Oscar Pistorius se prokureur dreig glo met regstappe nadat sekere publikasies Saterdag ʼn foto van ʼn huilende Oscar op hul voorblaaie gebruik het.
EWN het Saterdag berig Oscar (26) se prokureur, Kenny Oldwage, het gesê hy gaan regstappe doen, omdat die foto wat gepubliseer is, na bewering die hof se bevel oor mediadekking oortree.
Die foto wys hoe Oscar emosioneel met sy kop in sy hande in die beskuldigdebank sit. Fotograwe en kameramanne mag volgens die hofbevel slegs beeldmateriaal neem wanneer die landdros nie sit nie. Dié foto is glo geneem terwyl die hof in sitting was.
Intussen het die Suid-Afrikaanse redakteursforum (Sanef) gesê die plasing van die foto was ʼn fout. Nic Dawes, Sanef so voorsiter, sê die fotograaf het nie met opset die hofbevel verontagsaam om die foto te neem nie en dat daar verwarring was met wat presies die hofbevel beteken het.
Oscar het Vrydag vir die eerste keer in die hof verskyn op ʼn aanklag dat hy sy jaarlange meisie, Reeva Steenkamp (30), Donderdag op Valentynsdag in sy huis in die Silver Woods-landgoed in Silver Lakes doodgeskiet het. Hy bly tans in aanhouding by die Brooklyn-polisiestasie tot hy weer Dinsdag in die hof moet verskyn om vir borgtog aansoek te doen.