maatreël ingevoeg op die grondwetlike verbod op diskriminasie. Die reël oor beperkings in die Handves van Menseregte is dat die beperking nooit so wyd vertolk mag word dat dit die oorspronklike reg – die verbod op onbillike diskriminasie – wesenlik tot niet maak nie.

In hul boek, Fundamental Rights in the New Constitution, dui die skrywers, onder andere Cachalia, Davis en Maduna, aan dat hulle die term “corrective action” bo “affirmative action” verkies. Hulle lê ook groot klem op ’n sonsondergangklousule.

Wat in die praktyk gebeur het, is egter heeltemal iets anders. Hoewel daar veronderstel is om talle ander kategorieë as net ras te wees, word slegs ras hard gedryf. Daar is selde ’n kik uit die regering oor persone met gestremdhede nie die verspot lae teiken haal nie, ook nie in die staatsdiens nie. Verskeie munisipaliteite, waaronder Mangaung (Bloemfontein en omstreke) en Dihlabeng (Bethlehem en omstreke) is al “betrap” dat hulle byna 100 persent swart personeel het en steeds nie die moratorium op wit aanstellings opgehef het nie. By van die provinsiale wetgewers, waar kaderontplooiing volspoed loop, het iets soortgelyks gegeld.

Maar wat is in die proses reggestel?

Om Barone se vraag op Suid-Afrika van toepassing te maak – watter aansporing is daar vir die regerende politici om selfs aan ’n sonsondergangklousule vir “affirmative action” te dink as dit die deur oophou om kaders en familie te “ontplooi” ongeag die skade wat dit die land aandoen? En dieselfde reggestelde keer op keer reg te stel, al bly die stemvee agtergeblewe met beloftes aan bevoordeling eendag? Maar, so het dit in die jongste debat oor versoening geblyk, ras kan nie allesoorheersend gemaak word sonder dat rassespanning en polarisasie ’n neweproduk word nie.

Volgens syfers wat nou in omloop is, het die ANC sedert 1994 reeds 67 rasgebaseerde wette of ander wetlike maatreëls ingestel. Die jongste bepaal dat ras weer, soos in die apartheidsera, op titelaktes aangedui moet word.

Onder die vorige bedeling was daar vier wette wat as die hoeksteenwette van apartheid beskou is, en almal is lank voor 1994 uit die wetboek gehaal – nie deur die ANC nie maar die Nasionale Party. Die ANC het statutêre apartheid teruggebring.

Dit mag vrééslik politiek inkorrek wees om dit te sê, maar die wye aandrang dat wit mense (ook hulle wat ná 1994 gebore is) steeds deurlopend moet bieg en jammer sê oor apartheid, terwyl die ANC dalk selfs nog meer agter die deur staan soos met die beleid van nasionale kwotas, veroorsaak weerstandigheid. Ook weerstandigheid om steeds ’n wil tot versoening te koester.

Hierdie rasbenepenheid van die regering kan nie goeie vrug dra nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Joev ·

Iemand wat dink die anc pas “regstelling” toe vir die verbetering en opheffing van benadeelde rasse moet wakker skrik. Niks wat deur die anc met passie aangepak word het dit ten doel om die land te onteikkel nie, maar slegs om aan bewind te bly.

catryn ·

Daarmee stem ek saam, want regstellende aksie lok meer swart immigrante, chinese immigrante, kubane wat hier “ge-akkommoddeer” word. Al ons swart etniese groepe het REEDS hul eie kultuurgebiede, reserwes, voorheen bekend as Tuislande aka Reserwes/lokasies voor 1910, dit gaan terug na die Shepston beleid van die swartes self, hulle het verkies om so te bly, en weer eens het hulle in 1994 gestem om aparte gebiede te bly – maar, hulle word deur ons onderhou. Daar word dus vir Trustgebiede gesorg, terwyl Afrika en die wat ons beveg het op grens, poste kry wat aan hulle belowe is, met die landsgrensoorlog. DUS sal die ANC altyd in beheer bly, want nuwelinge word daagliks ingevoer deur oop grense, en ook via lug/spoor. Aan die einde van die dag, kry al die etniese groepe hul gebied, konings is hul Trustee, maar swartes besit geen grond daar nie dit word van hulle ontneem. Daarom brand hulle alles af. Swart etniese groepe nie altyd gelukkig wees hiermee nie. Dit was nie voor 1994 so nie. Verwoerd het hulle land gegee vir onafhanklikwording, toe steek anc/wereld ‘n stokkie daarvoor. Sy beleid van “segregasie” is presies wat die swartes in 1845 beding het met die Britte (Shepston) waar hul hulself kan regeer, maar die Britte is nes die Trustgebiede vandag, geen besitreg, dit is die verskil tussen Tuislande en Trustgebiede. Vra enige swarte of hy grond besit in tuisland, hy het slegs verblyfreg. En dan gee hulle ons die skuld vir hulle eie wetgeformuleerde wette: Trustwette en CPA’s. Hulle het geen mag in hul eie gebiede nie,nie eers die tradisionele leiers nie. Dit is wat ons noem; KOMMUNISME. Eksterne Selfbeskikking is ons enigste antwoord, ook die ander etniese swartes.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.