Nuuskommentaar: Wat sou gebeur as Vrystaatse hoofstad Kersfees sonder water is?

Foto: Jimmy Chang/Unsplash

Kan iemand met ’n rein gewete sê Bloemfontein gaan oor Kersfees water in die pype hê, en dat die stad se rioolnetwerk daarom nog gaan werk?

As daar nou ’n gemeenskap is wat weet wat gebeur as die drinkwaterpype leeg is, of as daar E. coli in die drinkwatertoevoer is, is dit Bloemfontein en omstreke. En as iemand gedink het Bloemfontein is erg, dan kan hulle nog kers gaan opsteek by omringende dorpe soos Brandfort en Dealesville om te weet hoe erg dit kan raak.

En as ’n mens boonop moet weet watter luukshede deur die ANC in die munisipale raad aangevang word, soos die aanskaf van drie luukse motors van R1,7 miljoen elk terwyl die balju elke nou en dan onder die bestaande vloot moet kom skep om skuld te delg, wil die bloed maar kook.

Pas het ’n DA-parlementslid gewaarsku dat die Mangaung-metropool, wat Bloemfontein insluit, die wesenlike gevaar loop om die eerste metropool in die land te wees wat in duie stort.

Die donker wolk wat oor die stad hang, bring egter nie welkome reën nie, want dit is uitsonderlik droog, maar wel ’n moontlikheid dat die stad oor Kersfees geen water sal hê nie. Bloemwater dreig om die stad se watertoevoer met 30% te beperk, maar in ’n vorige ronde wat voorlopig deur die hof opgeskort is, het dit geblyk dat groot dele van die stad dan geen water hoegenaamd kry nie.

In ’n stadium was daar nog hoop dat min. Lindiwe Sisulu sake tussen Mangaung en Bloemwater sou kom beredder, soos sy versoek is om te doen. Skeptici, gedagtig aan haar “prestasies” in ander portefeuljes, was skepties oor hierdie beoogde wonderkuur. Ja, sy hét al haar opwagting in Bloemfontein gemaak, maar toe het sy pres. Cyril Ramaphosa oor ’n onverwante aangeleentheid vergesel. Sy mag dalk agter die skerms al iets probeer vermag het, maar dan swyg die klippe nog daaroor.

Droë kele is nie die ergste probleem met leë krane nie. Om gesuiwerde drinkwater te koop is vir baie gesinne al ’n deurlopende praktyk, omdat daar soms veel te wense is met die gehalte van die gesuiwerde water wat gepyp by huise aankom. In ’n stadium is die inwoners selfs gewaarsku dat daar E. coli in die water was. En dit is belangrik dat waterverbruikers bewus is van die volgende omtrent E. coli:

  • coli is in die water aanwesig nie omdat dit ook tot die aanwesigheid van riool in die water lei nie, maar omdat daar riool in die water is. E. coli kan self ’n klomp gesondheidsprobleme veroorsaak, maar die eintlike probleem is dat dit ’n uitstekende verklikker is dat ’n groeimedium vir ander gevaarlike bakterieë, virusse en swamme, waaronder cholera en tifoïed, in die water aanwesig is. Tifoïed was enkele jare gelede verantwoordelik vir ’n aantal sterftes in Delmas, terwyl cholera verrassend dikwels in water soos dié van die Vaal en selfs ’n groot waterpoel in Soweto ontdek is.
  • Die teenwoordigheid van E. coli dui gewoonlik op probleme met ’n rioolaanleg iewers, maar dit kan ook die gevolg wees van reënwater wat oor weilande wat bees- en ander mis bevat, spoel. Om geskik vir menslike verbruik te wees, moet die E. coli-telling nul wees.

(Lees gerus Maroela Media se Nuuskommentaar van 18 Maart 2014, “Die dood skuil in die water”, vir meer besonderhede.) Lees ook die Nuuskommentaar van 3 Augustus 2018, “Siesa, dié water maak dood”.

Waterkarre word gewoonlik dikwels deur die inspanning van opposisiepartye gereël. Vir rolstoelafhanklikes en persone met ander gestremdhede bied so iets dikwels geen oplossing nie.

Maar wat gebeur met die rioolstelsel as die water heeltemal opdroog? Dit gee ’n gemorsspul af. Om te werk moet ’n stroompie water teen ’n bepaalde helling in die afvoerpyp loop om reg te funksioneer. Dit word in optimale omstandighede steeds maklik versteur.

Hoeveel verleë ouers moes nie wanneer ’n verstopte pyp oopgemaak word, sien hoe die werkers van die kinders se speelgoed opdiep nie? Of ernstiger, die grusame ontdekking maak dat iemand ’n geaborteerde baba in die toilet afgespoel het. Voeg hierby swellende kleigronde en wortelindringing wat liederlik kan saamspan. Die vervanging van die emmerstelsel met riolering is soms tegnies moeilik omdat die strate nie altyd pylreguit gemaak was nie.

Mangaung is in ’n stadium deur burgemeesters “geteister” wat, as hulle oop ruimtes sien, dit as gebiede beskou waar hoëdigtheidsbehuising of sakegebiede ontwikkel kan word, “omdat die dienste soos elektrisiteit en riolering reeds aangelê is”. In die praktyk verhoog dit die druk op die bestaande infrastruktuur wat vir die beplande ontwikkelings uitgelê is. Voeg daarby die toename in gastehuise en meer mense wat van die huis af werk, om nie van studentehuise te praat nie wat dikwels sommer erg oorbewoon is.

’n Studie van Kaïro het byvoorbeeld ook die impak van verstedeliking uitgewys. Plattelanders is dikwels geneig om meer vetterige kos te eet. As hulle stad toe verhuis, word dié eetgewoontes saamgeneem. Voeg daarby dat die gesinne gewoonlik groter is as dié van gevestigde stadsbewoners. Dan kom kuier familie van die platteland by die stedelike familie, en maak van die geleentheid gebruik om salig te bad. Al die moontlike wasgoed word saamgeneem, en hulle bring natuurlik van hul (vetterige) kos saam. ’n Baie soortgelyke tendens speel hom in Suid-Afrika af.

Op die oomblik is vullisverwydering in Bloemfontein (al weer) ’n ernstige probleem. Daar is verskeie redes, maar die vernaamste probleem is oortydbetaling. Die gevolg is dat in gewone werksure verbete “ge-lunch” word, en die werk sover moontlik nauurs gedoen word. Die vasvat van die misbruik het tot stakings gelei wat die probleme vererger het. Sommiges het peperduur splinternuwe karre op huurkoop gekoop. En sukkel met paaiemente as die oortyd opdroog. Hierdie praktyk is egter voorheen grootliks deur die rioolwerkers “vervolmaak”. As iemand se riool Maandag verstop, was hy gelukkig as dit voor Sondagaand reggemaak word. Net om die volgende dag te vind dit is weer verstop.

Mangaung se uitstaande skuld by Bloemwater stap flink aan na R1 miljard. Die bedrag word betwis, maar dis kwalik relevant, want dit is te betwyfel of Mangaung selfs ’n veel kleiner bedrag sal kan aflos. Lees gerus Maroela Media se Nuuskommentaar van 13 November 2019, “Munisipale leegsuigkapings”. Gaan Bloemfontein ’n waterlose Kersfees hê?

Waarskynlik nie, tensy die hoofwatertoevoerpyp van die Caledonrivier na Bloemfontein (al weer) bars. Iewers sal waarskynlik wel lapwerk gedoen word om die stryd eers ná Nuwejaar te hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hendrik

Dis jammer dat Bloemfontein, my geboorte-, skool- en universiteitsstad so ontaart het. Die mense moet maar septiesetenke en watertenke aankoop en installer en so ook op die koop solar installeer. Op so klomp kan ‘n mens nie staatmaak nie. Daar is honderde miljoene gespandeer op die vaalrivier se rioolsituasie en die probleem is maar nou net erger. Wat ons daarvan leer is om maar selfstandig self te sorg. Miskien kan die Afriforumtak in Bfn die mense lei daarin .

DewaldS

Stem JA vir Vrede, Voorspoed en Veiligheid!!

Vaalseun

Dis nes jy sê, Herman. Gelukkig bied Bloemfontein nie ook nog oor Desember die Sokker Wêreldbeker aan nie. In 2010 het ‘n 4-ster hotel in Johannesburg met groot genoë huisvesting aan ‘n Chinese televisiespan aangebied. Maar die Chinese TV-base is suinige manne. Die TV-spanlede moes self kosmaak in hulle kamers. En hulle het sommer hulle vetterige ryspotte in die storte gewas. Toe hulle weg is, het dit die hotel gekos om die afleipype uit te breek en met nuwes te vervang. Hulle kon die rys met geen drukspuite, drein stange of skoonmaakmiddels uitkry nie. Dis raadsaam om soms jou gasvryheid… Lees meer »

Neels

Ons het almal nagmerries om te vertel. Feit is, alles vou. In die Wes-Kaap probeer die DA wel om die wiele aan die tol te hou.

MJ

Twee redes waarom dit in Bloem gaan soos dit gaan – baie mense betaal eenvoudig net nie hul erfbelasting-sanitasie-vullis-vewydering- en waterrekeninge nie. Niks word gedoen om die wanbetaling-kultuur te probeer regstel nie. En die mense wat wel getrou hul rekeninge betaal, se geld word nie gebruik om die enorme skuld af te betaal nie. So, ons stukkende strate is vuil van die gemors wat rondlê en van riool wat die strate afloop. Ons spandeer ekstra geld om die water wat wel nog by ons huise inloop, te probeer skoonkry met filtersisteme ens (as jy so gelukkig is om so iets… Lees meer »