President Obama het Saterdag gesê hy is gereed om militêr op te tree teen Siriese president Bashar al-Assad, maar dat hy eers goedkeuring moet kry voordat hy die militêre aanval kan loods.
“Hierdie aanval is ‘n aanslag op menswaardigheid,” het Obama gesê. “Dit verteenwoordig ook ‘n ernstige gevaar teen ons nasionale sekuriteit.”
Die protes van honderde aktiviste wat teen die militêre ingryping betoog, kon buite die Wit Huis gehoor word net voordat Obama sy toespraak gelewer het.
Kenners van die Verenigde Nasies het intussen monsters versamel van verlede week se vermeende chemiesewapen-aanval buite Damaskus. Die kenners sal probeer bepaal wat op 21 Augustus plaasgevind het. Altesaam 1 429 mense, insluitend 426 kinders, is in die aanval dood. Die kenners het bloed- en urinemonsters van slagoffers en grondmonsters van gebiede waar die aanvalle plaasgevind het, versamel. Die monsters sal in Europa getoets word.