Nuuskommentaar: Weet ons wat regtig aangaan?

Argieffoto: Pixabay.com

Dit is reeds bekend dat gedrukte koerante wêreldwyd onder druk is, maar die verlies aan hierdie media is veel groter as die sentiment om ’n rustige tydjie op die keramiektroon te kan gaan deurbring. ’n Berg kundigheid is in mediamense van toet tot nou versamel, waarsonder veral nuusmedia van kleiner taalgemeenskappe noustrop gaan trek.

Perskor is nog weinig meer as ’n herinnering. Nie baie lank voor sy ondergang nie, was die uwe, ’n Blikoor, verbaas om ’n Hoofstad tydens ’n besoek aan die Jakarandastad in die hande te kry, en dit was meer as 70 bladsye dik. En die Hoofstad was maar een van verskeie Perskordagblaaie wat ook die Oggendblad en Transvaler ingesluit het.

Dis slegs enkele jare gelede dat Media 24 se direksie ’n besluit geneem het om Volksblad te sluit. Daar was groot ontsteltenis, en die besluit is omgekeer. Die Oosterlig het egter reeds sy naam verloor en as die Oos-Kaapse Burger bly voortbestaan. Maar nou verdwyn die daaglikse gedrukte weergawe van Maandae tot Donderdae. Heelparty lesers sien hierin die onafwendbare einde.

Gedrukte koerante is wêreldwyd onder druk, en talle pogings word aangewend om minstens ’n deel van hierdie tradisie volgens moderne eise te laat oorleef. Die volgende syfers bied nie goeie nuus vir die gedrukte koerant nie. Die syfers is vanoggend deur die peilingsagentskap Rasmussen bekend gemaak. Hiervolgens blyk dit dat 49% van die kiesers wat pres. Donald Trump se bewind ten nouste volg, hierdie nuus van die TV af kry. In die tweede plek is die internet met 25%, die radio met 11%, die gedrukte koerante met 7% en die sosiale media met 3%.

Te veel, veral buite die VSA, kan nie in hierdie syfers gelees word nie. Dit is byvoorbeeld beperk tot mense wat Trump se presidentskap ten nouste volg (nogal ironies as Trump se liefde vir twiet in ag geneem word). In die midtermynpeilings van Rasmussen loop die Demokrate ook voor teen die Republikeine, en dis nie goeie nuus vir Trump nie.

Tog is daar ’n paar waardevolle lesse vir betrokkenes om uit die syfers te wete te kom. ’n Onderskeid word byvoorbeeld getref tussen nuus op die internet as bron, en die sosiale media. Die onderskeid raak byvoorbeeld Maroela Media, wat as internetnuusbron beskou kan word. Die sosiale media kan as die vernaamste verspreider van fopnuus beskou word. Dit impliseer dus dat lesers van Maroela Media betroubare nuus behoort te kry.

Dat koerante met 11% in spel bly, is kommerwekkend. Al bestaan koerante steeds in baie lande, waaronder Suid-Afrika, wend hulle hul verstaanbaar tot ander, of bykomende opsies, soos om hibriede nuusbronne te ontwikkel wat nie meer ten volle papiergebonde is nie.

Dit lyk nie of dit maklik gaan nie. Omtrent die helfte van Los Angeles se daaglikse produkte het niks met die nuus te doene nie. Dis omtrent alles die bekendstellings van spesiale aanbiedinge om lesers te trek. Groot pryse is op die spel, maar meestal is gratis of halfprys-intekening vir so drie maande een van die pryse.

Die Nederlandse Trouw bied aan internetlesers slegs 50 gratis artikels per maand. Vir die res moet opgedok word. De Standaard van België beperk sy beste artikels tot intekenare. Die “wanbetalers” lees nog lekker aan ’n artikel, dan begin die letters net dowwer raak, en dan die aankondiging dat dit ’n betaalartikel is.

’n Deel van die probleem is, volgens gereelde artikels deur redakteurs, dat adverteerders en lesers nog ewe kopsku vir advertensies op die elektroniese media is. Hieraan word hard gewerk soos dikwels gesien kan word wanneer advertensies skielik opduik en die artikels wat ’n mens lees, bedek.

Baie Suid-Afrikaners se toegang tot die internet is hul slimfone en tablette, eerder as deur skoot- en lessenaarrekenaars.

Sou die gedrukte koerante in Suid-Afrika vou, gaan dit veral vir Afrikaans ’n swaar slag wees. Vertalers en koerante se korporatiewe geheue verseker grootliks dat die regte, erkende Afrikaans in gebruik bly. Soms glip die klein jakkalsies deur soos om “iemand onder die bus in te gooi” in plaas van “vir die wolwe gooi”, “afdeling” of “seksie” van ’n wet in plaas van “artikel”, iemand wat uit ’n vereniging “verban” sou wees in plaas van sommer net uitgeskop of geskors te wees (verban is nie die regte Afrikaans vir die Engelse “ban” nie, die Engels vir “verban” is “exile”) en veel meer grillerighede.

Ja, daar is oorvloedig baie elektroniese nuusbronne. Sommiges spesialiseer in geldsake, ander in politiek, ander in ’n mengsel van wêreldgebeure, nog ander in landbou en motors, en vele meer. Beland nou ’n dag of twee in die hospitaal, en die aflaai van e-pos daarna kan sommer ’n groot werk wees. Kompetisie is baie straf.

Maar so baie hiervan is slegs in Engels beskikbaar, of wanneer Afrikaans aangewend word, is die spanwydte van tipografie, gehalte van nuusaanbieding en taalgebruik dikwels net te groot. Soms word Afrikaans gewoon gepleeg en verlang ’n mens na die dae van Zefferkaans, ek sê, en die vroeë Afrikaanse akademiese joernale met die vreeslikste stywe Akademikaans wat die gewone leser stomgeslaan laat. Afrikaanse koerante se rol om van gewone Afrikaans en sy verskillende dialekte alledaagse lekker leesstof te maak, sal seker nooit besef word nie.

Mettertyd sal kompetisie en markkragte toesien dat die suiwer elektroniese nuusmedia van kleiner tale soos Afrikaans dieselfde gehalte van goeie taalgebruik kan handhaaf, en terselfdertyd dieselfde gehalte nuus oplewer.

Moderne speltoetsers help reeds baie, maar tot tyd en wyl dit ook kan “toor”, sal daar ’n hele proses van fusie tussen oud, nie so oud nie en jonk moet wees om te sorg dat Afrikaanssprekendes nie ’n tyd lank ’n droogte aan goeie geskrewe Afrikaans en gehalteryke nuusaanbieding binnegaan nie.

En dit geskied in Suid-Afrika alles teen die agtergrond van ’n nuwe bedeling wat veel wyer is as bloot ’n politieke oorgang, waar die druk op onderlinge begrip en opvattings al groter word, en klassieke idees in die slag bly en selfs haatspraak word. Daar moet, soos Theo Venter dit stel ná sy onderonsie met die ANC se Carl Niehaus, ’n dringende gesprek gevoer word oor wat in Suid-Afrika gesê mag word en wat nie. Koerante (elektronies of gedruk) kan uiteraard nie in so ’n gesprek afwesig wees nie.

Politieke korrektheid mag nooit in die plek van die waarheid gestel word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

16 Kommentare

My voorstel ·

Ek stel voor dat Maroela die volgende fase van groei ingaan deur om n gedrukte weergawe te maak, dalk op provinsie, streek of selfs plaaslike vlak. Maroela sowel as die lesers en plaaslike ekonomie sal ook baie baat deur om meer advertensiespasie vir plaaslike besighede te bied.

Heinrich ·

Dit is baie lekker om met ‘n fisiese koerant te sit, die gevoel, die reuk, ens. Die ander kant is dat in die inligtingstydperk waarin ons leef, ‘n gewone gedrukte koerant ongelukkig nie die opsie gee om ‘n artikel te boekmerk nie, vinnig met iemand wat nie fisies by jou is te deel nie, of om kommentaar te lees of te lewer nie. Van baie van die joernaliste se artikels voel asof die koerant ‘n eenrigting propaganda megafoon is en niemand kan terug praat nie. Die noodsaaklikheid wat kommentaar op die artikels moontlik maak is dat baie menings nou gehoor kan word (as mens natuurlik verby al die gal en nonsens wat saam geplaas word kyk); dit alles help om ‘n baie voller prentjie te kan sien sodat ‘n beter ingeligte leser beter besluite kan maak.
Daar moet ook ‘n fyn balans gehandhaaf word tussen die winslyn en die verantwoordelikheid om die publiek ingelig te hou oor die ware stand van sake wat almal beïnvloed.

Leser ·

Ek dink maroela kan soos hulle radiostasies help, ook plaaslike koerante help om gehalte Afrikaanse blaaie te druk met inhoud aangepas op dorpsvlak.

Gerhard van Rhyn ·

Ek dink die kwaliteit van nuusmedia in die algemeen en wêreldwyd is baie swak. Wat mens deesdae te lese kry is nie ‘n objektiewe aanbieding van feite nie. Dit is bewimpelde feite só aangebied om een of ander agenda te dien. Ek verstaan baie goed waarom mense nie meer vir media wil betaal nie. Nuus24 is ‘n goeie voorbeeld. Ek sal nie betaal om iemand se agenda te lees nie, ek wil nuus lees wat objektief aangebied word. Ek dink kort voor lank gaan internet- en televisienuus ook onder druk wees. Lesers en kykers is nie onder kalkoene uitgebroei nie en hulle verdraagsaamheid jeens subjektiewe nuusaanbieding en polities korrektheid taan vinnig. Wêreldwyd bespeur ek ‘n neiging onder gewone mense om terug te keer na tradisioneel behoudende waardes.

Kleintjie ·

As die huidige Afrikaanse dagblad van die kaap en noorde onder sou gaan sal dit dalk goed wees want daardie word beheer deur links antiwit agenda.

nico k ·

Die gedrukte koerant gaan seker nie meer lank bestaan soos elektronika oorneem nie. En dit sal jammer wees. Maar dit is interessant as mens sien dat die plaaslike koerantjies wat sommer gratis in jou posbus gegooi word, oorleef. Want hulle is twee keer dukker weens advertensies. So koerante moet wegdoen om hul geld te probeer maak met verkope. Kry meer advertensies.

Kryger ·

Daar is geen gedrukte korante wat ek meer vertrou nie… as die media bedryf nie dringend die oneerlike joernaliste verwyder nie, sal al hoe meer mense soos ek begin weg beweeg van gedrukte media en media wat ‘n eenrigting beleid volg – maw niemand anders kans gee om hul “feitlike” artikel te bevraagteken nie. Deesdae se journaliste dink dat ek belang stel in hul opinie en hul emosie, terwyl ek net belang stel in die feite.
Stel ‘n komitee op deur 50% oud joernalsite en 50% oud regters en begin om elke joernalis se artikels te check. As ‘n joernalis iets as feite weergee wat nie waar is nie, staf hom/haar en die se koerant. Joernaliste se integriteit moet bo verdenking wees – iets wat deesdae baie yl gesaai is.
Gelukkig het ek Maroela media om te lees waar ek kan verskil indien ek nie saamstem nie!

Adriaan ·

Media24 is die grootste (en dalk ook enigste?) hoofstroom aanbieder van Afrikaanse gedrukte nuus maar hulle liberale aanslag het tot gevolg gehad dat ek hulle lankal nie meer ondersteun nie. Ek kry my nuus elders in elektroniese formaat. Dit laat my koud dat hulle (Afrikaanse) gedrukte koerante kan vou. Die gevolge van hulle besluite is hulle sin alleen om te dra.

Charles ·

Geagte Herman, die Demokrate loop nie met naastenby genoeg voor in die midtermyn peilings om hul 23 lid agterstand in die Huis van Verteenwoordigers in die 6 November 2018 midtermynverkiesings om te draai nie; en gaan heel waarskynlik nog slegter daarvan af wees in die Senaat.

President Trump (die beste President wat die VSA nog ooit gehad het in my opinie) is heeltemal veilig van polities- geinspireerde “impeachment” probeerslae van die “demokrate’- af.

Ek kan nie wag om sy “rally” gister in Minnesota te sien nie, dit was yslik GROOT.

Charles ·

Ek kan nie anders as om heelhartig saam te stem saam met Gerhard, Kleintjie, Kryger en veral Adriaan nie. Baie dankie Adriaan, dank die Here ons het die lig gesien, en dat ons weier om ons langer deur linkse propaganda en leuens te laat beinvloed. Dis ‘n wonderlike gevoel, om die oneerlike hsm die deur te wys, ‘n rebel te wees en ‘n moderne rewolusie in te gaan teen die vyande van die Westerse beskawing.

Telly ·

Dit is die SA tak van die globale vierentwintig netwerke van die antichristen.

Casper Labuschagne ·

Ek dink nie Maroela moet die pad gaan van om ‘n koerant op papier te druk nie. Dooie bome wat platgemaak is en jou hande swartsmeer is net nie meer in die mode nie. Wat ek wel sou voorstel is dat Maroela heelwat oorweging daaraan skenk om ‘n weeklikse tydskrif joernaal saam te stel wat in nuus spesialiseer, maar ook artikels van allerlei onderwerpe bevat. So ‘n publikasie kan saamgestel word uit die beste artikels van die week, met miskien enkele in diepte artikels, veral omdat baie van Maroela se artikels geskryf is vanuit daardie dag se perspektief en nie vanuit die oorsig van ‘n langer periode nie. Stel eers so ‘n joernaal saam as PDF dokument en bied dit aan as ‘n nuusbrief waarop ingeteken kan word. Ek vermoed dat adverteerders ook te vinde sal wees om ‘n so ‘n nuusjoernaal te adverteer. Sou dit populêr wees, kan Maroela oorweeg om so ‘n weeklikse nuusjoernaal in die formaat van ‘n tydskrif uit te gee.

Albaster ·

Ek hou baie van jou idee Casper. Ek dink wel ‘n dagblad kan ook goed afgaan, as die verlinkses dit doen kan ons ook.

Aanpasser ·

Die gewone reaksie tot die feite genoem in hierdie artikel, is om mense te probeer oortuig om gedrukte media meer te ondersteun. Dit is baie indrukwekkend dat Mnr Toerien nie in daardie ou deuntjie inval nie, maar na oplossings soek wat saam met hedendaagse tendense gaan in plaas daarvan om tevergeefs daarteen te stry.

Ek weet nie hoe ons Afrikaans gaan “red” van die ondergang van gedrukte media nie, maar artikels soos hierdie stel my gerus dat dit wel gaan gebeur, en dat Maroela Media ‘n belangrike rol daarin sal speel.

Volvertroue ·

Ek is vol vertroue dat ‘n maroela dagblad kan werk, of ten minste maroelaondersteuning aan plaaslike koerante, want Afrikaners het ekonomiese mag, daarom sal adverteerders belangstel, daarom kan dit ekonomie lewensvatbaar wees.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.