Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die moord op Melinda Lee Bam, ʼn 30-jarige ma van twee jong dogters wat oor die naweek by ʼn gastehuis in Limpopo doodgeskiet is nie.
Kol. Ronel Otto, ʼn polisiewoordvoerder, het Maandag aan Maroela Media gesê daar is nog nie nuwe verwikkelinge in die moordsaak nie, maar het bevestig dat die ondersoek voortduur.
Maroela Media het Saterdag berig Bam is vroeg Saterdagoggend tussen 01:00 en 02:00 by die Bonlati Lodge buite Gravelotte doodgeskiet toe sy en haar lewensmaat, Francois Visagie (39), deur ʼn groep van drie of vier aanvallers oorweldig is.
Visagie is tydens die aanval in die bobeen geskiet en sterk tans in die Tzaneen Mediclinic aan. Volgens Otto was daar ook vier kinders by die gastehuis tydens die voorval. Otto het intussen bevestig dit is blykbaar Visagie se drie kinders en ‘n vriend.
Die verdagtes het glo met ʼn Toyota Fortuner van die toneel probeer vlug maar was onsuksesvol en het verder te voet gevlug.
Lees ook:
Jong ma doodgeskiet