Polisie, boere en honde-eenheid vang verkragter

Vinnige speurwerk van die Joubertina-polisie, die hulp van boere van dié omgewing en knap werk deur die Humansdorp-polisie se honde-eenheid het daartoe gelei dat ʼn vermeende verkragter binne twee dae opgespoor is.

Volgens die Joubertina-polisie in die Oos-Kaap is ʼn 21-jarige vrou van die omgewing Vrydagoggend omstreeks 09:30 aangeval, aangerand en verkrag terwyl sy op ʼn plaas gedraf het.

Die vrou het bewus geword daarvan dat sy agtervolg word en het begin om vinniger te draf. Na wat verneem word, het die man haar ingehaal en oorweldig. Hy het haar erg aangerand, in ʼn veld ingeneem en verkrag. Die vrou kon daarin slaag om die aandag van ʼn verbygaande motoris te kry, waarop die man vlug geslaan het. ʼn Grootskaalse soektog deur die polisie en boere van die gemeenskap is daarna van stapel gestuur.

Die Joubertina-polisie, met die hulp van die Humansdorp-polisie se honde-eenheid, het Sondagmiddag ʼn 17-jarige in verband met die voorval in hegtenis geneem. Na wat verneem word, het hy tussen koppies op die plase weggekruip. Hy gaan binnekort in die hof verskyn.

Die vrou het beserings aan haar regteroor, nek, arms en voete opgedoen.

Luitenant-kolonel Ruth Slater, die Joubertina-polisie se bevelvoerder, het haar waardering en dank uitgespreek aan die boere in die gemeenskap wat die naweek onverpoosd na die verdagte help soek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.