Pa van Michigan-seun wat skiet ook skuldig

Ethan Crumbley het vier leerders by die Oxford High School in Michigan doodgeskiet. (Foto: Oakland County-polisie/AFP)

Die pa van ʼn tienerseun wat in 2021 op leerders by ʼn hoërskool in die VSA losgebrand en vier mense doodgeskiet het, is deur ʼn jurie skuldig bevind aan strafbare manslag.

Jennifer Crumbley (45) en nou ook haar man, James (47), is die eerste ouers van ʼn skoolskieter wat van strafbare manslag aangekla en skuldig bevind is – al is die misdaad deur hul kind gepleeg.

Ethan Crumbley (17) dien reeds lewenslange tronkstraf uit vir die skietery op 30 November 2021 by die Oxford High School naby Detroit in die Amerikaanse deelstaat Michigan.

Aanklaers in die saak het aangevoer sy ouers is verantwoordelik deurdat hulle ʼn vuurwapen aan hul seun gegee het en die tekens dat hy gewelddadig is, geïgnoreer het.

Ethan is aangekla op vier aanklagte van onopsetlike strafbare manslag, ʼn aanklag vir elk van die slagoffers. Nog sewe leerders is in die voorval beseer.

Hy het ʼn 9 mm SIG Sauer, ʼn semi-outomatiese handwapen, wat sy pa vir hom as Kersgeskenk gekoop het, gebruik om op sy medeleerders los te brand.

Voor die skietery het die skool Ethan se ouers herhaaldelik gewaarsku dat iets met sy geestesgesondheid skort, maar hulle het nie ingegryp nie.

Ethan het homself kort ná die skietery by die polisie aangemeld en sy ouers is sowat ʼn week later ook in hegtenis geneem. Hy het in Oktober 2022 skuld beken op aanklagte van onder meer moord en terrorisme.

Sy ouers is later afsonderlik verhoor, met Jennifer wat in Februarie skuldig bevind is.

Jennifer Crumbley (43) is op vier aanklagte van strafbare manslag skuldig bevind.
(Foto: Jeff Kowalsky / AFP)

“James Crumbley het sy seun op ʼn tragiese wyse in die steek gelaat,” het Karen McDonald, staatsaanklaer, in haar slotbetoog gesê.

“Maar hy het nie net sy seun gefaal nie, hy het ook versuim om sy wetlike plig na te kom om die dood van hierdie kinders te verhoed.”

James Crumbley is nou ook skuldig bevind aan strafbare manslag. (Foto: Jeff Kowalsky/AFP)

Mariell Lehman, James se regsverteenwoordiger, het volgehou dat sy kliënt nie geweet het hy moet ander teen sy seun beskerm nie.

“Hy het geen idee gehad wat sy seun beplan om te doen nie,” het Lehman gesê.

Die jurie het Woensdag begin beraadslaag en toe ook vir James skuldig bevind.

Die Crumbley-egpaar sal albei op 9 April gevonnis word. ʼn Veroordeling van strafbare manslag het ʼn voorgeskrewe vonnis van tot soveel as 15 jaar tronkstraf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nici ·

Eerlikwaar belaglik. Sekerlik as die skool sielkundige en almal bewus was dat hy moord sou pleeg sou die skkon maatskaplike werkers ingeroep het.

Prinses Bella ·

Geen ouer kan voorsien hoeveel leed en smart ouerskap meebring voor hulle nie daar kom nie. So dikwels die beste bedoelings wat boemerang en dan is die hele gesin se lewe verwoes. Wat ‘n menslike tragedie van epiese proporsies. ‘n Kind kan net so maklik ‘n motor wat deur ‘n ouer aangekoop is in ‘n moordwapen omskep deur een ondeurdagte besluit… Daar is soveel fasette verbonde aan hierdie saak en al “common denominator” is die ouers wat gebroke agterbly, aan beide kante van die saak.

Delia ·

Gaan luister by die hofsaak voor julle almal dink ouers is onskuldig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.