‘Ons het respek vir Roemenië’ – Bokke

Die Springbok-span wat vanmiddag teen Roemenië speel. (Foto: Twitter/Springbokke)

In die drukkokersituasie van ʼn Wêreldbekerrugbytoernooi is daar nie noodwendig iets soos ʼn maklike wedstryd nie.

ʼn Moontlike opskudding skuil om elke derde hoek en vyfde draai en die Springbokke kan nie bekostig om vanmiddag in Bordeaux teen Roemenië op hul louere te rus nie.

“Ons berei met dieselfde ingesteldheid voor; ongeag ons teenstanders. Ek weet dat Roemenië ʼn trotse rugbyland is en almal het die mededingende rugby gesien wat Uruguay teen Frankryk opgedis het,” het Mzwandile Stick gewaarsku.

Die Springbokke se assistent-afrigter het bygevoeg dat die Suid-Afrikaners gereed is vir aksie.

“As ons nie geestelik en fisiek op alle suiers vuur nie, kan dit in ʼn moeilike dag op die speelveld ontaard. Ons het respek vir hulle as ʼn span.”

Vincent Koch, wat die nommerdrietrui teen Roemenië sal dra, weet dat die Europeërs oor ʼn sterk voorspelergroep beskik.

“Ek sien uit na die tweestryd. Dit beloof om ʼn fisieke wedstryd te wees; veral onder die voorspelers. Hulle het goed teen Ierland gedoen, stewig geskrum en selfs ʼn lynstaanbal of twee gesteel. Roemenië het ʼn paar groot spelers in hul span en hulle sal beslis hul staal in die skrums teen Suid-Afrika wil wys,” het die stut gesê.

Op sy beurt meen Cobus Reinach dat die Bokke ook wil verbeter ná hul eerste wedstryd teen Skotland.

“Daar is dinge wat ons wil regstel ná die Skotland-kragmeting en ons het hard op die oefenveld gewerk. Daarbenewens verwag ons dat Roemenië nie vir enigiemand op die veld sal terugstaan nie.”

Die Springbokke behoort egter steeds te veel skietgoed op die veld te hê. Die wedstryd begin vanmiddag om 15:00.

Springbokke: Willie le Roux (heelagter), Grant Williams (regtervleuel), Canan Moodie (buitesenter), André Esterhuizen (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Damian Willemse (losskakel), Cobus Reinach (skrumskakel), Duane Vermeulen (agtsteman), Kwagga Smith (flank), Marco van Staden (flank), Marvin Orie (slot), Jean Kleyn (slot), Vincent Koch (stut), Bongi Mbonambi (kaptein en haker) en Ox Nche (stut). Plaasvervangers: Deon Fourie, Steven Kitshoff, Trevor Nyakane, RG Snyman, Jasper Wiese, Jaden Hendrikse, Faf de Klerk en Jesse Kriel.

Roemenië: Marius Simionescu (heelagter), Tevita Manumua (regtervleuel), Jason Tomane (buitesenter), Taylor Gontineac (binnesenter), Nichola Onutu (linkervleuel), Hinckley Vaovasa (losskakel), Gabriel Rupanu (skrumskakel), Cristian Chirica (kaptein en agtsteman), Vlad Neculau (flank), André Gorin (flank), Marius Iftimiciuc (slot), Adrian Motoc (slot), Alexandru Gordas (stut), Ovidiu Cojocaru (haker) en Iulian Hartig (stut). Plaasvervangers: Robert Irimescu, Alexandru Savin, Thomas Cretu, Stefan Iancu, Damian Stratila, Cristi Boboc, Alin Conache en Gabriel Pop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.