Nuuskommentaar: Weerbare demokrasie teen ‘dommekratiese’ verval van ANC

President Jacob Zuma. Foto: MyANC, Facebook

President Jacob Zuma. Foto: MyANC, Facebook

In ’n skynbaar onafwendbare sirkelgang kom pres. Jacob Zuma telkemale sentraal in die nuus uit. Die enigste manier hieruit, so lyk dit, is dat #ZumaMustFall, maar dit het self deel van die spel geword waar die regte inligting skynbaar nie oral genoegsaam indring om demokratiese veranderinge te weeg te bring nie.

Op die oomblik bevind die Suid-Afrikaanse politiek hom in ’n stewige sirkelgang. Die beginpunt, as daar so iets in ’n sirkel kan wees, is pres. Jacob Zuma en spesifiek die sentimente wat met die #ZumaMustFall-veldtog verband hou. Dit teer weer op die ongelooflike verval en uitrafeling van demokrasie wat onder Zuma se bewind plaasvind – wat gereeld ’n bewind van patronaatskap genoem word. As teenvoeter dryf die ANC die rassekwessie en beskryf enigiets wat hom nie aanstaan nie as rassisme – terwyl daar self lekker agter die deur gestaan word. Dit verander egter niks aan die ekonomiese situasie van die land nie, wat vererger word deur die manier waarop die land “gelei” word. En so word die sirkel terug na Zuma voltooi.

En omdat Zuma ongeag alles (vir eers) gaan bly waar hy is, gaan die sirkel in nuusgebeure en besprekings grootliks hierdie selfde sirkelgang volg. Die rubriekskrywer Max du Preez stel dit in sy mees onlangse rubriek soos volg: “Nou ja toe, daar’s die aandag weer terug waar dit hoort: by pres. Jacob Zuma, sy regering en sy party se korrupsie, selfverryking, baantjies vir boeties en vrot administrasie. Hoe hard die ANC ook al probeer om rassisme die hoofgesprek in Suid-Afrika te maak, die verrotting in die Uniegebou en Luthuli-huis gaan kort-kort weer sy kop uitsteek.”

Max se rubriek is geskryf voor Zuma, vlak voor ’n hofsaak hieroor, aangebied het om tog ’n deel van die verbeteringskostes van Nkandla uit sy eie sak te betaal. Zuma is daarvoor reeds sentraal terug in die nuus geplaas deur verskillende onthullings wat verskillende koerante gelyktydig gemaak het, en elk die potensiaal van ’n nuwe skandaal inhou.

Die gevolg vir die gewone burger is egter onsekerheid. Verskuilde magte is dikwels sonder demokratiese aanspreeklikheid besig om op uiters komplekse wyse te konkel en span ’n heel ander stel waardes in as waarmee die kiesers hulle in daardie magsposisies geplaas het. Hoe gaan die gewone burger hom of haar handhaaf?

“Die enigste manier waarop ’n mens jou in onseker tye kan bemagtig, is deur kennis in te win sodat jy ’n ingeligte besluit kan neem.” Aan die woord is Rothea van Biljon, ’n bekende Bloemfonteinse sakevrou wat ’n beleggingseminaar reël wat binnekort plaasvind.

Flip Buys van Solidariteit gebruik gereeld die stelling, leer uit die verlede en bou positief daarop vir die toekoms.

Sonder deeglike kennis by die kiesers kan die regering in plaas van ’n demokrasie, ’n “dommekrasie” op die kiesers trek en daarmee wegkom. Propaganda in plaas van inligting word gebruik om kiesers dom te hou oor werklikhede.

Dit, tot ’n groot mate, bepaal die handhawing van demokrasie, selfs grondwetlike demokrasie waar die grondwet duidelik rigting verskaf en perke stel om magsvergrype te voorkom, of veronderstel is om te keer dat aspekte nie toegepas word nie.

Aan die einde van verlede jaar het ’n Nederlander, Bastian Rijpkema, met sy doktorale proefskrif met die titel “Weerbare democratie”, gepromoveer. In breë trekke handel dit oor die gevaar wat die demokrasie vir sy eie voortbestaan inhou. Onder die voorstelle vir die verskansing van demokrasie is behoorlike onderwys, en met die klem op geskiedenisonderrig sodat die bevolking kan leer van die ellende wat diktature in al hul verskyningsvorme al aangerig het. Dus ook kennis.

Is daar ’n gevaar van demokratiese erodering in Suid-Afrika? Die afgelope jare is talle voorbeelde in Suid-Afrika genoem en bespreek, waaronder die ANC se koppestamp met die howe se rol om die grondwet toe te pas (die howe is selfs van ’n heulery met die DA beskuldig), voortdurende aandrang op ’n meerderheidstirannie, die minagting van grondwetlike meganismes soos die openbare beskermer en Pansat, ’n voortdurende vertrapping van minderheidsregte soos ’n halsstarrige weiering om plaasaanvalle tot prioriteitsmisdaad te verklaar en die aanslag teen Afrikaans en die regte wat daarmee gepaard gaan, en vele meer.

Op die oomblik is daar onsekerheid of plaasaanvalle, of selfs die bedreiging van landelike veiligheid, formeel tot prioriteitsmisdaad verklaar is.

Pres. Jacob Zuma se skaduwee val wyd oor feitlik al hierdie kwessies. Dit is inderdaad nie gerusstellend dat hy verklaar dat die ANC tot die wederkoms sal bly regeer, dat sy lojaliteit eerstens by die ANC en dan by Suid-Afrika lê (en so sy ampseed verkrag), dat korrupsie ’n Westerse konsep is en vele meer nie.

In sy hoofartikel vandag sê Beeld dat die aanslag op Pansat net nog ’n voorbeeld is van ’n regering wat net die dele van die grondwet toepas waarmee hy saamstem.

Dis natuurlik ’n ope vraag of die gewone burger genoeg inligting kry om homself te bemagtig, ook as kieser? Dat enorme hoeveelhede inligting beskikbaar is, beteken nie dit bereik almal nie, of dat almal bereik wil word nie. Dit spreek boekdele dat die staat reeds met belangrike projekte soos die sensus en belastingtyd sepies soos 7de  Laan se storielyn moes inspan om basiese boodskappe oor te kry. Ander reklame-instellings bly ook nie agter nie. So moet die harde noodsaaklikheid die burgers na hul wêreld, waar hulle juis daarvan probeer ontsnap, agtervolg. Hierdie soort reklamedruk, veral waar geld te make is, hou gevare in. In Trouw is daar vandag ’n artikel waarin die gevaar, aan die hand van werklike voorbeelde, bespreek word dat reklamegeld selfs die uitkomste van wetenskaplike navorsing bepaal.

Wiens brood men eet, diens woord men spreekt. Die uiteindelike bevindings is reeds bepaal nog voor die navorsing gedoen is.

Dit raak dus toenemend ’n oerwoud om korrekte inligting te bekom. Dit is weer goed gedemonstreer toe dr. Leopold Scholtz die ongure debat wat telkemale losbars wanneer pres. Wladimir Poetin ter sprake kom, en basies handel oor of Poetin ’n engeltjie is of nie, sinvol probeer koers  gee het.

Die Amerikaanse ontleder en skrywer Patrick J. Buchanan meen in ’n meningstuk, “Is a new era upon us?”, ook dat groot veranderings in politieke denke vir die VSA voorlê. Hy lei dit af van die vertonings van die linkse Benny Sanders as presidentskandidaat vir die Demokrate en die instinktiewe Donald Trump vir die Republikeine. Hy meen selfs al maak nie Sanders of Trump dit enduit nie, sal die persoon wat wel president word die laaste verteenwoordiger van ’n era wees. Die alternatiewe, en nie-konvensionele denke wat Trump en Sanders losmaak vind eenvoudig te veel inslag om lank nie deel van die Amerikaanse demokratiese sienings te bly nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Rynhardt ·

Matthews Phosa van Anc het dit duidelik uitgespel:”Alles wat verval in SA is Anc se skyld”.Dit se alles vir jou asook vir Zuma en sy trawante!SA het by n kruispad gekom! Zuma funksioneer soos Dingaan van die verlede.Vanjaar gaan die moeilikheid uit sy nate begin bars!Die spies van die “big chief” is besig om landwyd oor die land te strek.Ek gaan dit weer se.Jy sal jou moet begin bewapen, veral vrouens en kinders!

Rupert Ashford ·

Nav die artikel in Trouw: Die feit dat reklame nou ook die wetenskaplike diskoers bepaal word nerens beter geillustreer as met die “climate change” debat nie waar ooglopende swak en pseudo wetenskap goedsmoeds aanvaar word en ondersteun word deur ‘n al te gewillige media.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.