Polisie kry gesteelde vuurwapens terug

Die polisie in Limpopo het ʼn deurbraak gemaak toe hulle vuurwapens en ammunisie, wat tydens ʼn inbraak by die Polokwane Veefdiefstaleenheid se kantore gesteel is, teruggevind het.

Volgens brig. Hlulani Mashaba, provinsiale polisiewoordvoerder, is die vuurwapens op 14 Desember gesteel.

Mashaba het bevestig dat sewe vuurwapens, insluitend vyf gesteelde gewere en twee pistole, tydens ʼn intelligensie-gedrewe operasie teruggevind is. Daarbenewens is meer as 400 rondtes ammunisie en ʼn aantal ontploffingsmiddels op beslag gelê.

Sewe verdagtes, tussen die ouderdomme van 34 tot 70 jaar, is in en rondom Seshego en Moletji buite Polokwane in hegtenis geneem. Tydens die operasie is daar ook beslag gelê op drie voertuie; insluitend ʼn sportnutsvoertuig en twee sedans.

Volgens Mashaba word een van die verdagtes glo gesoek in verband met moord- en roofsake in Polokwane. ʼn Lasbrief is voorheen vir dié verdagte uitgereik nadat hy glo versuim het om op ʼn moordklag in die hof te verskyn.

“Ons is toegewyd daartoe om die hoogste standaarde van integriteit binne ons organisasie te handhaaf, en sal teen enige afwyking daarvan op tree. ʼn Polisielid wat die wet verbreek sal sonder enige vrees vervolg en aan die wet onderwerp word,” het lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisie kommissaris gesê.

ʼn Interne ondersoek is reeds aan die gang om vas te stel of daar enige nalatigheid kon gewees het wat gelei het tot die diefstal van die vuurwapens.

Die verdagtes sal in aanhouding bly en op 2 Januarie in die landdroshof in Seshego verskyn op klagte wat verband hou met die onwettige besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie asook plofstof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.