Nuuskommentaar: Werk saam om ons skip met rassistiese SEB te laat sink, of gaan onder

Sprekers by die SEB-konferensie. Foto: Reint Dykema

Sprekers by die SEB-konferensie. Foto: Reint Dykema

Jare gelede, in ’n rolprent Taxi, taxi, het die een akteur sy maat knaend in die muntspel ore aangesit. Hy sou altoos voordat hy die munt opskiet, roep: “Heads, I win, tails you lose.” Die maat kon nie kop of stert uitmaak hoekom hy nooit kon wen nie.

Iets soortgelyks blyk uit die entrepreneur se SEB-keuses, volgens sprekers by ’n beraad oor die onderwerp wat AfriSake hieroor aangebied het. Die sprekers was swaargewigte, en het grootliks sentimente gedeel wat ook al in ander publikasies soos Moneyweb met jota en titel bewys is.

Tog is daar ’n dawerende stilte oor die beraad en sy boodskap in van die media.

Piet le Roux, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, se opsomming op sosiale media spreek boekdele: “Piet le Roux ‏@pietleroux #BEE is vir entrepreneurs wat #AffirmativeAction is vir werknemers. #BEE is vir ’n ekonomie wat onthoofding is vir ’n liggaam. @AfriSake”

Maroela Media het reeds voorheen op een van die newe-effekte gewys, naamlik dat Suid-Afrikaanse maatskappye wat vir baie werksgeleenthede sorg, nie al hierdie werksgeleenthede in Suid-Afrika skep nie, maar om bepaalde redes na die buiteland uitbrei. Hul beleggings daar is veiliger, en Suid-Afrika as geheel die verloorder.

Volgens Russel Lambert kyk Suid-Afrikaanse entrepreneurs daarna om in Botswana te hervestig om hierdie drakoniese maatreëls te probeer ontsnap.

Volgens Cornelius Jansen van Rensburg, uitvoerende hoof van AfriSake, is die nuwe SEB-kodes ’n slinkse manier om entrepreneurs van hul ondernemings te onteien. Gesien in die lig van ander wetgewing wat eiendomsreg ondermyn, beïnvloed die nuwe SEB-kodes privaat eiendomsreg op ’n nog meer ingrypende wyse.

“Die nuwe SEB-kodes is regulasies wat ten doel het om entrepreneurs en ondernemings te dwing om afstand van hul meerderheidsbesit te doen. Verder verwag die kodes dat tot en met 80% van maatskappye se aankope van sogenaamde swart ondernemings moet wees. Die gevolg is dat dit onmoontlik gaan word vir enigiemand wat nie swart is nie om ’n onderneming te begin, besit en te bestuur.”

Amptelik is die doel van regstellende aksie (affirmative action) en SEB om ’n regverdiger verspreiding van welvaart oor rassegrense heen in post-apartheid-Suid-Afrika te bewerkstellig. Die groot vraag is of rassisme die beste, of enigsins doeltreffende, manier kan wees om ’n komplekse doel na te streef. Word daar nie in die proses te veel middele verwoes om die grondslae vir die bereiking van die doelwitte te vernietig nie?

Grondslae soos om genoeg kundiges deur ’n opvoedkundige stelsel te lewer waar kleur nie ’n rol speel nie, waar lewensvatbare absorpsie in die ekonomiese stroom gelyker gemaak word deur ’n gelyker gemiddelde gesinsgrootte waar aangebore agterstande tot ’n mate geneutraliseer word deurdat gesinne nie groter is as wat bekostigbaar is nie?

Daar is ’n magdom ander faktore. Korrupsie en die kultuur van toe-eiening, wat nou onder meer uit die Nkandla-ondersoeke blyk waar dit duidelik is dat die belastingbetaler bykans item vir item enorm te veel aangeslaan is vir boonop swak vakmanskap.

Tot die ANC is dikbek oor van dié vermorsing, want dis darem te duidelik iemand het hul Groot Indoena onder sy oë lekker ore aangesit met afskeepwerk en enorme betalings en dus eintlik verneder.

Daar is die amptelike maar ongrondwetlike beleid van kaderontplooiing, wat nie net nepotisme voed nie, maar waar posbekleërs dikwels eerder politieke kommissarisse as kundiges is, en enorme bedrae aan konsultante bestee moet word en uitgawes gedupliseer word – maar die konsultante se werk net weer in die politieke smeltkroes ongedaan gemaak word.

Aansluitend hierby maan die Vryheidsfront Plus oor die gevare wat in die nuwe onteieningswetsontwerp skuil: “Veranderinge aan die Wet op die Bevordering en Beskerming van Beleggers is duidelik daarop gemik om vrese oor staatsonteiening uit die weg te ruim, maar daar is steeds meer as genoeg rede vir veral buitelandse beleggers om bekommerd te wees,” sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

Alberts sê ’n voorbeeld is artikel 8 wat die sekuriteit van buitelandse beleggings net waarborg in die mate dat daar “genoegsame hulpbronne en vermoëns” bestaan. Dit beteken buitelandse bates en beleggings is kwesbaar indien die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) nie in staat is om dit te beskerm nie. Dit lewer buitelandse beleggers dus uit in die geval van ’n mislukte staat.

Onder die Zuma-bewind het dit ’n geneigdheid geword om veral ekonomiese portefeuljes met kommuniste te laai. Die Nasionale Ontwikkelingsplan is al telkemale openlik met beplande dwarsbomingswetsontwerpe uitgedaag.

Die vraag of die land Zuma as president kan bekostig, is op bykans elke forum met ’n duidelike “nee” beantwoord, maar dit is nou al vir selfs die skerpste kritici duidelik die kanse is bykans 100% dat Zuma sy tweede termyn sal voltooi. Die kanse word ook al hoe beter dat daar daarna op een van ’n verskeidenheid maniere ’n voortgesette Zuma-greep op die volgende regering sal wees.

Natuurlik is dit alles juis die rede waarom daar nie in sak en as gesit, of nog erger, op ’n korrupte wyse deel van die gekkespul moet word nie. Ondersteun instansies soos AfriForum en Solidariteit om sake te internasionaliseer en ’n duidelike regsuitspraak oor Suid-Afrika se amptelike rassistiese optrede te verkry. Ondersteun al wat burgerlike aksie en hofprosedure is om die land tot ekonomiese nugterheid te dwing. Gebruik al wat beskikbare forum is om korrupsie aan te spreek.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae